Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
#Stembus: Partye praat oor verkiesing
Philda Essop

Die veldtogte vir die munisipale verkiesing op 3 Augustus begin nou spoed optel. Philda Essop het verteenwoordigers van die ANC, DA en EFF oor hul veldtogte uitgevra.

NM – Nomvula Mokonyane, hoof van die ANC se verkiesingsveldtog.

JM – Jonathan Moakes, bestuurder van die DA se verkiesingsveldtog.

VM – Veronica Mente, EFF-woordvoerder oor verkiesings.

Wie is jou party se grootste kompetisie en waarom?

NM: Ons neem elke verkiesing baie ernstig op. Die totstandkoming van nuwe politieke partye word ’n ernstige uitdaging omdat dit aan die basis van die ANC raak.

JM: Die ANC is ongetwyfeld ons grootste kompetisie in die Nelson Mandelabaai-metro, Tshwane en Johannesburg. Dit is ’n tweestryd in dié gebiede. Ek dink as jy kyk na die veldtog op voetsoolvlak, is dit duidelik dat die kiesers tussen die DA en die ANC sal moet kies.

VM: Die ANC is ons grootste kompetisie. Ons glo daar is net twee partye in die verkiesing – die ANC en die EFF. Die ander partye is onbeduidend.

Wie beskou jou party as jul grootste troefkaart in die verkiesing en waarom?

NM: Ons stemwerwers, die ANC-vrywilligers, is ons grootste aanwins. Die primêre gesig van die ANC is die president, wat ook ’n sleutelfiguur in ons veldtog is. Ons vrywilligers, party-agente wat die plakkate aanbring, is uiters belangrik, insluitend die president, wat ons nommereen-vrywilliger is.

JM: Die partyleier, Mmusi Maimane, is ongetwyfeld die party se grootste troefkaart. Hy het baie na die party gebring en word deur burgemeesterskandidate gekomplementeer. Natuurlik is ons burgemeesterskandidate vir die metro’s – Patricia de Lille, Herman Mashaba en Athol Trollip – sleutel-individue in die party se veldtog.

VM: In die EFF is dit ’n moeilike vraag. Ons het baie toegewyde vegters oral in die land. Al ons vegters in die parlement, die provinsies en streke het ’n hoë vlak van deelname, toewyding en werk baie hard. Dit is moeilik om iemand uit te sonder omdat almal se vlak van toewyding tot die realisering van ekonomiese vryheid dieselfde is.

Wat is jul bekommernisse rondom geweld, regverdigheid en ongelukkigheid oor kandidaatlyste?

NM: Veral die moorde wat ons gesien het, maak nie sin nie. Die president het hom daaroor uitgespreek. Wat interne wrywing betref, het ons interne prosesse om dit te hanteer. Ons is ook die enigste party wat die president gestuur het om die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se gedragskode vir die verkiesing te onderteken. Die ANC glo in vry en regverdige verkiesings en het werksessies met ons vrywilligers en party-agente gehad waar die gedragskode hanteer is. Ons vra dat ANC-lede hulle weerhou van geweld en eerder die proses gebruik soos in die gedragskode uiteengesit is.

JM: Anders as die ANC het ons nie naastenby dieselfde uitdagings met die lyste gehad nie. Ons het ’n deeglike lysproses wat baie professioneel, oop en deursigtig is. Ons het ook nie die tipe geweld as die ANC gesien nie.

VM: Ons het geen geweld rondom ons lysproses ervaar nie. Ons het wel ernstige kwessies rondom geweld. Daar is op ons leier in Mpumalanga geskiet by die plek waar hy ’n toespraak sou lewer. Die paaie is ook versper en klippe is gegooi. Daar is ook klippe na ons lede in KwaZulu-Natal gegooi. Albei sake is by die OVK aangemeld. Ons het egter nog geen terugvoering gehad nie.

Oor regverdigheid is ons grootste bekommernis die kwessie rondom Tlokwe, waar die polisie mense met busse na stempunte toe aangery het. Die konstitusionele hof het nou uitspraak daaroor gelewer en ons sal ekstra waaksaam wees.

Oor watter metro’s is julle die meeste bekommerd en oor watter is julle vol vertroue en waarom?

NM: Ons het volle vertroue in die ANC se verkiesingsmasjinerie. As dit lyk asof die ANC aangeval word in verkiesings, kom die beste in die party na vore. Ons staan saam en styg uit bo ons verskille. Ons gaan in ál die metro’s wen. Ons weet ons gaan ’n harde stryd in die Dullah Omar-streek hê, maar ons gaan alles insit.

JM: Ons is nie bekommerd oor enige metro nie. Die Kaapse stadsraad lyk baie solied. Dit lyk asof ons met ’n groot meerderheid beheer oor dié metro gaan behou. Ons is vol vertroue dat ons goed gaan vaar in Nelson Mandelabaai, Tshwane en Johannesburg.

VM: Ons is vol vertroue oor Tshwane, Johannesburg en Ekurhuleni. In die Kaapse metro het die EFF groot groei getoon – die byeenkoms in Gugulethu wat ons leier onlangs daar toegespreek het, is goed bygewoon. Ek dink al drie partye sal ’n gelyke aantal stemme trek.

Wat is die belangrikste kwessie in die verkiesing vir jul party en waarom?

NM: Een van die goed is om uit te reik na van die besluitelose kiesers. Ons hanteer met hulle die kwessies wat hulle regstreeks raak – hetsy dit die rekeningstelsel van die munisipaliteit is of werkskepping vir jongmense. Daarna moet ons seker maak elke laaste kieser stem op 3 Augustus.

JM: Werkskepping. Sonder enige twyfel, aangesien daar 8,9 miljoen werklose mense in Suid-Afrika is. Dit is moontlik om ’n raamwerk op munisipale vlak te ontwikkel om die regte omgewing te skep vir werkskepping.

VM: Ons slagspreuk sê dat ons die laaste hoop vir werk en dienslewering is. Suid-Afrikaners het die afgelope 22 jaar gestem en geen verandering gesien nie. Ons groot kwessies is werkskepping en dienslewering.

Wat is jou party se grootste logistieke uitdaging?

NM: Wat normaalweg ’n logistieke uitdaging word, is ons vermoë om ons massas ondersteuners by die stempunte uit te bring, daarom doen ons ’n toetslopie voor die tyd om vervoer vir ons ondersteuners te reël. Ons weet ook van diegene wat deur die dag werk en eers later ná werk opdaag om te stem.

JM: Ons het die omvattendste en beste georganiseerde veldtog wat ons ooit gehad het. Dinge gaan goed. Waarmee ons sukkel, is die ANC se veldtog wat deur die staat gefinansier word – dit is die grootste uitdaging waarmee ons te kampe het.

VM: Ons het nie groot logistieke uitdagings nie. Wat wel hier en daar ’n struikelblok is, is ’n tekort aan viertrekvoertuie om die verafgeleë landelike gebiede te bereik.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Verkiesing. Munisipale Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.