Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Steeds nasiebou-ikone?

Die onenigheid in die geledere van die 1995-Bokspan oor die #BLM-beweging dui straks daarop dat hul rol as nasiebouers uitgedien is, meen Heindrich Wyngaard.

Saterdag 24 Junie 1995: Die oomblik toe die Springbokke die Rugbywêreldbeker-toernooi in 1995 op Ellispark wen nadat hulle met die All Blacks afgereken het.Foto: GETTY IMAGES

Telkens wanneer daar na die seëvierende Springbokspan van 1995 verwys word, word die span se rol in die bevordering van nasiebou in die ná-apartheidsamelewing voorgehou – en nie sonder meriete nie.

Dit het immers gevolg op ander groot historiese gebeure soos die vrylating van Nelson Mandela, die eerste nierassige demokratiese verkiesing, en ’n ontluikende, voorheen ongekende ingesteldheid van medemenslikheid oor rassegrense heen.

Maar noudat die span die nuus gehaal het oor ’n onderlinge koppestamp oor steun vir die #BlackLivesMatter (BLM)-beweging, laat dit ’n mens wonder of almal van hulle ooit werklik die nasiebourol as individue omhels het?

Of was hulle in dié rol ingedwing deur die verwagtinge van die “genesingsgety”?

’n Ander moontlikheid is seker ook dat hulle aanvanklik almal daartoe verbind was, maar mettertyd ontnugter is (of daarvan vervreem is) deur verwikkelinge in hul persoonlike lewe en in die land (misdaad, swart bemagtiging, regstellende aksie, transformasie, naamsveranderings ensovoorts).

Nog nie die Reënboognasie

Maar laat ons nie vergeet nie dit was ’n wit span, met die uitsondering van Chester Williams, en dít ’n hele tien jaar nadat sy oom Avril, tóé nog gedurende apartheid sy buiging vir die Bokke gemaak het. Die enigste ander speler van kleur wat die Boktrui voor dit oor die kop kon trek, was Errol To­bias, wat reeds in 1980 deur dié halwe gaping gebars het.

In 1995 was dit egter tyd om nuwe hoop te bou en nie ou koeie uit die sloot te grawe of sout in ou wonde te vryf nie. Sing “Shosholoza”, liewe landsburgers, blaas die vuvuzelas, doen die Madiba-jive!

En die Rugbywêreldbeker-toernooi van 1995, waartydens die Bokke geskiedenis gemaak het deur die Webb Ellis-trofee voor die neuse van die Nieu-Seelandse All Blacks weg te raap, was immers die een waarin Suid-Afrika gedebuteer het.

Die eerste toernooi is in 1987 aangebied toe Suid-Afrikaanse sportlui in hoofsaak aangewese was op binnelandse mededinging.

Maar vyf jaar daarna is eenheid in rugby bereik en kon die Bokke weer internasionaal begin meeding – die eerste kragmeting juis teen die magtige All Blacks óp Ellispark nadat die twee lande laas “amptelik” in 1981 in Nieu-Seeland kragte gemeet het.

Selfs die teenwoordigheid van twee bruin lede in die 1981-groep, Abe Williams as assistent-spanbestuurder en Errol Tobias as losskakel, het egter nie die teen-apartheidsdruk verminder nie. Sowel Tobias as Williams “het die verbeelding van die oorsese pers aangegryp”, het prof. Johan Claassen, as spanbestuurder, in sy toerverslag aan die SA Rugby-bestuur geskryf. Maar “die intensiteit van die protesteerders se aanvalle [het] nie bedaar nie, maar toegeneem”.

Terwyl Tobias egter nie op die 1981-toer sy beloofde kans gekry het nie, het hy dit teen 1984 – op 34 jaar – goed reggekry om enige twyfel oor sy meriete-insluiting in die span uit die weg te ruim.

En nie hóé nie, maar deur die besoekende Engelse op Ellispark te uitoorlê met ’n fop-aangee, ’n geweldige afstamp en besonderse vaartversnelling wat hom in staat gestel het om ’n skitterende drie in die hoekie te druk. Toe het hy sy arms in die lug gegooi, triomfantelik. Jy sou vir groter effek kon suggereer dat hy met dié aksie die “slegs blankes”-toeskouers opgekommandeer het om in dieselfde oorwinningsgees te reageer, maar dit was nie eens nodig nie.

Teen die tyd dat hy die bal geplaas het, het hulle reeds jubelend uit hul sitplekke opgespring.

Straks was dit ook die geval met bruin en swart toeskouers, hoewel geen van hulle onmiddellik in sig was nie, want in die ou dae, só vertel dr. Leon Wessels in sy nuwe boek Encountering Apartheid’s Ghosts – from Krugersdorp to Constitution Hill (Naledi, 2020), was diésulkes nog agter die doelpale met draadversperrings “ingehok”.

Edward Griffiths had dit dus reg in sy beskrywing van dié oomblik op 9 Junie 1984 in The Captains dat dit helaas nog nie die geboorte van die Reënboognasie aangedui het nie – en tog ook: “[T]he moment offered a tantalising shaft of rainbow light through the prism of Springbok rugby.”

Grootste nasiebou-oomblik

Die hoogtepunte – én slegte ervarings –- van Tobias en ander baanbrekers op die weg na rugbynormalisering word egter in die skadu gestel deur die gebeure ’n dekade later. Eers die geboorte van die “Reënboognasie”, waarna Griffiths verwys, in April 1994 met die eerste nierassige verkiesings wat gelei het tot die inhuldiging van pres. Nelson Mandela as eerste demokraties verkose staatshoof.

Toe, ’n jaar later, met die nuwe bestel se grootste nasiebou-oomblik toe die Bokke op Saterdag 24 Junie in die eindstryd van die Rugbywêreldbeker-toernooi op die einste Ellispark met die All Blacks afgereken het.

Hieruit is die 1995-Bokke se aansien as ikone van eenheid en versoening gebore, selfs al was daar slegs een speler van kleur in die groep (Williams).

Wat dié beeld ’n ongeëwenaarde hupstoot gegee het, was die rol wat Mandela gespeel het tesame met die Bok-kaptein Francois Pienaar.

Mandela het vroeër reeds as ’n kampvegter vir die behoud van die Springbok as nasionale rugbysimbool na vore getree, sy invloed gebruik om die plaaslike aanbieding van die Rugbywêreldbeker-toernooi te laat geskied, en op die eindstryddag het hy sy verskyning in Pienaar se nommer 6-trui gemaak.

Die wêreld was in vervoering met hierdie verhaal van die eertydse swart “terroris” en die wit kaptein van ’n nasionale sportspan wat eens as die eksklusiewe domein van Afrikanerskap beskou is. Selfs ’n Hollywood-trefferfliek, Invictus, het later gevolg.

Nasiebouer-mantel nou elders

Nou, ’n kwarteeu later, het die span egter om meer as net die 25-jarige herdenking van daardie onvergeetlike dag die nuus gehaal.

Hoe durf Pienaar ’n knieval voor ’n krieketwedstryd doen ter ondersteuning van die #BLM-beweging, wou sommige op hul geslote WhatsApp-groep weet?

Dit sou kwansuis die hele span met die beweging “assosieer” – en dit mag tog nie, want wat sê dit dan van hul standpunt jeens plaasmoorde, byvoorbeeld?

Wat skynbaar nie in ag geneem is nie, is dat Pienaar aan die #BLM-gebaar deelgeneem het as ’n aandeelhouer van die maatskappy wat plaaslik die regte besit vir die nuwe 3TC-krieketkompetisie. Nié as kaptein van die 1995-Bokke nie.

En sou daar werklik iets daarmee verkeerd wees as hy wél as oud-Bokkaptein opgetree het – uit eie oortuiging en nie om sy spanmaats te kompromitteer nie?

Die oudslot Kobus Wiese wou hier niks van weet nie. “Of dit nou bruin mense, Indiër-mense of wie ook al is, kinders wat gemolesteer word en alle vroue wat onder geslagsgebaseerde geweld ly – álle lewens is belangrik,” het hy teruggekap, want: “As jy een ras uitsonder, dan is dit eenvoudig rassisties.”

Heindrich Wyngaard

Wat hy egter buite rekening laat, is dat die #BLM-beweging in Suid-Afrikaanse sport nie primêr met die dood van swart mense soos in Amerika te doen het nie, maar wel met die stadige pas van transformasie.

En dit kon die Zimbabwies-gebore oud-Bok-vleuel Tonderai Chavhanga hom vertel: “BLM gaan oor gelykheid,” sê hy die afgelope Sondag in Rapport. “Wat sport betref, kyk net hoe uitstekend het die Springbokke verlede jaar gevaar by die Wêreldbeker. En dit was die mees verteenwoordigende Bokspan nóg.”

Die onenigheid in die 1995-Bokspan word verduidelik as slegs maar ’n meningsverskil op ’n geslote WhatsApp-groep, soos ’n familiegeskil (aldus Griffiths, destyds Saru-hoof en baasbrein agter die slagspreuk “One Team, One Country”).

En in ’n amptelike verklaring het die woordvoerder van die groep, oudsenter Hennie le Roux, onder meer gesê: “Ons grootste belang is en sal altyd bly om die land verenig te hou en in die proses standvastig te wees en enige vorm van verdeeldheid te ontmoedig. Die Reënboognasie maak saak.”

Dié Reënboognasie word deesdae egter veel eerder deur die meer getransformeerde Springbokspan verteenwoordig wat verlede jaar die Rugbywêreldbeker gewen het – en wie nou die mantel van nasiebouers skynbaar met veel meer oorgawe dra, terwyl die 1995-groep heel moontlik hul status tot ikone van bloot ’n WhatsApp-groep gereduseer het.

Wyngaard is ’n skrywer, omroeper en sosio-politieke kommentator.

Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.