Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Steve was doodbang vir die ‘Godfather van die Wes-Rand’

Ralph Haynes het in 2011 spoorloos verdwyn. Izak du Plessis het inligting by van sy uithangplekke en vriende gaan soek om te probeer uitvind wat van hom geword het. Hier volg ’n uittreksel uit sy boek Ralph Haynes: Godfather van die Wes-Rand.

Ek was een aand by ’n patch-partytjie van die Mac’s in Krugersdorp by Milkwood Pub, waarheen Dawie [Lötter, Ralph se vriend] my genooi het. Ek het daar vir Mannetjies [Geyser] en ’n hele klomp van die Mac’s-lede ontmoet. Daar was prokureurs, advokate, senior staatsamptenare en selfs werkloses wat bedags alledaagse lewens lei, maar saans en naweke hulle patches aantrek en dan Mac’s word. Mans wat saamgebind word deur ’n euforiese gevoel van eenheid en familie. Hulle noem mekaar ook boetie.

Dit was opvallend hoe respekvol hulle met mekaar omgaan. Mannetjies het my vierkant in die oë gekyk en sy regterskouer laat sak sodat dit vir ’n oomblik aan myne geraak het, terwyl ons mekaar met die linkerhande op die rug geklop het.

Ek het myself eenkant probeer hou om nie te veel in die pad van die verrigtinge te wees nie. Sonder uitsondering het die mans wat daar aangekom het, hulle aan my kom voorstel. Dawie het nogal heelwat gemaak van sommige van die ouens se verskillende beroepe. Hy het veral die prokureurs en advokate uitgewys. Daar was selfs ’n man van die Inkomstediens en ’n senior mynamptenaar.

Jacky [Haynes] sê elke Mac’s-lid ondergaan ’n persoonlikheidsverandering wanneer hy daardie baadjie aantrek.

Dit is dus so dat die groep hard probeer om hulle as ’n klub voor te doen, maar ongelukkig het hulle die geskiedenis teen hulle. En die patch-baadjies en ander regalia wat hulle nie baie gaaf laat lyk nie. Jacky [Haynes] sê elke Mac’s-lid ondergaan ’n persoonlikheidsverandering wanneer hy daardie baadjie aantrek.

Motorfietsbendes lyk so: Daar is ’n nasionale president, asook ’n president vir elke streek. Die streke bestaan elkeen uit verskillende chapters. Die chapters het elkeen ook ’n president, visepresident, sekretaris en sergeant-at-arms. Daar is vier fases waarin ’n mens deel word van die chapter. Daar is die gewone ondersteuners wat day jols en ander partytjies van die klub bywoon. Die hangaround is iemand wat belangstel om ’n lid te word en die klub se bedrywighede vir ’n voorgeskrewe periode van nader waarneem. Prospects neem aktief deel aan die klub se bedrywighede, ook vir ’n voorgeskrewe tydperk. As die klub jou goed genoeg ag, kan jy ’n patch word. Dit beteken jy het volle toegang tot die klub se bedrywighede en jy het stemreg op vergaderings.

Jy kan slegs ’n patch word as niemand in die klub, landwyd, enige besware teen jou het nie. Dit neem soms jare om ’n patch te word. Dit is hoekom sommige mense skeef opkyk oor die feit dat Dawie reeds die visepresident van ’n streek is.

By die onwettige bendes sal die patch-lede ’n 1%-tatoeëerteken hê om aan te dui waar hulle hulle skaar. Dit is afkomstig van ’n gewelddadige byeenkoms in 1947 in Amerika. Die American Motor-cycle Club het toe in ’n verklaring aangedui dat 99 persent van alle motorfietsryers wetsgehoorsame burgers is.

Dawie Lötter saam met die president van die Mac’s, Mannetjies Geyser. Foto: Verskaf

‘Hy was ’n grootprater’

Volgens Luke Enslin is die Mac’s one-percenters. En dit is op grond hiervan dat die groep vir Dawie beskerming kan bied, want one-percenters het genoeg invloed in ’n korrupte polisiemag om dossiere en sulke goed te laat verdwyn. En indien Ralph [Haynes] nog lewe, kan hulle vir Dawie beskerming bied sou Ralph eendag sy opwagting maak.

Hy sê hulle het wel ’n gesegde wat hulle as mantra gebruik: “ ’n Man wat k*k soek, sal nie teleurgestel word nie.”

Maar Dawie sê die Mac’s is nie misdadig nie. Hy sê hulle het wel ’n gesegde wat hulle as mantra gebruik: “ ’n Man wat k*k soek, sal nie teleurgestel word nie.”

Volgens Dawie is daar ook nie regtig rede om vir Ralph bang te wees nie. Hy het homself wreder laat klink as wat hy regtig was. Sy dreigemente het hom ook erger laat klink as wat hy was. “Hy was ’n grootprater en hy was goed daarmee,” sê Dawie.

’n Gasontploffing by Hillsnax het een aand die dood van ’n man veroorsaak. Dit was lank ’n grap onder die groep dat Ralph die man se dood veroorsaak het. Dan het Ralph op so ’n manier gereageer dat dit vir die vreemdeling altyd gelyk het asof hy wel aandadig aan die man se dood kan wees. Dit was die tipe goed wat vrees ingeboesem het.

Mense soos Peet Viljoen en Steve Hofmeyr glo anders. Hulle was glo almal doodbang vir Ralph. Peet vertel dat Ralph ten spyte daarvan dat hy oorgewig was, ’n man met een hou kon neervel.

“Om hom die Godfather van die Wes-Rand te noem was very, very true. Dis nie sommer net ’n sensasionele naam nie. Want onthou, die eerste laag is ouens wat bietjie kick boxing, cage fighting en sulke goed doen. Maar die ouens kan hulself nooit organiseer nie. Wat Ralph goed gemaak het, is dat hy kon organiseer en hy het verstaan jy kan nie georganiseerde misdaad doen sonder die polisie aan jou kant nie.”

Jacky Haynes Foto: Verskaf

Mike Bolhuis

Peet vertel verder dat hy as oordragprokureur baie te doen gehad het met mense wat gesekwestreer word. Daar was soms van hulle wat so kwaad was hulle wou jou doodmaak.

Eenkeer het Mike Bolhuis my afgedreig. Toe ek hom vra of ek vir Ralph kan saambring na die meeting toe, het hy baie gou sy deuntjie verander.

“Dan is dit goed om iemand soos Ralph te ken,” sê Peet. “Ek het hom skaamteloos misbruik. Eenkeer het Mike Bolhuis my afgedreig. Toe ek hom vra of ek vir Ralph kan saambring na die meeting toe, het hy baie gou sy deuntjie verander. ’n Ander keer het ek ’n miljoenrandse hi-fi by daai goud-ou, Jean Meyer, Radovan Krejcir se maatjie, gaan haal. Daar het nege ouens met guns daar aangekom. Die rubberrook trek sulke wolke soos wat hulle voor die huis stop. Hulle dreig om my dood te maak. Toe ek vir hulle sê hulle moet dalk net eers met Ralph praat, toe bedaar daai ouens. So, Ralph het baie mag gehad. Die ouens was bang vir hom.”

Daar is ’n ander rede ook waarom Luke glo Dawie baat by die Mac’s se beskerming. “Dawie skuif dwelms,” sê Luke vir my. “Waar dink jy kry hy geld vandaan om van te leef? Hy skuif f****n dwelms.”

“Skuif julle dwelms?” het ek vir Dawie en Jacky op grond hiervan gevra. Kan jy raai wat hulle antwoord was?

“Nee.”

“Nou waar kry julle geld vandaan, want Dawie is meestal by die Mac’s of die perde en die res van die tyd is hy hier by die huis as ek hier aankom?”

“Dawie se ouers is oorlede en hy het ’n redelike klomp geld van hulle geërf,” antwoord Jacky, “en ek het darem nog geld van my plaas wat ek verkoop het.”

Maar Luke byt nie hieraan nie. “K*kstorie, ek vertrou daai Jacky net mooi niks. Sy is slinks. Slinkser as Ralph. En daar was mos daai koperding van Dawie.”

“Dit was nogal ’n affêre,” vertel Jacky. “Luke het mos weer met ’n hele army polisiemanne hier uitgesak, toe arresteer hulle vir Dawie. Hulle het hom daar op die grond neergegooi en geboei. Dit is alles daai bose dwerg (Gert Marais) se skuld.”

Ralph en Dawie as jong manne op Randfontein. Foto: Verskaf

Dawie vertel die storie verder. Volgens sy weergawe het Mike Goosen ná die hoeveelste keer dat hy tronk toe is, op Jacky se plaas gaan bly. Gert nader toe vir Dawie om die plaas by hom te koop; hy het ’n transaksie met koper wat hy by Transnet kry en hy wil dit op die plaas stoor. Dawie verwys hom na Jacky omdat dit haar eiendom is wat Mike by haar huur. Maar Jacky wil nie verkoop nie. Gert kom terug na Dawie toe en vra of hulle nie net die skuur op die plaas kan huur om die koper te berg nie. Hulle sal vir Mike ook betaal. Mike stem in en die koper word plaas toe gebring.

Maar ’n deurwinterde skelm soos Mike gaan nie koper wat so geredelik beskikbaar is alleen los nie. Volgens Dawie het hy toe van die koper gevat, dit probeer verkoop en hy word gevang. Sy verweer was dat die koper aan Dawie behoort.

“Toe sê ek vir hom maar Mike jy praat mos nou kak. Ek het die mense na jou verwys, hulle huur die skuur by jou. Ek het fokkol met daai goed uit te waai. Meantime het hy probeer om die goed te steel, ’n vrag vol van die goed, toe het dit gebackfire na sy kant toe.”

Dawie is in hegtenis geneem. Hy moes R100 000 borgtog betaal. En uiteindelik het daar weer niks van die saak gekom nie. Die storie onderstreep egter hoe ernstig Gert daaroor is om met Ralph en Dawie af te reken oor die kere dat hulle hom ingeloop het. Dalk ’n laaste hou in die wind na ’n man wat die hele wêreld, selfs sy beste vriende, ore aangesit het.

* Ralph Haynes: Godfather van die Wes-Rand word deur Penguin Books uitgegee en kos R250.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.