Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Steeds moed vir toekoms

Op die voorblad van Enemy of the People loer pres. Jacob Zuma vir die leser deur getinte brillense. Hy was nie baie beïndruk met iets nie toe dié foto van hom geneem is.

’n Mens kan jou maklik verbeel dit is die titel van die boek wat hom ontstel. Of dalk die subtitel: How Jacob Zuma stole South Africa and how the people fought back.

Maar menige leser sal net so ontsteld soos Zuma lyk as hulle lees wat Adriaan Basson en Pieter du Toit skryf oor sy regering.

Dit is ’n verhaal van onder meer korrupsie, magsmisbruik en staatskaping, propvol feite wat baie van ons al vergeet het.

Dit is ’n verhaal wat baie lesers dalk moedeloos sal laat oor die toekoms van hul land.

Hy kan verstaan dat mense so voel, sê Basson. Alles wat in Suid-Afrika verkeerd is, is so oorweldigend. Tog het hy en Du Toit baie hoop vir die toekoms van hul geliefde land. Hulle is allesbehalwe moedeloos.

“Die boek is opgedra aan ons laaities,” sê Basson. Schalk, Lukas en Michiel – ‘young lions of a new dawn’.

“Dit was nie ’n besluit wat ligtelik geneem is nie. Ons dink ons kinders gaan in ’n land grootword waar die ANC waarskynlik nie so lank in beheer gaan wees nie of nie dieselfde party gaan wees as die een van Mandela waarmee ons grootgeword het nie.”

Volgens Pieter du Toit het hy met die skryf van Enemy of the People ’n bietjie meer tyd as gewoonlik gehad om oor die politieke omwentelinge in die land te dink. Foto: Simon Sonnekus

’n Samelewing wat vrede met homself het

Twee afbeeldings van ’n vriendelike oudpres. Nelson Mandela hang juis teen die restaurantmuur bo die tafel waarby ons gesels, so asof dit ons wil herinner aan ’n tyd toe die toekoms blinker as nou gelyk het.

Mandela sou ook saamgestem het met wat Du Toit sê: “Ons wil hê ons kinders moet grootword in ’n land waar hulle deel is van ’n Suid-Afrikaanse samelewing wat vrede het met homself en wat aanbeweeg het uit hierdie aaklige tyd waarin ons nou is.”

“Dit moet ook ’n samelewing wees wat aanbeweeg het van die skade van die verlede.

“Ons wil hê ons land moet suksesvol wees, want ons het ’n toekoms hier. Ek het geen behoefte om êrens anders te gaan bly nie. Ek wil ook nie hê my kinders moet eendag elders gaan bly nie,” voeg hy by.

Maar wat kan Suid-Afrikaners moed vir die toekoms gee? Mense betoog gereeld en Zuma ly die een nederlaag ná die ander in die hof, maar tog bly sy regering staande en neem bewerings van wanbestuur en korrupsie toe.

Daar is baie wat hom moed gee, sê Basson. “Daar is ongelooflike goed wat gewone mense soos
Wayne Duvenage, David Lewis van Corruption Watch, Mark Heywood en Zackie Achmat-hulle doen.

“Die kernkragooreenkoms is al gestop, daar is mense wat vir Richard Mdluli uit die polisie hou, wat vir Nomgcobo Jiba uit die nasionale vervolgingsgesag hou, wat vir Hlaudi Motsoeneng uit die SAUK en Brian Molefe uit Eskom gekry het.

“Dit is nie klein goed hierdie nie,” benadruk Basson. “As daai ouens nog in hul jobs was, was ons nou in ’n baie slegte plek. Zuma se mag is beslis deur sulke dinge ingeperk.”

Die uitslag van verlede jaar se munisipale verkiesings was ook baie bemoedigend en wys dat mense bereid is om ander partye as die ANC ’n kans te gee om te regeer.

Du Toit voeg by dat daar nog mense in die regering en staatsamptenare is wat die land wil laat werk.

Joernaliste moet hul vryheid jaloers bewaak

Suid-Afrika se demokrasie werk ook, glo Du Toit, hoewel dit in ’n “baie brose tyd van sy ontwikkeling” is.

“Die burgerlike samelewing funksioneer. Ons is nie ’n mislukte staat nie. Ons is net ’n land met ’n swak regering en ’n swak president.”

Die vrye media speel uiteraard net so ’n belangrike rol om die Suid-Afrikaanse demokrasie aan die gang te hou en sterker te maak.

Daar was al skimpe uit ANC-geledere dat joernaliste vasgevat moet word, en hulle moet hul vryheid jaloers bewaak sonder om voor dreigemente te swig.

“Ek dink dit is die plig van joernaliste om gesag uit te daag,” sê Du Toit. “Maak nie saak waar daardie gesag is nie: of dit nou ekonomiese, politieke of kulturele gesag is.

“Enige vorm van gesag moet bevraagteken word. Die geskiedenis het gewys dat mense met mag dit dikwels misbruik.

“Dit is die werk van joernaliste om vrae te vra, om ongemaklike vrae te vra en ook jou eie vooroordele uit te daag en jou eie persepsies te bevraagteken.”

Volgens Basson wil Suid-Afrikaners deesdae weet wat in hul land aangaan.

“Dit is die een goeie ding van Jacob Zuma se tydperk aan bewind en van staatskaping: Dit het mense nuuskierig gemaak oor wat in hul land aangaan.

Basson en Du Toit wou juis met hul boek vir mense vertel wat in Suid-Afrika aan die gang is en hoe dit gebeur het.

Gert van der Westhuizen

“Ons is deur Pravin Gordhan (oudminister van finansies) geïnspireer,” sê Du Toit. “Hy het gesê as mense wil weet wat aangaan, moet hulle net die dots connect. Dit is wat ons probeer doen het.”

Die reaksie op hul boek is oorwegend positief, hoewel daar hier en daar onsmaaklike uitlatings in sosiale media was wat gesê het wit mense kan Zuma nie kritiseer nie.

“Daar was selfs ’n meme wat die titel van die boek verander het na Enemy of the White People,” vertel Basson.

“Ek glo nie die feit dat ek wit is, moet my verhoed om my werk onder ’n ANC-regering te doen nie. Ek glo daar is ’n toekoms vir wit mense in hierdie land en dat ons hopelik ’n klein verskil kan maak.”’

Dié “klein verskil” kan bloot net wees om mense te vertel wat aangaan. As dit al bydrae is wat hy kan lewer, sal hy tevrede wees, sê Du Toit.

Net sodat niemand ooit weer kan sê hulle het nie geweet wat aangaan nie.

Van der Westhuizen is ’n artikelskrywer by Netwerk24.

Meer oor:  Adriaan Basson  |  Pieter Du Toit  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.