Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Moet standbeelde nie verskuif nie

Die verskuiwing van standbeelde na politieke en kulturele enklaves, soos die Voortrekkermonument, ondermyn nasiebou, skryf Pieter Labuschagne.

Standbeeld agter doringdraad. Paul Kruger, president van die Zuid-Afrikaansche Republiek, se standbeeld op Kerkplein in Pretoria word deur doringdraad beskerm nadat dit gevandaliseer is. Foto: Argief

Die eise van ekstreme groepe in die EFF en studente op kampusse dat sogenaamde apartheidstandbeelde, onder meer dié van oudpresidente M.T. Steyn en Paul Kruger, verskuif moet word, behoort Suid-Afrikaners bekommerd te maak.

Dié radikale aandrang is gevaarlik eksklusief en beteken eenvoudig die verdere politieke en kulturele marginalisering van minderheidsgroepe.

As toegegee word aan herhaalde eise dat die Kruger-standbeeld na die Voortrekkermonument verskuif moet word, verskraal dit nie net die geskiedenis nie, maar nasiebou word ook ondermyn.

Die Universiteit van die Vrystaat het reeds voor ’n klein groepie ekstremiste se radikale eise geswig en besluit om Steyn se standbeeld te verskuif.

Dit is ’n terugwaartse stap en deel van ’n afwaartse spiraal na eksklusiwiteit en meerderheidsoorheersing.

Die Kruger-standbeeld se migrasie

Paul Kruger
Die Kruger-standbeeld in die dae voor doringdraad vandale moes weghou. Foto: Argief

In die geskiedenis is daar sekerlik nie ’n enkele standbeeld wat só op die wispelturigheid van die politiek rondgedobber het as dié van Kruger nie.

Die standbeeld, wat met verf gevandaliseer is en met lemmetjiesdraad beskerm moes word, sukkel reeds vir amper 120 jaar om ’n permanente standplaas te kry.

Dit is in 1896 deur Anton van Wouw voltooi en na Suid-Afrika verskeep, maar die Anglo-Boereoorlog het verhoed dat dit dadelik na Pretoria gebring kon word. Dit het gevolglik tot ná die oorlog in ’n pakhuis in Delgoabaai gelê.

Die vredesluiting het beteken dat ’n nuwe politieke regime in beheer was. Dit was gevolglik nie geleë om ’n standbeeld van ’n voormalige teenstander van Britse imperialisme op ’n prominente plek in Pretoria op te rig nie.

Dit sal hartseer wees as die Kruger-beeld wéér geskuif word op aandrang van radikales.

Daar is eers ná Uniewording in 1910, toe gemoedere gekalmeer het en genl. Louis Botha eerste minister was, besluit om die standbeeld ’n waardige staanplek te gee.

In 1913 is die Kruger-beeld in Prinsepark aan die westekant van Pretoria opgerig, redelik naby dié oud-staatsman se voormalige tuiste. Die standbeeld, sonder die burgerbeelde, is dus toegelaat om tot aan die buiterand van die politieke dampkring te vorder.

Soos die politieke klimaat verander het, is die standbeeld eers tot voor die stasie verskuif voordat dit einde ten laaste in 1954 rusplek op Kerkplein gekry het.

Dit sal hartseer wees as die Kruger-beeld wéér geskuif word op aandrang van radikales soos die EFF wat geraas daaroor maak in hul voortdurende soeke na publisiteit. Dit sal Kerkplein se geskiedenis onherroeplik verander en misken.

Oprigting van nuwe standbeelde ’n goeie stap

’n Standbeeld van die Boerekryger Danie Theron op die terrein van die Voortrekkermonument. Foto: Argief

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK), en prof Danie Goosen, die voorsitter, het onlangs aangekondig dat ’n projek begin gaan word om drie verdere monumente te bou wat Afrikaners self met R50- en R100-note sal finansier.

Die drie beelde is “Die Penkop” wat by Doornkloof in die Vrystaat opgerig gaan word, “Sorg” wat ’n kampsuster in ’n konsentrasiekamp uitbeeld en by die Irene-konsentrasiekamp opgerig gaan word, en die N.J. van der Merwe-beeld wat onlangs by die FAK se hoofkantoor in Pretoria onthul is.

Langner het op dié geleentheid ook aangekondig dat die oogmerk is om nuwe beelde te bou ten einde koerswysers vir die toekoms te skep waarop die Afrikaner trots is. Nuwe monumente moet ook gebou word om bestaandes aan te vul.

Langner het bygevoeg dat as beelde moet skuif soos dié van Steyn op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat, dan doen hulle dit.

Langner het bygevoeg dat die FAK nie teen die regering wil veg nie en “eerder positief antwoord” wil gee.

“As ons M.T. Steyn se beeld moet skuif, skuif ons hom, maar ons wil ook bou.”

Verskuiwing die verkeerde strategie

Die standbeeld van M.T. Steyn, president van die Vrystaat toe dit nog ’n onafhanklike republiek was, gaan van die kampus van die Universiteit van die Vrystaat verwyder word. Foto: Argief

Die oprigting van verdere standbeelde deur die FAK is die regte stap om die geskiedenis van die Afrikaner, en ook dié van die breër gemeenskap, te bewaar.

Die oprigting van die standbeelde voldoen ook aan die teoretiese beginsels van postkoloniale konstruksie en re-konstruksie van monumente en gedenkwaardighede sodat die volle verhaal van die geskiedenis aan die nageslag agtergelaat kan word.

Die oogmerk is ook om verdere erkenning te gee en mense te help om te onthou en daarom moet die nuwe standbeelde verwelkom word.

Ek het egter ’n probleem met die gedagte wat Langner namens kultuurorganisasie opper wat betref die verskuiwing van beelde. Hoekom moet ons in die eerste plek beelde skuif?

As beelde geskuif moet word omdat ’n paar honderd studente kwaadwillig optree, soos met die standbeelde van oudpres. C.R. Swart en Steyn op die Kovsie-kampus en die vandalisering van die Kruger-beeld, is ons op die verkeerde pad.

Ons het die Grondwet en statutêre beskerming en daar moet teen die oortreders opgetree word. Die “taktiek van terugtree” is nie die antwoord nie en versnel net ’n proses van kulturele marginalisering van die Afrikaner.

Die beelde van minderheidsgroepe word op verskeie vlakke beskerm en burgerregte-organisasies en kultuurgroepe behoort op grond daarvan die onregmatige gedrag en eise van radikales te hanteer.

Die Grondwet gee breë beskerming aan die kulturele regte van gemeenskappe. Dan is daar ook spesifieke wetgewing, die aanbeveling van die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) en ook die geldende teorieë van postkoloniale rekonstruksie van monumente en gedenkwaardighede.

Die regte is spesifiek en moet uitgeoefen word, eerder as die “verwydering en hervestiging van standbeelde” na politieke-kulturele enklaves.

Die bepalings van die Grondwet

Die standbeeld van die voormalige staatspresident C.E. Swart toe dit nog op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat gestaan het. Dit is verwyder nadat ontevrede studente dit onder meer in ’n visdam gegooi het. Foto: Argief

Die oogmerk van die Grondwet was om ’n inklusiewe gemeenskap te skep en nasiebou te bevorder. Suid-Afrika behoort aan alle mense en artikel 3(2) bepaal dat alle burgers op ’n gelyke grondslag geplaas is en dat regte en voorregte aan die gelyke status gekoppel is.

Artikel 10 bepaal dat alle burgers die reg het op waardigheid en dat hul waardigheid gerespekteer en beskerm moet word. My waardigheid as Afrikaner word aangetas wanneer my standbeelde gevandaliseer word en in visdamme gegooi word. Dit is ’n ontkenning van my reg en my groep (die Afrikaner) om te bestaan.

Artikel 31 beskerm spesifiek kulturele, godsdienstige en taalgemeenskappe en bepaal dat lede van dié gemeenskappe die reg het om kultuur (kulturele erfenis) te geniet.

Daar is voldoende beskerming teen die vandalisering van monumente en gedenkwaardighede.

Prof. George Devenish, ’n grondwetkenner, wys daarop dat die gebruik van die konsep gemeenskap, eerder as minderheidsgroep, beteken dat diversiteit bevorder moet word.

Die Grondwet erken duidelik kulturele regte met die oogmerk om diversiteit te bevorder en ’n inklusiewe gemeenskap te skep. Die verwydering en hervestiging van standbeelde in sogenaamde veilige enklaves, soos die Voortrekkermonument in Pretoria en die Vrouemonument in Bloemfontein, negeer diversiteit en inklusiwiteit en die bestaan en regte van minderheidsgroepe.

Dit is ’n miskenning van die grondwetlike regte van kultuurgemeenskappe, wat bepaalde simboliese en religieuse waarde aan die beelde heg.

Daar is voldoende beskerming teen die vandalisering van monumente en gedenkwaardighede. Plaaslike owerhede moet met regstappe en ander vorme van druk gedwing word om die nodige beskerming te verleen.

Die WVK

Die ingang na die Apartheidsmuseum. Foto: Argief

Die verslag waarmee die WVK sy werksaamhede afgesluit het, het spesifiek aanbeveel dat die geskiedenis van apartheid en die stryd teen apartheid inklusief weergegee moet word.

Dit gaan oor balans en inklusiwiteit en nie oor kulturele en politieke oorheersing en eksklusiwiteit nie.

Een van die aanbevelings was dat monumente en gedenkwaardighede opgerig moet word om ’n numeriese balans teweeg te bring teen die oorwig van byvoorbeeld museums en standbeelde uit die apartheidsera. Die Apartheidsmuseum en Vryheidspark is daarom tot stand gebring, nie net om te openbaar nie, maar ook om te heel.

Heelwat standbeelde is oor die land heen opgerig. Standbeelde van oudpres. Nelson Mandela pryk in baie stede, en een is in Pretoria vir Hoofman Tshwane opgerig.

’n Meer gebalanseerde en verteenwoordigende verhaal van Suid-Afrika se geskiedenis is besig om gestalte te kry.

Die teorie van postkoloniale rekonstruksie

Die standbeeld van oudpres. Nelson Mandela voor die Uniegebou in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Die geldende teorie van postkoloniale rekonstruksie is op ewewig en balans gegrond.

Dit beteken eenvoudig dat voorwerpe of museums uit die apartheid- of koloniale era deur huidige toevoegings gebalanseer moet word.

In breë ruimtelike verband het dit al gebeur met die Apartheidsmuseum in Johannesburg en Vryheidspark, wat ’n ruimtelike teenwig teenoor die Voortrekkermonument skep.

Pieter Labuschagne

In Bloemfontein is Mandela se standbeeld aan die noordekant van die stad en die Vrouemonument aan die teenoorgestelde kant.

Op Burgersdorp is daar op een plein monumente om die Anglo-Boereoorlog te gedenk, maar ook die beeld van ’n vryheidsvegter uit die apartheidsera.

Die strewe is na balans en inklusiwiteit en die verwydering van beelde is teenproduktief.

Dit negeer die geskiedenis en frustreer pogings om ’n inklusiewe samelewing te skep en nasiebou te bevorder.

* Pieter Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.