Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Statistieke oor grond: Fopnuus of onbekwaamheid?

Dit is kommerwekkend dat die regeringsdepartement wat vir grondhervorming verantwoordelik is, nie die korrekte statistieke in sy besit het of kan gee nie, skryf Theuns Eloff.

Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming het nie sy vinger op die statistiese pols van grondbesit in Suid-Afrika nie. Foto ter illustrasie. Foto: Johan van Wyk

In ’n saak wat in die Kerstyd amper ongesiens verbygegaan het, het Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, in November 2018 ’n vraag oor die vordering met grondhervorming van die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, beantwoord.

Haar antwoord is op verskeie vlakke insiggewend én kommerwekkend. In dieselfde tyd is die wetsontwerp op grondonteiening vir kommentaar gepubliseer. Dit laat verskeie vrae ontstaan – onder meer of dit ’n aanduiding is van wat ons met die wysiging van art. 25 van die Grondwet kan verwag.

Groenewald het vir statistieke oor vyf sake gevra: grondrestitusie (waar grondeise geslaag het), die hoeveelheid grond waar grondeisers eerder geld as grond gekies het, grondherverdeling (waar die regering grond koop vir herverdeling aan begunstigdes), hervorming ten opsigte van verblyfreg (“tenure”) en die verkoop van landbougrond in staatsbesit.

Uit die minister se antwoord is dit duidelik dat baie meer grond – meer as 12 miljoen hektaar (mh) – reeds herverdeel of teruggegee is, as die 8,2 mh wat vroeër in 2018 deur die regering genoem is. Dit is ook interessant om daarop te let dat in die geval van grondeise ten opsigte van 2,9 mh die eisers eerder finansiële vergoeding verkies het.

Individuele wit boere het 32,4% van alle kommersiële landbougrond besit – en nie die syfer van 72% wat rondgegooi word nie.

In die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming se grondoudit van 2017 is gestel dat daar 37 mh landbougrond in Suid-Afrika is wat individueel besit word.

Hiervan besit wit mense 26,6 mh (72%), bruin mense 5,37 mh (14,5%), Indiërs 2 mh (5,5%) en swart mense 1,3 mh (3,5%). Dis hierdie syfers wat deur die ANC en die EFF gebruik word om onteiening sonder vergoeding te dryf, en dit is hierdie syfers wat selfs internasionaal ongenuanseerd gebruik is deur te sê dat wit Suid-Afrikaners 72% van die “grond in SA besit”.

Die minister se parlementêre antwoord self ontbloot hierdie grondleuen. Sy toon aan dat die grond wat vir kommersiële landbou gebruik is, in 1996 altesaam 82,2 mh was. Hiervan het individuele wit boere in 2017 26,66 mh besit. Dit beteken dat individuele wit boere 32,4% van alle kommersiële landbougrond besit het – en nie die syfer van 72% wat rondgegooi word nie.

Dit beteken nie dat daar nie maatskappye of trusts is wat kommersiële plase besit en waar wit Suid-Afrikaners die beherende aandeel het of begunstigdes is nie. Maar dit moet nog deur navorsing vasgestel word en is oop vir bespiegeling.

Hoeveel grond besit swart Suid-Afrikaners?

37 miljoen hektaar landbougrond in Suid-Afrika is in privaat besit. Foto: Argief

Wat selfs die syfer van 26,66 mh grond in besit van individuele wit boere verdag maak, is dat dit bekend is dat daar sedert 1996 baie landbougrond verlore gegaan het vir stedelike ontwikkeling en ander openbare dienste.

Agri-Development Solutions (ADS) wat saam met Landbouweekblad en AgriSA ’n private grondoudit in 2017 gedoen het, plaas dit op byna 2 mh. Die punt is dat die persentasie van landbougrond wat deur wit individuele boere besit word, aansienlik minder is as die gewraakte 72%.

Van die ander kant af gesien: ADS het in sy voorlegging aan die parlement oor die wysiging van art. 25, oortuigend aangetoon dat van die totale oppervlak van 122 mh in Suid-Afrika, die staat 13,8 mh besit, dat die voormalige tuislande en die SA Ontwikkelingstrust 18 mh beslaan, dat die regering self nou 2,2 mh landbougrond besit, dat grond vir stedelike ontwikkeling 2,3 mh beslaan, dat grond waar eisers die finansiële vergoeding verkies het 2,77 mh beslaan en dat 4,37 mh deur privaat swart kopers gekoop is.

Om hierdie leuen in die media en op openbare platforms te bly herhaal, is onverantwoordelik en immoreel.

Dit beteken in effek dat volgens ADS swart Suid-Afrikaners 43,1 mh van Suid-Afrika (of 35%) besit of daartoe toegang het, en as ’n mens staatsgrond uitsluit, is dit 29 mh (of 27%).

Die minister se syfers voeg nog sowat 4 mh by hierdie syfers by, wat die totale swart besit of toegang op 33 mh (of 30,6%) te staan bring.

Dis goeie nuus. En daarmee word nie gesê dat dit genoeg is nie, maar dit is ’n hemelsbreë verskil van die 3,5% wat deur die drywers van onteiening sonder vergoeding rondgegooi word.

En die punt is dat die persentasie grond wat reeds aan swart Suid-Afrikaners behoort of waartoe hulle toegang het, 30% is en nie 3,5% nie. Om hierdie leuen in die media en op openbare platforms te bly herhaal, is onverantwoordelik en immoreel.

Kommer oor statistieke

Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming. Foto: Argief

In ’n verwante saak, het die minister by een van die baie konferensies oor grond in 2018 baie daarvan gemaak dat grond ingevolge die huidige Grondwet sonder vergoeding onteien kán word en dat die regering van plan is om ’n paar toetssake in hierdie verband te loods.

Sy het selfs laat blyk dat daar reeds plase in dié verband geïdentifiseer is. Die lys wat AfriForum in die hande gekry en gepubliseer het, was volgens die regering nie die regte lys nie.

Op 3 Oktober 2018 het die minister, weer in antwoord op ’n vraag van Groenewald, egter laat blyk dat daar geen planne is om plase te identifiseer wat dan as toetssake vir onteiening sonder vergoeding kan dien nie. Sy moes êrens langs die pad haar mening verander het.

Dis nie duidelik of dit gebrek aan politieke leierskap of opdragte van bo was wat haar van plan laat verander het nie.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus. Foto: Argief

Dit is kommerwekkend dat die regeringsdepartement wat vir grondhervorming verantwoordelik is, nie die korrekte statistieke in sy besit het of kan gee nie. Daar is al voorheen kritiek op die swak grondoudits van regeringskant af gelewer.

Die oudit van 2013 is basies net verkeerd en die oudit van 2017 werk met die onvergelykbare konsep van “grondgedeeltes” (“land parcels”), maar gee geen bruikbare statistieke nie.

Albei die oudits bevat interne teenstrydighede.

Hierdie toedrag van sake en die minister se antwoorde in die parlement onderstreep weer die feit van die noodsaaklikheid vir die regering (moontlik met die samewerking van die privaat sektor), om ’n dringende en ordentlike oudit van grondbesit in Suid-Afrika te doen.

Theuns Eloff

Uit die voorafgaande is dit duidelik dat Suid-Afrika se grondhervormingsprogram (met sy konstitusionele mandaat aan die staat) in die moeilikheid is.

En dis nie net onteiening sonder vergoeding wat dit in gevaar stel nie. Dit is ook ’n departement wat nie sy vingers op die statistiese pols het nie en nie weet wie wat besit nie – selfs ná twee grondoudits die afgelope vyf jaar. Grondhervorming as ’n konstitusionele mandaat kan nie ordentlik daarsonder gedoen word nie – of onteiening nou met of sonder vergoeding gedoen gaan word.

En ’n mens wonder of die huidige toedrag van sake die gevolg is van die doelbewuste verspreiding van fopnuus of blote onbekwaamheid?

* Dr. Theuns Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.