Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Steinhoff: ‘Wiese glad nie Midas . . .’

Steinhoff se sakemodel het hom nooit aange-staan nie, sê Francois du Plessis, besturende direkteur van Vega Batebestuur, aan Hanlie Retief.

Markus Jooste

Hoe kon byna niemand die Steinhoff-ramp sien kom nie? Daar is nou 110 heldersiendes wat sê hulle hét – die mees onlangse rooi lig was ’n Reuters-berig in Augustus dat die Duitse owerhede Markus Jooste en ander Steinhoff-amptenare oor beweerde rekeningkundige bedrog ondersoek. Die aandeelprys het dieselfde dag met 10% geval, Steinhoff het dit amptelik ontken en Christo Wiese het die bewerings as snert afgemaak.


Wat dink jy is Wiese se aandeel hierin?

Wiese het op 3 November ’n bykomende R123 miljoen se aandeelblootstelling deur middel van termynmarkkontrakte teen R61 per aandeel gekoop. So, het hy verwag dat die aandeelprys in duie sou stort? Beslis nie!


Magda Wierzycka van Sygnia noem dit ’n Ponzi-skema, wat haar minder as ’n uur geneem het om raak te sien.

Dis belaglik. Waarom het sy dan nie mense vóór die tyd gewaarsku nie?

Fondse onder Sygnia se bestuur het dan self Steinhoff-aandele.


Watter rol het gierigheid in hierdie hele debakel gespeel?

Beleggers beskuldig vinnig derde partye van gierigheid, maar vergeet om self in die spieël te kyk. Sommige beleggers verander vinnig van fonds as prestasie nie na wens is nie.
Jy het geen Steinhoff-aandele nie – het jy iets vermoed?
Hul sakemodel en ons beleggingsbenadering was nie versoenbaar nie. Hul abnormale lae belastingkoers – lae dubbelsyfers – het my ook altyd laat wonder.


Die fokus is nou op Jooste, maar wat van die ander direkteure?

’n Maatskappy word bestuur deur uitvoerende direkteure. Die rol van die onafhanklike nie-uitvoerende direkteure is om hul kennis en ervaring te gebruik om aandeelhouers en ander belanghebbendes te verteenwoordig. Hiervoor word hulle ruim vergoed (tot R2 miljoen vir 15 maande se werk). Aandeelhouers het die goeie reg om te vra of die onafhanklike nie-uitvoerende direkteure omsigtigheid aan die dag gelê het en die moeilike vrae gevra het.


En vorige direkteure?

Al bedank ’n direkteur bly hy of sy steeds verantwoordelik vir besluite wat in sy termyn geneem is. PSG se aankondiging vroeër sê Jannie Mouton het in Junie 2016 as nie-uitvoerende direkteur van Steinhoff bedank. Dit het ons geweet, maar wat nie algemeen bekend was nie is dat, volgens die aankondiging, Mouton ál sewe miljoen van sy Steinhoff-aandele verkoop het.


Jy het ook kritiek op die tekort aan internasionale ervaring op Steinhoff se direksie?

Jooste het bykans nét Suid-Afrikaners in sy direksie. Hoekom het hy nie soos ander internasionale maatskappye gesaghebbende ervare direkteure uit daardie jurisdiksies aangestel nie? Dit is mos wat die redelike man sou gedoen het. Was dit doelbewus of toevallig? Ek weet nie.


Hulle praat van Christo Wiese se Midas-aanraking . . . Wat sê jy?

As jy na Wiese se baanrekord kyk, het hy Ellies gekoop wat ’n totale flop was, die belegging in Pallinghurst sukkel erg, Transhex, ’n diamantmyn, kos meer geld as enigiets anders, hy het Stellar teen 60% afslag onder netto batewaarde verhandel. Terwyl die hele wêreld wegbeweeg van winkels en eerder aanlyn beweeg, het hy New Look in Engeland gekoop. Nee wat.


Mense vergelyk Steinhoff nou met African Bank.

Hoe groot is die omvang?Dit is moeilik om te sê. Hulle is nog besig om met die banke te onderhandel. Dis nie in die banke se belang om hierdie ouens toe te maak nie. Die groot vraagteken is egter potensiële boetes.


Hoe kan gewone beleggers hulself en hul pensioengeld in die toekoms beskerm?
Pensioenfondse en uittreeannuïteite het gedaal, maar ná Nenegate was daar ook skade. Sien dit dus in konteks.

Meer oor:  Markus Jooste  |  Steinhoff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.