Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ek, die Duitsers en hul dinge

Die Duitsers is nie so georganiseerd soos wat hulle graag glo nie, skryf Deon Maas in hierdie uittreksel uit ‘Witboy in Berlyn'.

’n Straattoneel. Foto’s: Deon Maas

Die twee grootste wanopvattings oor Duitsland is dat alles hier werk en dat die Duitsers nie ’n sin vir humor het nie.

Tog het die maatskappy wat die vullisverwydering in Berlyn doen, allerlei slim woordspelings op hul vragmotors geverf: “Nimmersatt” (nooit vol genoeg nie, of “glutton” in Engels), “Mülltitalent” (“müll” is vullis, die res kan jy self uit­figure) of “Leer Force One” (“leer” beteken leeg).

’n Nuwe vullissak word weer bemark met die tag line “Ich bin ein Binleiner”. Of dié sak gaan werk, is natuurlik ’n ander vraag. Ek moes drie verskillende soorte vullissakke probeer voordat ek een gekry het wat nie maklik skeur nie. Hier moet die sakke baie druk kan hanteer – jy kan dit nie sommer by die agterdeur uitsit nie en moet ver met die trappe afstap om dit in die agterplaas weg te gooi. En omdat dit boonop koud én groot moeite is, stel ’n mens dit aanhoudend uit, wat die sak net nóg swaarder maak.

Duitse humor.

Dan praat ek nie eens van Berlyn se herwinningstelsel nie. Dit sal makliker wees om ’n kursus daarin te voltooi as om dit op jou eie te probeer snap. Toe ek eendag ons voordeur oopmaak, het iemand al die bruin bierbottels wat ons in die glasherwinningshouer geplaas het, weer op ons matjie kom pak. Ek het nie geweet ’n mens moet die bottels volgens kleur herwin nie. Dit was baie meer moeite om dit terug te bring as om dit eenvoudig in die regte houer te plaas – die een wou duidelik ’n punt maak.

So, ja, ’n mens sukkel maar in die begin.

My stryd met die herwinning is gelukkig nie naastenby so erg soos dié van die mense wat Berlyn se nuwe lughawe moet bou nie. As jy ooit ’n voorbeeld van Duitse wanadministrasie soek, hoef jy nie verder as die nuwe lughawe te kyk nie.

Bejaardes is ’n mag op hulle eie: selfaangestelde hekwagters.

’n Bietjie agtergrond: Berlyn het twee lughawens, Tegel en Schönefeld, wat elke jaar deur meer as 33 miljoen mense gebruik word. Die lughawens is in twee verskillende dele van die stad, maar albei is omtrent so groot soos die Internasionale Lughawe Bram Fischer buite Bloemfontein. Oukei, dis nie heeltemal só erg nie, maar Berlyn se lughawens is beslis nie wat ’n mens met ’n wêreldstad sal vereenselwig nie. Dit is beknop; jy kan skaars ’n pretzel en ’n bier kry by die kosstalletjies; en van duty-free kan jy maar vergeet. Kortom: Berlyn, die hoofstad van Duitsland, het nie ’n behoorlike lughawe nie.

Die Brandenburg-lughawe waarop Duitse reisigers uiteindelik trots kon wees, moes al in Oktober 2011 sy deure geopen het. Dié datum het naderhand Junie 2012, Maart 2013, Oktober 2013, Junie 2017 geword . . . alles was gereël – van tannie Merkel se teenwoordigheid tot ’n nuwe Lufthansa Airbus A380 vir die nooiensvlug. Die opening is egter wéér op die nippertjie afgestel weens tegniese probleme. In hierdie geval beteken “tegniese probleme” die lughawe was ver van klaar af en vol ontwerpfoute, byvoorbeeld rook wat in die geval van ’n brand ondertoe gepomp moes word in plaas van boontoe. Boonop het die bouwerk nie aan Duitse boustandaarde voldoen nie. Volgens die openbare uitsaaier Deutsche Welle is kabels van meer as 90 km verkeerd geïnstalleer, 4 000 deure is verkeerd genommer, die roltrappe was te kort en die gebou se dak was dubbel die toelaatbare gewig.

’n Universele middelvinger.

Hiermee saam het aantygings van korrupsie rondgevlieg, maatskappye het bankrot gespeel én daar was regsprobleme wat die finansiering van die projek betref (lees: nóg korrupsie). Terloops, Duitsland is nie eens onder die toptien lande op die teenkorrupsie-indeks nie. Hou dit tog in gedagte wanneer jy weer lofsange oor Duitsland en die Eerste Wêreld wil sing.

Die grootste probleem was glo die politici en Duitse burokrasie. Die bouwerk en administrasie van die lughawe is tussen verskillende staatsdepartemente verdeel wat nie almal deur dieselfde politieke party beheer is nie. Van die burokrate wou ook elkeen ’n deeltjie hê wat ’n ander burokraat nie noodwendig vrywillig wou afstaan nie.

In daardie stadium was hulle reeds €5,5 miljard oor die oorspronklike begroting. Ons kan eintlik maar ophou om die term miljard te gebruik, want dit maak die bedrag baie teoreties. Laat ek dit eerder uitskryf, sodat ons presies kan sien hoeveel geld gemors is: €5 000 000 000. Dis baie nulle, nè?

My hond Bart.

Dit kos die Duitse belastingbetaler tans €1 miljoen per dag om die ongebruikte struktuur aan die gang te hou – dit is €1 000 000 per dag. Volgens die koerante is die plan nou om die Brandenburg-lughawe in 2020 te open. Die lughawe sal jaarliks 27 miljoen reisigers kan hanteer . . . 5 miljoen minder as wat Tegel en Schönefeld tans saam bedien.

In Desember 2017 het die groot bohaai oor ’n nuwe hoëspoedtrein wat Berlyn met München verbind, nogmaals in krete van verontwaardiging ontaard toe die nooiensrit twee uur laat was. Tans is dié trein ’n wit olifant wat meestal leeg heen en weer loop omdat dit gedurig weens tegniese probleme vertraag word.

Só gesels ek op ’n dag met ’n konstruksiewerker wat nie Duits is nie. Hy reken Duitse “doeltreffendheid” kom neer op Duitsers wat jou gedurig vertel iets is reg, selfs al weet jy voor jou siel dit is nie. Hulle hou so erg vol daarmee dat jou weerstand naderhand verkrummel en jy maar saamstem hulle is reg. Duitsers het ’n onwrikbare geloof in hulle eie vermoëns wat nie altyd op die werklikheid gegrond is nie. Nou verstaan ’n mens ook hoekom dinge in die verlede so erg verkeerd kon loop.

Punk is nie dood nie, net ouer.

As Duitsland ’n Facebookblad was, sou die verhouding met doeltreffendheid as “complicated” beskryf kon word. En nes jy dink dit kan nie erger raak nie, kom daar nóg slegte nuus: Kan jy glo dis omtrent onmoontlik om in ’n wêreldstad soos Berlyn ’n toasted chicken mayo-toebroodjie te kry? Wanneer jy hier kom kuier, moet jy dus maar jou eie saambring. Ek is ’n groot aanhanger van toasted chicken mayo en oral waarheen ek reis, beoordeel ek plekke volgens die gehalte van hulle toasted chicken mayo en hulle aarbeimelkskommels. Berlyn het nie een van die twee nie. Ek skat dit maak my verhouding met Berlyn complicated.

As jy getwyfel het: Die Eerste Wêreld het inderdaad ook probleme.

Dan kry ’n mens ook die verskynsel van die Ordnungsbeamter . . . Hulle is soos boetebessies wat ’n mens gereeld in Rixdorf se strate raakloop. Hulle maak seker jou honde het lisensies, daarom probeer ek hulle vermy. ’n Hondelisensie kos €80 per jaar vir die eerste hond en styg dan volgens ’n glyskaal. Dit is verbode om meer as vier honde te hê.

Dié speurder staan nog sterk.

Ons buurt is vol ou mense wat hulle dae deurbring deur uit hulle vensters op die grondvloer te loer na wat alles in die buurt aangaan. Jy kan selfs ’n spesiale kussinkie koop sodat jou arms darem nie te veel pyn van die geleun op die vensterbank nie. Die Ordnungsbeamter gesels gereeld met die bejaardes om uit te vind wat in die buurt aangaan. Dis soos ’n WhatsApp-groep, net ’n bietjie meer persoonlik.

Hulle skryf verkeerskaartjies uit vir mense wat onwettig parkeer en maak seker sypaadjiekafees se tafels en stoele neem nie te veel plek in beslag nie. As jou sitplekke te naby aan die randsteen is, kry jy ’n boete van ’n paar honderd euro, en om te bepaal of jou stoele en tafels te naby aan die randsteen is, gebruik hulle sowaar ’n maatband. Moet dus nie verbaas wees as die kroegman of kelner op jou afstorm wanneer jy jou stoel op die sypaadjie verskuif nie – jy oortree dalk net die wet.

Die Ordnungsbeamter is gewoonlik nie so aantreklik of maer soos die polisiebeamptes nie en is ook nie naastenby so gewild onder die publiek nie.

’n Verkeerslig as rock-ster.

Maar hulle is ook nie die punt van my storie nie – die ou ooms en tannies is. Hierdie bejaardes wat so by hulle vensters uitleun, is ’n mag op hulle eie: selfaangestelde hekwagters wat probeer walgooi teen die invloed van vreemdelinge wat nie by hulle reëls hou nie.

In die Duitse verkiesing van 2017 het 550 mense in ons straat gestem. Die linkse party, wat op die reguit Duitse manier sommer Die Linke genoem word, het die meeste stemme gekry.

Hulle is voorstanders van feminisme, linkse populisme en demokratiese sosialisme.

Die Grünen-party het die tweede meeste stemme gekry, en tog het 25 mense in ons straat vir die verregse en rassistiese Alternative für Deutschland (AfD) gestem – en dít in die middel van Berlyn, in ’n immigrantewoonbuurt waar jy daagliks kan eet van ’n uitgebreide spyskaart wat die res van die wêreld hierheen aangedra het.

Ek kan elkeen van daardie 25 AfD-ondersteuners vir jou uitwys. Hulle stem is dalk geheim, maar hulle optrede nie. Die meeste van hulle is daardie ou ooms en tannies wat by hulle vensters uithang of dalk van die spul wat die Reichsburger Inn oopgemaak het.

Laat ons nooit vergeet dat Hitler ook ’n demokraties verkose leier was nie . . .

* Lees Witboy in Berlyn se resensie hier.

Meer oor:  Deon Maas  |  Uittreksel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.