Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Straatmense word lidmate

Dana Snyman vertel van sy besoek aan die historiese, eens statige Tweetoringkerk in Bloemfontein.

Die gemeentelede sit op ’n veilige Covid-afstand van mekaar op die lang banke. Foto’s: Dana Snyman

Die oggenddiens begin eers oor so ’n halfuur, maar hier wag reeds ’n paar mense op die sypaadjie voor die Tweetoringkerk in Bloemfontein se middestad.

Hulle sit op die randsteen, toegewikkel in ou baadjies en verslete truie, elkeen met ’n masker op of ’n stuk lap om die gesig gedraai. Dis winter. Dit is koud.

Oor die straat – Aliwalstraat – kom ’n jong man gestap met ’n swart vullissak onder die arm. Hy gaan sit by die ander op die randsteen. Een sê iets vir hom in Sotho. Hy sê iets terug, maak die swart sak oop en wys vir hulle: Binne-in is ’n klomp leë blikkies.

Ds. De la Harpe le Roux het ook pas in ’n bakkie langs die kerk stilgehou en uitgeklim in ’n wit hemp en leerbaadjie, met ’n kleinerige kruis om die nek, pleks van ’n das.

Dit is sy gemeentelede, hierdie mense op die sypaadjie.

Baie het laasnag in ’n stegie of park geslaap

Amptelik is dit die NG gemeente Bloemfontein, een van die oudstes in die land, maar omtrent almal praat van die Tweetoringkerk-gemeente – die historiese Tweetoringkerk, ingewy in 1880, eens die geestelike hoofkwartier van die Vrystaat, kan jy maar sê. ’n Nasionale gedenkwaardigheid.

Drie van die ou Vrystaatse republiek se presidente is hier ingehuldig: press. J.H. Brand, F.W. Reitz en M.T. Steyn. Emily Hobhouse en genl. Christiaan de Wet is uit dié kerk begrawe. Later ook drie van ons staatspresidente: Jim Fouché, Nico Diederichs en C.R. Swart. Hoogs gewyde geleenthede.

Dit was tóé. Een ná die ander kom hulle nou in die straat aangestap, die gemeente van 2021, in tekkies en nerfaf- Nugget-honger skoene en in hoodies met opgeslane kappies. ’n Omie in ’n glimbaadjie, van die soort wat karwagte dra. ’n Vrou in lang, swart sykouse en ’n effens te kort rompie.

Die kerk is agter ’n tralieheining en die hek is nog toe. Hulle kom wag voor die hek. Baie van hulle het laasnag in ’n stegie of ’n park of iewers onder die vriesende sterre geslaap.

Uit ’n gebou straat-op kom harde musiek vol vreemde ritmes. Net soos in ons ander stede het Bloemfontein se middestad ook in die laaste dekade of drie iets anders geword as wat dit was.

“A-men!” roep iemand hard uit een van die agterste banke, maar nie hard genoeg om Seuntjie Rapulane te laat wakker skrik nie.

Die Verwoerdgebou is nou die Lebohanggebou. Die dieretuin het gesluit en die hokke staan leeg; voor die Sand du Plessis-teater groei kakiebos; op ’n muur oorkant die appèlhof nooi ’n plakker: “Safe abortion.”

Boonop het honderde ontevrede inwoners in die week deur die stad getoi­toi om te betoog teen die swak munisipale bestuur en oral asblikke omgekeer en moles gemaak.

Alles voel ’n bietjie apokalipties hier.

Een van ds. Le Roux se helpers kom sluit die hek oop en die mense op die sypaadjie begin instap, die optog van aftjoppers wat Sondae die diens hier bywoon, verby die kerk se hoeksteen waarop Psalm 118 vers 22 in marmer uitgekap is.

Party van hulle kom in die week ook hier, want hier is daagliks ’n sopkombuis. En Woensdae is dit Bybelstudie.

Ds. De la Harpe le Roux.

Ds. Le Roux, wat al sedert 2008 predikant hier is, groet baie van hulle op die naam. “Hulle almal is dalk nie in die kerk aangeneem en voorgestel nie, maar in my oë is hulle my lidmate,” sê hy. “Die meeste van hulle woon op straat.”

Stil stap hulle die kerkgebou in en gaan sit op ’n veilige Covid-afstand van mekaar op die lang banke. Hier waar stoere mans in donker pakke en vroue met hoede gesit het in die jare toe die meeste van hierdie mense nie hier welkom sou gewees het nie, toe in die NG Kerk nog geglo is apartheid is God se wil.

En nog voor dít, in 1939, is die nasionalistiese Ossewabrandwag hier agter in die konsistorie gestig.

By die tweede bank van voor af skuif ’n straatkind in ’n vuil broek en trui in – die bank wat aangedui word met goue letters: “Mev.-pres. M. T. Steyn”, vir jare die sitplek van die ou president se vrou, Tibbie.

Niks meer van die konsistoriedeur wat oopswaai en die predikant wat uitstap in ’n toga met ’n somber ry ouderlinge en diakens agterna nie.

De la Harpe – hy is een van daardie predikante wat jy op die voornaam wil noem – gaan staan by die kateder voor die preekstoel en wys eers ’n foto van ’n brandende vuurtjie op die groot skerm. Baie van hulle maak nou in die winter sulke vure in die township of iewers anders om hitte in die lyf te kry.

Kollekte: Dit doen iets vir jou om ook te gee.

Wees versigtig wanneer jy ’n vuur maak, waarsku De la Harpe, en die gebod wat hiermee gelykstaan is moenie in ’n gebou ’n vuur maak nie. Hy vertel hoe ’n hawelose man in 1952 een koue nag hier by die kerk ingebreek en ’n vuurtjie gemaak het wat versprei en die preekstoel verwoes het.

Dis tyd om te sing, maar verby is die dae toe die formidabele mev. Dolly Heiberg, wat vir meer as 40 jaar die orrelis hier was, voor die orrel inskuif. De la Harpe druk ’n knoppie, en die klanke van ’n Engelse pryslied kom oor die luidsprekers: “Now is the time to worship. Now is the time to love . . .”

Almal staan op en begin sing en hande klap, almal behalwe Seuntjie Rapulane, wat vroeër hier buite met die vullissak aangekom het. Seuntjie sit en slaap, sy kop agteroor, met sy sak leë blikkies langs hom op die bank terwyl almal rondom hom staan en sing.

Hier is nou omtrent so tussen 80 en ’n honderd mense in die kerk. Buite op die grasperk sit ook ’n klompie voor ’n groot luidspreker waaroor De la Harpe se stem gehoor kan word.

Kruip jy weg, of lewe jy voluit, is die tema van sy preek.

“Ons het weggekruip hierdie week toe hier moeilikheid was. Ons was bang.” De la Harpe beduie na ’n man hier voor rond. “Levano is ’n familielid van jou, nè Ricardo?”

Seuntjie Rapulane met een van sy blikkies.

Levano Siegel, 15 jaar oud, is doodgeskiet terwyl ’n veiligheidswag glo bedreig gevoel en die skare in geskiet het.

“Ek’s sy oom,” antwoord Ricardo.

Party laat sak hul koppe. Rus in vrede, Levano.

Levano se naam sal op ’n plaatjie gegraveer word wat op die kruis hier agter teen die muur vasgesit sal word.

Dit is Pinkstersondag en De la Harpe preek in Engels en Afrikaans met hier en daar ’n Sotho-woord tussen-in oor hoe ’n mens voluit kan leef as die vuur van die Heilige Gees in jou brand. Jy hoef nie ryk en suksesvol te wees om voluit en met liefde te leef nie.

“Ek’s ook soms bang.” Hy beduie met die hande. “Ek raak ook soms angstig.”

De la Harpe sê dit nie, maar een van sy bekommernisse is hierdie ou kerk wat dringend restourasiewerk kort. Die gebou moet geverf word, die dak lek, die vensterrame se hout verrot, en die horlosie in die een toring het lankal op twintig oor nege gaan staan. Die regering help nie met geld nie. Ook nie die sinode nie. Kan nie . . .

Naby die einde van die preek sê De la Harpe iets wat hier dalk nog meer waar is as in die meeste ander gemeentes: “Onthou, jy behoort aan ’n kerk, jy’s nie alleen nie.”

“A-men!” roep iemand hard uit een van die agterste banke, maar nie hard genoeg om Seuntjie Rapulane te laat wakker skrik nie. Die straatkind in mev.-pres. Tibbie Steyn se bank het ook intussen ingedommel. Kop agteroor sit hy en vat ’n heilige slapie.

“Ek wil by julle pleit, mense.” De la Harpe leun vorentoe oor die kateder. “Daar is baie dinge verkeerd in ons stad. Hier kom ’n verkiesing een van die dae. Ek gee nie om vir watter politieke party jy stem nie, maar moenie dink, ag, my stem is nie belangrik nie. Gaan stem! Neem terug jou lewe. Hierdie land behoort nie aan die politici en ryk mense nie. Die land behoort aan almal van ons.”

Kollektetyd. Eers voel dit nie reg nie. ’n Diaken kom in die gangetjie af met een van die ou kollektesakkies wat sedert die jaar toet hier gebruik word. Die meeste gooi iets in die sakkie.

In die voorste bank kyk die omie in die glimbaadjie na die twee muntstukke in sy handpalm, neem een, en gee die ander een vir die outjie langs hom sodat hy ook iets het om te gee.

Die geur van kookkos kom van buite terwyl ons ’n laaste lied sing.

Almal gaan tree in ’n ry aan by die tafel voor die kerk, ook Seuntjie Rapulane met sy sak leë blikkies. Dit is onnodig om hom te vra oor sy slapery, die ooms en tannies van die verlede het soms net so lekker in die kerk sit en slaap. Miskien is dit vir die eerste keer in dae dat hy sorgvry en warm kon insluimer. Iemand wat op straat woon, is nooit veilig nie.

“Ek wil hê elkeen moet voel dat hy of sy ’n lidmaat hier is,” antwoord De la Harpe as jy hom vra oor die kollekte. “ ’n Volwaardige lidmaat, nie ’n liefdadigheidsgeval nie.”

Dit is maar ’n karige bedraggie wat elke Sondag van die gemeente af kom, maar dit doen iets vir iemand se menswaardigheid om ook te gee, nie net knaend te ontvang nie.

De la Harpe gaan sit op een van die voorste banke. Hy het vroegoggend al kos gaan oplaai wat ’n winkelgroep geskenk het. In 2008, toe hy as medeleraar hier begin het, was dit ’n kwynende wit, Afrikaanse gemeente. Baie lidmate wou nie meer na die middestad toe kom nie. Te gevaarlik. Te anders.

In 2009 is besluit om die gemeente eerder te sluit. Hier was ’n groot afsluitingsdiens, maar De la Harpe het met instemming van die ou kerkraad besluit om aan te bly as die enigste predikant.

Hy het Torings van Hoop, ’n nieregeringsorganisasie, help stig om die sopkombuis en ander omgeeprojekte van hier af te bedryf. In die erge grendeltyd verlede jaar het hulle meer as 9 000 kospakkies uitgedeel.

“Party stoere Afrikanermense was bekommerd oor wat ons hier gaan doen. Party ouens het die Kanselbybel en kanselkleed kom haal.”

Die weermag se M.T. Steyn-regiment het ook hul vaandel kom haal wat in die konsistorie gehang het.

De la Harpe lag. “Ek sal moeilik teruggaan na ’n tradisionele gemeente toe. My kerkbegrip het verander.”

Hy gaan wys een van die kruise teen die muur waarop binnekort ’n plaatjie met Levano Siegel sal wees. Op elke plaatjie is die naam van iemand.

“Die meeste is mense wat op straat dood is. Dis om te sê hulle het ook gelewe.” Hy wys na ’n plaatjie waarop staan: Jason Louw. “Jason is verbrand, letterlik ge-neklis. Hy en ’n ander ou het kos gesteel.”

Hy wys na nog ’n plaatjie. “Leonard het op straat verkluim.” En nog een. “Mase. Sy was vasgevang in prostitusie. Sy het net siek geraak.”

Nog ’n plaatjie. “Mpho. Ook vasgevang in daai wêreld. Doodgesteek met ’n mes. Dis nie vir my om te sê of iemand in die hemel gaan kom of nie. Ons ontferm ons oor daardie vroue.”

Buite kry die mense steeds kos. Goeie warm huiskos. Hoender. Rys. Groente.

’n Mens kan nie anders nie as om te wonder hoe dit in die tyd van mev. Tibbie Steyn en die jare daarna op ’n Sondagoggend ná die diens hier gelyk het. Moontlik is hier koffie en tee bedien. Melktert. Koeksisters.

Hier sou bekommerde gesprekke gewees het oor die vegtende Boerekrygers en vroue en kinders in die konsentrasiekampe. En later, ná die Anglo-Boereoorlog, sou moontlik gepraat gewees het oor hoe arm die mense is, die Afrikaners.

’n Mens kan ds. J.D. Kestell, wat van 1912 tot 1917 hier predikant was, hier sien rondstap met sy bokbaardjie. ’n Sagte man wat ook as Vader Kestell bekend gestaan het, wat knaend geld vir die opheffing van sy mense ingesamel het en ook betrokke was by die oprigting van meer as een kinderhuis.

Mev. Tibbie Steyn sou dalk ook nie kwaai gefrons het oor die straatkind in haar bank nie. In 1919 skryf sy aan haar vriendin Emily Hobhouse in ’n brief: “We would not be worth much as a people if we could not cope with the poverty amongst us.” Mev. Steyn wat haar mense ’n leeftyd lank gedien het.

Deurgaans was daar gemeentelede wat uitgereik en opheffingswerk gedoen het in die stad se townships, maar vir die groot groep sogenaamde behoudendes was die klem eers op die eie. Die volk. Die Afrikaners.

Veral nadat die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het.

Ook in hierdie gemeente.

Min of meer almal het nou kos gekry. Seuntjie Rapulane talm nog hier rond met sy sak leë blikkies. Môre gaan hy dit by die afval-ysterplek vir ’n paar rand verruil.

Hulle stap weer die stad in in hul tekkies en verslete truie en baadjies en kappietoppe met opgeslane kappies.

Was dit nie vir hulle nie, sou hierdie ou kerk nou toegestaan het, soos baie ander NG kerke in die land, gemeenteloos.

Psalm 118 vers 22 se woorde op die hoeksteen was profeties: “Die steen wat die bouers verwerp het, het ’n hoeksteen geword.”

Meer oor:  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.