Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Spesialis oor Covid-19: Kan SA ’n tweede Italië word?

Die openbare gesondheidspesialis dr. Kerrin Begg het per Skype aan Willemien Brümmer gesê die syfers wat ons nou sien, is waarskynlik die oortjies van die seekoei. Die vraag is wat die volgende fase van die pandemie vir Suid-Afrika inhou.

Dr. Kerrin Begg is ’n openbare gesondheidspesialis wat snags haar gewone werk doen as dosent aan die mediese fakulteit van die Universiteit Stellenbosch en bedags pasiënte en hul kontakte probeer opspoor om te keer dat die virus verder versprei.

“Ons hou asem op en ons bid dat ons nie in Suid-Afrika ’n situasie kry soos in Italië en Spanje nie.”

Dis dáárom dat dr. Kerrin Begg, ’n spesialis in openbare gesondheid, die laaste paar weke onverpoos werk om die ergste te keer.

Sy lyk moeg dog hoopvol. Dié spesialis wat vrywillig haar tyd afstaan om pasiënte wat met die Ears-CoV-2-virus besmet is en hul kontakte op te spoor – ’n taak wat toenemend kan word soos om ’n naald in 'n hooimied te vind.

Snags doen sy haar werk as dosent aan die Universiteit Stellenbosch se mediese fakulteit en bedags werk sy saam met die provinsiale opsporingspan. Sy is ook een van agt lede van die Colleges of Medicine in Suid-Afrika se taakspan vir Covid-19, wat met hul riglyne oor openbare vervoer waarskynlik gehelp het dat Suid-Afrika nou in ’n staat van inperking is.

Nie eens sy weet egter wat die toekoms inhou nie – en of ons die skrikbeelde hier gaan sien van ysskaatsbane wat in dodehuise verander word en die weermag wat die dooies moet vervoer.

“Italië het lank geneem voordat hulle mense begin inperk het en die Italianers het voortgegaan om interaksies te hê en saam te drom. Dis baie moeilik om te voorspel wat hier by ons gaan gebeur, maar ons is almal bekommerd oor veral informele nedersettings of enige dig bevolkte voorstad of leefruimte.”

Kapenaars het verlede Donderdag na drankwinkels gestroom nadat die regering aangekondig het dat drank nie beskikbaar sal wees tydens die staat van inperking nie. Die verbod op drank is waarskynlik een van die redes hoekom trauma-eenhede die laaste tyd leër is. Foto: Jaco Marais

Interessant genoeg was ons sterftekoers tot dusver nog relatief laag.

“Hoewel ons nog redelik vroeg in die epidemie is, is ons eerste sterfte eers aangemeld toe daar al bykans duisend gevalle was. Die meeste ontwikkelde lande het hul eerste sterfte kort ná die eerste honderd gevalle gehad. Wat ook verblydend is, is dat die meeste van ons gevalle tot dusver by die huis behandel kon word – wat beteken die simptome was nie so erg dat hulle gehospitaliseer hoef te geword het nie. Ons is nóú eers besig om die sieker gevalle te behandel.”

Wat ook in ons guns tel, is ons demografie: Ons bevolking is jonger as dié in Italië en Spanje.

Gelukkig het ek gehoor ons trauma-eenhede was die laaste tyd stiller sedert alkohol nie meer verkoop word nie ...

Die teenwig is natuurlik dat Suid-Afrika ’n baie armer nasie is met swak hulpbronne in dig bevolkte gebiede waar die virus soos ’n veldbrand kan versprei. “En natuurlik het ons tot dusver nog nie gesien wat die uitwerking is wanneer ons bestaande epidemies van TB en MIV/vigs en Covid-19 in ’n kop-aan-kop-botsing is nie. Dit kom nog, en ek dink nie ons het regtig genoeg data oor hierdie kombinasie uit die res van die wêreld nie, want hulle het nie dieselfde soort siektelas as ons nie.”

En dan is daar natuurlik ’n kwesbare openbare gesondheidstelsel. “Baie van die private hospitale opereer nou net noodgevalle en hulle maak hulle nou gereed om eenhede om te skakel na isolasie-eenhede, maar in openbare hospitale is daar reeds ’n massiewe siektelas van pasiënte wat vanuit die staanspoor baie siek was.

“Gelukkig het ek gehoor ons trauma-eenhede was die laaste tyd stiller sedert alkohol nie meer verkoop word nie – wat wonderlik is, want as ons die siekes kan verminder, maak dit ’n reuseverskil. Die uitdaging is of ons genoeg ventilators gaan hê, want hulle is baie beperk. Jy kan ’n hospitaal begin met ’n tent, jy kan dokters en verpleegsters oplei om pasiënte met die virus te hanteer en om hulleself so goed as moontlik te beveilig, maar jy het steeds ventilators nodig.”

’n Gemaskerde gesondheidswerker agter die toe deur van ’n isolasie-eenheid. Foto: Jaco Marais

’n Tweede fase

Namate Suid-Afrika na die tweede fase van die epidemie beweeg, sal ons moet sien hoe die openbare gesondheidstelsel hou.

Tot dusver was ons in die inperkingsfase (containment phase) waar mense soos sy alles in hul vermoë gedoen het dat die virus nie verder versprei nie. Ons beweeg nou egter na die temperingsfase (mitigation phase) waar die siekte vryelik in gemeenskappe begin versprei.

Maar in byvoorbeeld die Wes-Kaap is die helfte van die gevalle nou weens plaaslike oordrag.

Tot sowat ’n week gelede was sowat 70% van ons infeksies nog ingevoer, sê Begg. “Die res was kontakte van siek mense wat oorsee was en ’n bietjie sporadiese oordrag,” sê sy. “Maar in byvoorbeeld die Wes-Kaap is die helfte van die gevalle nou weens plaaslike oordrag.”

En om ’n gesonde afstand te hou indien ses mense in een kamer woon, is natuurlik haas onmoontlik. “Oordrag is baie makliker as jy nie fisieke kontak kan beperk nie, so ons gaan waarskynlik ’n skerp styging sien in infeksies, veral in informele nedersettings.”

Nie almal steur hulle aan die reëls van die inperking nie. Mense wag hier op ’n taxi in die middestad van Pretoria op die eerste dag van die staat van inperking. Foto: Alet Pretorius

Een van die maniere om dit te bekamp is om nie net afsonderlike huise nie, maar hele gebiede in kwarantyn te plaas.

Nog ’n opsie is isolasie- en kwarantyn-sentrums. “Jy isoleer mense wat positief is sodat hulle weggeneem word van mense wat nie Covid-19 het nie. Kwarantyn is vir mense wat negatief is en jy wil hulle negatief hou. Namate ons nou na die temperingsfase beweeg, wil ons moontlik sale en sulke soort fasiliteite gebruik sodat mense weggeneem word van die res van die bevolking vir 14 dae totdat hul risiko verby is. Daar is reeds geboue geïdentifiseer as potensiële isolasie- of kwarantyngebiede soos militêre basisse met groot sale en slaapsale en soortgelyke ruimtes.”

Syfers gee ’n blik op verlede

Helaas is dit nog heeltemal te vroeg om te sien of die infeksiekoers daal, sê sy. Die huidige syfers weerspieël waarskynlik net die oortjies van die seekoei.

... die toetsresultate wat ons vandag sien, is waarskynlik nog ’n weerspieëling van wat twee weke gelede gebeur het.

“Op die oomblik is ons toetse meestal nog beperk tot dié wat die grootste kanse het om positief te wees. Die feit dat ons steeds baie negatiewe toetsuitslae kry, is goed, want dit wys ons is nie besig om dinge ernstig te onderskat nie – maar ons gaan waarskynlik nog ’n beduidende toename sien.

“En die toetsresultate wat ons vandag sien, is waarskynlik nog ’n weerspieëling van wat twee weke gelede gebeur het. Die meeste mense word positief tussen een en 14 dae nadat hulle in kontak was met ’n besmette persoon en die gemiddelde is sowat ses tot nege dae. Dit neem ons ook tussen 48 en 72 uur om die uitslae te kry.”

Daarbenewens is daar steeds ’n agterstand in toetsing en daar is nie noodwendig genoeg toetse nie. “Wanneer toetsing eers in die gemeenskap gedoen word, sal ons ’n baie beter idee hê. Een van die redes hoekom Suid-Korea se infeksiekoers so laag was, was omdat hulle van ’n vroeë stadium op groot skaal getoets het, en hulle kon mense wat voor-simptomaties of asimptomaties was vroeg isoleer.”

Dr. Begg is een van agt lede van die Colleges of Medicine in Suid-Afrika se taakspan vir Covid-19 wat met hul riglyne oor openbare vervoer waarskynlik gehelp het dat Suid-Afrika nou ingeperk is. Nie almal steur hulle egter aan dié riglyne nie. Dié foto is in Langa buite Kaapstad geneem. Foto: Jaco Marais

Immuniteits-paspoorte?

En nee, moenie dink as die staat van inperking verby is gaan almal weer braai en baljaar nie.

Inwoners van Mzansi sal dalk nog tot die einde van die jaar ’n gesonde afstand van mekaar moet hou, sê sy. “Ek dink die nuwe normaal gaan beperkte beweging wees. Vir minstens die volgende paar maande sal daar beperkings wees op groot byeenkomste. Ek vermoed ons sal kan begin terugkeer werk toe, maar mét al die maatreëls van hande was en ’n gesonde afstand behou en dalk is dít die soort ruimtes waar ons moet begin dink aan sekere soorte maskers.”

Sy knik. “Maar ons gaan beslis nog vir lank nie so vryelik kan rondbeweeg soos wat ons wil nie en wanneer ons in rye staan, sal daar nog steeds ’n meter moet wees tussen jou en ander mense.”

Skole en universiteite sal dalk ook nog vir langer moet toe bly – waarskynlik tot die einde van hierdie semester.

’n Groot kennisgewingbord aan die bopunt van Langstraat in Kaapstad wat mense aanraai om tuis te bly. Foto: Jaco Marais

Die groot vraag is wanneer die ekonomie weer in volle swang kan kom, want dit sal waarskynlik ook nie werk om vir sekere burgers “immuniteits-paspoorte” te gee nie.

Navorsers in Duitsland wil binnekort begin met ’n massa-studie om vas te stel hoeveel mense reeds immuun is teen die virus sodat werkers uitgesluit kan word van sekere beperkings.

Die enigste manier waarop navorsers nou kan toets vir sogenaamde “immuniteit” is deur te toets of die virus tans in iemand se bloed is.

Die probleem is dat Suid-Afrikaners met die virus meestal nie getoets word aan die einde van hul isolasie-tydperk nie. “Ons hou die toetse vir mense wat vermoedelik positief is sodat ons vir hulle kan sê om op een plek te bly. Ons werk ook bloot volgens die aanname dat mense wat positief was en vir 14 dae in isolasie was nou uit isolasie kan kom. Maar ons wéét nie of mense weer die virus kan kry nie.”

Die enigste manier waarop navorsers nou kan toets vir sogenaamde “immuniteit” is deur te toets of die virus tans in iemand se bloed is.

“Daar bestaan nog nie ’n toets vir teenliggame teen die virus nie en dis nog te vroeg in die pandemie om in elk geval met grootskaalse teenliggaam-toetsing te begin want ons het nog nie kudde-immuniteit nie.”

Suid-Afrika is tans besig om die tweede fase van die Covid-19-pandemie binne te gaan. Foto: Foto24

Drie lesse

Gelukkig het Suid-Afrika tot nou toe die meeste doemprofete verkeerd bewys.

In die afgelope twee weke was daar waarskynlik meer nuwe wetgewing as tydens verlede jaar se parlementêre sitting.

“Ek dink ons het tot dusver merkwaardig gevaar om die virus te bekamp en die samewerking tussen verskillende sektore was fenomenaal. Ons begin nou die vrugte van die samewerking tussen die private sektor en die openbare sektor sien en ook die samewerking tussen verskillende sfere van die regering. Ons het ook gesien hoe wetgewing vinniger as ooit tevore gepromulgeer word. In die afgelope twee weke was daar waarskynlik meer nuwe wetgewing as tydens verlede jaar se parlementêre sitting.”

Sy aarsel. “Natuurlik is daar dinge wat gewysig moet word, soos dat Fikile Mbalula (minister van vervoer) pas gesê het alle passasiers op taxi’s moet mediese maskers of N95-respirators dra. Dis kennelik ’n groot fout. Niemand behalwe gesondheidswerkers moet N95-respirators dra nie. Hulle is uiters ongemaklik en hulle moet behoorlik gepas word (deur iemand soos ’n verpleegster).”

Spesialiste soos sy het tot dusver veral drie lesse ter plaatse geleer.

“Ons het geleer dat ratse leierskap absoluut noodsaaklik is en dat dit reeds ’n beduidende verskil gemaak het. Dit wat dalk vir sommige mense mag lyk na drakoniese maatreëls is absoluut noodsaaklik vir ingrypings in openbare gesondheid gedurende ’n pandemie.”

Die tweede is hoe gewillig dokters was om te help. “Ons doen ons daaglikse werk snags en bedags spoor ons gevalle op en dit is ongelooflik om te sien hoe mense saamwerk en bloot voortgaan met die groot taak ter hande. Niemand kla daaroor dat dié werk te beskeie is nie.”Die derde les is helaas dat mense maar mense bly. “Ten spyte van bewyse tot die teendeel doen mense nog simpel goed en hulle luister nie. Hulle doen steeds paniekaankope en hulle staan na aan mekaar in rye, selfs as jy vir hulle sê om ’n gesonde afstand te hou.”

Die meeste Suid-Afrikaners is egter wetsgehoorsaam en welwillend. Die dom keuses wat mense gemaak het, was gewoonlik voordat ’n lid van ’n opsporingspan met hulle in kontak was. “Hulle sou simptome hê en steeds na ’n troue of ’n begrafnis gaan of ’n groot vergadering fasiliteer wat daartoe gelei het dat agt ander mense geïnfekteer is.”

Ons almal voel ’n bietjie gedaan, maar ons is ook desperaat.

Het die siekte reeds emosioneel sy tol begin eis?

Sy knik. Buite is dit al donker. “Ons almal voel ’n bietjie gedaan, maar ons is ook desperaat. Die rede hoekom ons dinge so vinnig wil doen, is omdat almal van ons besef het dis ons beste kans om die verspreiding te beperk. So ons is almal heel gelukkig om so baie ure in te sit, maar dit word uitputtend, veral as jy uitvind iemand was siek en hulle het steeds die reëls oortree.”

Sy staan op en glimlag. “Maar ons doen almal moeite om na onsself te kyk en mekaar gereeld te bel om seker te maak ons is oukei.”

Sy aarsel; die ergste lê nog voor. “Ons móét net oukei wees.”

Meer oor:  Willemien Brümmer  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Italië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.