Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Sterftesyfers wys entstof wérk, al styg infeksies wêreldwyd

Ons hoor hoe Covid-19-infeksies oor die wêreld heen toeneem. Werk inentings dan werklik? Jana Marx bekyk die faktore wat getalle in sommige lande laat styg.

Sokkerondersteuners wag op 12 Julie vir die Italiaanse sokkerspan nadat hulle die Euro2020-eindstryd teen Engeland in Londen gewen het. Weinig ondersteuners volg enige gesondheidsprotokol. Foto: Getty Images

Daar sterf glo meer ingeënte Britte aan Covid-19 as mense wat nié ingeënt is nie en Amerika en Brasilië het tans van die meeste infeksies ter wêreld. Selfs die Seychelle, wat eens voorgeloop het in per kapita-inentings, werk deur ’n vlaag van infeksies.

Die Franse president, Emmanuel Macron, het onlangs aangekondig dat almal wat van volgende maand af Paryse restaurante, teaters, feeste, winkels of rolprentteaters wil besoek, of langafstand-treinritte in die land wil onderneem, ’n bewys van inenting of ’n negatiewe Covid-19-toets sal moet toon.

Maar is dit die oplossing, as die lande wat voorloop met inentingsprogramme verwoestende nuwe vlae ervaar? Beteken dit nie dat entstowwe nie werk nie – of waarom lyk die syfers soos dit lyk?

Viroloë het al herhaaldelik gesê dat geen entstof in hierdie stadium nog beslis kan keer dat jy Covid-19 opdoen nie. Die entstof is bedoel om mense teen ernstige Covid-19, wat tot hospitalisasie en die dood kan lei, te beskerm. Daar is verskeie redes dat nuwe vlae oor lande spoel, verduidelik kenners. Netwerk24 het die Covid-19-epidemies in Brittanje, Brasilië, die Seychelle en Amerika van nader bekyk.

Regerings se besluite kan tot meer infeksies lei

Brittanje het die afgelope naweek die hoogste getal nuwe daaglikse infeksies sedert Januarie gedokumenteer (meer as 50 000), berig die BBC. Ongeveer die helfte van die Britse bevolking is al volledig ingeënt.

Britse sterftes binne 28 dae vanaf ’n positiewe Co
Britse sterftes binne 28 dae vanaf ’n positiewe Covid-19-toets.
Grafika 24

Hoewel die Britse premier, Boris Johnson, self in isolasie is nadat hy in kontak was met Sajid Javid, minister van gesondheid wat positief getoets is, het dit oor die naweek gelyk asof Johnson wil voortgaan om vandeesweek inperkingsmaatreëls te begin verslap – iets waaroor wetenskaplikes oor die wêreld heen báie bekommerd is.

Die CNBC het berig wetenskaplikes wat Vrydag aanlyn vergader het, waarsku dat Brittanje ’n gevaar vir die hele wêreld inhou as Johnson met sy planne voortgaan.

Daar heers reeds kommer oor die afgelope Euro2020-kragmeting in Londen. Die impak sal in die volgende week sigbaar wees.

“Brittanje het hul maatreëls te vroeg verslap,” sê prof. Eugene Cloete, viserektor van navorsing, innovering en nagraadse studie aan die Universiteit Stellenbosch.

Cloete dink nie uiters streng inperking is nodig waar mense volledig ingeënt is nie, “maar daar moet beslis nog protokol in plek wees”.

“Groot groepe mense is nie ’n goeie idee nie.”

Maria van Kerkhove van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het haar frustrasie oor die sokkertoernooi se groot skares sonder maskers getwiet: “Is ek veronderstel om dit te geniet om te sien hoe die verspreiding reg voor my plaasvind?”

Toeriste in Rio de Janeiro, al woed die epidemie steeds in die land. Foto: Getty Images

Brasilië se verhaal is een waar ’n president dink Covid-19 is ’n “ligte verkoue”. Meer as 40% van die bevolking het al een dosis van ’n entstof ontvang en ongeveer 16% is volledig ingeënt.

In Junie verlede jaar was Brasilië en Amerika kop aan kop met die wêreld se hoogste sterftesyfer, het The New York Times berig.

In Augustus het die virus se verspreiding egter begin afneem, die sterftesyfer het gedaal en al wat ’n winkelsentrum, restaurant en strand is, het weer skares getrek. Hierdie virusvrye omgewings het nie lank geduur nie. Infeksies het weer opgevlam en in middel Desember het Fundação Oswaldo Cruz (’n staatsinstelling soos ons Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes), die regering gewaarsku om die strop stywer te trek.

Dit het egter nie gebeur nie en soos die tweede vlaag afgeskop het, het pres. Jair Bolsonaro eerder gesê Brasilië moet ophou om ’n “land van sissies” te wees aangesien almal die een of ander tyd moet doodgaan.

Pres. Jair Bolsonaro van Brasilië is Sondag uit die hospitaal ontslaan nadat hy na bewering maagpyn gehad het. Foto: Getty Images

Verskeie stede het noodgedwonge hul eie maatreëls aangekondig, maar dis moeilik aanvaar omdat dit nie landwyd afgedwing is nie, berig The New York Times.

“Brasilië toon ooreenkomste met Suid-Afrika wat ongeletterdheid, ons multikulturaliteit, die kloof tussen ryk en arm en ons ekonomiese situasie betref,” sê prof. Jo-Ansie van Wyk, kenner oor gesondheidspolitiek en die openbare mening by Unisa.

“Hulle het nie geleer uit die Zikavirus nie, net soos ons nie uit die MIV-pandemie geleer het nie,” sê sy.

Vanjaar het die Covid-19-getalle in Brasilië aanhou styg. In die eerste week van Junie het Brasilië al byna 17 miljoen gevalle altesaam aangemeld en net meer as 472 000 sterftes.

Volgens die WorldOMeters-databank was daar op 15 Julie 813 598 gevalle in Brasilië. Hiervan was 805 280 (99%) egter matig en slegs 8 318 was ernstig of kritiek.

Die (lae) sterftesyfer wys dat enstowwe wérk, sê Cloete. “Ek, as wetenskaplike, glo die entstowwe is die antwoord. As dit nié was nie, sou ons dit al uit die miljoene der miljoene mense geweet het wat reeds ingeënt is.”

Reisigers dra die virus oor

Die Seychelle, wat uit 115 eilande in die Indiese Oseaan bestaan, was eens die mees ingeënte land per kapita op aarde. Ook hiér het die virus egter weer sy weg oopgebaan.

Volgens data op 16 Julie het die landjie, met ’n bevolking van 100 000 mense, al 17 234 gevalle en 81 sterftes in totaal aangemeld. In totaal was 70% van die bevolking Vrydag al volledig met alle nodige dosisse ingeënt, volgens YCharts.

Die Seychelle staan volgens Van Wyk in skerp kontras met byvoorbeeld Israel en Malta. Israel het net so ’n suksesvolle inentingsprogram soos die Seychelle geloods, maar met die nuwe toename van infeksies weens die Delta-variant, het dié staat dit reggekry om suksesvol terug te veg.

Brasilië het nie geleer uit die Zikavirus nie, net soos ons nie uit die MIV-pandemie geleer het nie.
Prof. Jo-Ansie van Wyk

Van Wyk sê die Seychelle se toename in syfers kan wees omdat die regering sy grense te vinnig oopgemaak het. Die Seychelle het in Maart sy ekonomie oopgemaak.

“Hierdie land maak staat op toerisme. Omtrent 65% van sy inkomste kom van toerisme. Dis ook nou die Europese somer. Mense reis meer. Kyk byvoorbeeld na Malta, ook ’n Mediterreense eiland, wat ook nou somer het. Hulle het egter goed vir toeriste voorberei.”

Cloete stem saam.

“Beweeglikheid is die ding wat syfers laat styg. Kyk maar na Suid-Afrika. Ons het self ons grense te vroeg geopen. Dis maar hoe ander virusse soos griep ook versprei. Ons sal telkens sê die griep kom uit hierdie of daardie deel van die wêreld, maar dis omdat mense rondbeweeg.”

Sterftes in die Seychelles.
Grafika 24

Die Seychelle se gesondheidsdepartement het Vrydag op Facebook geskryf: “Volledige inenting voorkom die dood en ernstige siekte as gevolg van Covid-19. Bewyse toon dat 80% van sterftes in die Seychelle so ver nog nie ingeënt is nie.”

Die BBC haal dr. Jude Gedeon, die Seychelle se gesondheidskommissaris, aan wat gesê het twee derdes van almal wat positief getoets is, het matig tot geen simptome gehad nie. Van diegene wat in die hospitaal opgeneem is, was 80% nie ingeënt nie en hulle het ander onderliggende siektes gehad.

Ek, as wetenskaplike, glo die entstowwe is die antwoord. As dit nié was nie, sou ons dit al uit die miljoene der miljoene mense geweet het wat reeds ingeënt is.
Prof. Eugene Cloete

Risikofaktore soos ouderdom speel groot rol

’n Onlangse verslag deur Public Health England (PHE) het bekend gemaak meer ingeënte Britte sterf aan Covid-19 as mense wat nié ingeënt is nie!

Dié verslag toon dat 163 van die 257 mense (63,4%) wat binne 28 dae ná ’n positiewe Covid-19-toets tussen 1 Februarie en 21 Junie aan die Delta-variant dood is, minstens een dosis van die entstof ontvang het.

Op die oog af lyk dit uiters kommerwekkend, maar dit is presies wat verwag word, skryf Christian Yates, senior lektor in wiskundige biologie aan die Universiteit van Bath vir The Conversation.

Brittanje het teen 15 Julie al 88% van sy bevolking ouer as 18 jaar met een dosis ingeënt en 67% het albei dosisse ontvang.

“Gestel almal is nou volledig ingeënt met die Covid-19-entstof – wat uitstekend is, maar nie alle lewens kan red nie. Sommige mense wat Covid-19 kry, sal steeds sterf,” skryf Yates.

“Al hierdie mense sal mos nou volledig ingeënt wees. Dit beteken nié entstowwe is nie doeltreffend om sterftes te verlaag nie.”

Volgens Yates verdubbel die risiko om aan Covid-19 te sterf met elke sewe jaar. Hy skryf die 35-jaar-verskil tussen ’n 35-jarige en ’n 70-jarige beteken die risiko vir dood het ongeveer vyf keer vir die ouer persoon vermenigvuldig – “teen ’n faktor van 32” om presies te wees.

Foto ter illustrasie: Die Seychelle-eilande. Foto: Getty Images
Foto ter illustrasie: Die Seychelle-eilande. Foto: Getty Images
Getty Images Getty Images

’n Oningeënte 70-jarige is volgens Yates dus 32 keer meer geneig om dood te gaan as ’n oningeënte 35-jarige. Dit wys maar net hoeveel groter die risiko vir ouer mense as jonger mense is.

Yates haal dan PHE-data aan wat sê dat twee dosisse die risiko om gehospitaliseer te word met die Delta-variant met 96% verminder. Yates gaan verder deur te sê dit beteken dat die risiko vir sterftes van mense wat albei dosisse ontvang het tot een 20ste van die risikowaarde vir oningeënte mense met dieselfde risikoprofiel en onderliggende siektes verminder word.

Hierdie verlaging in risiko is egter nie genoeg om die groot risiko wat ’n 70-jarige weens hul ouderdom het, heeltemal uit te skakel nie.

“Gegewe die risiko vir infeksie, sal ons steeds verwag om meer volledig ingeënte 70-jariges te sien sterf, as oningeënte 35-jariges.”

Boris Johnson, Britse premier. Foto: Getty Images

Amerika se syfers ondersteun wat Yates oor die Delta-variant sê.

Die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en voorkoming (CDC) het in ’n weeklikse nuusbrief hierdie maand gesê: “Vroeë data dui daarop dat B.1.617.2 (Delta) nou meer as 50% van die Covid-19-gevalle uitmaak. In sommige dele van die land is hierdie persentasie selfs hoër, veral in die gebiede met ’n lae inentingskoers.”

Teen 16 Julie het 185 miljoen mense (55,8% van die bevolking) minstens een dosis van ’n entstof ontvang. In geheel is 160 miljoen (48,3%) volledig ingeënt.

“Mense wat volledig ingeënt is, word teen B.1.617.2 (Delta) beskerm. As jy nog nie ingeënt is nie, het jy ’n risiko om geïnfekteer te word en moet (jy) aanhou om voorkomingstrategieë te beoefen en so gou moontlik ingeënt word,” lui die CDC se inligting.

Volgens die CDC se data is hospitalisasies en sterftes aan die styg in dele waar inentings nie so vinnig vorder nie.

Amerika gebruik die Pfizer-, Johnson & Johnson- en Moderna-entstof.

Ingeënte Amerikaners wat gehospitaliseer of dood i
Grafika 24

Jonger mense in hospitale opgeneem

’n Nuwe patroon het intussen in Brasilië kop uitgesteek wat hom die afgelope ruk in Suid-Afrika ook uitspeel, sê Cloete.

Volgens navorsing wat op 14 Julie in die Lancet-joernaal gepubliseer is, is daar ’n toename in jong en middeljarige Brasiliane wat weens ernstige Covid-19 in waakeenhede beland. Die wetenskaplikes het drie redes vir hierdie fenomeen gevind:

1) Nuwe variante: In Desember is die Gamma-variant (P1) geïdentifiseer. Volgens ’n studie wat in ’n Britse mediese vaktydskrif gepubliseer is, lyk dit asof dié variant nie net vinniger versprei nie, maar dalk ook dodeliker is. Mense wat voorheen met ’n ander variant besmet is, sal ook net tussen 54%- en 79%-beskerming teen hierdie variant hê. Dan het dit boonop blykbaar ’n groter impak op jonger mense as voorheen.

“Daar is oral variante, maar wat byvoorbeeld boodskapper-RNS-entstof (soos Pfizer) wonderlik maak, is dat elke entstof bestand is teen ’n verskeidenheid van variante. Ons hoef nie ’n entstof vir elke variant te maak nie,” verduidelik Cloete.

Gegewe die risiko vir infeksie, sal ons steeds verwag om meer volledig ingeënte 70-jariges te sien sterf, as oningeënte 35-jariges.
Christian Yates, wiskudige

2) In die tweede plek het die Brasiliaanse regering blykbaar sy noodfonds aan die armes gestaak, wat meer mense die strate in gedwing het om na werk, kos of inkomste te soek.

3) Derdens het Brasilië in Januarie al begin met inentings. Hul fokus was egter op gesondheidswerkers en mense bo 60 jaar oud, nes Suid-Afrika. Teen die einde van Mei het die meeste Brasiliane ouer as 60 jaar in die digs bevolkte stede al minstens een dosis entstof ontvang. Noudat die ouer mense feitlik almal in ’n mate ingeënt is, word meer jong mense in hospitale verwag.

Covid-19-sterftes in Brasilië.
Grafika 24

“Ons sien dieselfde patroon in Suid-Afrika,” sê Cloete. “Die goeie nuus is egter dat ons weet jonger mense raak nie so siek soos ouer mense nie. Suid-Afrika is ’n jong bevolking. Altesame 70% van ons bevolking is jonger as 40 jaar. Die gemiddelde ouderdom is 27,5 jaar. Die res van Afrika se gemiddelde ouderdom is nóg jonger.”

Pfizer, AstraZeneca, J&J en Moderna wérk, maar nie 100% nie

Die kenners praat van deurbraak-infeksies wanneer iemand wat volledig ingeënt is, Covid-19 kry.

Volgens die CDC is dit wanneer die virus in iemand se liggaam opgemerk word 14 dae of langer nádat hulle die finale dosis van ’n entstof ontvang het.

Die CDC erken in soveel woorde dat geen entstof 100% doeltreffend is nie.

“Daar sal steeds ’n klein persentasie mense wees wat ten volle ingeënt is en steeds siek word, in die hospitaal opgeneem word of van Covid-19 sterf.”

AP News het in Junie berig 99% van Amerikaners wat doodgaan aan Covid-19, is nie ingeënt nie.

Die doeltreffendheid van sekere entstowwe teen ern
Die doeltreffendheid van sekere entstowwe teen ernstige Covid-19, wat tot die dood kan lei.
Grafika 24

In ’n inligtingsverslag wat die CDC op 6 Julie bekend gemaak het, is 5 186 pasiënte uit die (toe) 157 miljoen mense wat teen daardie datum volledig ingeënt was, gehospitaliseer of dood. Dis ongeveer 0,003%.

Solidariteit het navorsing oor die entstowwe gedoen, waarin die vakbond Italië met Suid-Afrika vergelyk het omdat die bevolkings ongeveer dieselfde is (60,3 miljoen teenoor 59,8 miljoen).

“Hoewel Italië aansienlik meer amptelike gevalle van Covid-19 aangemeld het, was daar ook aansienlik beter toetsing,” lui die verslag.

“Die gevolg is dat Italië ’n baie beter begrip van die verspreiding en gevolge van Covid-19 kon kry weens beter data. Italië se amptelike sterftesyfer van 127 3525 is nader aan Suid-Afrika se oormaatsterftesyfer van 173 1326 en bied dus ’n blik op wat ’n doeltreffende entstofprogram in Suid-Afrika kan vermag.”

Daar sal steeds ’n klein persentasie mense wees wat ten volle ingeënt is en steeds siek word, in die hospitaal opgeneem word of van Covid-19 sterf.
CDC

Italië gebruik die Pfizer-, AstraZeneca-, Johnson & Johnson- en Moderna-entstof.

Solidariteit wys egter daarop dat Italië se demografie van Suid-Afrika s’n verskil, veral wat ouderdom betref (Italië is ’n ouer bevolking) – “dus is dit nie ’n direkte vergelyking nie, maar eerder bloot ’n aanduiding”.

“Italië het sy entstofprogram begin in werking stel in die middel van ’n aaneenlopende tweede vlaag. Weer eens neem hospitalisering, positiewe toetspersentasies en sterftes af, wat goed korreleer met die getal inentings,” lui die verslag.

“Volgens bestaande data beskou Solidariteit die Pfizer-, Moderna-, Johnson & Johnson- en AstraZeneca-entstof as veilig en doeltreffend vir volwasse lede en volwassenes in die breër publiek wat besluit om hulle teen Covid-19 te laat inent. Elke persoon moet sy of haar eie persoonlike mediese geskiedenis in ag neem alvorens hulle enige medikasie neem.”

Maj.genl. Nomthetheleli Mene van die polisie in Milnerton kry haar inenting as deel van Suid-Afrika se entstofprogram. Foto: Getty Images
Maj.genl. Nomthetheleli Mene van die polisie in Milnerton kry haar inenting as deel van Suid-Afrika se entstofprogram. Foto: Getty Images
Getty Images Getty Images

Suid-Afrika en ’n strewe na kudde-immuniteit

Suid-Afrika het teen Maandag net oor die 5 miljoen mense ingeënt.

“Twee miljoen het Covid-19 al oorleef, so daar is minstens 7 miljoen wat so goed soos ingeënt is,” sê Cloete.

“En ek dink daar is nog baie wat dit gehad het en hulself nie laat toets het nie, so ek dink mense wat teenliggaampies teen die virus het, is nader aan 10 of 11 miljoen. Dis reeds ’n klomp mense.”

Suid-Afrika gebruik tans die Pfizer- en Johnson & Johnson-entstof.

Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) is besig met evaluerings vir die registrasie van Sputnik V uit Rusland en het die Chinese Sinovac se CoronaVac-entstof voorwaardelik goedgekeur. Sinopharm, ook ’n Chinese maatskappy, het self ’n aansoek vir goedkeuring ingedien.

Foto ter illustrasie. Een dosis van die Pfizer-entstof. Foto: Getty Images
Foto ter illustrasie. Een dosis van die Pfizer-entstof. Foto: Getty Images
Getty Images Getty Images

Prof. Alex van den Heever, hoof van die skool vir regeerkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand, is bekommerd daaroor dat mense wat hulself nié wil laat inent nie, kudde-immuniteit vir almal sal beduiwel.

“Soos wat die lewe na normaal terugkeer, is dit my mening dat oningeënte mense ’n groter risiko het om aan te steek aangesien daar geen kudde-immuniteit sal wees nie. Hulle kan byvoorbeeld by ingeënte persone aansteek. Daarteenoor het ingeënte mense ’n veel laer risiko vir ernstige siekte.”

Meer oor:  Jair Bolsonaro  |  Boris Johnson  |  Jo-Ansie Van Wyk  |  Eugene Cloete  |  Brasilië  |  Amerika  |  Seychelle  |  Brittanje  |  Israel  |  Covid-19-Pandemie  |  Infeksies  |  Hospitalisasie  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.