Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Staatskaping: Wolk van waansin

Nog nooit is die verlammende uitwerking wat Jacob Zuma op die ANC gehad het so duidelik uitgestippel as by die Zondo-kommissie die afgelope week nie, skryf Jan de Lange.

Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies. Foto: Felix Dlangamandla.

‘Sjoo . . .!”

Dis hoe adjunkhoofregter Raymond Zondo Woensdag keer op keer sy verstomming en verbasing uitgedruk het terwyl Ngoako Ramatlhodi in fyn besonderhede vertel het hoe oudpres. Jacob Zuma jare lank die ANC onder sy duim gehou het terwyl die Guptas die land kaal steel.

Die voormalige minister van minerale bronne het vir die eerste keer die sluier gelig oor die binnewerkinge van die nasionale uitvoerende komitee, die ANC se belangrikste magstruktuur, en hoe dié liggaam absoluut magteloos was om Zuma en die Guptas se strooptog op die land te keer.

Vroeër was hy een van Zuma se naaste vertrouelinge terwyl Zuma van 2005 tot 2007 deur oudpres. Thabo Mbeki vervolg is. Ramatlhodi het ’n leiersrol gespeel in ’n taakspan wat Zuma se strategie help bepaal het om die korrupsieaanklagte wat destyds oor Zuma se kop gehang het, suksesvol af te weer.

Saam met hom in die taakspan was die politieke ontleder prof. Sipho Seepe, oudregter Willem Heath en Lindiwe Sisulu. “Ons was ’n multivaardige taakspan wat elke enkele aspek van sy verhoor en die klagte teen hom deeglik ontleed en planne daarteen gemaak het. Ons het dit behoorlik gedoen,” het Ramatlhodi getuig.

In dié tyd het hy Duduzane Zuma, oudpres. Zuma se seun, taamlik goed leer ken.

Barbara Hogan, voormalige minister van openbare ondernemings

In Zuma se eerste termyn as president was die staatskaping nie so opvallend nie. Maar nadat hy in Desember 2012 op die ANC se Mangaung-kongres herkies is, het iets verander en het dit ondraaglik geword, het hy getuig.

“Op die Mangaung-kongres het Menzi Msimang, die oud-tesourier-generaal van die ANC, na my toe gekom en my gevra waarom ons Zuma weer steun in sy tweestryd met Kgalema Motlanthe vir die ANC-presidentskap. Hy het gesê hulle ken Zuma en hulle weet hy gaan die ANC skade aandoen.

“Ek het gesê ons moet liewer dat Zuma sy twee presidentstermyne klaarmaak, want anders gaan daar weer soos met Mbeki ’n skeuring wees en ’n Cope ontstaan.”

Maar die invloed en mag wat die Guptas oor die president uitgeoefen het, het in sy tweede presidentstermyn vinnig erger geword.

‘As hulle saans regerings­lede wil sien, moet hulle dit by die Guptas se huis gaan doen.’

Vier maande later, in April 2013, het die Guptas se bruilofsgaste uit Indië in ’n private straler geland op die Waterkloof-lugmagbasis, wat gereserveer is vir presidensiële vlugte en besoekende staatshoofde. Daar is onder begeleiding van verkeerspolisie in verskeie voertuie Sun City toe gereis vir ’n spoggerige bruilof van een van die Gupta-kinders.

“Dit was vir my die laaste strooi. Mense het hul lewens opgeoffer vir beheer oor daardie basis. Dit was ’n messteek in die rug vir hulle. Dat buitelanders hier opdaag en ’n huurvlug met bruilofsgaste op ons belangrikste lugmagbasis kan land was ’n belediging vir hul nagedagtenis en minagting van die land en die presidensie. As jy deur ’n oorlog gegaan het soos ek, is daar sekere dinge wat jy eenvoudig nie kan verdra nie. Dit het my houding teenoor die Guptas bepaal,” het hy getuig.

(Ramatlhodi was in die 1980’s MK se militêre hoof in Zimbabwe en Lesotho en was later Oliver Tambo se private sekretaris).

Nhlanhla Nene, voormalige minister van finansies.

Ten tyde van die Waterkloof-voorval was hy adjunkminister van korrektiewe dienste en lid van die interministeriële komitee (IMK) vir die sekerheidsektor.

“Ons het dit op die IMK bespreek en saamgestem dat dit heeltemal onaanvaarbaar is, dat die Guptas te ver gegaan het. Ons het dit aan Zuma gesê. Ons het hom ook gevra om nie die troue by Sun City by te woon nie, want hy het reeds genoeg opgemors. En dié keer het hy na ons geluister,” het Ramatlhodi gesê.

Maar in daardie stadium was die Zuma-faksie stewig in die saal in die NUK. Luthuli-huis het selfs ’n amptelike verklaring uitgereik waarin die party teen die misbruik van Waterkloof te velde getrek het. ’n Paar weke later het die party egter teruggekrabbel ná ’n vergadering van die NUK.

Lungisa Fuzile, voormalige direkteur-generaal van die tesourie.

Ná die algemene verkiesing in 2014 het Zuma Ramatlhodi as minister van minerale bronne aangestel.

“Binne ’n week het hy Duduzane Zuma gevra om my te kom sien om my geluk te wens. Ek was besig en het nie tyd gehad om hom te sien nie.”

Die jong Zuma het egter knaend gevra om hom te sien. Ses maande later het Ramatlhodi hom tydens ’n vergadering van die NUK in Irene te woord gestaan.

Gwede Mantashe, voormalige sekretaris-generaal van die ANC.

“Hy het gesê hy is jammer dat my nou eers in hierdie omstandighede sien, want hy hoor van bronne dat ek rondvertel dat hy en sy sakevennote met misdade besig is. Hy het dit glo vir sy pa gesê en hy wou hê ek moet sy medewerker, Ajay Gupta, ontmoet om hom te verseker dat ek geen skinderstories oor hulle versprei nie.

“Ek het egter al vantevore ’n uitnodiging van Ajay Gupta gekry wat ek van die hand gewys het. Ek het die indruk gekry dat Duduzane die storie opgemaak het om my sover te kry om Ajay Gupta te ontmoet. Ek het aan hom gesê ek stel nie belang om Ajay te ontmoet nie, maar ek sal met sy pa praat.”

Hy het pres. Zuma daaroor gaan sien, maar Zuma het gesê hy moet daarvan vergeet.

Intussen het hy agtergekom dat die topamptenare in die departement van minerale bronne elke jaar in Februarie tydens die jaarlikse Mynbou-indaba by die luukse huis van die Guptas in Kaapstad tuisgaan.

Regter Zondo: “Sjoo . . .”

Ramatlhodi: “Daar kom duisende afgevaardigdes van oor die wêreld heen na die Mynbou-indaba om beleggings in mynbou te oorweeg. En as hulle saans regerings­lede wil sien, moet hulle dit by die Guptas se huis gaan doen. Dit het begin terwyl Susan Shabangu minister van minerale bronne was.

Ngoako Ramatlhodi, voormalige minister van minerale bronne.

“Ek het dr. Thibedi Ramontja, direkteur-generaal van minerale bronne, opdrag gegee dat dit glad nie mag gebeur terwyl ek minister is nie.”

In Augustus 2015 het Brian Molefe, wat toe pas uitvoerende hoof van Eskom geword het, hom kom sien en gevra dat hy Glencore se mynboulisensie vir die Optimum-steenkoolmyn moet opskort. Hy het geweier, maar ’n paar dae later, op 2 September 2015, het Molefe met Ben Ngubane, voorsitter van Eskom, by sy ministerie opgedaag.

“Ek het geweet dis ’n amptelike besoek en het gesorg dat van die topamptenare by is. Ngubane het gesê die president wil hê ek moet Glencore se mynboulisensie opskort, want hulle wil die Optimum-myn deur die Guptas laat oorneem.

“Ek het weer eens gesê ek kan dit nie doen nie. Ngubane het gesê hy sal dit aan pres. Zuma, wat dieselfde dag op ’n buitelandse ampsbesoek vertrek het, moet gaan rapporteer. Ek het gesê hy moet asseblief aan die president gaan sê wat my standpunt is,” het Ramatlhodi getuig.

’n Week ná Zuma se terugkeer, op 22 September, is Ramatlhodi as minister van minerale vervang deur Mosebenzi Zwane. Ramatlhodi is verskuif na staatsdiens en administrasie.

Ramatlhodi: “Zwane en Des van Rooyen was openlik daaroor dat hulle Gupta-ministers is. Hulle het openlik geboer by die Guptas se huis in Saxonwold en het geen duit omgegee daaroor dat hulle Gupta-minister genoem word nie.”

Regter Zondo: “Sjoo . . .”

Volgens Ramatlhodi was dit vir hom en talle ander kabinetslede duidelik dat die Guptas Zuma beheer.

“Hulle het hom by tye openlik met minagting behandel. Wanneer Zuma ’n vertrek binnekom, sal almal opstaan, maar die Guptas bly sit. Hulle het selfs gespog daarmee dat hulle pres. Zuma enige tyd na hul huis kan ontbied.

“Ons het in die NUK met hom daaroor gepraat. Baie keer, want hy is ’n gawe man. Ons het vir hom gesê sy vriendskap met die Guptas is sleg vir hom, sleg vir die ANC en sleg vir die land. Wanneer gaan hy ’n einde daaraan maak?

“Aan die einde van só ’n vergadering het hy gesê die Guptas het na sy kinders omgesien toe hy persona non grata was. Wat vra julle van my, het hy dan gesê.”

Ramatlhodi is uiteindelik self as minister afgedank op 1 April 2017 – ’n paar weke nadat hy geweier het dat Mzwanele Manyi as direkteur-generaal van minerale bronne aangestel word.

Manyi is nie gegradueer nie en het dus nie gekwalifiseer vir die pos nie. Manyi het selfs aan Ramatlhodi se spesiale adviseur, adv. Mahlodi Muofhe, gesê dat Zuma hom in die pos wil hê, maar Ramatlhodi het vasgeskop

Regter Zondo het Ramatlhodi indringend uitgevra waarom die NUK dit só lank toegelaat sonder om in te gryp.

Ramatlhodi het verduidelik dat daar nooit op NUK-vergaderings gestem word nie. Zuma kon dus NUK-besluite manipuleer deur reg aan die einde van ’n bespreking die standpunt van die minderheidsgroep te steun met ’n besluit daaroor voordat hy die vergadering verdaag het, het Ramatlhodi getuig.

“Dit was ’n tyd van waansin. Waansin wat meegebring is deur ’n verlamming wat geskep is deur ’n faksie onder die leiding van die hoof van die organisasie. Dit het belaglike vlakke bereik – in ’n stadium het die NUK gesamentlik verantwoordelikheid aanvaar vir die foute van die president.

“Die magsewewig in die NUK was in Zuma se guns. Hy het ’n groep gelei wat afsonderlik gekoukus het en die NUK verdeel het. Wanneer hulle dit nie kon doen nie, het Zuma dit self gedoen.”

Zondo: “Was daar nie dalk genoeg mense met die moed om aan die einde van ’n NUK-vergadering te sê wat nou in die notules opteken is, weerspieël nie die siening van die meerderheid lede van die NUK nie? Ons moet dit verander.”

Ramatlhodi: “Die rol van sekretaris-generaal word hierin belangrik, want dit is hy wat die besluite op skrif stel. As dit nie duidelik in die notules uitgestippel word nie, is jy nie regtig in staat om teen sulke besluite weerstand te bied nie.

“Daar was mense wat moed gehad het, wat afgedank is, soos Derek Hanekom. Hulle het inderdaad mosies van wantroue in Zuma ingedien. Hulle was uitgesproke en het dit twee keer probeer, maar elke keer misluk. Uiteindelik het hulle berus in hul lot.

Zondo: “Ek verstaan dat die NUK dit nie reggekry het om hom sover te kry om te bedank nie. My kommer is waarom het dit so lank geduur, terwyl die NUK gesien het wat die uitwerking van sy vriendskap met die Guptas op hom, op die ANC en selfs die land gehad het?

“Hoekom het die NUK nie vroeër opgetree nie?”

Ramatlhodi: “Dit was verlamming. Die NUK was ’n verlamde instelling. Dit was asof ’n luislang ons in sy greep gehad en ons versmoor het. Daar was ’n konferensie, die Nasrec-konferensie, nodig om die magsewewig te verander.”

Zondo: “Die vraag wat die land homself afvra, is of die ANC as regerende party en in soverre hy ’n toekomstige regerende party is, die land weer in ’n situasie kan laat beland wat hy weet onaanvaarbaar is, maar die NUK is hulpeloos om dit te keer?”

Ramatlhodi: “Ons kyk na vernuwing, ook na vernuwing van takstrukture. Ons het byvoorbeeld nie takstrukture vir professionele mense nie, om dit nou maar só te stel. Ons moet daaraan werk om ’n stelsel te bou wat nie onderhewig is aan die wil van een enkele individu nie. Ja, dis wat ons probeer doen . . .”

Meer oor:  Ngoako Ramatlhodi  |  Barbara Hogan  |  Jacob Zuma  |  Raymond Zondo  |  Guptas  |  Kommissie  |  Korrupsie  |  Anc  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.