Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'Sportsterre mag en móét kan huil'

Prestasiedruk kan tot ernstige depressie onder sportlui lei. Lizette Rabe skryf dis tyd dat mense besef álle sportlui mag maar huil.

Illustrasie: Morné Schaap

Dit was Sondag, op 10 September, Wêreld Selfdoodvoorkomingsdag en vanjaar se tema is: “Neem ’n oomblik, verander ’n lewe”.

In April vanjaar was die tema van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se jaarlikse Wêreldgesondheidsdag “Depressie: laat ons praat”.

Die feit dat die twee temas so amper identies is, is ’n simptoom van ’n groter siekte: stilte. En dis belangrik dat daardie stilte verbreek word, want stilte kan dood maak. Deur dit te ignoreer, sal dit nie laat verdwyn nie. Nee, die boeman word net groter – en later onhanteerbaar.

Psigiese siektes begin epidemiese afmetings aanneem, maar steeds reageer ons samelewing nie met dieselfde ontsteltenis as wanneer statistieke sou wys dat kanker byvoorbeeld hand oor hand toeneem nie.

Die WGO se jongste verslag wys dat depressie die afgelope tien jaar met 18% toegeneem het. Luidens ’n ander WGO-verslag gaan daar elke jaar 12 miljard werkdae ter wêreld verlore weens depressie en angsstoornisse.

Tussen 2009 en 2014 het uitbetalings weens psigiese siektes by een Suid-Afrikaanse mediese fonds met 41% toegeneem. In nog ’n studie het die WGO voorspel dat depressie teen 2020 die wêreld se tweede grootste siekte gaan wees.

Dis die grootste enkele oorsaak van ongeskiktheid – maar steeds praat niemand daaroor nie. Dis makliker om die siekte sonder ’n gesig te ignoreer met ’n “ag wat, dit raak my nie”.

Al hoe meer druk

Die waarheid is: Psigiese siektes raak elkeen van ons. Daar is dalk iemand naby jou wat swaar dra aan haar psigiese lyding, maar nie die vrymoedigheid het om daaroor te praat nie. Daarom ook dat temas soos hierbo so dieselfde klink. Die boodskap moet weerklink: Die stilte móét gebreek word, ons móét meer openlik oor depressie praat sodat ’n behandelbare siekte nie vir sommige fataal ontwikkel nie.

Die internasionale rugbygemeenskap het gesteier onder die besef dat depressie die 37-jarige Vickerman se dood veroorsaak het.

Navorsing wys dat depressie in meer as 90% van selfdoodgevalle teenwoordig was.

Die feit is ook dat ons al hoe meer druk ervaar wat tot emosionele stres kan lei. As jy nie aandag daaraan gee nie, kan dit ontwikkel in ’n kliniese, biologiese siekte.

Ons moet die d-woord meer gebruik – depressie – sodat die s-woord – selfdood – sy skokwaarde kan verloor. Vroeër vanjaar, ná die selfdood van die Suid-Afrikaans-gebore Wallaby-rugbyspeler Dan Vickerman, het John Kirwan, oud-All Blacks-kaptein, onder meer gesê: “Ek dink ons moet die s-woord meer gebruik.”

Die internasionale rugbygemeenskap het gesteier onder die besef dat depressie die 37-jarige Vickerman se dood veroorsaak het.

Die voormalige Wallabies-speler Dan Vickerman, wat op 37-jarige ouderdom weens depressie sy eie lewe geneem het. Foto: Cameron Spencer / Getty

Depressie is iets wat Kirwan maar te goed ken, hoewel hy eers in 1999, nadat hy opgehou speel het, vir die eerste keer openlik oor sy stryd met dié siekte gepraat het.

In 2012 het hy ’n ridderskap gekry vir sy bydrae tot rugby én sy rol as psigiese gesondheidsaktivis.

Met Vickerman se dood het talle berigte verwys na die stilte wat byvoorbeeld in die sportgemeenskap, en spesifiek ook in rugbygeledere, heers wat maak dat spelers liefs nie oor psigiese siektes wil praat nie.

Psigiese siektes – anders as liggaamlike beserings – is nie sigbaar nie.

Een opskrif het na die “cult of silence” verwys wat te veel jong mans eis. Maar dis juis dié stilte wat fataal is.

Hoe gouer ’n mens hulp kry, hoe gouer kan jy jou siekte leer bestuur – soos iemand anders sy hoë bloeddruk, diabetes of asma beheer. Depressie is ’n behandelbare siekte en selfdood ’n voorkombare tragedie.

Vorteks van vernietiging

Kirwan vertel die verhaal van sy stryd met depressie in sy boel All Blacks Don’t Cry. Die subtitel is The Story of Hope, en dis presies wat dit is: Hoe om hoop te vind. Veral in professionele sport met die onverbiddelike klem op prestasie is die behoefte geweldig groot om oor depressie te praat, het berigte ná Vickerman se dood gelui. En tog het die groot stilte weer oor die onderwerp neergedaal ná die aanvanklik talle berigte oor Vickerman se dood.

Psigiese siektes – anders as liggaamlike beserings – is nie sigbaar nie. Maar net omdat hulle bokant die nek is, mag hulle nie onsigbaar bly en daaroor geswyg word nie.

John Kirwan, voormalige All Blacks-kaptein.

Wat het Kirwan gehelp om sy siekte suksesvol te bestuur? In sy woorde: “Ek het depressie oorleef deur aan hoop vas te klou.” En: “Ek is hel toe en terug.” En: “Dis soos ’n swart gat. Dit sal die lewe uit jou suig as jy nie hulp kry nie.”

Vickerman was een van die ongelukkiges wat in daardie vorteks van vernietiging ingesuig is en nie weer kon opkom vir suurstof nie.

Dis deel van sport se macho kultuur, is ná sy dood geskryf. Want dis nie net nasionale sportlui wat nie mag huil nie. Ook spelers op die laer range van amateursport ervaar dieselfde soort prestasiedruk en sal dieselfde dieptes tref. Die boodskap moet wees: All Blacks – álle sportlui – mág maar huil.

Strewe na perfeksie

Waar begin ’n mens se pad na herstel? Jy moet eers erken dat jy siek is, sê Kirwan. “As jy erken jy is siek, dat jy depressie het, kan jy daarmee begin werk.”

Daar moet ook openlik daaroor gepraat word, soos wat hy doen as segspersoon vir depressiebewusmaking in Nieu-Seeland. Deur openlik daaroor te praat, sal die statistieke gestuit kan word, meen Kirwan.

Prof. Lizette Rabe.Foto: Denzil Maregele

Depressie gaan nie weg as jy nie daaroor praat nie. Inteendeel, dit word groter – daardie groot swart hond wat jou meedoënloos en genadeloos jag.

Kirwan meen kennis oor psigiese gesondheid moet al vir kinders op skool geleer word: “Ons leer hulle wiskunde en wetenskap, maar nie dat dinge nie volgens plan kan verloop nie. En dat jy dan na jou psigiese welstand moet kyk.”

Sportmense is veral kwesbaar omdat hulle so streef na perfeksie. Die druk om te presteer in professionele sport is geweldig hoog. Of soos Kirwan dit stel: “Daar is ’n paar tendense in ons sport wat ons vatbaar maak vir psigiese gesondheidskwessies.”

Soos ’n sportbesering

Kirwan het deur sy depressie gewerk deur dit soos ’n sportbesering te behandel. Hy het uiteindelik ’n psigiater gaan sien wat hom gevra het wat hy sou doen as sy probleem ’n stywe spier was.

Hy het geantwoord hy sou stop en eers strekoefeninge doen. En as dit steeds ’n probleem was? Dan sou hy ’n fisioterapeut gaan sien, het hy gesê. Die psigiater se antwoord was dat hy dit moet toepas op sy brein: “Jy het ’n stywe spier in jou kop.”

Deel van sport se macho kultuur is om ’n masker te dra en nie oor depressie te praat nie. Foto ter illustrasie: iStock

In Kirwan se woorde: “Ek het toe ys daarop gesit, wat beteken ek het medisyne geneem wat gehelp het om balans terug te bring. Daarna het ek na die ‘fisio’ gegaan, in dié geval die psigiater. Ek het op ’n reis na welstand vertrek.”

Hy beklemtoon dat sportlui moet onthou depressie is ’n siekte, nie ’n swakheid nie. Mense moet openlik daaroor praat “want daar is baie hoop – jy moet net uitreik en op die uitkyk wees daarvoor”.

Of, in die woorde van Wêreld Selfdoodvoorkomingsdag: Neem ’n oomblik, verander ’n lewe.

* Prof. Rabe is voorsitter van die Ithemba Stigting wat depressiebewusmaking bevorder en navorsing steun.

KRY HULP

Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) se krisishulplyn is 0800 567 567; of stuur ’n SMS na 31393.

Klik hier vir meer inligting oor Wêreld Selfdoodvoorkomingsdag.

Meer oor:  Dan Vickerman  |  John Kirwan  |  Lizette Rabe  |  Depressie  |  Selfdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.