Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Stilte, neutraliteit maak jou aandadig

Dit is tyd om die kerk onlosmaaklik deel te maak van die groter gesprekke in die land, skryf Gielie Hoffmann.

Vroeg op ’n weeksoggend sit ek in die kerk. Dit is nie my gewoonte nie. Maar dit is ook nie aldag dat jy kans kry om te luister na prof. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, nie. Om my sit meestal mans. Hulle is meestal oud en uitsluitlik wit. En onmoontlik stil.

Madonsela praat oor hoe ons onthou, hoe ons vergeet, en om verbeeldingryk te lewe. Sy spreek haar uit teenoor ongeregtigheid. Moedig die koestering van menslikheid in al sy vorme aan. En verklaar: Wees die openbare beskermer voordat jy die pos kry. Begin by: Wat doen ek tans en wat wil ek doen?

Sy deel kosbare klein oomblikke en stories. Sy lei die gehoor in ’n impromptu “This Little Light of Mine”. En eindig met die digter Timothy Kinney se gedig “The Cold Within”. Die slotreël, “They didn’t die from the cold without, they died from the cold within”, ruk almal van ons tot stilstand.

Later, toe dit tyd is vir vrae, word al die vrae uitsluitlik gestel deur lede van die gehoor wat net gekom het vir haar toespraak. Die vrae is insiggewend en uiters relevant; die inhoud van haar toespraak het duidelik mense geprikkel.

‘Die NG Kerk is deur die meule danksy ’n onwillige en afwesige leierskap.’

Dit val my by: Almal wat vrae gevra het is swart. Nie een van die oorgrootte meerderheid konferensiegangers tree in gesprek met die belangrike vrae wat sy stel nie. Waar is ons stemme?

Daar waar ek sit mompel ’n paar ouer leraars ná die tyd: Ek kon niks hoor wat sy gesê het nie. En ek dink: Kon nie, of wou nie?

Die volgende dag sit ek weer reg. Prof. Christi van der Westhuizen, sosioloog en skrywer, praat oor die verlede in die hede, of ons dalk anders kan onthou. Sy deel haar insigte uit haar navorsing rondom ras, rassisme en die ontkenning van menslikheid; dat daar amper ’n allergie is vir verantwoordelikheid aanvaar in ons land. Dit is konfronterend en rou en nodig. Hoe herstel ons die onmeetbare verliese van die menslike gees?

Sy herinner die gehoor – predikante – van die rol wat sekere teoloë en kerkleiers gespeel het tydens, selfs voor, apartheid. Afrikaners. Dat daar wel predikante was wat hulle uitgespreek het teenoor ongeregtigheid en beplande wetgewing. Mense wat geïsoleer is as gevolg daarvan. En dat hulle voorbeelde ons vandag moet inspireer om aan te hou met die belangrike werk.

Ek woon die gesprekke by omdat ek genooi is as hoofspreker vir die laaste oggend by Excelsus se jaarlikse lentekonferensie by Tukkies se teologiefakulteit.

Ek is diep geraak deur Madonsela en Van der Westhuizen se woorde. Die tema van herverbeelding loop soos ’n goue draad deur al drie van ons se toesprake.

Ek staan die oggend voor die konferensiegangers as ’n Christen, ’n NG Kerk-lidmaat en as ’n gay man. Ek deel my pad met die kerk. My ontnugtering, my terugkoms. En dat ons hier en nou mooi moet herbesin oor wat die kerk kan en moet wees.

Ek deel die woorde van emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu met die gehoor: “As jy neutraal is in tye van ongeregtigheid het jy die kant gekies van die onderdrukker.”

Ek dink ons staan in ’n oomblik van die kerk se geskiedenis waar neutraliteit en stilte jou aandadig maak.

Die NG Kerk is deur die meule. En dit danksy ’n onwillige en afwesige leierskap. Die vakuum wat hierdeur geskep is, het ’n ruimte geword wat gevul is deur afvalliges en ekstremiste. Waar daar treë vorentoe gegee is, was dit grootliks ten spyte van leierskap; en waar daar treë agteruit gegee is, was dit in die teenwoordigheid van leierskap.

“Dit staan gay lidmate vry om by enige Christelike kerk wat die Bybel ‘soos hulle’ interpreteer, aan te sluit of selfs hul eie kerk te begin,” skryf iemand in April verlede jaar in Beeld.

Hierdie woorde is ’n aanklag teen die kerkleierskap van die afgelope vier jaar. Dit is in hulle naam onderteken en uitgestuur vir elke lidmaat om te lees. Dit het ’n klimaat van onverdraagsaamheid en vervreemding opnuut geskep. Behalwe die miljoene rande aan regskoste het dit die kerk onherroeplike skade aangerig wat reputasie en kredietwaardigheid betref.

Meeste vriende het reeds die kerk verlaat. Baie het selfs hul geloof verlaat. Ek kies anders. Hoekom? Die weke ná my toespraak het ek eindelose gesprekke gevoer met predikante wat my toespraak aangehoor het. In winkels, by Aardklop, op my telefoon, deur boodskappe. Die ooms skud my blad, die vroue gee drukkies, die jonges se dude, ek het nie woorde nie. Hulle insigte, ingesteldheid, hongerte, bemoedig my. Almal is nie so nie.

Die algemene sinode vind hierdie week plaas. ’n Nuwe moderator moet verkies word. Die kerk is reg. Lidmate is reg. Kies ’n leier met ’n verbeelding. Kies ’n leier met ’n stem. Kies ’n leier wat wil en kan lei.

Dit is tyd om ’n wesenlike stap vorentoe te doen. Om die kerk onlosmaaklik deel te maak van die groter gesprekke in die land. Om die kerk die plek te maak waar lidmate hulself kan versoen met ons verlede en ons hede. En om die kerk ’n plek te maak wat koelte gee, vir almal.

* Gielie Hoffmann is ’n bestuurskonsultant en skrywer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.