Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Spesiale verslag: Afrikaans en sy mense
Beeld het oor ’n tydperk van ses weke ’n reeks gesprekke oor die toekoms van die Afrikaanse gemeenskap gepubliseer. Tim du Plessis was die gasredakteur. Hier is van die hoogtepunte, vir ingeval jy dit misgeloop het.
Tim du Plessis.

Getrou aan sy aard as “toonaangewende koerant” (die oud-redakteur Ton Vosloo se tipering) begin Beeld vandag ’n dink- en praatplek waar vernuwend en ver buite die boksie besin word oor die toekoms van die Afrikaanse gemeenskap, het Tim du Plessis in die eerste artikel geskryf.

Soos in ’n oop, selfdefiniërende entiteit wat almal insluit wat hulself beskou as Afrikaans, Afrikaner, Afrikaanssprekende of wat ook al.

Beeld het my gevra om, soos hulle in my nuwe wêreld van TV sê, die “anker” hiervan te wees. Beeld is ’n hartsplek en ek sê dankie.

* Lees die res van die eerste aflewering in die reeks hier.

Laat ons onsself wees

Jong mense voel oor Afrikaans soos die naamgenote van ’n reeksmoordenaar, het Jeanelle Greyling, redakeur van Wapad, studentekoerant van die Puk-kampus, geskryf, terwyl Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, gesê het Suid-Afrikaners is soos seekoeie in ’n dam.

Jeanelle Greyling.

Jeanelle Greyling het geskryf:

Hoe inspireer jy ’n jong mens om ’n veer te voel vir ’n fight wat spruit uit die jare waarvan hul ouers hulle moet vertel?

Ons voel soos die naamgenote van ’n reeksmoordenaar wat vir ewig vervloek sal wees weens sy dade.

In ’n land waar werk en geld skaars is, blyk dit Afrikaans trek aan die kort end van die prioriteitslys.

Slegs die sterkste oorleef, dus voel dié wat nie beplan om te emigreer nie dat ons maar ons moeder(taal) se rokspante moet los en die mededingendste taal aanneem.

Ons wil nie geïdentifiseer word met ons verlede van Afrikanernasionalisme nie en Afrikaans kan maar cooler word.

Op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), die mikrokosmos van die Afrikaanse gemeenskap, was daar verlede jaar nog Afrikaanse studente wat bereid was om vir hul taal te veg. Die studente het ’n nagwaak gehou en oom Totius se standbeeld beskerm. Die standbeeld is uiteindelik verwyder en aan die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) toevertrou.

Hoewel die standbeeld oukei is, het die Afrikaanse studente misluk in hul doelwit om dié ikoon op die kampus te hou.

Jan Bosman.

Jan Bosman het geskryf:

‘Ons, die mense van Suid-Afrika, glo Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.” So verklaar die aanhef tot die 1996-Grondwet.

Dit moes sekerheid gee, maar vandag is ons verbouereerd, oorversigtig, te bang om op tone te trap, oordrewe politiek korrek. En in die proses gee ons byna ons taal, Afrikaans, en ons identiteit, Afrikanerskap, op.

Die prys om identiteitlose en verengelsde Suid-Afrikaner te wees, raak te hoog.

Begrip en respek

Die gesprek gaan lankal nie oor Afrikaners of Afrikaans of Suid-Afrikaner nie.

Die gesprek behoort ook nie te gaan oor Afrikaans en wie besitreg daarop het of wie se kultuurbate of kultuurerfenis dit is nie.

Afrikaans is slegs die medium of instrument waardeur ons kultuur uitleef. Daarom is Afrikaans nie ’n uitsluitende taal nie.

Afrikaans is en bly ’n wetenskap-, onderrig-, sake-, kultuur-, akademiese, skryf- en sommer alles-taal.

Die gesprek behoort te gaan oor die aanvaarding van mekaar. Maar meer as dit: begrip en respek. Tussen Afrikaners, tussen Afrikaanssprekendes en tussen Suid-Afrikaners.

* Lees hul volledige stukke hier.

Taalgesprek is nodig

Afrikaans het sy eie waarheid-en-versoeningsgesprek onder sy sprekers nodig, het Danie van Wyk geskryf. 11 amptelike tale lei in die praktyk tot een taal, het Anne-Marie Beukes geskryf.

Danie van Wyk.

Danie van Wyk het geskryf:

Dat Afrikaanssprekendes by ’n kruispad is, is gewis.

Die verskil is dié keer dat alle Afrikaanssprekendes hulle by hierdie kruispad bevind, nie net die Afrikanerkomponent nie. Afrikaans is onder beleg en dit veroorsaak onsekerheid by alle Afrikaanssprekendes.

Die bruin gemeenskap is ’n inherente deel van die Afrikaanse gemeenskap. Daar word dikwels na hierdie gemeenskap verwys as agtergeblewe, benadeel en verarm. Die uitstaande kenmerk van hierdie gemeenskap is tereg sy armoede: “in armoede gebore en ontvang”, as ek met respek die Bybelse verwysing kan aanpas vir hierdie doel. Hierdie stiefkinders van die Afrikaanse gemeenskap maak daarop aanspraak om hul regmatige plek langs hul mede-Afrikaanssprekers in te neem, as gelykes en nie as meelopers of napraters nie, maar as saampraters wat ook ’n beduidende rol te speel het in die rigting wat ons as Afrikaanssprekers in die toekoms met ons taal gaan inslaan.

Anne-Marie Beukes. Foto: Deaan Vivier

Anne-Marie Beukes het geskryf:

’n Kruispad is ’n plek of tydstip waar ’n belangrike of beslissende besluit geneem moet word, aldus die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

’n Mens kan stellig sonder veel vrees vir teëspraak sê dat Afrikaans reeds vele kruispaaie beleef het. Dink maar aan Milner se angliseringsprojek en die daaropvolgende snelle groeikurwe van Afrikaans tot standaardtaal sodat amptelike status in 1925 aan die jong taaltjie toegeken is. Vergeet ook nie hoe Afrikaans ontwikkel het tot ’n volwaardige wetenskapstaal nie, die enigste Afrikataal wat dié prestasie in die 20ste eeu kon behaal het.

* Lees die res van hul stukke hier.

Beskerm diversiteit

Die oorlewingsangs wat Afrikanernasionalisme onderlê, word oorgedra na die “oorlewing” van Afrikaans, het Hein Willemse geskryf, terwyl Dirk Hermann gesê het die taal se pad loop deur die bou van kragtige instellings.

Hein Willemse.

Hein Willemse het geskryf:

Die oue is besig om voor ons oë te verkrummel; die nuwe het hom aangekondig en ons leef in ’n tyd waar terugkeer na ’n bekende ou wêreld nie meer moontlik is nie. Daar moet vrede gemaak word met ’n nuwe wat vreemd klink en voel. Die nuwe gewoontes en optredes is onvas, vloeibaar en daar is min oor van die sekerheid wat ou waardes en tradisies gebied het. Vir dié wat slegs die tyd van oorgang ken, is elke oomblik onvergelykbaar die uitdagende hede.

Ons leef in ’n tydperk van ambivalensie en onsekerheid tussen die oue en die nuwe. Ons staan op die drumpel van ’n nuwe samelewing wat al sukkelend gebore word. Daardie “ons” is nie net Afrikaanssprekendes nie, maar ons almal wat in die land leef. Op die lange duur is ’n gesprek oor Afrikaans slegs sinvol as dit ook ’n gesprek oor al die geledinge van “ons” is.

Natuurlik is daar die Afrikaanse “ons”, almal wat die taal praat en daarmee asso­sieer. Ons het ons eie drumpels om oor te steek. Die geskiedenis van die uitsluiting, kleinering en stigmatisering van mede-Afrikaanssprekers deur veral Afrikanernasionaliste gaan nie met ’n paar mea culpas verontskuldig word nie. Die toeëiening van die taal as Afrikaner-alleenbesit het enorme skade gedoen omdat dit Afrikaans se sentrale sosiopolitieke waarde as ’n gedeelde bate byna verwoes het.

Dirk Hermann.

Dirk Hermann het geskryf:

Afrikaanssprekendes is ’n verskeidenheid mense met verskillende identiteite en stories, maar verenig deur ’n pragtige taal. Ek vertel vandag een so ’n storie.

Op 31 Mei 1902 was dit die einde van ’n dramatiese oorlog waarin 33 000 vroue en kinders in konsentrasiekampe dood is; 30 000 Boere as bannelinge weggestuur is; 20 000 oorlogwesies nagelaat is; honderde plase afgebrand is; en ’n verlies van die Boererepublieke. ’n Nuwe staatsorde is geskep. Die nuwe magshebbers wou Afrikaners ontbind en assimileer.

Afrikaners het voor ’n kruispad te staan gekom – die staat of die gemeenskap. ’n Sterk stroom het die gemeenskap gekies, weg van die staat. Instellings is deur die gemeenskap gestig, gedryf deur ’n eenvoudige geloofsbegrip van doen wat jy moet doen en glo in God se toekomsbelofte. Ná die rebellie van 1914 het die Helpmekaar-beweging ontstaan. In die gees van help mekaar, is instellings soos Sanlam, Santam en Volkskas gestig – die krag van die gemeenskap.

* Lees hul volledige bydraes hier.

Moenie ons taal verromantiseer

Met die heimwee na apartheid, is daar ’n venynigheid wat nie net na hulle buite Afrikanerskap slaan nie, maar onderling, het André le Roux in ’n rubriek geskryf:

André le Roux.

Eers ’n bekentenis: Ek dink Afrikaans, ek bid Afrikaans, ek swets Afrikaans en ek maak my ook soms skuldig aan rassistiese stereotipering wanneer ’n taxi voor my insny.

Nou, voordat ons Afrikaners, Afrikaanssprekendes en Afrikaanses – wat is die verskil en wie besluit? – toelaat dat wroegings oor “die aanslag” teen “Ons Taal” ons beetkry, moet ons besin oor hóé ons Afrikaans praat en ons ons Afrikaansheid na ander projekteer.

Afrikaans word al hoe meer deur te veel mense met woede, frustrasie en rasseweersin gepraat. Dit bepaal gedrag, alles kwansuis “ter wille van Afrikaans”.

Met die heimwee na apartheid, is daar ’n venynigheid wat nie net na hulle buite Afrikanerskap slaan nie, maar onderling. (Lees elke dag die aanvalle in Afrikaans deur Afrikaners op mede-Afrikaners in die Afrikaanse media.)

* Lees die res van sy rubriek hier.

Olifant in die vertrek

Die term ‘Afrikaner’ moet weg van die eng assosiasie met kleur beweeg om bruin mense in te sluit, het Wannie Carstens geskryf terwyl Christo van der Rheede die gebruik van Afrikaans op etniese grondslag betreur het.

Wannie Carstens.

Wannie Carstens het geskryf:

Een van die sake wat gedurig in bydraes in die ­debat na vore gekom het, is wat en wie die spesie Afrikaner is.

Wat is dit in dié term wat daartoe bydra dat lede van die bruin Afrikaanse gemeenskap feitlik deurgaans sê dat hulle nie hierdie benaming wil dra nie?

Dit is amper asof hierdie term dié onderskeidende faktor tussen wit en bruin is. Jy is ’n Afrikaner as jy wit is en jy is nie ’n Afrikaner nie as jy bruin of swart is.

As ’n mens teruggaan op die herkoms van die term, dan vind jy dit is aan die begin gebruik vir mense wat hulself gebonde aan die land en die vasteland gevoel het.

Christo van der Rheede.

Christo van der Rheede het geskryf:

Die Afrikaanse gemeenskap is allesbehalwe ’n homogene gemeenskap.

Dit word gekenmerk deur uiteenlopende etniese identiteite, geskiedkundige belewenisse, opvoedkundige vlakke, ideologiese standpunte, kulturele agtergronde en ekonomiese belange.

Wat laasgenoemde betref, is daar dié met omvattende ekonomiese belange, maar ook baie wat ’n sukkelbestaan voer.

En omdat hul leefwêreld so ver verwyderd is van mekaar, is dit geen verassing dat hul lewensbeskouinge en politieke lojaliteite ook wat inhoud, interpretasie en die uitleef daarvan betref dramaties verskil nie.

* Lees hul volledige bydraes hier.

Verenig diverse mense

Verenig? Vervleg? Vlug? Vries? Of veg? Ná die ses weke lange gesprekreeks het Tim du Plessis en Willie Spies die uiteenlopende standpunte saamgevat.

Tim du Plessis.

Tim du Plessis het geskryf:

Afrikaans is groot genoeg om plek te hê vir almal, maar te klein dat ons vir mekaar kan wegkruip.

Die gedagte onderliggend hieraan onthou ek uit die 1980’s in ’n toespraak van Leon Wessels. Hy het dit destyds oor Suid-Afrika gehad, maar dit is vandag eweseer op Afrikaans van toepassing.

Interessant genoeg was die konteks van Wessels se woorde die broedertwis wat ’n sterwende “wit Afrikanerdom” destyds reg in die middel verdeel het. Bloedig verskil onderling was nog altyd in Afrikaans se DNS. Dít sal nie enige tyd gou verander nie.

Willie Spies. Foto: Lisa Hnatowicz

Willie Spies het geskryf:

Wanneer ’n mens ’n lewensbedreigende krisis beleef, ­reageer jy op een van drie maniere. Jy vlug, vries of veg. Omstanders reageer ook op een van drie maniere. Hulle raak deel van die geveg, hulle vries of helaas vlug hulle ook.

Wat betref die “deel raak van die geveg” is daar natuurlik twee maniere: om aan die kant van die slagoffer of aan die kant van die aanvaller betrokke raak.

Die gesprek speel hom sedert 3 Mei in Beeld af, asook op die luggolwe by Pretoria FM.

Die inspirasie vir die gesprek was die publikasie van Leopold Scholtz se boek Kruispaaie: Afrikanerkeuses in die 19de en 20ste eeu oor rigtinggewende keuses wat Afrikaners deur die jare gemaak het wanneer hulle by kruispaaie kom.

Die vertrekpunt was dat Afrikaans tans weer by ’n kruispad is – en die vraag was: Waarheen nou?
* Lees die res van hul stukke hier



MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier