Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Steve Hofmeyr: Die val van ’n fout

Die ANC sal die ware mosie van wantroue in 2019 voel, skryf Steve Hofmeyr.

Foto: Felix Dlangamandla

Dit reën toe in die Kaap. Mens weet nie wie om te bedank nie: Angus Buchan of Jacob Zuma. Want dit is nie die seisoen vir reën nie en tot vier dae gelede wou niemand pa staan vir Zuma se loopdop nie. Wonderwerke gedy.

Almal plavei die voering van sy eie gat, ja, maar net ’n gewoontemisdadiger doen dit met belastinggeld en word dan in sy hand gesterk met ’n tweede termyn. Kortliks, die ANC is aandadig en wil nou vir die vierde keer vir ons wys hoe om Suid-Afrika te red.

Zuma is gonners. Hoewel hy nog altyd goed na sy eie gat omgesien het, is daardie gat nou goed verstop. Hierdie is nie jou roetine-hardlywigheid nie. Daar is ’n toeloop van gatvlieë en dié jaar gaan hulle dans.

En as jy ’n meer geslepe kader as Msholozi soek, is Ramaphosa jou man. Hy het al slimmer mense as ons ’n gat in die kop kon praat.

’n ANC-president is per definisie ’n ontmande wese. Hy moet tegelykertyd die mantel van sosialisme oor miljoene trek en hulle daarna belowe dat hy almal ewe ryk gaan maak.
Ongeag van wat hierdie week beloof is, is ons klaarblyklik nog nie ontslae van Zuma nie. Ek is versigtig om met halwe inligting uit ’n kraal van Zuma-haters die aanname te maak dat hy ongewild is. Ons noem dit die Trump-effek: Dat alles wat een groep dink hy verkeerd doen presies die redes is vir sy gewildheid.

Met sy bedankingsrede was Suid-Afrikaners geskok oor hoe geskok Zuma was oor die aantygings teen hom. ’n Paar hofsake sal hom wakker klap. Of dit sou, as hy die betaalstrokie in ontvangs moes neem. Nou sal die belastingbetaler moet borgstaan vir die loopdop.

Die vraag bly, wat het Zuma nóg gekry om die Sona in te ruil vir ’n sauna?

Piekniek by Dingaan

Ek het twee keer by Jacob Zuma gekuier. Een keer onder vier oë en toe later by ’n gesellige braai saam met Afrikaner-afgevaardigdes. Dit was in Maart 2007 en die laaste keer dat Afrikaners iets van hul belasting gesien het. Die braai was gratis en die bier koud. Hy was nog nie president nie en kon seker nie veel beloof nie, maar ek het hom as “eerlik” ervaar. Ek het ook so gesê. Doemprofete het my toegegooi onder stories van Retief en Dingaan. Die verleentheid het gekom toe ons om hom begin kerm het, desperaat vir ’n swart leier wat ons weer sal raaksien. Dié leier is nog soek.

Vandag gee ek toe: Die doemprofete was visioenêr. Zuma was besig met dieselfde toi-toi wat Dingaan destyds ingespan het om hulle uit te oorlê.

Ons eerste ontmoeting was baie maande voordat hy in sy amp bekragtig is. Dit was in sy huis en hy was presies wat almal van hom gesê het: charismaties, hoflik. Die taktiese laggie was reeds daar en ook die gevoel dat hy werklik luister. Maar toe al het die voormalige intelligensiehoof my kernvrae blatant ontduik in goed geoliede Kaderaans.

Nelson Mandela het dieselfde met my gedoen ’n paar jaar vantevore. Ek wou oor Boere-belange praat, maar hy wou oor ubuntu praat. Weer het ek weggekom met net ’n foto. Albei dié gesprekke was die Marxistiese narratief über alles – en enige dialoog, of swye, moes die nasionaal-demokratiese revolusie (NDR) dien. In alle omstandighede. Kaderaans.

My punt hier is dat ons die ware talente en potensiaal van hierdie individue nooit kan leer ken solank hulle soos papegaaie ingestudeerde credo’s voordra nie. ANC-presidente kon ons nooit meer bied as selfie-geleenthede en lippediens nie. Hul trou is aan kaders en kaders alleen. Die werklike omvang van Suid-Afrika is bo hul maatskaplike vuurmaakplek omdat hulle nooit die tuisland-mentaliteit kon ontsnap nie. In so ’n mate dat mens meer en meer die gevoel kry dat apartheid steeds die ANC se gasheer is.

Almal weet revolusionêre bevryders word in die reël droewige politici. Veral as jy ’n terroris was. Jy staan jou hele amp lank verskeur tussen voormalige lojaliteite en ware ekumenisiteit. Wie ’n goeie of swak ANC-president is, is altyd ’n irrelevante gesprek as hulle almal bloot toespraaklesers is, ’n letterlike demonstrasie van kowtowing the party-line. ’n ANC-president is per definisie ’n ontmande wese. Hy moet tegelykertyd die mantel van sosialisme oor miljoene trek en hulle daarna belowe dat hy almal ewe ryk gaan maak. Dis ’n hospitaal-pass. Daarom skop hulle af met ’n groot herrie, maar word telebrommers wat T-hemde uitdeel.

Jou renons in ’n ANC-president kan nooit minder wees as jou minagting vir die party nie. Die een is nooit meer as die ander nie. Dis huigelary om Zuma die sondebok te maak vir ANC-wandade en dis bedrog om aan kiesers te beloof dat alles nou sal regkom. Maar dan praat ons van kiesers wat perdedrolle vir soetkoek opvreet en Zuma se mandaat vir twee sieldodende termyne kon uitrek.

Ongeag die “nuwe” deugseine bly die ANC die groot belhamel hier. Die ideologie van die NDR is een wat van Suid-Afrikaners ’n klomp afhanklikes maak. Daarom is Projek ANC steeds op dreef: sentraliseer, dekoloniseer, nasionaliseer en kaap dan soveel instansies totdat almal wat aan die speen geproe het, aandadig is. ’n Slim ou bende van samesweerders.

Die ANC wiggel op dun ys

Die nasionale katarsis oor Ramaphosa as lig op die horison, ’n nuwe hoop en ’n vars bries, is totaal misplaas. As Rama­phosa ’n kapitalis was, sal dit van hier af aan ’n koverte kenmerk word, omdat linkses sy hande sal sien as druppende van witmonopoliekapitaal. Al rede hoekom die topses Zuma dringend uit die saal moes lig, is omdat Ramaphosa ’n beter kandidaat is vir die broodnodige reklame-veldtog op pad na 2019.

Die nasionale katarsis oor Ramaphosa as lig op die horison, ’n nuwe hoop en ’n vars bries is totaal misplaas.

Die stiksienige party wiggel op dunner ys as ooit tevore. Projeksies is negatief. Kiesers sak uit en internasionale aansien wankel. Maar slim, eiewys presidente is nie wat die ANC kort nie; hulle kan dit nie bekostig nie. Of so reken hulle, maar die ANC sal die ware mosie van wantroue, wat Zuma in 2018 vrygespring het, in 2019 voel.

Maar wat nou?

Waarnatoe met Jacob Zuma?

Kom ons wees eerlik. Nkandla is ’n dump. Moenie vir my sê met soveel geld is dié fire-pool-chicken-pen-kleinhoewe die beste ontwerp vir aftrede waarmee ’n president vorendag kon kom nie. Hy en sy vroue woerts-warts oor kontinente heen met ses-ster-ontvangs en WiFi in swierige Eerstewêreldse verblyf, om tuis ’n sjebienerige lapa op te rig met gesteelde geld? Aikôna.

Hieroor lees my eerste teorie so: As jy asiel kon bied vir genoeg presidensiële uitgeworpenes uit ander shitholes is daar vir jou balling­skapvooruitsigte in Afrika. Ek gaan nou van die veronderstelling uit dat ons Ramaphosa se woord daarvoor kan vat dat Zuma se uitgangsplan nie ’n goue handdruk of rooi tapyt sal wees nie. Dit moet ons nog sien om te glo, want sonder immuniteit sal die seisoen oop wees vir die ou kleptovraat. En die ANC se beeld. En ek voorspel dat daar 783 aasvoëls is wat nie kan wag om Msholozi te pak nie.

Die presidensiële handboek is deesdae gaaf met oudpresidente. Sy aftrede sluit 100% van sy salaris in, asook vervoer, verblyf, beskerming en ondersteuning vir sy vroue en vir (van) die 22 kinders, maar die uitstaande sake teen hom sal hom nog lank jaag en uiteindelik vreet aan daardie pensioen. Die meeste voormalige Robbeneilanders het ’n afsku aan die idee van terugkeer. Nie eens as toeriste nie.

My tweede teorie is dat JZ moontlik reeds ’n geldjie weggesit het vir gholfsakke as hy op ouderdom 88 mediese parool kry.

Daar is ook ander opsies vir Msholozi. Hy weet hy kan dalk geakkommodeer word vir sy Zoeloe-kiesersinvloed of stilgehou word vir sy binnekennis van medepligtiges. Dalk word hy ’n minister sonder portefeulje of ’n seremoniële eerste minister. God behoede ons. Hierdie kan die duurste loopdop ooit word.

Ek staan by teorie een. As Jacob Zuma nie ’n veilige exit plan kon beding nie, is dit seker die minste wat ons die ou stortkop kan bied: 28 vliegkaartjies. Landuit.

Besigheidsklas.

’n Hol vooruitsig.

*Steve Hofmeyr is ’n sanger en skrywer.

Meer oor:  Steve Hofmeyr  |  Anc  |  Jacob Zuma  |  Ramaphosa  |  Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.