Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Staatsbank ’n hersenskim

Is dit selfs vaagweg moontlik dat pres. Cyril Ramaphosa werklik glo dat ’n staatsbank ’n sukses sal wees, vra Douglas Gibson.

Ramaforie is besig om te kwyn terwyl ’n mate van ontnugtering met die president se standpunte oor sekere kwessies toeneem.

Mense word nou en dan daaraan herinner dat hy uit ’n linksgesinde tradisie kom wat meen die staat kan en behoort alles te doen. Sy ondersteuners sinspeel dan daarop dat hy nie regtig hierdie onsin glo nie en op die een of ander manier sal toesien dat sy woorde nie heeltemal ten uitvoer gebring sal word soos hy sê dit sal gebeur nie.

Die beste voorbeeld hiervan is sy ondersteuning van onteiening sonder vergoeding, strydig met die voorskrifte van ons Grondwet. Sy standpunte oor radikale ekonomiese transformasie is nog een.

Sy jongste ondersteuning vir die totstandbrenging van ’n staatsbank sou snaaks gewees het as dit nie kommerwekkend was nie.

Is dit selfs vaagweg moontlik dat die president werklik glo dat ’n staatsbank ’n sukses sal wees? Gegewe die dreinering van ons bronne by die meeste staatsondernemings, soos Eskom, die SAL, Petro­SA, die SAUK en die res, en hul herhaalde versoeke om reddingsboeie van miljarde, kan enig­iemand anders as ’n ekonomiese leek eerlik glo dat die staat ’n suksesvolle bank kan bedryf?

’n Mens verwag dat Julius Malema dit sal glo, maar Ramaphosa? Dit lyk of Malema die president deesdae in groot mate ideologies inspireer.

Kundigheid ontbreek

Dis lagwekkend om te verwag dat ’n staatsbank in hierdie land doeltreffend sal meeding, winsgewend sal funksioneer, veilige reserweperke sal handhaaf, sonder korrupsie sal wees en doeltreffend sal funksioneer.

As die regering nie in staat is om enigiets anders behoorlik te bestuur nie, hoekom sal enigiemand dink dat hy in staat sal wees om ’n bank te bestuur wat groot genoeg is om met die bestaande groter banke mee te ding?

Het die voorstanders van hierdie nuwe bank enige idee van die hoeveelheid kundigheid wat benodig word?

Verstaan hulle dat lenings nie toegestaan kan word aan almal wat daarom aansoek doen as hulle nie aan die minimum risikovereistes voldoen nie? Lenings moet regtig

terugbetaal word. Indien nie, verteenwoordig dit ’n verlies waarvoor iewers elders opgemaak moet word. Daardie iewers elders is, onheilspellend, die belastingbetaler.

Staatsondernemings vermors miljarde

Malusi Gigaba, die voormalige minister van finansies, het ’n jaar gelede gesê die regering het in die voorafgaande tien jaar reddingsboeie ter waarde van R125 miljard aan staatsondernemings toegestaan. Dié bedrag het sedertdien toegeneem. Baie daarvan is vermors en ons het niks om daarvoor te wys nie. Dink net wat ons sou kon doen om die lewe van ons mense te verbeter deur daardie geld te gebruik vir infrastruktuur, huisvesting, paaie, onderwys en gesondheidsorg.

Dan is daar die geld wat deur politici en amptenare geplunder en op ’n korrupte manier wanbestee en misbruik is.

Die ANC – en klaarblyklik Rama­phosa – het ’n onwrikbare vertroue in die staat se vermoë om ’n bank te bestuur.

Niemand weet hoeveel dit is nie, maar dit moet ’n enorme bedrag wees as in gedagte gehou word wat oor die verloop van ’n generasie op nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsvlak toegelaat is. Die korrupsievlak in dorps- en stadsrade oral in Suid-Afrika waarvan ons weet, is weersinwekkend.

Voeg hierby die hoogs problematiese staatsondernemingsektor met die korrupsie en die staat se onvermoë om ’n toereikende onderwys-, gesondheid- en veiligheidstelsel te bestuur, asook ’n polisiediens om misdaad te beveg, en die vraag ontstaan: Hoekom dink jy die bestuur van ’n staatsbank sal anders wees?

Die ANC – en klaarblyklik Rama­phosa – het ’n onwrikbare vertroue in die staat se vermoë om ’n bank te bestuur.

Benewens hul ideologiese verbintenis tot ’n almagtige staat, wat in staat is om enigiets te doen, is die hoofoorweging dat lenings op veel makliker voorwaardes beskikbaar moet wees en dat sogenaamde “witmonopoliekapitaal” ’n gevoelige slag toegedien sal word deur verhoogde mededinging.

Malusi Gigaba Foto: Felix Dlangamandla

Staatsamptenare g’n sakekenners

Ek het ’n jaar gelede oor hierdie hele kwessie geskryf en dinge het nie regtig verander nie. ANC-lede het min vertroue in die privaat sektor; hul houding teenoor mense wat die ekonomie aandryf, wissel van minagting tot werklike vyandigheid.

Die gans wat die goue eiers van werkgeleenthede vir miljoene lê en miljarde aan belasting betaal, word op ’n afstand gehou behalwe wanneer die minister van finansies of die president die sakewêreld inroep om ’n afgradering te voorkom of ’n goeie beeld by Davos voor te hou.

Staatsamptenare is nie sakelui nie, en lojale partykaders wat as direkteure van staatsondernemings aangestel word, weet in die algemeen min van sake of die professionele of ander dissiplines wat vereis word. Dit is hoekom soveel staatsondernemings wanbestuur en swak beheer word, en waarom hulle korrup en vatbaar vir plundery is.

Dit is hoekom die voortdurende aandrang van ons sosialistiese en kommunistiese vriende op die nasionalisasie van byvoorbeeld myne en banke verregaande is en ons ekonomie sal vernietig.

Binne ’n jaar of twee sal hulle finansiële reddingsboeie benodig, ophou belasting betaal omdat daar geen wins sal wees nie, deur insolvensie in die gesig gestaar word en honderdduisende werkgeleenthede sal verdwyn.

Magdom ander banke

Ek het voorheen daarop gewys dat sommige mense in sekere mate tereg aanvoer dat kompetisie nodig is vir die vier groot banke, naamlik FNB, Standard, Absa en Nedbank, of die topses, insluitend Capitec en Investec. Vanweë hul grootte het hulle feitlik ’n mono­polie.

Dit is ’n billike argument, maar dié mense is klaarblyklik onbewus van die: 13 plaaslike beheerde banke; ) 6 buitelands beheerde banke; ) 15 oorsese banke met takke in Suid-Afrika; ) 43 verteenwoordigers van buitelandse banke; ) 3 gesamentlike banke; en ) 3 ander banke, naamlik die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, die Land- en Landbou-ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, asook die Posbank.

Ek veronderstel dit is moontlik om aan te voer een bykomende bank sal ’n groot verskil maak. Dit sal net die geval wees as so ’n bank tot ’n enorme instelling groei. Ek veronderstel die vooruitsig op toegang tot hope geld, direkteurs­aanstellings en uitvoerende poste vir diegene met kontakte weeg die swaarste onder lede van die ANC-elite.

Die vier grootste banke het in 2016 saam R24,143 miljard belasting betaal. Besef die voorstanders van ’n staatsbank dat as die wonderwerk gebeur en dit maak inbreuk op die mark wat tans deur die vier groot banke beset word, hul wins sal afneem en die belasting wat hulle betaal ook skerp sal daal?

Is daar enige waarborg dat hierdie wonderlike staatsbeheerde bank wins aan die staat sal betaal wat genoeg sal wees om die tekorte te vergoed?

Is daar enige waarborg dat hierdie wonderlike staatsbeheerde bank wins aan die staat sal betaal wat genoeg sal wees om die tekorte te vergoed? Of, gegewe ons bittere ervaring met staatsondernemings, sal die geld net verdwyn in ’n swart gat – vermors, wanbestee of iewers langs die pad gesteel?

Die staatsbank sal vermoedelik beskou word as “te groot om te misluk” en wanneer hy jaarliks ’n reddingsboei van ’n paar miljard benodig, sal die regering die geld moet vind.

’n Mens voorsien dat die bank verplig sal voel om mee te ding deur laer tariewe te hef. Hoewel niks irriterender is as die hoë tariewe wat banke vergeleke met dié in sommige ander lande hef nie, kan laer tariewe laer wins en laer belasting meebring, en ook die gesondheid van die bank in die gedrang bring.

Onthou dat Suid-Afrikaanse banke tydens die groot resessie en die werêldbankkrisis in 2008 uitsonderlik goed gevaar het vergeleke met banke in talle ander lande wat misluk het of gered moes word, met reusekoste vir hul belastingbetalers.

Die Wêreld- Ekonomiese Forum se mededingingsranglys takseer ons land as 61ste van 144 lande (’n rampspoedige agteruitgang van 35ste enkele jare gelede). Maar wat die gesondheid van ons banke betref, word ons as sesde ter wêreld aangeslaan. Dit is iets om op trots te wees. Mnr. Ramaphosa, moenie krap waar dit nie jeuk nie.

Douglas Gibson is ’n voormalige hoofsweep van die opposisie en was Suid-Afrikaanse ambassadeur in Thailand.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.