Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Stelsels rig ons deur krisis

Stelsels, prosesse en beleid is nou nie juis dinge wat die hoofopskrifte haal of gewilde onderwerpe vir gesprekke oor die etenstafel nie. Maar dit word lewensbelangrik in tye van krisis, skryf Francis Petersen.

’n Gesondheidswerker met ’n dosis Covid-19-enstof by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad. Wetenskaplik gegronde inligting oor entstowwe is nou belangriker as ooit te midde van ongeverifieërde inligting daaroor op sosiale media. Foto: GALLO

As daar een ding is wat ons uit die Covid-19-pandemie geleer het, is dit dat geen tyd, moeite of hulpbronne ontsien moet word om stelsels, prosesse en beleid gereed te hê vóór ’n ramp ons tref nie.

Tydens my onderrig en opleiding op die gebied van ingenieurswese is ek voortdurend herinner aan die waarde van stelsels: ’n stel komponente wat saamwerk as onderdele van ’n meganisme of onderlinge verbindingsnetwerk; ’n komplekse geheel.

In daaropvolgende jare het ek ook keer op keer besef hoe stelselbeginsels ewe suksesvol toegepas kan word in bestuur. Stelsels verseker eenvormige en bestendige werking in enige organisasie. En in tye van krisis voorkom dit histerie, onsekerheid en ’n onnodige vermorsing van tyd.

Lesse geleer

By die Universiteit van die Vrystaat (UV) het ons gou die waarde daarvan geleer om proaktief op te tree wanneer dit kom by die Covid-19-pandemie, asook om volhoubare stelsels gereed te kry wat in harmonie werk.

Te midde van al die onsekerheid en verandering het ons gevind dat dit noodsaaklik is om nie op ’n impulsiewe manier te reageer en lukraak maatreëls in te stel wat nie die hele instelling, sy geskiedenis (hoe dit tot hiertoe gegroei en ontwikkel het), en sy toekoms (die gewysigde, post-Covid-19-landskap) in ag neem nie.

Vroeë reaksie en ’n volgehoue fokus op die tydperk ná die pandemie het ons reaksie-optrede gekenmerk. ’n Covid-19-taakspan is reeds aan die einde van Fe­bruarie 2020 by die universiteit op die been gebring toe nuus oor die eerste infeksies uit Wuhan, China begin deursypel het.

Toe die eerste Suid-Afrikaanse Covid-19-geval op 5 Maart verlede jaar aangemeld is, het ’n spesiale uitvoerende groep tot aksie oorgegaan. Dit het uit verteenwoordigers van verskeie fokusgebiede bestaan: onderrig en leer, personeel, bedryf, herintegrasie van personeel en studente op kampus, finansies, risiko en regsgeldigheid, Covid-19-wetenskap en toekomsdenke.

Ons het onmiddellik begin met die migrasie na afstandsonderrig- en leer, wat behels het dat personeel opgelei word, dat die materiaal aanlyn beskikbaar is, dat studente ingelig word, dat skootrekenaars verkry word en dat ’n nulkoers vir data op die gebruik van leerportale gehef word.

In middel-Maart verlede jaar is personeel wat dit kon doen gevra om van die huis af te werk. Geleenthede is uitgestel, personeel en studente is opgelei om in ’n afstandsomgewing te werk en ’n moratorium is op internasionale reise geplaas – selfs voordat ’n nasionale inperking deur die regering ingestel is.

Terugskouend was hierdie tydige, holistiese, sistematiese benadering van onskatbare waarde.

Die pandemie het ook die les versterk dat geen land ’n eiland is nie. Ons moet van ander leer, nie hul foute herhaal nie en nie hul suksesse ignoreer nie.

’n Suksesvolle stelsel werk nooit in isolasie nie, maar word beïnvloed deur en het ’n invloed op die stelsels rondom dit.

Waar ons die entstoffase van die pandemie betree, is dit belangriker as ooit om ’n stelselbenadering te handhaaf. Dit is nie nou die tyd vir kortpaaie, ongetoetste geneesmiddels en vae bewerings van doeltreffendheid nie. Dit is nou die tyd vir die stelselmatige inwerkingstelling van beproefde prosesse wat mettertyd ontwikkel is en deur goeie wetenskap onderskryf word.

Kovsies se rol

Ons is by die UV bevoorreg om op twee belangrike terreine ’n rol te speel. Die Suid-Afrikaanse nasionale beheerlaboratorium vir biologiese produkte (NBL) wat op ons Bloemfontein-kampus geleë is, is ’n kerndeel van die entstofplan. As een van slegs 12 laboratoriums wat wêreldwyd deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vir entstofgehaltebeheertoetsing gekontrakteer word, is dit deel van ’n noukeurig-ontwerpte regulering­stelsel wat oor ’n tydperk van baie jare op die been gebring, geskaaf en getoets is om die belange van die wêreldgemeenskap te dien.

Entstowwe is biologiese medisyne en is van die ingewikkeldste farmaseutiese middels wat vandag beskikbaar is. Dit is noodsaaklik dat die regulering daarvan deur wetenskaplike en nie deur kommersiële of politieke beginsels beheer word nie.

Dit is ’n rol wat onder geen omstandighede bloot aan die “laagste bieër” of aan iemand wat “spoedige lewering” belowe, toegeken moet word nie.

Die NBL het hierdie reguleringsrol nie oornag verkry nie. Dit het reeds in 1997 tot stand gekom ná ’n uiters streng oudit deur die Nasionale Reguleringsowerheid (NRO) en daaropvolgende aanbevelings deur die WGO.

Dit beteken dat al sy bedrywighede – van die manier waarop dokumente saamgestel en bewaar word, tot die instandhouding van toerusting en infrastruktuur, asook personeelbevoegdheid – volgens streng internasionale riglyne uitgevoer word en deurlopend en noukeurig gemonitor word.

Dit is deel van ’n ingewikkelde stelsel met wigte en teenwigte wat ingestel is om te verseker dat geen foute gemaak word nie.

Net so het FARMOVS – ’n kliniese navorsingsmaatskappy wat 100% aan die UV behoort, saam met verskeie mediese en wetenskaplike kundiges aan die universiteit ’n protokol vir ’n kliniese proef vir goedkeuring by die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Saphra) ingedien om die doeltreffendheid van Ivermektien vir Covid-19 te bepaal.

FARMOVS is stelselmatig vir hierdie rol voorberei en gevorm, siende dat dit betrokke was by tallose farmaseutiese toetse waardeur sy doeltreffendheid oor ’n lang tydperk bewys is.

Nie alleen is dit die enigste plaaslike ISO- (International Organisation for Standardisation) en GLP- (Good Laboratory Practice) gesertifiseerde bio-analitiese laboratorium op die vasteland van Afrika nie – dit het deurlopend bewys dat dit oor die afgelope 47 jaar aan die strengste internasionale vereistes voldoen het.

Dit is uiters bevredigend – en gerusstellend – om te sien hoe instellings soos dié, gewortel in gesonde wetenskap en met hul bestendigheid, doeltreffendheid en akkuraatheid deur die loop van baie jare bewys, nou die pas versnel en die uiters belangrike funksie vervul waarvoor hulle noukeurig en stelselmatig ontwerp is.

Entstof-nasionalisme

Hierdie pandemie het getoon dat een land of streek deur middel van die onderlinge verbondenheid van ons wêreld ’n impak (in dié spesifieke geval ’n gesondheidsimpak) op ander lande en streke het.

In hierdie verband berus dit by ryk lande om regverdige en billike toegang tot entstowwe vir armer lande te verseker, asook dat die WGO-voorstel om farmaseutiese maatskappye te versoek om in hierdie geval afstand te doen van hul intellektuele eiendomsreg, ondersteun word.

Nog iets wat deur die pandemie beklemtoon is, is die belangrikheid van goeie, gesonde wetenskap te midde van al die bohaai, bespiegeling en vals nuus wat ongelukkig ook die Covid-19-era kenmerk.

Die ooreenstemmende meteoriese styging in die gewildheid van sosiale media was olie op die vuur van ongeverifieerde en onwetenskaplike bewerings wat so dikwels bloot deur inligtingverbruikers in die openbare sfeer vir soetkoek opgeëet word.

Omdat ons die entstoffase betree het, kom dit ongelukkig al hoe meer voor.

Hier word die rol van universiteite as onderrig- en navorsingsinstellings belangriker as ooit. Ons moet nie net die “goeie wetenskap” waarna almal smag, kommunikeer nie.

Pleks daarvan om bloot van die kantlyn af raad te gee, moet ons ook ’n belangrike praktiese rol speel en ons kennis, hulpbronne en kundigheid aktief toepas in die breër samelewing wat ons dien.

Die pad vorentoe

Die pandemie het ongetwyfeld die belangrikheid van aanlyn leer beklemtoon, asook die groot behoefte om behoorlik hiervoor toegerus te wees. En dit het ons ’n kragtige hupstoot gegee in ’n rigting waarheen ons reeds op pad was.

Francis Petersen

Dit het ons egter ook gewys dat, te midde van toenemende digitalisering, ons steeds ’n behoefte aan fisieke wisselwerking het. Die isolasie wat deur Covid-19 teweeggebring is, het ons geleer dat ons nie bloot as ’n digitale samelewing kan funksioneer nie.

Dit sal waarskynlik daartoe lei dat hoëronderwysinstellings in die toekoms ’n gemengde manier van leer en onderrig sal aanbied; ’n kombinasie van aanlyn leer en kontak-leer wat sal verseker dat studente steeds die kampuslewe en die waardevolle wisselwerking wat daarmee gepaard gaan, ervaar.

Die pandemie het ook gehelp om die manier te vestig waarop ons as “voortbringers van kennis” met die samelewing behoort om te gaan. Die onlangse retoriek van anti-wetenskaplike wêreldleiers het veroorsaak dat gemeenskappe wantrouig teenoor universiteite en wetenskap geraak het.

Ons moet daadwerklik optree om weer vertroue binne gemeenskappe te bou. En ons kan dit slegs doen deur noue samewerking met ander sektore van die samelewing, deur ware behoeftes te meet en deur as dele van ’n groter stelsel saam te werk om werklike, praktiese oplossings te vind wat deur almal gesien kan word as iets wat ’n positiewe verandering in verskillende sfere van die samelewing teweeg bring.

Elke organisasie, onderneming, regering en instelling vind baat by sowel idealiste en pragmatiste. Die idealiste help ons om ’n toekoms voor te stel waarin ons wil leef. Die pragmatiste werk praktiese, uitvoerbare en volhoubare stappe uit om daar te kom.

Soms is dit nodig vir die aktiviste en redenaars om opsy te staan en plek te maak vir die wetenskaplikes en administrateurs om stelselmatig voort te gaan met wat gedoen moet word.

Hoewel ons almal gretig is om verby hierdie tydperk in ons gemeenskaplike geskiedenis te kom, terug na ’n wêreld wat meer lyk soos die “ou normaal” waarna ons smag, moet ons nie oorhaastige, ondeurdagte skuiwe maak en kortpaaie volg om daar te kom nie. Ons moet dié tydperk ook sien as ’n geleentheid om ons grense te verskuif, die “nuwe normaal” te aanvaar en innoverend te wees in ons denke oor hoe om daar te bly.

  • Prof. Petersen is rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat.
Meer oor:  Francis Petersen  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Covid-19  |  Inperkingsmaatreëls
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.