Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Spotprente en politieke ‘sonsopkomste’

Die sonsopkoms-metafoor word dikwels gebruik om ’n nuwe begin te beskryf. Lizette Rabe skryf oor vier politieke “sonsopkomste” oor net meer as ’n eeu van Suid-Afrikaanse geskiedenis en vier spotprente wat elk sy eie nuwe politieke daeraad aangekondig het.

Die spotprent deur Zapiro wat die ANC-oorwinning in 1994 uitbeeld. (Kopiereg 1994 Zapiro, herdruk met die toestemming: www.zapiro.com.)

Hy hoop nie dis ’n valse sonsopkoms nie, sê emeritus-aartsbiskop dr. Desmond Tutu onlangs aan pres. Cyril Ramaphosa oor die nuwe fase in Suid-Afrika se geskiedenis. Kort daarop word berig dat ook die sakesektor hoop op ’n “nuwe sonsopkoms” onder Ramaphosa. Ander stemme begin sê dis maar ’n trae daeraad; die politiek en die ekonomie kry net nie koers nie.

Die antieke Grieke het al van die sikliese aard van geskiedenis gepraat – in gewone taal eenvoudig maar net die geskiedenis herhaal homself. Dít kan onder meer in ’n viertal spotprente gesien word wat oor net meer as een eeu in die Suid-Afrikaanse pers verskyn het. Elke keer was dit ’n nuwe daeraad vol hoop oor wat die nuwe begin sou inhou. Maar hoewel al vier spotprente geteken is rondom dieselfde metafoor van ’n “nuwe sonsopkoms”, beeld elkeen eintlik ’n heel ander politieke era in Suid-Afrika se geskiedenis uit.

T.O. Honiball.

Dié vier spotprente verteenwoordig Suid-Afrika se koloniale verlede, die apartheidsverlede, die begin van die demokratiese era en die tydperk onder die Zuma-presidentskap. Elkeen is boonop deur ’n ikoniese spotprentkunstenaar geskep.

Die eerste spotprent deur Arthur Wynell Lloyd is aan die begin van die vorige eeu in 1906 gepubliseer – kort ná die einde van die Suid-Afrikaanse Oorlog en vier jaar voor Uniewording in 1910. Suid-Afrika het toe uit die twee Britse kolonies, die Kaap en Natal, en die voormalige twee Boererepublieke, die Transvaal, of die Zuid-Afrikaansche Republiek, en die Oranje-Vrystaat bestaan.

Die tweede spotprent, deur T.O. Honiball, is uit 1948, dus in die middel van die vorige eeu, en beeld die Nasionale Party-oorwinning uit wat tot die apartheidsbeleid sou lei. Die derde spotprent is in 1994 deur Jonathan Shapiro, oftewel Zapiro, geteken en wys die nuwe sonsopkoms van die nuwe demokrasie.

Die vierde, uit die pen van Fred Mouton, het in die eerste uitgawe van Die Burger in 2016 verskyn, dus letterlik met die aanbreek van ’n nuwe jaar, en beeld ’n donker toekoms onder die Zuma-presidentskap uit. Vier sonsopkomste, maar elkeen tekenend van ’n ander politieke era – en ’n heel ander daeraad.

Wat is ’n politieke spotprent?

Politieke spotprente word beskou as “hoofartikels in prentjies” – die koerant se politieke kommentaar dus grafies voorgestel. As die hoofartikel die amptelike kommentaar is van die koerant se standpunt oor ’n saak, is die spotprent sy visuele of grafiese kommentaar oor iets.

Spotprente het ontwikkel uit die gravures wat drukmedia as illustrasies moes gebruik lank voordat fotografie ontwikkel het. Die eerste politieke spotprente in Suid-Afrika is in Londen gedruk en is versprei deur The Grahamstown Journal, gestig in Desember 1831, en het op ’n “giftige, amper lasterlike manier” die verhouding tussen die Oosgrens-boere en goewerneur Andries Stockenström uitgebeeld.

Spotprente word beskou as ’n baie spesifieke genre, met ’n eie geskiedenis, styl, konvensies en kommunikasie-doeleindes.

In Suid-Afrika is spotprentstudie as akademiese navorsingsveld nog onbekend, maar in Brittanje is daar byvoorbeeld die British Cartoon Archive en die Centre for the Study of Cartoons and Caricature by die Universiteit van Kent. In Amerika huisves die Ohio State University die Opper Project, ’n sentrum vir politieke spotprente. Die sentrum is genoem na die eerste groot Amerikaans-gebore spotprentkunstenaar, Frederick Burr Opper. Die Universiteit Stellenbosch het ’n Centre for Comic, Illustrative and Book Arts, en fokus onder meer op strippekuns en illustrasies, hoewel nie spesifiek politieke spotprente nie.

’n Paar akademiese werke het al in Suid-Afrika oor spotprentstudies verskyn, onder meer die werk van Francois Verster op M- en doktorale vlak, asook sy boek oor Die Burger se drie spotprenttekenaars oor een eeu, Die groot drie.

Die Suid-Afrikaanse Spot- en Strookprentkunstenaars deur M. en E. Schoonraad in 1983, en die Engelse verwerking daarvan in 1989, is só omvattend dat dit ’n ensiklopedie van spotprentkunstenaars tot die 1980’s genoem kan word.

Hoe “lees” ’n mens ’n spotprent?

Spotprente word beskou as ’n baie spesifieke genre, met ’n eie geskiedenis, styl, konvensies en kommunikasie-doeleindes. Eienskappe soos humor, ironie, sarkasme, satire en simboliek kan op verskillende maniere ontleed word. Spotprentkunstenaars beklemtoon byvoorbeeld ook tipies ’n openbare figuur se neus, ore of wenkbroue om ’n karikatuur te skep. Of hy gebruik simbole, soos ’n duif, as simbool van vrede.

In hierdie vier spotprente se geval is die metafoor van ’n sonsopkoms gebruik. Metafore is seker een van die algemeenste kenmerke van spotprente, want dit is letterlik “beeldspraak”, waar iets met iets anders vergelyk word. Belangrik: Al die elemente moet universeel wees sodat almal met die eerste oogopslag kan “lees” watter boodskappe die prent oordra – soos hierdie vier sonsopkomste oor een eeu.

’n “Imperiale” sonsopkoms

Die eerste “sonsopkoms” is dié van ’n koerant wat “son” in sy titel het – die Sondagkoerant Sunday Times se eerste uitgawe op 4 Februarie 1906 – nogal sommer op sy voorblad.

Die voorblad van die eerste uitgawe van die Sunday Times in 1906. Die skepper van die spotprent was Arthur Wynell Lloyd. (Joel Mervis: The Fourth Estate, Jonathan Ball-uitgewers, 1989.)

’n Mens kan dus sê dat dit ’n onskuldige sonsopkoms is waarvan die beeldspraak net van toepassing is op die “sonsopkoms” van die Sondagblad. Maar die imperiale ideale in die glimlaggende son, stralend en vol verwagting, is duidelik. Dis ’n sonsopkoms van ’n Britse dominium oor die grootste deel van Suider-Afrika – alles deel van die koloniale droom van die Britse empire van Kaapstad tot Kaïro.

En soos wat geskryf is, die koerant hét eintlik net suiwer “kolonialisme, Britse jingoïsme” bevorder. Daarom simboliseer dié sonsopkoms inderdaad die hoop van een politiek-koloniale entiteit van ’n empire gebou op die koloniale rykdomme van die onderskeie gebiede.

Die skepper van die spotprent was Arthur Wynell Lloyd (1883–1967), gebore in Engeland en Oxford-afgestudeerde. Hy het in 1905 op uitnodiging van die mynmagnaat sir Abe Bailey na Suid-Afrika gekom om by sy koerante as spotprentkunstenaar te kom werk. Lloyd het in 1914 na Engeland teruggekeer waar hy vir Punch as parlementêre spotprentkunstenaar gewerk het en hy was ’n bekende in politieke kringe.

’n “Afrikaner-nasionale” sonsopkoms

Die spotprent wat die NP-oorwinning in 1948 uitbeeld deur T.O. Honiball. (D.C. de Villiers: “Die Wonderwerk van Agt-en-veertig” in J.P. Scanell (red.) Keeromstraat 30, Nasionale Boekhandel Beperk, 1965.)

Die tweede spotprent is op 29 Mei 1948 in Die Burger gepubliseer en beeld die gesig van die NP-leier (en oud-Burger-redakteur) D.F. Malan uit as die sonsopkoms van ’n nuwe era. Die agtergrond is ’n tipiese Suid-Afrikaanse, amper dorre Karoo-landskap. Malan het net ’n effense, amper skaam glimlag, en kyk nie direk na die leser nie – iets wat geïnterpreteer kan word as deel van Malan se introvert-karakter, en dat Afrikaners onder Calvinisties-puriteinse invloed nie sommer uitbundigheid sou wys nie. Die sonstrale vorm die woord “nasionalisme”, en boaan die spotprent verskyn die Nasionale Pers van toe se slagspreuk, het daghet overal (die dag breek), ’n ideaal wat uiteindelik bewaarheid is.

Amper paradoksaal teenoor Malan se gesigsuitdrukking is die stralende son soos ’n stralekrans om sy kop. “Het daghet overal” sou ook baie bekend aan lesers gewees het, want dit het hoop en inspirasie aan Afrikaners gebied.

Die skepper van die spotprent was T.O. Honiball (1905–1990), Die Burger se tweede spotprenttekenaar ná D.C. Boonzaier. Honiball het eers argitektuur aan die Universiteit van Kaapstad studeer, maar het ná ’n jaar as winkelvensterversierder in Chicago gaan werk waar hy aandklasse in handelskuns by die Koester School of Advertising gevolg het.

T.O. Honiball se spotprent ná die NP se oorwinning in die verkiesing van 1953. (J.P. Scanell (red.) Keeromstraat 30, Nasionale Boekhandel Beperk, 1965.)

In 1930 het hy teruggekeer en ná ’n ruk as vryskut vir Huisgenoot begin teken. In 1936 is hy heeltyds aangestel as illustreerder, en in 1941 het hy Boonzaier opgevolg. Hy is aangesê om Boonzaier se styl te volg, insluitend die Hoggenheimer-karikatuur van Joods-Britse geldmagte. Honiball was nooit ’n politieke dier nie, en het dit meer geniet om sy strokieskarakters soos Oom Kaspaas, Jakkals en Wolf en Adoons-hulle te teken. Volgens die Honiball-kenner Francois Verster het hy glad nie belang gestel in politiek nie, maar net geteken wat die redakteur van hom verwag het.

Die ANC-sonsopkoms

Die derde spotprent is gedateer 29 April 1994, dus geteken net ná die eerste historiese demokratiese verkiesing in Suid-Afrika. Die spotprent beeld die stralende, uitbundige gesig uit van Nelson Mandela as eerste demokraties verkose staatspresident.

Mandela oorheers die ander twee elemente in die spotprent, hoewel die posisies van die ander twee hul belang aandui. Byna in die middel, en in die volle lig van die nuwe daeraad, en moontlik in ’n nuwe (vars) bries, is die nuwe Suid-Afrikaanse vlag.

Die vullisdrom simboliseer apartheid-Suid-Afrika, en ’n deel van die vullis is die ou Suid-Afrikaanse vlag as simbool van apartheid, tesame met ’n vrot vis as metafoor van die verrotte toestand van die land.

Op die voorgrond, aan die regterkant, word die oog getrek na ’n donkerder hoek met rooierige, amper bloedkleurige aarde en ’n vullisdrom met ’n onheilspellende karakter, in kontras met die stralende gesig van Mandela as metafoor vir die sonsopkoms van ’n “Nuwe Suid-Afrika”.

Die vullisdrom simboliseer apartheid-Suid-Afrika, en ’n deel van die vullis is die ou Suid-Afrikaanse vlag as simbool van apartheid, tesame met ’n vrot vis as metafoor van die verrotte toestand van die land. Dié spotprent is boonop in kleur – die moderne druktegnologie het dus ook dimensies tot die leser se ervaring daarvan bygedra, veral met die warmte van Mandela wat ’n nuwe, inklusiewe Suid-Afrika beloof.

Die skepper van die spotprent is Zapiro, oftewel Jonathan Shapiro (gebore 1958). As Zapiro het Shapiro ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika geword. Van “passievolle kritikus teen apartheid het hy ontwikkel tot ’n ywerige kritikus van alle magtige, prominente mense oor alle rassegrense heen”.

Zapiro, oftewel Jonathan Shapiro.

Soos Honiball, het Zapiro ook eers argitektuur aan die Universiteit van Kaapstad bestudeer. Hy het begin om spotprente te teken vir alternatiewe koerante voordat hy met ’n Fulbright-beurs in 1988 na die School of Visual Arts in New York vertrek het. Zapiro het etlike pryse vir sy werk ontvang en van sy werk word jaarliks as versamelings uitgegee.

En . . . ’n Zuma-“sonsopkoms”

’n Zuma-“sonsopkoms” wat op 2 Januarie 2016 in Die Burger gepubliseer is.

Die vierde spotprent is dié van Fred Mouton, legendariese spotprenttekenaar in die Afrikaanse media, wat op 2 Januarie 2016 in Die Burger, die jaar se eerste uitgawe, verskyn het. Dit beeld ’n onheilspellende donker landskap uit, met die heuwels tot by die horison “gemerk” met kwessies wat Suid-Afrika destabiliseer.

Die Suid-Afrikaanse verbruiker word uitgebeeld as ’n man wat die padkaart vir die jaar 2016 lees. Die opkomende “son” is herkenbaar as die kop van Jacob Zuma, derde president van Suid-Afrika. Die negatiewe Nuwejaarsverwagtinge word uitgespel op die heuwels langs die kronkelende pad, soos die dreigende rommelstatus vir die land en ’n onstabiele geldeenheid.

Die ikoniese muiskommentator in Mouton se spotprente sê ’n “opdraande stryd” lê voor. Vyf van die ses uitdagings wat uitgespel word as deel van ’n onstabiele toekoms kan gesien word as die direkte gevolg van die finansiële fiasko genaamd Nene-gate wat hom toe pas in Desember 2015 afgespeel het toe Zuma vir Nhlanhla Nene as geloofwaardige minister van finansies vervang het met ’n onbekende sikofant.

Fred Mouton.

Hoewel dié aanstelling slegs vir ’n naweek was, het dit geweldige skade op alle vlakke veroorsaak. Dié spotprent, so aan die begin van ’n nuwe jaar, was dus ’n voorbode van ’n donker toekoms. Trouens, 2016 is beskryf as ’n “annus horribilis” met die een skandaal ná die ander wat begin oorkook het, want ná Nene-gate het ook Nkandla-gate en Gupta-gate gevolg. Frases soos “staatskaping” en die minagting van die Grondwet het kort daarna sinoniem geword met die president.

Mouton se sterk eienskappe lê in die uitbeelding van die Afrikaanse leefwêreld, gekoppel met ’n superdroë sin vir humor.

Die skepper van die spotprent is die befaamde Fred Mouton (gebore 1947). Mouton kan beskou word as net so bekend in die Afrikaanse media as Zapiro in die Engelse media. Hy het in Januarie 1975 vir Honiball as Die Burger se derde spotprenttekenaar opgevolg. Mouton het grafiese kuns aan die destydse Kaapse Tegniese Kollege (nou Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie) gestudeer, en as student is van sy illustrasies in Fair Lady gepubliseer.

As maar die derde van Die Burger se drie spotprentkunstenaars oor een eeu, kan Mouton, soos Honiball, nie beskryf word as geïnteresseerd in die politiek nie. Mouton se sterk eienskappe lê in die uitbeelding van die Afrikaanse leefwêreld, gekoppel met ’n superdroë sin vir humor. Hy het inderdaad volksbesit geword deur sy meesterlike uitbeelding van Suid-Afrika se uitdagings en beproewings, met die lag én die traan.

’n Nuwe sonsopkoms?

Zapiro self het geskryf dat ’n spotprent net ’n paar sekondes nodig het om begryp te word, maar dat dit ’n enorme uitwerking kan hê en hoogs onthoubaar kan wees. In hierdie vier sonsopkomste uit vier verskillende politieke eras oor meer as een eeu, is dit duidelik dat een beeld selfs tot heeltemal verskillende boodskappe en interpretasies kan lei.

En ja, terwyl hierdie skrywer nog nie ’n sonsopkoms-spotprent gesien het met Ramaphosa as die versinnebeelding van ’n nuwe era nie, het emeritus-aartsbiskop Tutu en die sakesektor dit darem nou reeds in soveel woorde uitgedruk. Laat die hoop nie beskaam nie: Suid-Afrika, ’n nuwe sonsopkoms wag!

* Lizette Rabe is professor in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch. Haar navorsingsfokus is onder meer mediageskiedenis en hierdie artikel is ’n verkorte weergawe van ’n artikel wat pas in die Historiese Genootskap van Suid-Afrika se vakjoernaal Historia verskyn het. 

Meer oor:  Fred Mouton  |  Zapiro  |  Spotprente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.