Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Stellenbosch gaan nie Afrikaans afskaf nie

Dit is onwaar dat die Universiteit Stellenbosch (US) se jongste taal­-beleid die einde van Afrikaans aan dié instelling beteken, skryf Arnold Schoonwinkel.

Grafika: universiteit stellenbosch

Telkens wanneer die taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch in die soeklig kom, tree frases soos “die dood in die pot vir Afrikaans” of “Afrikaans op ’n glybaan by Maties” in openbare debatte na vore.

Hierdie wanpersepsie moet die nekslag toegedien word. Dat die Engelse aanbod uitgebrei word, beteken nie dat die US Afrikaans as onderrigtaal gaan afskaf nie. Sommige kritici beweer taalaanwending is ’n kwessie van óf Afrikaans óf Engels is, maar die US volg dekades lank al ’n Afrikaans-én-Engels-benadering. Hoe ons dit toepas, is wel anders as in die verlede ten einde die US meer insluitend te maak.

Taalbenutting kan nie meer bloot beskryf word in terme van hoeveel minute Afrikaans of Engels per lesing gepraat word nie. Die nuwe taalbeleid word toegepas binne die US se erkende gemengdeleermodel (blended learning) van tradisionele lesings (die sogenaamde talk-and-chalk-metode) aangevul deur ’n kombinasie van interaktiewe kontaksessies, tegnologiese hulpmiddele en intydse tolking. Taaltoepassing is dus nie net gefokus op die lesing self nie, maar op alle leergeleenthede.

Van die belangrikste vertrekpunte van die nuwe taalbeleid is dat taal toegang tot die instelling moet bevorder, en die akademiese en beroepsukses van studente en personeel moet ondersteun. Taaltoepassing moet ook opvoedkundig verantwoordbare leer en onderrig vergemaklik. Kortom: Die taalbeleid moet verseker dat geen student weens taalvaardigheid (dus hulle wat nie noodwendig akademies geletterd in Engels én Afrikaans is nie) van die akademiese aanbod uitgesluit word nie; en so ook nie enige personeellid van die werksaamhede van die universiteit nie.

Verbreding van toegang is ’n goedgekeurde strategiese prioriteit (volgens ons institusionele voorneme en strategie). ’n Beleid van meertaligheid wat doeltreffend uitgevoer word, is een manier om so ’n doelwit te bereik. “Verbreding” beteken egter nie dat Afrikaanssprekende studente, akademici en ander personeel skielik ’n mindere plek aan die US het nie.

Natuurlik het die US ’n historiese verbintenis met Afrikaans. Die skenking van Jan Marais was dan juis om ’n universiteit te stig waar Afrikaans as akademiese taal kon ontwikkel, naas die aanbod in Engels aan ander universiteite. Dit was bykans ’n eeu gelede. Maar die wêreld, Suid-Afrika, die hoëronderwys en die studente van 2018 is nie meer dié van 1918 nie. Die US vir die toekoms wil nie meer apart Afrikaans wees nie, maar gaan ’n inklusiewe meertalige aanbod bied, waar die Afrikaans- en Engelsvoorkeurstudent kan floreer.

Hoe sal die nuwe taalbeleid prakties toegepas word?

Vir voorgraadse modules is Afrikaans en Engels die tale van leer en onderrig. Waar dit redelikerwys uitvoerbaar en opvoedkundig verantwoordbaar is, sal lesings afsonderlik in Afrikaans en Engels vir groot groepe aangebied word, maar tutoriale en praktika sal studente van albei taalgroepe weer in een sessie saamtrek.

Ons projeksies vir 2017 is dat meer as 40% van die studente in modules hul lesings in parallelmedium sal ontvang.

In lesings waar Afrikaans én Engels saam gebruik word, word alle inligting ten minste in Engels oorgedra sodat almal dit kan verstaan, aangevul met ’n samevatting of beklemtoning in Afrikaans. Dit gee die Afrikaanse studente ’n addisionele voordeel by dit wat almal alreeds in Engels verstaan het. Hoewel alle inligting ook in Engels oorgedra word, word Afrikaans nie op die agtergrond geskuif nie. Ons vertrekpunt is kennisoordrag deur meer as een taal, ingestel op die behoeftes van studente. Belangrik om op te let is dat studente benewens die voorlesings in Afrikaans én Engels ondersteun word deur konsultasies in kantoortyd; roetine-tutoriale en -praktika; inligting- en kommunikasietegnologie-ondersteunde leer (klank- en video-opnames); en die dienste van die taalsentrum.

In verreweg die minderheid van die modules word voorgraadse lesings in een taal aangebied, byvoorbeeld waar die aard van die leerstof dit regverdig (soos Frans, Duits, ensovoorts), die dosent slegs in een taal kan klas gee, of die klasgroep per stembrief eenparig vir een taal stem.

Alle verpligte leesstof sal beskikbaar wees in Engels en, buiten gepubliseerde materiaal, ook in Afrikaans. US-moduleraamwerke en -studiegidse is steeds in Engels én Afrikaans beskikbaar.

In voorgraadse modules word vraestelle vir toetse, eksamens en ander assesserings in Afrikaans én Engels opgestel, en kan studente alle assesserings en geskrewe werk in Afrikaans of Engels voltooi.

Die meertalige model ondersteun Afrikaanse studente wat in hul eerste studiejaar nog nie Engels op ’n akademiese vlak bemeester het nie.

Die US bevorder die akademiese potensiaal van Afrikaans deur onderrig; die uitvoer van navorsing; die aanbied van simposiums; die aanbied van kort kursusse en kursusse in Afrikaans-taalverwerwing; steun aan taalonderwysers en die ontvangs van gasdosente in Afrikaans; ontwikkeling van akademiese en professionele geletterdheid in Afrikaans; ondersteuning van lees- en skryfontwikkeling in Afrikaans; voorsiening van taaldienste soos vertaling, redigering en dokumentontwerp; die ontwikkeling van meertalige woordelyste met Afrikaans as een van die tale, die US Woordfees en die bevordering van Afrikaans deur populêre wetenskappublikasies in die algemene media.

Hoe word die korrekte implementering verseker?

Fakulteite het hul taalimplementeringsplanne vir 2017, wat strook met die taalbeleid, ingedien en moet dan jaarliks teenoor dié plan verslag doen. Die viserektor: leer en onderrig rapporteer ook die fakulteite se terugvoering jaarliks aan die raad.

Die raad behou sy toesig­rol en keur die taalbeleid met die instemming van die senaat goed.

Hoe weet ’n student in watter taal ’n module aangebied word?

Fakulteite sal op hul webblad aandui in watter taalsamestelling ’n module aangebied word. Die taalreëlings word ook in die betrokke moduleraamwerke gepubliseer.

Die US is vir sy tweede eeu goed geposisioneer om toeganklik te wees vir die beste van alle studente, óók Afrikaanse studente. Dié artikel is gegrond op ’n artikel wat in Matieland, die nuus-en-alumni-tydskrif van die US, verskyn het.

* Prof. Schoonwinkel is die viserektor: leer en onderrig, van die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.