Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Stelselfout’ stuur SA oor die afgrond

Die Zumafikasie van Suid-Afrika is slegs moontlik weens die buitensporige magte wat die president ingevolge die Grondwet het, skryf Flip Buys.

Foto ter illustrasie (www.istock.com)

Pres. Jacob Gedleyihlekisa Zuma het ons land feitlik manalleen tot op die rand van die afgrond gesleep. Hy het dit vermag deur sy strategie van “Zumafikasie”, waardeur hy die land se sleutelinstellings gekaap het deur lojale politieke kaders en persoonlike vriende as hul hoofde te “ontplooi”.

Hy beheer die land grootliks deur hierdie netwerk van persoonlike aanstellings, pleks van deur die amptelike instellings. Só word hierdie instellings misbruik om Zuma en sy netwerk te bevoordeel en te beskerm, pleks van om in landsbelang doeltreffende dienste te lewer.

Die rampspoedige gevolge van Zumafikasie is die hoofrede vir die slotsom van talle kenners dat Zuma deurtrek is van korrupsie, en grondig onbevoeg is om die land te regeer.

Maar die rede waarom Zuma so magtig is dat hy ’n land ten gronde kan rig, word feitlik glad nie bespreek nie. Die basis van Zuma se bykans onbeperkte magsposisie is sy uitgebreide magte ingevolge die Grondwet. Dit is vreemd dat diegene wat Zuma byna daagliks uitmekaarskeur, gewoonlik die stelselgebreke wat sy magsmisbruik moontlik maak, verswyg.

Zuma is dus nie die enigste oorsaak van die probleem nie, maar die onbedoelde dog voorsienbare gevolg van die buitengewone magte wat die Grondwet aan sy amp verleen.

Die belangrikste faktor wat sy onbeheerste Zumafikasie moontlik maak, is sy omvattende magte om sleutelaanstellings te maak.

Aanstellingsmagte

Hierdie stelselprobleem is al in 2014 vierkant op die tafel geplaas deur die pas afgetrede adjunkhoofregter van die konstitusionele hof, Dikgang Moseneke.

Hy het destyds in ’n lesing by Unisa oor die stand van grondwetlike demokrasie die vraag gestel of ’n magtige presidensiële stelsel werklik in belang van die land is. Moseneke het daarop gewys dat die gloeiende praatjies oor die grondwetlike argitektuur op al die grondwetlike regte en vryhede fokus.

Daar word egter baie min gesê oor die toewysing van mag – wat nie optimaal bevorderlik is vir demokrasie nie.

Moseneke het voorgestel dat hierdie magstoewysing hersien word, wat tot dusver nie veel aandag gekry het nie.

Hy het beklemtoon dat die Grondwet en ander wetgewing ’n merkwaardige hoeveelheid aanstellingsmagte aan die president verleen.

In enkele gevalle is die parlement en ander staatsinstellings medeverantwoordelik, maar in die meeste gevalle berus die mag uitsluitlik by die president.

Moseneke sê na wat hy verneem het, was die onderhandelaars wat met die afhandeling van die finale Grondwet by geskille oor aanstellingsmagte betrokke was, heeltemal gelukkig om daardie magte aan die destydse ampsbekleër, Nelson Mandela, oor te laat.

Hulle het hom vertrou om die regte ding te doen. Só het geweldig baie mag beland in die hande van sy opvolgers, wat nie almal “die regte ding” doen nie.

Posbekleërs

Moseneke het van die belangrikste presidensiële aanstellingsmagte (wat terselfdertyd ook ontslagmagte is) uitgestippel wat die Zumafikasie van die land moontlik gemaak het. Dit behels onder meer die volgende poste:

  • die adjunkpresident, wat nie soos in ander lande verkies word nie;
  • ministers en adjunkministers;
  • alle ambassadeurs;
  • die hoofregter en adjunkhoofregter ná oorleg met die Regterlike Dienskommissie (RDK);
  • alle regters op advies van die RDK;
  • die hoofde van talle openbare sleutelinstellings soos die nasionale direkteur van openbare vervolging, die openbare beskermer, die ouditeur-generaal, lede van die Menseregtekommissie, die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) op aanbeveling van die Nasionale Vergadering, asook die ander art. 9- grondwetlike instellings wat die demokrasie moet bevorder;
  • kommissarisse van die Staatsdienskommissie, wat staatsamptenare aanstel;
  • hoofde en bevelvoerders van die weermag;
  • die polisiehoof;
  • die hoof van die intelligensiediens; en
  • die hoofde van die Reserwebank, die belastingdiens en die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika ­(Okosa).

Moseneke het ook ’n aantal wetgewende instrumente bespreek waarkragtens die president verdere aanstellings kan doen, soos die statistikus-generaal, die president en adjunkpresident van die Reserwebank, die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), die lede van die belastinghof en die lede van Okosa.

Selfs in gevalle waar die president belangrike aanstellings in oorleg met die parlement of ander staatsinstellings moet doen, gee die president se voorkeur in die praktyk die deurslag.

Openbare ondernemings

Die hoofde van die land se 715 openbare ondernemings, soos ­Eskom, die SAL, die SAUK, Transnet, Denel, die Poskantoor en andere, word aangestel deur die betrokke minister, wat op sy of haar beurt deur die president aangestel word.

Die minister vra die kabinet en die president se goedkeuring vir aanstellings van die hoofde van die openbare ondernemings, wat die president regstreekse mag of inspraak in aanstellings gee.

Om dubbel seker te maak, keur die “ontplooiingskomitee” van die ANC (waarvan Zuma die president is) se nasionale uitvoerende komitee (NUK) vooraf eers die betrokke aanstelling goed. Zuma het homself ook onlangs deur die kabinet in beheer van die openbare ondernemings geplaas.

Natuurlik beteken dit nie dat al hierdie posbekleërs onbevoeg of deel van ’n korrupte netwerk is nie, maar dat die president oor hul aanstelling en ontslag beskik. Daarom is Moseneke se kernvraag hoe die aanstellings van openbare demokratiese instellings beskerm kan word teen die voorkeure, giere en grille van die individu wat die aanstellings maak.

Anders gestel: Moseneke vra hoe die integriteit en doeltreffendheid van openbare instellings wat noodsaaklik is vir ? demokratiese bestel, ten beste verskans kan word. Die groot vraag is veral ook hoe hierdie aangesteldes hul grondwetlike mandaat kan uitvoer om die uitvoerende gesag aanspreeklik te hou as hulle juis deur die president aangestel is.

Moseneke het voorspel dat hierdie gevaarlike magskonsentrasie vorentoe net tot die land se skade geïgnoreer kan word.

Hy het ook gevra of die demokrasie ten beste gedien word deur die omvattende aanstellingsmagte van ’n magtige, sentrale uitvoerende president. Dit is volgens hom vanselfsprekend dat aanstellings deur ’n gesamentlike groep minder kwesbaar is as aanstellings deur ’n enkele funksionaris.

Hersiening

Zumafikasie is ’n onbedoelde maar grootliks voorsienbare gevolg van die omvattende magte wat die Grondwet aan die president verleen. Gesien in die lig van die ANC se dekades lange uitgesproke voorkeur vir ’n totalitêre regeringsvorm en die risiko dat so ’n magsposisie misbruik kon word, moes soveel magte nooit aan ’n president toegeken gewees het nie.

Daarom kan al die skuld vir die treurige stand van sake nie net op ’n onbevoegde en korrupte president en sy gedweë party geplaas word nie.

Dit is uiters noodsaaklik dat die stelselfout wat ’n Zuma moontlik maak, dringend hersien moet word om te verhoed dat hierdie of ’n volgende “Zuma” die land finaal oor die afgrond stoot.

Die magtige presidensiële stelsel bedreig nie net die grondwetlike demokrasie nie, maar die land se toekoms.

* Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteitbeweging.

Meer oor:  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.