Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Staat van beskuldiging vir Trump: Wat nou?

Dis nou amptelik: Donald Trump is maar die vierde Amerikaanse president wat met ’n amptelike staat van beskuldiging – daar bekend as “impeachment” – te make kry. Leopold Scholtz kyk na wat dit beteken en hoe dinge nou na verwagting verder gaan verloop.

Die klag teen pres. Donald Trump is nou dat hy druk op ’n buitelandse regering uitoefen om sy herverkiesingspoging te bevoordeel deur vuil wasgoed van sy opponent in die verkiesing op te diep. Foto: Reuters

Dit was asof pres. Donald Trump ’n streep in die sand getrek het: Ek daag julle, die Demokrate, uit om daaroor te stap.

Dit het die Demokrate feitlik geen keuse gelaat nie, altans nie as hulle nog ’n greintjie politieke geloofwaardigheid wou behou nie. En dus het die speaker van die huis van verteenwoordigers, die Demokraat Nancy Pelosi, die eerste fase van ’n formele staat van beskuldiging – ’n ondersoek – aangekondig.

Hoe het dit so ver gekom?

Die regstreekse aanleiding is ’n onthulling van ’n fluitjieblaser in verskeie Amerikaanse swaargewig-media (van alle politieke rigtings) oor onbehoorlike kontak van Trump met pres. Wolodimir Zelenski van die Oekraïne. Na bewering het die fluitjieblaser gehoor hoe Trump druk op Zelenski uitoefen om beweerde korrupte praktyke te ondersoek van Hunter Biden, seun van Joe Biden, die man wat waarskynlik die Demokratiese Party se kandidaat teen Trump in aanstaande jaar se verkiesing gaan wees.

In Augustus het Trump dit glo ’n telefoongesprek met Zelenski gedoen. Hy het dit aanvanklik ontken, toe weggeskram en dit vandeesweek erken.

‘Gekant teen korrupsie’

Pres. Wolodimir Zelenski van die Oekraïne op wie Trump glo druk uitoefen om beweerde korrupte praktyke te ondersoek van Hunter Biden, seun van Joe Biden. Foto: Reuters

Die klag teen Trump is nou dat hy druk op ’n buitelandse regering uitoefen om sy herverkiesingspoging te bevoordeel deur vuil wasgoed van sy opponent in die verkiesing op te diep. Trump se verweer is dat hy gekant is teen Amerikaners wat korrupsie in die buiteland pleeg.

Die oorspronklike fluitjieblaser het egter nog verder gegaan. Volgens hom (of haar; die persoon se identiteit is onbekend) het Trump gedreig om militêre hulp aan die Oekraïne te weerhou as Zelenski sy versoek weier.

Trump het nou openlik erken dat die fluitjieblaser se weergawe essensieel korrek is. Hy ontken weliswaar dat hy met die weerhouding van militêre hulp gedreig het, maar verskeie waarnemers wys daarop dat Amerika ’n week voor die telefoongesprek skielik die vloei van militêre hulp stopgesit het.

Trump het beloof om sowel die fluitjieblaser se skriftelike klag as die transkripsie van die telefoongesprek openbaar te maak. Of dit die beweerde dreigement bevat, is onbekend, maar Trump-kritici meen dis in elk geval nie so belangrik of hy dit eksplisiet gemaak het nie; die boodskap wat met die opskorting van die militêre hulp gestuur is, was al klaar duidelik.

Dit broei al lank in die Demokratiese Party oor ’n beskuldiging teen Trump weens sy brute en onkonvensionele manier van politiek voer. Pelosi het egter tot dusver wal gegooi teen die aandrang in haar party se linkervleuel om die daad by die woord te voeg.

Nixon en Clinton

Pelosi, ’n ou rot in die vak, weet wat met twee van die vorige beskuldigings, teen press. Richard Nixon (1975) en Bill Clinton (1998) gebeur het, en dit maak haar versigtig.

Die klag teen Nixon in die Watergate-saak het gewerk, maar net nadat bandopnames van gesprekke in sy kantoor wat sy skuld bo alle twyfel bevestig het, bekend geword het. Toe het sy politieke steun in die kongres opgedroog, en hy het self bedank.

’n Formele klag kan werk as jy ’n onomstootlike saak het, maar as dit ’n onbenulligheid is, kan dit in jou gesig ontplof.

In Clinton se geval het dit oor ’n betreklik onbelangrike saak gegaan, sy seksuele verhouding met ’n jong vrou in sy kantoor. Die kiesers het dit as ’n heksejag beskou, met die gevolg dat dit sy gewildheid ’n enorme hupstoot gegee het.

Die twee sake wys dat ’n formele klag kan werk as jy ’n onomstootlike saak het, maar as dit ’n onbenulligheid is, kan dit in jou gesig ontplof. Pelosi weet dit, en dus het sy tot dusver alle pogings om Trump aan te kla gesmoor.

Trump se erkenning het egter die damwal gebreek. Ook Pelosi het nou, polities gesproke, geen ander keuse meer nie.

Twee weë

Die Demokraat Nancy Pelosi, die speaker van die huis van verteenwoordigers, het die eerste fase van ’n formele staat van beskuldiging – ’n ondersoek – teen Trump aangekondig. Foto: Reuters

Die Amerikaanse grondwet bevat slegs twee weë om tussen verkiesings van ’n president ontslae te raak. Die een is wanneer ’n president letterlik nie in staat is om sy amp uit te oefen nie, maar dis nie hier ter sprake nie.

Die ander is weens wangedrag. Art. 2(4) van die Amerikaanse grondwet gee die volgende as moontlike redes vir klagte aan: hoogverraad, omkopery of “other high crimes and misdemeanors”.

Dis met opset destyds vaag gestel, omdat dit ten diepste ’n politieke kwessie is, geen regsproses nie.

Die senaat moet die president met ’n tweederde-meerderheid skuldig bevind.

Die proses verloop in drie fases, waarvan Pelosi nou die eerste in werking gestel het. Dit behels ’n ondersoek deur ’n komitee van die huis van verteenwoordigers na die vraag of die president aangekla moet word.

Dit beteken kommissies van ondersoek, verhore, die aanhoor van getuies, ensovoorts. Dan moet die komitee stem of die saak na die volle huis verwys word (dis hier waar Nixon besluit het om pad te gee).

Die tweede fase breek aan wanneer die huis die kwessie debatteer en met ’n gewone meerderheid vír of téén ’n formele staat van beskuldiging besluit. In die derde en laaste fase word die saak dan aan die senaat (wat as jurie optree) voorgelê.

Die senaat moet die president met ’n tweederde-meerderheid skuldig bevind. (In 1998 het net 55 van die 100 senatore vir Clinton se skuldigbevinding gestem, dus is hy vrygespreek.)

Wat gaan dié senatore doen?

Joe Biden, die man wat waarskynlik die Demokratiese Party se kandidaat teen Trump in aanstaande jaar se verkiesing gaan wees. Foto: Reuters

In dié geval is dit belangrik dat Pelosi nog nie die jawooord vir ’n formele klag gegee het nie; slegs vir ’n ondersoek. Maar ofskoon dit teoreties nog hier kan stop, is dit polities baie onwaarskynlik.

Daarna is die kans oorweldigend dat die huis Trump gaan aankla. En dan kom die senaat, waar die Republikeine (met 52 van die 100 setels) ’n meerderheid het. In elk geval is die Demokrate ver van die tweederde-meerderheid wat nodig is om die president af te sit.

Die groot vraag is nou wat die Republikeinse senatore gaan doen. Teen die agtergrond van die feit dat Trump daarin geslaag het om die party feitlik volledig onder sy beheer te kry is dit uiters onwaarskynlik dat ’n beduidende aantal vir sy skuldigbevinding sal stem.

Dis seker te vroeg om daarin ’n verbrokkeling van Trump se steun te lees, maar nie onmoontlik nie.

Tog, ’n onheilspellende feit is wel dat die senaat eenparig – dus met die steun van die Republikeine – besluit het dat die fluitjieblaser se oorspronklike klag onveranderd uitgereik moet word. Dis seker te vroeg om daarin ’n verbrokkeling van Trump se steun te lees, maar nie onmoontlik nie.

’n Laaste gedagte: Dis in beginsel nie onmoontlik dat die Demokrate se Joe Biden ook in die proses polities beskadig kan word nie. Trump het hom en sy seun selfs reguit van korrupsie beskuldig.

In dié stadium (en dié voorbehoud is noodsaaklik) is daar egter geen flentertjie bewys teen pa en seun Biden nie. ’n Mens sal maar moet sien of dit nog kom.

Die kwessie dui egter daarop dat die presidentsverkiesing van aanstaande jaar die moeder van alle smerige verkiesings gaan wees.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Joe Biden  |  Donald Trump  |  Nancy Pelosi  |  Amerika  |  Oekraïne  |  Staat Van Beskuldiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.