Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Spice Girls: Speserye met substansie

Die Spice Girls se boodskap in die 1990’s was eenvoudig: jy kan enigiets baasraak met die regte houding, skryf William de Bruin.

Die Spice Girls het gewys dat jy enigiets kan regkry met die regte houding. Foto: Argief

Die 90’s was ’n eienaardige en merkwaardige tydperk in die wêreldgeskiedenis. Vreemde dinge was aan ’t broei op feitlik elke front.

Die wêreld het vir die eerste keer ’n nagadder genaamd Osama Bin Laden se naam op nuuskanale begin hoor. Vir lank was daar gerugte, maar die einde van ’n sprokiesfasade het ’n werklikheid geword toe Prins Charles en Prinses Diana hul egskeiding aangekondig het.

Die internet was in sy babaskoene. Vandag se kinders sal nooit die ontroosbare geween, gekners van tande, of die sielsvernietigende klank van ’n inskakel-konneksie verstaan nie.

Skool was dikwels ’n stryd om oorlewing.

Dolly, die skaap, het haar weg in die geskiedenisboeke ingeblêr as die wêreld se eerste soogdier wat suksesvol gekloon is. Sommige mense was in verwondering. Ander het gemaan dat ons nie in die Jirre se slaai moet krap nie.

Ek, ’n tingerige tienerseun was vaagweg bewus van hierdie wêreldgebeure. Welkom, my geboortestad, was klein genoeg om almal te ken, maar groot genoeg om jou kop weg te draai as jy iemand liefs níe wou ken nie.

Skool was dikwels ’n stryd om oorlewing. My onderwysers het van my gehou. My klasmaats effens minder. Redenaars, koor, sanggroep en die legio ander kultuurbedrywighede waaraan ek deelgeneem het was beswaarlik die sleutel tot gewildheid.

Ek is dikwels stampe toegedien wat my tas-oor-kop by die trappe laat aftuimel het. “Skop my”-plakkers het daagliks tussen my blaaie gepryk. En ek was by verstek ’n moffie. My begeerte om die sirkelstad vir ewig te verlaat, was tasbaar.

Spice Girls had eenvoudige boodskap

William de Bruin

En toe, te midde van die destydse grunge-musiekbeweging, verskyn daar ’n baken van hoop op die horison van die pop-landskap. ’n Warrelwind van platformskoene, boksterte, Gucci-rokkies wat nét te kort was om betaamlik te wees, karate-skoppe en nuutskeppings soos “Zig-a-zig-aaahhh!”

Die Spice Girls het gearriveer.

Hul wêreldoorheersing was soos ’n blitzkrieg en ’n meesterklas in bemarking. Simon Fuller, medeskepper van die Pop Idol-reeks, was die Svengali-figuur agter hul wegholsukses.

Een ná die ander rekord het gespat. Nege nommereen-treffers in Brittanje (dieselfde hoeveelheid as Abba), drie agtereenvolgende Kersfees-nommereens (’n rekord wat hulle met die Beatles deel), ’n trefferfliek, eindelose handelsprodukte; van poppe tot Polaroid-kameras.

En miskien die belangrikste: verkope van 85 miljoen albums wêreldwyd – die topverkopende meisiesgroep van all tye. Die musieksnobs het hulle neuse opgetrek, maar die syfers het nie gelieg nie. Spice-koors was in volle swang.

Vir my het al die toekennings en eerbetonings egter nie veel beteken nie. Vir my was Emma, Mel B, Mel C, Geri, en Victoria ’n groepie doodgewone meisies, met onuitsonderlike talente wat skaamteloos die buitengewone vermag het.

Hul boodskap was eenvoudig: jy kan enigiets baasraak met die regte houding. Spiceworld was een groot partytjie en almal het ’n uitnodiging gehad. Heteroseksueel, homoseksueel, manlik, vroulik, swart, wit. Met elke stamp of bytende opmerking het ek my oë toegeknyp en op die Spice-mantra gefokus, en tydens my ouers se egskeiding het die fab five die onsekerheid in my tienerhart gestil.

Dit sal na alle waarskynlikheid die laaste keer wees wat die meisies saam op die verhoog verskyn.

23 jaar later is Baby, Scary, Ginger, en Sporty terug. (Posh het besluit om die mikrofoon vir goed op te hang.) Hul Spiceworld 2019-toer skop Vrydagaand in Dublin, Ierland af. Ek sal nie daar wees nie, want my beursie en die wisselkoers laat dit nie toe nie.

Ek sou jok as ek voorgee om nie effens hartseer te wees nie. Dit sal na alle waarskynlikheid die laaste keer wees wat die meisies saam op die verhoog verskyn. Maar dis oukei, want ek het steeds ’n radio.

Vrydagaand gaan ek kliphard “slam to the left” en “shake to the right”. En as die bure kla, gaan ek pruilmond sêvra: “Who do you think you are?”

* De Bruin is ’n voormalige OFM- en JacarandaFM-omproeper. Hy is tans hoof van gehaltebeheer by Sum of 21 Academy in Pretoria, asook ’n Afrikaans.com-ambassadeur en vryskutskrywer. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Welkom  |  Dublin  |  Musiek  |  Spice Girls
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.