Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Stappe teen Trump: Verdere onstabiliteit wink

Met die besluit om pres. Donald Trump amptelik in ’n staat van beskuldiging te stel het die Demokratiese Party in Amerika ’n duidelike risiko aangegaan dat die land nóg onstabieler kan word as wat dit reeds is. Leopold Scholtz ondersoek die situasie.

Donald Trump is die eerste president in die geskiedenis van die VSA wat twee keer in ’n staat van beskuldiging geplaas is. Foto: AP

Die Engelse woord impeachment kan nie lekker in ’n enkele Afrikaanse woord vertaal word nie. Dit kom van die Latynse impedire, wat deur die Middeleeuse Frans in Engels beland het en letterlik beteken om “voete te boei”.

Dit illustreer goed wat sal gebeur indien die senaat pres. Donald Trump skuldig bevind. Sy politieke “voete” sal geboei word, en hy sal ’n politieke dood sterf, want hy sal nooit weer ’n kandidaat in ’n verkiesingsveldtog kan wees nie.

Die senaat die president deur ’n gewone meerderheid wetlik verhinder om ooit weer aan ’n verkiesing deel te neem.

Die proses werk só: Eers besluit die huis van verteenwoordigers deur ’n gewone meerderheidstem om ’n president in ’n staat van beskuldiging te stel (dit klink na ’n lomp vertaling van die kort en kragtige impeachment, maar daar is niks beters nie). Dit het Woensdag gebeur.

Dan word die aanklag deurgestuur na die senaat, waar die huis as die aanklaers en die senaatslede as jurie optree. ’n Tweederdemeerderheid is nodig om die president skuldig te bevind.

Ten slotte kan die senaat die president dan deur ’n gewone meerderheid wetlik verhinder om ooit weer aan ’n verkiesing deel te neem. In dié geval sou dit beteken dat Trump se hoop om die presidentskap in 2024 te herwin daarmee heen is.

Republikeine en Trump

Liz Cheney het teen pres. Donald Trump gedraai. Foto: Reuters

Wat is die kans dat dit sal gebeur?

Met die eerste beskuldiging verlede jaar het die Republikeinse koukus in die huis nog bankvas agter Trump gestaan. Vandeesweek het tien Republikeine saam met die Demokratiese meerderheid vír die aanklag teen die president gestem.

Onder hulle was die op twee ná mees senior Republikeine in die huis, Liz Cheney, dogter van pres. George W. Bush se visepresident, Dick Cheney. Nie sommer die eerste die beste nie. Maar verreweg die meeste Republikeine (197 van die 207) het steeds téén ’n beskuldiging gestem.

Afgaande op wat die Amerikaanse media – van heel links tot uiters regs – daaroor skryf, moet dit aan verskeie oorsake toegeskryf word.

Die grondwet bepaal dat ’n tweederdemeerderheid nodig is om die president af te sit.

Heelparty lede wéét in hul hart en gewete dat Trump sleg vir die land is, maar hulle vrees dat hul Trumpistiese kiesers hulle in die volgende huis-verkiesings oor minder as twee jaar sal verwerp. Ander bly daarvan oortuig dat Trump by wyse van spreke die beste ding is wat sedert die geboorte van Jesus met Amerika gebeur het, en nóg ander is deur onbekende Trump-aanhangers met aanranding, verkragting of selfs die dood gedreig.

Maar wat nou van die senaat?

Wel, nadat die “nuwe” senaat op 19 Januarie vir die eerste keer byeenkom, sal dié liggaam 50 Republikeine en 50 Demokrate huisves. Maar omdat die Demokratiese visepres. Kamala Harris die ex officio-voorsitter is, kan sy die beslissende stem uitbring, waardeur die Demokrate die liggaam onder normale omstandighede sal beheer.

Dit geld egter nie vir die impeachment-verhoor nie. Die grondwet bepaal dat ’n tweederdemeerderheid nodig is om die president af te sit.

McConnell en Trump

Mitch McConnell: Gaan sy standpunt die toekoms van pres. Donald Trump bepaal.? Foto: Reuters

Die sleutel hier is die polities magtige leier van die Republikeinse koukus, sen. Mitch McConnell. Hy staan bekend as ’n yskoue, maar rasionele magspolitikus wat sonder sentiment na die politiek en politieke magsverhoudinge kyk.

As hý laat blyk dat hy vír afsetting is, is die slag geslaan. Dan is dit klaarpraat met Trump, want sy stem sal talle Republikeine se gedrag beslissend beïnvloed.

Dis nou interessant wat McConnell vandeesweek aan die media laat uitlek het. Hy is “klaar” met Trump, het hy laat blyk, en glad nie ontevrede met die Demokrate se klagteprosedure nie, want hy sien ’n “skoon breuk” met Trump, hoe pynlik ook, op die duur as die beste waarborg vir die oorlewing van die party.

Dus, het hy te kenne gegee, is die moontlikheid dat hy vír afsetting sal stem “groter as 50-50”. (Soos dit ’n tipiese politikus betaam, het hy dus tien agterdeure oopgehou om deur te ontsnap as dit nodig is.)

Dit lyk dus of die senaat hom eers nadat pres. Trump weer mnr. Trump geword het, oor die saak sal buig.

In die openbaar het McConnell gesê daar is geen kans dat die senaat Trump se saak nog voor aanstaande Woensdag, wanneer Joe Biden as president ingehuldig word, kan behandel nie. Die saak moenie oorhaastig deurgejaag word nie.

Dit lyk dus of die senaat hom eers nadat pres. Trump weer mnr. Trump geword het, oor die saak sal buig.

En dan? “Bronne”, glo in die Withuis self, het na bewering aan die New York Times gesê “tot 20” Republikeinse senatore kan vír afsitting stem indien McConnell dit doen. Aangesien die steun van slegs 17 Republikeine (50 plus 17 is 67, oftewel twee derdes van die 100 senatore) nodig is, sou Trump se doppie in só ’n geval geklink wees.

Of dinge inderdaad só gaan loop, sal nog gesien moet word. In dié stadium is alles moontlik.

Trump se nalatenskap

Ondersteuners van pres. Donald Trump probeer verlede week die simbool van demokrasie in Amerika beset. Sal Trump net hiervoor onthou word? Foto: AP

Wat intussen duidelik is, is dat die Demokrate ’n groot risiko met die afsettingsprosedure loop. Om te slaag is beduidende steun uit die Republikeinse kamp nodig – en as dít gebeur, kan dit die gevoelens in die land daar buite ietwat kalmeer.

As dit misluk, sal dit wees omdat hulle nie die Republikeine agter hulle kon monster nie. Wat beteken dat dit die emosies onder die Republikeinse regtervleuel nog verder die hoogte in sal jaag.

Vandeesweek was die Amerikaanse media juis vol berigte oor hoe dit op sosiale media gons soos regse ekstremiste geweld en opstand in al 50 deelstaat-hoofstede, saam met Washington, beplan. Dié keer, dreig die ekstremiste glo, kom hulle met wapens.

In Washington is 15 000 tot 20 000 troepe van die nasionale garde (deeltydse soldate, vergelykbaar met die kommando’s van die ou SA weermag) opgeroep. Hulle het wegversperrings op byna elke straathoek opgerig, en die kongresgebou is totaal ontoeganklik vir mense wat nie daar móét wees nie.

Gesoek. ’n Oproermaker wat ná verlede week se moles in Washington deur die owerhede in die VSA gesoek word. Foto: Reuters

Ná die chaos en geweld van laas Woensdag het honderde foto’s en videogrepe van die gebeure op die internet verskyn. Dit sal bekend voorkom vir elke Suid-Afrikaner wat die AWB-dreigemente van die jare 70 tot 90 meegemaak het.

Hoe ook al, die groot vraag is nou wat Trump se nalatenskap gaan wees. Dit sal ongetwyfeld oorheers word deur die laaste weke in sy amp.

Trump het sekere dinge goed gedoen – ’n mens dink byvoorbeeld aan die ekonomie en die duidelik afgenome werkloosheid (altans voor die koronakrisis toegeslaan het). Dit strek ook tot sy krediet dat hy ten minste geen nuwe oorlog begin het nie.

Leopold Scholtz

Maar, om ’n historiese voorbeeld te noem, ook wyle pres. Richard Nixon het bepaalde dinge goed gedoen. Tog word hy nie soseer dáárvoor onthou nie; wel vir sy leuens en bedrog in die Watergate-skandaal en sy smadelike aftog uit die Withuis in 1974.

Iets soortgelyks geld vir Trump. Hy sal nie onthou word vir die goeie dinge wat hy gedoen het nie; wel vir die leuens en bedrog waarmee hy volgehou het dat hy eintlik die verkiesing met ’n aardverskuiwende meerderheid gewen het.

Ten slotte sal hy onthou word vir die feit dat hy die enigste Amerikaanse president is wat twéé keer amptelik in ’n staat van beskuldiging gestel is. En dat hy die Withuis verlaat terwyl die lawaai van ’n AWB-agtige gepeupel in die kongresgebou, een wat hy self met dubbelsinnige taal opgesweep het, nog in sy ore weerklink.

Dit kon só anders gewees het. Dis diep tragies.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder en historikus wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.