Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Steun gesondheidswerkers met onpaar sokkies

As iets op die oomblik soos ’n veldbrand moet versprei, is dit om ons gesondheidswerkers te ondersteun wat hul lewe in gevaar stel om ons van die Covid-19-pandemie te red, skryf Lizette Rabe. Wys dat jy omgee en trek op vanjaar se #CrazySocks4Docs Dag op 29 Mei ’n paar lawwe onpaar sokkies aan.

Gesondheidswerkers veg in die voorste linies teen ’n virale pandemie wat nie net ’n potensieel dodelike siekte veroorsaak nie, maar ook gepaardgaande sielkundige probleme. Vir hulle wat namens ons in die loopgrawe veg, is die risiko’s vir laasgenoemde nóg groter.

As Covid-19 ’n oorlog was, was ons gesondheidswerkers die eerste verdedigingslinie tussen ons en ’n dodelike, maar onsigbare vyand. Ons as die publiek kan nie eens begin om hul 24/7 fisieke en sielkundige spanning voor te stel in die stryd teen hierdie vyand in die vorm van ’n nooit verwagte pandemie nie.

Gesondheidsorgwerkers het nou ons ondersteuning meer as ooit nodig.

En dit terwyl gesondheidswerkers al onder normale omstandighede wonderwerkers is. Nou moet hulle, met reeds skaars hulpbronne, hul energie en kundigheid op Covid-19 fokus. Dit eis ook sy tol op hul geestesgesondheid. Volgens statistieke trek gesondheidsorgberoepe reeds die swaarste wat geestesgesondheid betref. Weens stigma ly hulle boonop in stilte. En nou het Covid-19 dit eenvoudig soveel vererger. (lees hier meer.) Suid-Afrika se projeksies van gevalle en sterftes – en ons gebrek aan hulpbronne – beteken dat gesondheidswerkers se eie stres net soveel gaan toeneem. En dit is presies hoekom ons met vanjaar se #CrazySocks4Docs (#CS4D) op 29 Mei moet wys ons gee om, met die slagspreuk #Care4OurCarers.

Gesondheidsorgwerkers het nou ons ondersteuning meer as ooit nodig. As jy dus op 29 Mei tussen 06:00 en 09:00 stap, draf of fietsry, wys jy gee om en trek die lafste onpaar sokkies in jou laai aan. Nog beter: Neem ’n sokkieselfie en plaas dit op sosiale media om te wys jy #Care4OurCarers.

Depressie en angs onder gesondheidswerkers

Gesondheidswerkers is in die voorste linie in die stryd teen die koronavirus en Covid-19. Foto: Reuters

Maar op ’n ernstige noot: Nie net gesondheidswerkers moet ondersteun word nie, maar ook mediese studente en akademiese en administratiewe personeel op Suid-Afrika se mediese kampusse. Ondanks hul akademiese lading is ook hulle besig om as vrywilligers te werk in die stryd teen Covid-19.

Volgens navorsing het die pandemie reeds “opvallend meer” depressie en angs onder gesondheidswerkers veroorsaak. (Lees hier meer.) Ironies genoeg is die gesondheidsberoepe in elk geval reeds die onveiligste beroepe wat betref geestesgesondheid. In Amerika sterf gemiddeld een dokter elke dag aan selfdood. Dit is die hoogste selfdoodsyfer van alle beroepe – in Amerika dubbeld dié van die algemene bevolking. Daar bestaan nie sulke statistieke vir Suid-Afrika nie, maar ’n mens kan vermoed dat dieselfde krisis in ons land bestaan. Internasionale syfers wys ook dat mediese studente ’n groter risiko is om hul eie lewe te neem. Dit is bevestig deur ’n Suid-Afrikaanse studie wat bevind het dat byna ’n derde van Suid-Afrikaanse mediese studente selfdoodgedagtes ervaar en byna 7% ’n selfdoodpoging gehad het – dis drie keer hoër as onder tydgenote.

Van alle beroepe is die mediese beroepe deurgaans nommer een wat betref die risiko van depressie en angs.

Wêreldwyd skets statistieke ’n somber beeld van die geestesgesondheid van gesondheidswerkers. In ’n Britse opname is bevind 68% van die respondente het depressie, ’n Kanadese studie dat 80% van die dokters aan uitbranding ly, en in Nieu-Seeland is geestestoestande byna drie keer meer algemeen onder algemene praktisyns as in die res van die bevolking. Ander wêreldwye studies bevestig die bevindinge.

Duidelik dus: Van alle beroepe is die mediese beroepe deurgaans nommer een wat betref die risiko van depressie en angs. Wat weer lei tot ’n groter sterftesrisiko weens hierdie siektes, want navorsing wys – volgens een bron al vir meer as 150 jaar – dat dokters ’n groter risiko vir selfdood het. Dit in teenstelling daarmee dat dokters ’n laer risiko het om aan kanker of hartsiektes te sterf, maar ’n “aansienlik hoër” risiko het vir selfdood. Die rede vir eersgenoemde is hul beter kennis van selfsorg en vroeë diagnose. Vir laasgenoemde is hul beter kennis oor geestesiektes helaas nie genoeg om hulle teen selfdood, beskryf as “die eindfase van ’n uiters behandelbare siekteproses”, te beskerm nie. En, soos prof. Beth Brodsky, medeprofessor in mediese sielkunde aan die Columbia-Universiteit gesê het: “Mense pleeg nie selfdood nie. Hulle sterf aan selfdood.” Ook: “Selfdood is ’n siekte, nie ’n misdaad nie.”

‘Morele beserings’ van gesondheidswerkers

Jy kan wys dat jy vir gesondheidswerkers omgee deur Vrydag ’n lawwe onpaar sokkies aan te trek. Foto: Verskaf

Die vraag is: Hoe kan ons die stilte en die stigma in die gesondheidsberoepe verbreek? Veral as dit duidelik is geestesgesondheid begin reeds vroeg, want selfdood is ook die algemeenste oorsaak van dood onder mediese studente. Studies toon byvoorbeeld ook uitbrandingsindroom van tussen 45% en 71% onder mediese studente.

Moet asseblief nie huiwer om hierdie nommers te skakel nie

Lifeline se 24-uur hulplyn: 0861 322 322

Sadag se 24-uur-hulplyn: 0800 456 789 of WhatsApp 076 882 2775.

Christoffel Grobler, hoof van die kliniese-eenheid van die Elizabeth Donkin-hospitaal in Port Elizabeth en medeprofessor aan die Walter Sisulu-Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie, ’n kenner van uitbrandingsindroom, veral onder gesondheidswerkers, sê Covid-19 kan lei tot wat hy “morele beserings” van gesondheidswerkers noem. Volgens hom moet aanvaar word dat Suid-Afrika se hulpmiddele, ondanks die regering se voorsorgmaatreëls, “op een of ander tydstip weens die groot aanvraag kan opraak”. Dit sou kon beteken dat gesondheidswerkers nie net vir familielede moet sê: “Ons het alles in ons vermoë gedoen” nie, maar “Ons het ons beste gedoen met die beskikbare personeel en hulpbronne, maar dit was nie genoeg nie”.

Grobler sê gesondheidswerkers moet ook “die negatiewe morele gevolge” probeer verstaan wat betref die “morele dilemmas waarmee ons te kampe het”. Deur gesondheidswerkers nie reg voor te berei op die uitdagings nie, verhoog dit die risiko vir “morele beserings” en probleme met geestesiektes. Dit sluit in dat gesondheidswerkers nie “valse gerusstelling” moet kry nie, maar “volledige en eerlike evaluerings van wat hulle in die gesig staar, sonder eufemismes, en in gewone taal”. Anders, sê Grobler, gaan dit net bydra tot “gevoelens van woede wanneer die werklikheid uiteindelik inskop”.

Grobler het ook gehelp met die ontwikkeling van ’n weeklange “Mental Health Lockdown”-moodle (gratis aanlynkursus) vir die Foundation for Professional Development. Dit is nie net vir studente nie; ook die publiek kan inteken. Dis ’n uitstekende hulpmiddel om spanning te verminder en daar is selfs hulpbronne vir ouers en kinders. (Lees dit hier.) 

Sê dankie met sokkies

Mense kan Vrydag op ’n kleurvolle manier wys hulle is dankbaar vir wat gesondheidswerkers vir ons doen. Foto: Verskaf

Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag), het sedert die inperking ’n verdubbeling van noodroepe op hul hulplyne beleef. Dit wil voorkom asof meer as die helfte van Suid-Afrikaners – 55% – angs en paniek ervaar, terwyl byna die helfte – 46% – finansieel swaarkry. Saam met vennote soos die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging en die Sielkunde-Vereniging van Suid-Afrika, beplan Sadag ’n Covid Response-fonds spesifiek vir die behoeftes van gesondheidswerkers.

CS4D Dag is in Australië begin deur die kardioloog Geoffrey Toogood, self ’n depressie- en angslyer. Toe hy op ’n dag onpaar sokkies aangehad het, het hy gehoor hoe kollegas agter sy rug sy sokkiekeuse bespreek en dat hy “alweer uitmekaarval”. Feit was egter dat ’n nuwe hondjie al sy sokkies verrinneweer het en dat die twee onpaar sokkies eenvoudig die laaste paar heel sokkies was. Maar as gevolg van stigma kon sy kollegas nie net vra of hy oukei is nie. Dit was die oomblik toe Toogood besluit het om iets te doen om die stilte en stigma te verbreek. Die resultaat was CS4D, ’n funky-veldtog om sy beroep – en ons samelewing as geheel – te help om meer begrip te hê vir die swaar las van geestesiektes onder gesondheidswerkers. (Lees hier meer.)

Wen met jou sokkieselfie!

Vir mediese studente is daar ’n bonus: plaas jou sokkieselfie op www.facebook.com/IthembaFoundation1 en moedig familie en vriende aan om dit te “like”. Die student met die meeste “likes” op elk van Suid-Afrika se mediese kampusse wen ’n kontantprys van R1 000. So komaan, ouers, grootouers, tantes, ooms, niggies, nefies en vriende: “like” daai lawwe sokkieselfies op 29 Mei. En moenie vergeet om jou eie kreatiewe kombinasie op #CrazySocks4Docs Dag te dra om te wys jy gee om nie!

In Suid-Afrika word CS4D georganiseer deur die Ithemba Stigting, ’n niewinsgewende organisasie met twee doelwitte, naamlik bewusmaking van depressie en verwante siektes soos angs as kliniese, biologiese, en derhalwe behandelbare siektes, en om navorsing te steun. Ithemba beteken hoop in Xhosa, met die boodskap dat as depressie die siekte van wanhoop is, ons moet vashou aan hoop. In die woorde van Ithemba-direkteur en algemene praktisyn, dr. Marita van Schalkwyk: “As gesondheidswerkers onderneem ons om siekes en behoeftiges te dien, maar ons moet ook na mekaar omsien, mekaar help, mekaar inspireer en hulp soek wanneer ons nie meer met die veeleisende tempo kan volhou nie. Daar is altyd hoop – die betekenis van ithemba ”

Dis duidelik: Ons as publiek moet wys ons #Care4OurCarers en dat net hulle tussen ons en ’n dodelike virus staan daar waar hulle in die voorste linies veg en hul eie lewe in gevaar stel. As ’n dankbare publiek moet ons wys ons waardeer ons gesondheidswerkers en dat ons agter hulle staan. En gelukkig het ons almal ’n klompie dapper sokkies in ons laaie wat wag om op 29 Mei ’n maat te vind om die belangrikheid van vanjaar se #CS4D Dag te beklemtoon. So fiets, stap of draf op 29 Mei in jou lawwe onpaar sokkies. Maar selfs as jy net in jou huiskantoor sit, plaas jou sokkieselfie op www.facebook.com/IthembaFoundation1 om te wys jy gee om. Laat ons vanjaar se #CS4D gebruik om te wys ons #Care4OurCarers as ’n GROOT dankie aan al ons gesondheidswerkers.

* Bykomende bron: Van Niekerk, L. 2019. Suicidal ideation and attempt among South African medical students. SA Medical Journal 102, 1–5

* Lizette Rabe is professor aan die Universiteit Stellenbosch en stigter van die Ithemba-stigting. Ithemba se registrasienommer is 2012/171250/08 en sy SARS PBO-nommer 930/048/019.

Meer oor:  Lizette Rabe  |  Selfdood  |  Koronavirus  |  Depressie  |  Covid-19-Pandemie  |  Gesondheidswerkers  |  Angs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.