Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Staatskapers uit die tabakwêreld

Die Rollex-saak illustreer beter as enigiets anders hoe staatsamptenare deur sommiges in die tabakbedryf gekaap en gemanipuleer is, skryf Johann van Loggerenberg in dié uittreksel uit Tobacco Wars.

In 2011 het Belinda Walter ’n teksboodskap na haar hanteerder in die Tabak-taakmag, Ferdi Fryer, gestuur. Dit het gelyk asof Walter effe omgekrap was oor die betaling wat iemand ná ’n “ooreenkoms” gekry het.

Fryer het uit sy pad gegaan om te verduidelik dat van die geld bedoel was vir “bedryfsdoeleindes” en dat hy nie veel daarvan gekry het nie. Walter het dit betreur dat sy die “ooreenkoms” in die eerste plek gesteun het.

Die opvallendste deel van die gesprek, so te sê die vingerafdruk op die misdaadtoneel, was toe Fryer probeer om Walter te paai en te verseker watter goeie span hulle vorm en hoe goed die twee van hulle daarmee was om die direkteur-generaal van nasionale inligting (later herdoop tot die agentskap vir staatsveiligheid, die SSA), die nasionale vervolgingsgesag (NVG), die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en ’n klompie kernrolspelers in die sage te manipuleer.

Lonrho se grootste geldmaker

Lonrho was eens een van die oudste maatskappye wat op die Londense aandelebeurs genoteer was. Dit is in 1909 gestig as die London and Rhodesia Mining and Land Company. Dit is in 1963 oorgeneem deur die omstrede Tiny Rowland, wat op ’n keer beskryf is as die “onaanvaarbare gesig van kapitalisme”, en het sy fokus van mynbou na ander sektore verskuif wat hotelle, tekstiel en koerante ingesluit het.

In die 1990’s het dit na die produksie van seekos uitgebrei en het dit ’n belang gekoop in die laekoste-lugdiens Fastjet. In 1998 het sy mynboubelange verskuif na ’n onafhanklike maatskappy, Lonmin, met die oorblywende belange in Lonrho wat gefokus het op sakebedrywighede in Afrika.

Rollex was beslis ’n kernbate in die Lonrho-stal, soos sy finansiële state getuig. Rollex was inderdaad heel waarskynlik Lonrho se grootste geldmaker.

Intussen is ’n ander maatskappy genaamd Rollex in 1989 onafhanklik gestig. Rollex het gespesialiseer in die verkryging, verpakking en verspreiding van vars vrugte, groente en visprodukte van dwarsoor Afrika. Dit is dan gelewer aan sy netwerk van kleinhandel-kliënte in Afrika, Europa, Skandinawië en die Midde-Ooste.

In April 2008 het Lonrho ’n belang van 51% in Rollex bekom van die De Robillard-familietrust. ’n Kontantbedrag van R40 miljoen is daarvoor betaal met twee bykomende bedrae wat sou volg gegrond op Rollex se vertoning.

Die eerste van dié betalings, ’n bedrag van R33,6 miljoen, is in Augustus 2009 aan die De Robillard-familietrust betaal.

In Mei 2010 het Lonrho begin om die oorblywende aandele in Rollex te bekom sodat hy dit heeltemal kon besit. Hy het aangekondig dat hy sy aandeelhouding in die uitgereikte aandelekapitaal van 51% tot 100% opgestoot het deur die uitreiking van nuwe aandele teen ’n ooreengekome prys van R51,45 miljoen.

Die begunstigde van die De Robillard-familietrust was Paul de Robillard, stigter en later besturende direkteur van Rollex.

Hy het aangebly as besturende direkteur van Rollex ná dié transaksie.

David Lenigas, Lonrho se uitvoerende hoof, het destyds gesê: “Rollex is een van die hoekstene van Lonrho se landbou-afdeling. Sedert Lonrho in April 2008 ’n beherende belang gekoop het, het dit sy waarde bewys. Gegewe die groeigeleenthede en die nuwe projekte wat deur die maatskappy geïnisieer word in dié gespesialiseerde nis-sektor, glo die direksie dat eienaarskap van 100% belangrik en voordelig vir die aandeelhouers was. Die feit dat Paul de Robillard ingestem het om die Lonrho-aandelekapitaal te onderskryf met ’n beperking op die verkoop daarvan, wys dat hy glo in die onderneming en wat dit kan vermag.”

Rollex was beslis ’n kernbate in die Lonrho-stal, soos sy finansiële state getuig. Rollex was inderdaad heel waarskynlik Lonrho se grootste geldmaker.

‘Ooreenkoms’ om Lonrho se reputasie te beskerm

Onwettige sigarette waarop die owerhede in Kaapstad beslag gelê het. Foto ter illustrasie. Foto: Argief

In Julie 2013 het die nuus bekend geword dat die SAID ’n paar jaar vroeër op die noordelike grens van Suid-Afrika beslag gelê het op ’n aantal trokke wat aan Rollex behoort en dit steeds hou hangende verdere ondersoek.

Daar is vermoed dat dit betrokke was by die smokkel van tabak.

Lonrho het nie ’n woord aan die media gesê nie. Finansiële opgawes het destyds daarop gedui dat Rollex en sekere verwante maatskappye transaksies in tabakprodukte doen wat nie in die boeke aangeteken word nie.

En hier betree die spooks (spioene) Walter en Fryer die toneel. Walter was op die een of ander manier betrokke as prokureur en Fryer was van die SSA.

Die 'Suid-Afrikaanse regering kan dit nie bekostig om Lonrho se beleggings skade te berokken nie' en daar is ooreengekom om Lonrho en sy reputasie 'tot elke prys' te beskerm.

Verskeie ontmoetings tussen Fryer en Michael Bennett, Lonrho se regsverteenwoordiger, het hierna plaasgevind. Walter het van dié ontmoetings bygewoon.

Volgens Walter se teksboodskappe aan Fryer was sy onder diegene wat vorendag gekom het met ’n “ooreenkoms” vir Lonrho en Rollex.

Die plan was om Lonrho voor te hou as die onskuldige slagoffer van die “bose” Paul de Robillard. Op ’n vergadering in Desember 2010 het Fryer aan Lonrho se direksie verklaar dat hy namens die hoof van die SSA praat en dat hy ’n “mandaat het om oor ’n ooreenkoms” met Lonrho “te onderhandel”.

Luidens die notule van dié vergadering het Fryer aan Bennett gesê die “Suid-Afrikaanse regering kan dit nie bekostig om Lonrho se beleggings skade te berokken nie” en daar is ooreengekom om Lonrho en sy reputasie “tot elke prys” te beskerm.

In April 2011 het Fryer ’n voorlegging gedoen aan ’n Suid-Afrikaanse projekspan met lede van verskeie agentskappe. Dit het ’n ander SSA-bestuurder, die senior staatsaanklaer Johan van Heerden en verskeie senior polisie-offisiere ingesluit.

Dit was die embrio van wat later die Tabak-taakspan sou word. Notules van dié vergadering het vermeld dat ’n “ooreenkoms” met Lonrho aangegaan is. “Fryer het die rasionaal vir die besluit om saam te werk verduidelik. Dit is veral gedoen vanweë Lonrho se beleggings in Suid-Afrika en die negatiewe impak as dit sou ly as gevolg van die rampokker-elemente in sy Suid-Afrikaanse filiaal.”

SAID nie deel van ‘ooreenkoms’

Johann van Loggerenberg het verskeie van die SAID se ondersoeke gelei, maar het in 2015 bedank nadat hy die teiken geword het van diegene wat die SAID wou kaap. Foto: Argief

Maar Fryer het verder gegaan. Hy het ook aan almal wat teenwoordig was gesê dat die SAID nie wou “saamwerk” nie en “gekompromitteer” is en daarom van die “ooreenkoms” uitgesluit moet word.

Fryer het Lonrho se verbintenis om te help met die beskerming van sy bates en reputasie bevestig. Kort ná dié vergadering het amptenare van die SSA en NVG gedetailleerde inligtingsverslae oor Rollex, insluitend vertroulike bewyse van ooggetuies en fluitjieblasers, met Lonrho gedeel.

Intussen het die ondersoek by die SAID na Rollex voortgegaan. Ondersoekers by die SAID was glad nie bewus van die “ooreenkoms” met Lonrho nie. Die SAID het gereed gemaak om ’n klopjag op Rollex uit te voer, maar dit is op die lange baan geskuif ná versoeke van die SSA en NVG, sonder enige verduideliking oor die “ooreenkoms” wat Fryer en Walter beding het.

Blykbaar het ’n rooftog sowat twee weke voor die klopjag plaasgevind en daar is beweer dat Rollex se rekenaars gesteel is.

Pleks daarvan het hulle aangevoer die SAID se beplande klopjag kan ’n “sensitiewe ondersoek” in die wiele ry.

Maande het verbygegaan voor die klopjag op Rollex in September 2011 uitgevoer is. Die polisie het hul klopjag uitgevoer ingevolge ’n lasbrief wat na bewering vir die polisie opgestel is deur ’n private advokaat wat Lonrho ook verteenwoordig het.

Ek het jare later gehoor die opdraggewende prokureur in dié saak was niemand anders nie as Belinda Walter. Die klopjag het uiteraard tot niks gelei nie.

Blykbaar het ’n rooftog sowat twee weke voor die klopjag plaasgevind en daar is beweer dat Rollex se rekenaars gesteel is.

Relletjie oor geld

Gibson Njenje, voormalige hoof van die SSA. Foto: Argief

Dean Hewitt, wat voorheen vir Rollex gewerk het, is tydens al dié verwikkelinge deur die Valke in hegtenis geneem as ’n kernverdagte in die saak en deur die NVG aangekla. Hoe en waarom dit gebeur het, bly vir my onduidelik, maar hy het destyds ’n baie noue verhouding met Belinda Walter gehad.

Op 19 Junie 2011 het Walter aan Fryer bevestig dat sy ’n advokaat gereël het om namens Hewitt op te tree, “As jy kan onthou, ek was die persoon wat sy advokaat gereël het.”

En toe het daar nog ’n relletjie oor geld tussen hulle uitgebreek.

Walter het aan Fryer gesê: “Jy het geen morele verpligting teenoor enigiemand nie – jy gebruik en misbruik net vir kontant of ’n klop op die rug! Welgedaan! Lyk asof iemand baie goed munt geslaan het uit dié ondersoek!!!”

In latere teksboodskappe tussen Walter en Fryer, op 2 September 2011, lyk dit of die rede onthul word waarom Walter besluit het om ’n spioen vir die SSA en die Tabak-taakspan te word.

Sy het die SSA op ’n tyd genader en sedertdien lyk dit asof sy en Fryer hul eie dinge gedoen het.

Dat ons ’n moerse goeie span vorm wat mense stoot om te doen wat ons wil hê wat hulle moet doen . . .

Fryer het aan haar gesê: “Ek hoef nie met jou voor te gee net om inligting van jou te kry nie, jy en ek het al lank terug gebeur . . . toe ons op Rollex was . . . en selfs toe hoef ek nie aan jou voor te gegee het om inligting te kry nie . . . waarom sou ek???? Onthou, jy het na SSA gekom en uit jou eie inligting aangebied, ek het geen rede gehad om voor te gee nie . . . hoekom in God se goeie naam is/was dit nodig om met jou voor te gee? En dink jy regtig ek sal die gevaar loop om my gesin te verloor deur met jou voor te gee, net sodat ek inligting van jou kan kry??? . . . jy is so verkeerd!!!”

Fryer het daarna erg inkriminerende aanmerkings gemaak: “Jy en ek weet presies wat en wie ons is/was van die begin af . . . ons vermoë om te doen wat ons doen, dink ek was die aanvanklike aantrekkingskrag tussen ons. Ons is voëls van eenderse vere. Ons het selfs, in die tyd toe ons Dean sy gat laat sien het, saamgestem dat ons ’n moerse goeie span vorm wat mense stoot om te doen wat ons wil hê wat hulle moet doen . . . of dit nou GN, SAID, NVG of Lonrho was!! Ons krag om dinge gedoen te kry, lê in ons gesamentlike vermoë . . . waarom sal ek daarmee f*k!?”

Die “GN” waarna verwys word, was die direkteur-generaal van die SSA, Gibson Njenje. “Dean” was natuurlik Dean Hewitt, wat vroeër in hegtenis geneem is.

Hul gespog oor hul vermoë om die hoof van die land se intelligensie-afdeling, die SAID en die NVG te “stoot” om te doen wat hulle wou hê, het vir my verstommend geklink.

* Tobacco Wars: Inside the spy games and dirty trick of southern Africa’s cigarette trade word deur Tafelberg uitgegee en kos R310.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.