Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Steun dié wat Bob prys ook sy beleid?

Robert Mugabe regeer nou Zimbabwe uit die graf, skryf Liesl Louw-Vaudran.

Soldate dra Mugabe se kis.

Dit lyk asof Robert Mugabe steeds Zimbabwe en die res van Afrika die skrik op die lyf jaag, selfs al lê die ou man nou in sy kis.

Afrikaleiers, gesiene diplomate en besluitnemers het die afgelope paar dae die grootste lof gehad vir die ontslape Zimbabwiese leier, wat op Vrydag 6 September in die ouderdom van 95 in Singapoer gesterf het.

Hy was ’n bevrydingsheld, ’n leier wat namens die hele Afrika opgekom het teen Westerse verdrukking. Hy het sy eie land met waagmoed uit die kloue van die koloniale heerskappy geruk, word gesê, sonder enige sweempie van kritiek teen Mugabe.

Tog is dit duidelik dat Mugabe in die 1980’s en 1990’s dalk goeie werk gedoen het deur versoening tussen wit en swart Zimbabwiërs te bevorder en deur die land se geletterdheidsyfers te verstewig deur ’n uitstekende onderwysbeleid.

Hy het egter in die laat 1990’s weens die groeiende ekonomiese krisis in die land toegegee aan die eise van oorlogsveterane en gefrustreerde kiesers deur ’n chaotiese grondhervormingsbeleid wat die landbousektor in duie laat stort het.

Dit is net die regtig dapper opposisieleiers wat dit wel gewaag het om Mugabe te kritiseer.

Hy het ook mag gegryp deur te kul met verkiesings, veral in 2002 en 2008.

Dus ’n komplekse leier wat nie die eenparige heldeverering verdien nie.

Net hier en daar het menseregteaktiviste soos die uitgesproke pastoor Evan Mawarire en Siphosami Malunga van die Open Society Initiative for Southern Africa regtig die afgelope paar dae ingeklim en Mugabe van ’n kant af uitgetrap oor sy betreurenswaardige nalatenskap vir die mense van Zimbabwe.

“Daar kan geen gemengde gevoelens, misverstand of kompleksiteit oor Mugabe se nalatenskap wees nie,” het Mawarire die afgelope week vir Time geskryf.

“Hy het oor ’n tydperk van 37 jaar miljoene mense se lewens vernietig. Sommige het hy koelbloedig vermoor, ander stadiger en vir baie was dit ’n stille dood omdat hulle in vrees moes leef om nie vir Mugabe, die wrede leier, te ontstel nie,” skryf Mawarire, wat talle kere deur Mugabe in die tronk gestop is.

Malunga sê diegene wat praat van ’n heroïese Mugabe wat eers in sy later jare in ’n monster verander het, is deur “die duiwel self” gekul. Daar was nooit so ’n teenstrydige nalatenskap nie, maar wel oëverblindery deur Mugabe, van die begin af ’n ongenaakbare politikus wat mag behou het deur diegene om hom te intimideer. In byna vier dekades, van die massamoord op Ndebeles – die Gukurahundi – tot die gewelddadige grondhervormings van die begin 2000’s, het Mugabe met moord weggekom.

Sowel Mawarire as Malunga is op sosiale media van ’n kant af geroskam oor hul uitlatings oor Mugabe. Baie mense glo steeds hy het goed bedoel en dat Westerse sanksies en inmenging deur buitelanders die rede was waarom baie van Mugabe se planne misluk het.

Daarby is dit taboe om iemand ná sy dood te kritiseer.

Vir enige nugtere waarnemer – as daar ooit so iets kan wees in hierdie gefragmenteerde postkoloniale Afrika – sal dit duidelik wees dat Mugabe veral in sy laaste jare verantwoordelik was vir die vernietiging van die land se ekonomie en die lyding van sy landgenote.

Die syfers spreek vanself.

Volgens ’n nuwe studie van die Instituut vir Sekerheidstudies is dit duidelik dat die ekonomie afgetakel is deur swak beleid, veral weens die grondroof.

Van 1980 tot 2004 het Zimbabwe die vierde grootste ekonomie in Afrika gehad, naas Suid-Afrika, Angola en Zambië. In 1998 was die BBP by die $18,6 miljard. In 2008 was dit byna die helfte daarvan: $9,3 miljard.

Van die middel 1980’s tot 2002 was Zimbabwe se per capita-inkomste hoër as dié van Zambië, maar vandag is dit amper die helfte daarvan. Dit beteken dat inwoners van Zimbabwe se buurland aansienlik beter af is as dié in Zimbabwe – twee lande met ’n soortgelyke agtergrond, geografiese ligging en natuurlike hulpbronne.

In Zimbabwe het armoede en hongersnood onder Mugabe in die laaste twee dekades baie vererger. Vandag is twee uit elke vyf mense ondervoed, en verreweg die meerderheid leef in dodelike armoede (op minder as $3,20 per dag).

’n Mens kan dus die vraag vra waarom so baie Afrikaleiers en intellektuele Mugabe vandag blindelings aanprys terwyl die aftakeling in Zimbabwe so duidelik sigbaar is. Beteken dit hulle ondersteun sy grondroof en anti-Westerse politieke beleidsrigtings wat soveel skade aangerig het?

Die twis oor Mugabe se werklike nalatenskap sal waarskynlik nog lank duur. Een ding is wel duidelik: Daar is nog baie rou wonde uit die koloniale era en uit die apartheidsjare wat reg onder die oppervlak lê. Baie Afrikaleiers voel hulle kan Mugabe nie veroordeel nie, omdat hulle gesien sal word as lakeie van die Weste en van kolonialisme.

Dit is net die regtig dapper opposisieleiers wat dit wel gewaag het om Mugabe te kritiseer.

So, kom ons gee die laaste woord aan Morgan Tsvangirai, wat so tragies in Februarie 2018 aan kanker dood is, kort voordat Mugabe in November 2018 deur sy oudkameraad Emmerson Mnangagwa uitgestoot is.

Tvangirai sê in sy boek At the Deep End wat in 2011 verskyn het: “Vir my was Mugabe ’n leier wat baie eerder die huis sou afbrand as om daarin te bly met ’n kollega of landgenoot van wie hy verskil.”

Mugabe het te lank aan die bewind gebly.

Om ’n herhaling van sy soort leierskap te vermy, moet regdenkende Afrikane saamstaan en seker maak dat leiers hul eie grondwet respekteer en dit nie goedsmoeds verander sodat hulle vir dekades aan bewind kan bly nie.

Dapper menseregteaktiviste – in Zimbabwe en elders – moet ook ondersteun word. Hulle stel letterlik hul lewe in gevaar deur die waarheid op die lappe te bring.

Meer oor:  Robert Mugabe  |  Morgan Tsvangirai  |  Zimbabawe  |  Sterfgeval  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.