Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Stilte oor Zim oorverdowend en onheilspellend

Die stilte in die buiteland oor die jongste krisis in Zimbabwe voorspel niks goeds vir die Suider-Afrikaanse streek én Suid-Afrika nie, skryf Pieter Labuschagne.

Die humanitêre krisis in Zimbabwe het opnuut vrae oor die diepgaande en voortslepende krisis in dié buurland van Suid-Afrika laat ontstaan.

In Suider-Afrika is dit nie alleen die verslegtende situasie in Zimbabwe wat kommer wek nie, maar ook die toenemende konflik in Mosambiek. Die groeiende teenwoordigheid van die Islamitiese Staat (Isis) in Mosambiek skep bykomende potensiaal vir die destabilisering van die Suider-Afrikaanse gebied.

Die Suid-Afrikaanse regering se flou reaksie op die voortgesette menseregtevergrype in Zimbabwe met die gewelddadige onderdrukking van betogings teen die regering, is egter veral kommerwekkend.

Met reg kan gevra word waarom lande in die sub-kontinent en die Suider Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) so lou is oor die vergrype en onaktief langs die kantlyn sit.

Die voorkoms en skep van persepsies is baie belangrik in politiek. Die gedempte kommentaar van veral die Suid-Afrikaanse regering skep die persepsie dat die “broederskap” tussen die eertydse vennote in die bevrydingstryd kritiek ongewens maak.

Hulpbehoewende Zimbabwiërs plaas ’n geweldige las op Suid-Afrika se beskikbare bronne.

Maar destabilisering kan oorvloei na ander lande in die SAOG, veral suidwaarts na Suid-Afrika wat met sy eie sosio-ekonomiese probleme worstel.

Dit is moeilik om te bepaal presies hoeveel Zimbabwiërs – wettig en onwettig – hulle reeds in Suid-Afrika bevind, maar waarnemers raam die getal selfs so hoog as 4 miljoen.

Die meeste van dié “immigrante” is onwettig in die land. Hoewel daar simpatie vir hul situasie is, plaas die hulpbehoewende Zimbabwiërs ’n geweldige las op Suid-Afrika se beskikbare bronne, soos hospitale en behuising. In die informele sektor beklee hulle reeds duisende poste wat ’n inkomste aan werklose Suid-Afrikaners kon verskaf.

Mnangagwa – die berg het ’n muis gebaar

Van 2017 se hoop het nie veel oorgebly nie: ’n Plakkaat van pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe aan die verweer teen ’n muur in Harare. Foto: Getty Images

In 2017 het tenks in Harare se strate inbeweeg om ’n einde aan die tirannie van Robert Mugabe te maak. Inwoners van Harare, wat oor die jare heen baie verduur het, het jubelend in die strate gedans – wagtend op die nuwe daeraad wat hul lewens ten goede moes verander.

Die nuwe leier, Emmerson Mnangagwa, wat Zimbabwe na die beloofde land moes lei, was die nuwe gesig van die demokrasie.

Mnangagwa het ingrypende veranderinge, soos die herstel van die demokrasie, menseregte en die regruk van die ekonomie belowe. Op ’n toer in die buiteland het hy ’n gunstige indruk op politici en beleggers gemaak en daar was inderdaad hoop op ’n nuwe daeraad.

Daar was verder heelwat optimistiese verwagtings dat hy iets aan die landboukrisis sou doen.

Dit was asof die geweldsopsie onlosmaaklik deel van die DNS van Zimbabwe se inwoners is.

Die plaasbesettings sedert 2001 onder die regering van Mugabe was ’n waterskeiding wat Zimbabwe se ekonomie onherstelbare skade berokken het.

Die wrede geweld in die plaasbesettings en die miskenning van basiese menseregte en waardigheid, het ook die gebrek aan moraliteit ontbloot.

Dit was asof die geweldsopsie onlosmaaklik deel van die DNS van Zimbabwe se inwoners is.

Gedurende die bevrydingstryd van 1964 tot 1980 het die wrede dade van die twee bevrydingsbewegings, Zanu en Zapu, geskok. Moorde op burgerlikes asook die hewige teenreaksie van Ian Smith se regime, het moraliteit en medemenslikheid tot op die laagste moontlik vlak afgeskaal.

Pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe het teen die einde van 2017 die leisels as die Zimbabwiese leier by Robert Mugabe oorgeneem. Foto: Gallo Images

Die filosoof Friedrich Nietzsche het al in 1886 in sy werk Beyond Good and Evil gewaarsku dat “wie ook al monsters beveg, seker moet maak dat hy nie in dié proses self ’n monster word nie. Indien jy self lank genoeg in die diep donker dieptes staar, sal die donker dieptes na jou terugstaar.”

Is dit moontlik dat die geweld van die vryheidstryd endemies in Zimbabwe geword het en dat dit in die regimes van Mugabe en Mnangagwa dialoog en debat permanent vervang het?

Wat wel duidelik is, is dat die geweld en tirannie van die Mugabe-era nou net onder Mnangagwa voortgesit word.

Wat baie waarnemers nie besef nie, is dat Mnangagwa nog altyd ’n kloon was van Mugabe wat in die skadu’s geskuil het.

Die berg van verwagtinge oor Mnangagwa se leierskap het ongelukkig ’n muis gebaar.

Mnangagwa het met die onlangse onderdrukking van opposisiepartye en burgerregte-organisasies opnuut sy diktatoriale kant gewys.

Sedert Mnangagwa se magsoorname is Zimbabwe verder by ’n vernietigende doodspiraal ingesuig. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) bestempel dit as ’n ekonomiese en humanitêre krisis.

Nadat die inflasiekoers aanvanklik binne perke gebly het, het dit weer begin om hand uit te ruk. Die jongste berekening is dat dit nou net onder 800% is.

Die Verenigde Nasies (VN) het bereken dat hongersnood 60% van die bevolking in die gesig staar – dit in ’n land wat in Smith se bewindstydperk voedsel uitgevoer het.

Mnangagwa het met die onlangse onderdrukking van opposisiepartye en burgerregte-organisasies opnuut sy diktatoriale kant gewys.

Die vreedsame betogings wat vir vroeg Augustus 2020 beplan was, is gewelddadig onderdruk. Die woordvoerder van die opposisieparty, Movement for Democratic Change (MDC), Fadzayi Mahere, is saam met 20 ander kritici van die regering in die tronk gestop.

Pleks daarvan dat opposisiegroepe hul demokratiese reg kon uitoefen om vreedsaam in die strate van Harare te protesteer, is die middestad leeg en sit die opposisieleiers in die tronk.

Die oorverdowende stilte

Betogers het onlangs voor die Zimbabwiese ambassade in Pretoria hul boodskap aan pres. Emmerson Mnangagwa se regering duidelik gemaak. “Mthwakazi” verwys na inwoners van Matabeleland en die Middellande-provinsie van Zimbabwe. Foto: Reuters

Die optrede van die Mnangagwa-regime kan tot ’n groot mate verklaar word – want ’n ideologiese jakkals verander van hare, maar nie van streke nie.

Wat egter onverklaarbaar is, is die buitelandse apologete en ondersteuners van Zanu en Zapu se onaktiwiteit en stilte; ’n mens wil amper praat van ’n oorverdowende stilte.

Die frase “oorverdowende stilte” is in 1978 deur die eertydse hoof van die Anglikaanse kerk in die voormalige Rhodesië, John da Costa, gebruik, nadat Zipra (Zapu se militêre vleuel) ’n Viscount-passasiersvliegtuig afgeskiet het. Net enkele passasiers het dié slagting oorleef.

Da Costa het voor 2 000 aanwesiges in ’n kerkdiens vir die slagoffers na die buiteland se “oorverdowende stilte” gewys.

Daar was geen sterk veroordeling uit Brittanje of die Skandinawiese lande soos Noorweë en Swede, wat die bevrydingsorganisasies ywerig en aktief ondersteun het nie.

Die joernalis Hopewell Chin’ono is een van die mensereg-aktiviste in Zimbabwe wat onlangs in hegtenis geneem is. Foto: Reuters

In effek het dit die bevrydingsbewegings se optrede regverdig.

Die regte van burgerlikes tel deesdae net so min in Zimbabwe.

Na raming is sowat 30 000 swart guerrillavegters en burgerlikes gedurende die bevrydingstryd in Rhodesië dood. Onlangse berekeninge dui daarop dat meer mense egter sedert Zimbabwe se onafhanklikheidswording in 1980 gesterf het. Vanaf die grumoorde in die Gukurahundi-veldtog in Matabeleland vroeg in die 1980’s tot vandag toe het tussen 30 000 en 35 000 Zimbabwiërs in politieke geweld gesterf.

Teen dié agtergrond behoort die voortdurende onderdrukking van die land se burgers en die miskenning van hul regte en hul menswaardig ’n stroom van protes in die buiteland te ontlok. Maar behalwe vir ’n paar diplomatieke geluide uit Brittanje, is die voormalige koloniale heerser doodstil.

Daar kom eweneens geen afkeurende geluide uit die Skandinawiese lande nie.

Die SAOG het opnuut gewys dat dit net ’n tandelose debatsvereniging is. Is dit ’n broederskap van bevrydingsbewegings waar jy nie jou makkers mag kritiseer nie?

Wat ook al die geval mag wees, in ’n situasie van oorverdowende stilte en passiwiteit ly die goeie mense van Zimbabwe en stroom hulle desperaat in lang toue oor die grens – na ’n land wat ook reeds begin om te wankel.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Zapu  |  Saog  |  Au  |  Anc  |  Mdc  |  Emmerson Mnangagwa  |  Robert Mugabe  |  Suid-Afrika  |  Zimbabwe  |  Ekonomie  |  Demokrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.