Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Stroom-op in baie dun lug

Die politieke en sosiale baanbrekerswerk wat Rapport Ekstra, die koerant se “kleurling-uitgawe” verrig het, word dikwels misgekyk, skryf Johann Maarman.

32 jaar terug . . . Johann Maarman se eerste dag by Rapport Ekstra.

Heerengracht 40, Kaapstad.

Naspers. Dít is die plek waar die vuur aan albei kante van jou gebrand het – dié wat jou eintlik nie daar wou hê nie en ook dié wat jou blameer het omdat jy daar was.

Maar dit was ook die sentrum van onvermydelike kompromieë waar Rapport Ekstra haar soos ’n sweefstokarties moes balanseer om ’n delikate joernalistieke media-toertjie te doen in die tyd toe “afsonderlike ontwikkeling” – die mooi naam vir apartheid – ons almal se lewe direk of indirek bepaal het.

Jare later sou Izak de Villiers (toe hoofredakteur van Rapport) op ’n redaksievergadering Rapport Ekstra beskryf as die kind wat in sonde ontvang en gebore is en maar eintlik ’n aanneem-kind is, want toentertyd was Perskor sowel as Naspers gesamentlike eienaars van Rapport. Rapport Ekstra as koerant moes deur verskeie brandende hoepels spring om ’n holte vir sy voet in die joernalistieke ekosisteem te vind. Soos die koerantpionier Conrad Sidego (die eerste bruin redakteur van Rapport Ekstra) skryf in ’n Konstante revolusie: Naspers, Media24 en oorgange: “Die suurstof op die (Rapport Ekstra) pad was soms dun, en ons het soms na ons asem gesnak.”

Ons het twee keer die 100 000-kerf verbygesteek.

Rapport Ekstra was nie net ’n koerant nie. Dit was óns koerant. Ons was trots op wie en wat ons was, ofskoon die apartheidspook konstant bo ons kop gedwarrel het en daar weliswaar ’n koerant uitgegee moes word wat bepaald op die bruin mark gerig was. In Afrikaans. Dit het ons wat in die hoogbloei van apartheid en selfs hier teen skemeraand van apartheid hierdie pad moes bewandel, ’n bron van bespotting en vernedering gemaak. Maar ons was allesbehalwe “jollie-hotnots”.

Weer Conrad: “Rapport Ekstra was die spieël waarin hierdie stormjare vir die bruin gemeenskap gereflekteer is. Wat vir Naspers die ontginning van ’n nuwe lesersmark was (Rapport Ekstra was die spreekwoordelike media-kanarie wat in die mynskag afgestuur is), het terselfdertyd ’n verhoog, ’n uitlaatklep, geword vir ’n stemlose groep wat die stryd in hul eie taal kon voer. Rapport Ekstra het immers op twee rye spore geloop – dié van menswaardigheid en billikheid – en wanneer die grense van menswaardigheid en billikheid oorgesteek is, het Rapport Ekstra hom hard en duidelik laat geld.”

Oor Rapport Ekstra was daar enorme skeptisisme, agterdog en dikwels antagonisme. Ons moes deur rassegrense bars om sy bestaan te regverdig. Die koerant moes nie net die gesaghebbende stem van die bruin mense word nie, maar een van sy hoekpenne was ook om die breër publiek bewus te maak van die raakpunte in die denk- en die gevoelswêreld van bruin en swart op die politieke terrein.

Dit is opmerklik in Mohamed Shaikh se M-verhandeling waarin hy ondersoek instel na die verskynsels van aparte koerante en/of ekstras vir die “bruin bevolking” in Suid-Afrika, dat daar ’n anti-gevoel teenoor “ekstras” was – veral diegene wat hulself in die hoër strata van die bruin gemeenskap bevind het. Rapport Ekstra is gesien as net dit: ’n ekstra.

Die redakteurs van onderskeidelik Rapport Ekstra, Metro Rapport en Kaap-Rapport: Jacob Rooi, Zelda Jongbloed, Conrad Sidego en Johann Maarman.

Anders gestel, ’n soort bonus vir die bruin leser wanneer hy die koerant koop. Omdat diegene met ’n hoër opvoedingspeil ook blootgestel was aan die minderwaardige onderwys en al die ander struikelblokke van apartheid, was dit vir hulle ook in ’n sekere sin ’n geval van stroom-op swem (gesien teen die agtergrond van al die hindernisse van apartheid) totdat hulle hulself bewys het. En soos Mohamed dit verwoord het, dit was in dáárdie proses van stroom-op swem dat ’n mens apartheid in al sy lelikheid aan eie liggaam gevoel het. Dit het nuwe bewuswordings, nuwe sensitiwiteite en ’n al hoe groter strewe na geregtigheid, gelykheid en vryheid gebring.

Rapport Ekstra moet dus gesien word teen die agtergrond waarin hulle gefunksioneer het. Soos die vermaarde onderwysman Franklin Sonn dit jare terug gestel het: “Binne die samelewing staan mense op afsonderlike platforms, omdat hulle daartoe gedwing is. So is dit in die kerk, die onderwys, sport, politiek, woongebiede en so meer. Dié toestand is hoegenaamd nie aanvaarbaar nie, maar ons is in dié basisse gedryf . . . Ekstra-kerke, Ekstra-skole, Ekstra-woongebiede, Ekstra-alles as u wil. En ons is gedwing om daarin te opereer.”

Dit was dus onvermydelik dat Rapport Ekstra se joernaliste die skerp kant van apartheid eerstehands ervaar. Conrad vertel hoe hy as koerantman op pad na Kimberley was om ’n politieke gesprek te dek. Die township-hotel was vol, maar daar is inderhaas vir hom ’n permit gereël om in die Kimberley-hotel op die dorp te slaap. Wat egter nagelaat is, is dat die permit eers geldig ná middernag was. Ná vele teëstribbeling moes Conrad in sy Volkswagen Kewer slaap totdat die klok een minuut oor middernag geslaan het.

’n Hele paar jaar later sou hierdie verhaal hom weer afspeel toe ek as joernalis saam met die fotograaf Deon Valentine na Strydenburg in die Noord-Kaap was waar 17 plaaswerkers in ’n ongeluk dood is. Daar was nie ’n township-hotel nie, maar ons kon lêplek kry in die dorp se hotel. Met die aankoms was daar verwarring, want daar is aangeneem dat Valentine ’n Engelse van is en daarom wit sou wees. In my geval is my van as Martins pleks van Maarman aangeteken. Dit het ’n konsternasie veroorsaak toe ons aanmeld by die ontvangstoonbank en ontdek is ons is bruin. Oproepe na ons kantoor in Kaapstad is gemaak, maar die hoteleienaar het viervoet vasgesteek dat hy geen “kleurlinge” in sy hotel gaan toelaat nie. Nie eens ’n oproep na Pretoria om ’n permit te bekom, kon die hoteleienaar oorreed nie. As “toegewing” was die eienaar bereid om vir ons kaas-en-tamatie-toebroodjies in “lunch-wrap” te verpak. Ons het nie sy aanbod aanvaar nie.

Rapport Ekstra het met reëlmaat die wrede ongeregtighede van apartheid ontmaster. Hierdie berig deur Conrad Sidego kom uit 1978.

Waar ons Rapport Ekstra-joernaliste wel toegelaat is om te oornag in “wit” hotelle, is dit vir ons so onaangenaam moontlik gemaak. Ek onthou die aand op Lichtenburg toe ek saam met die WP Liga-span gereis het vir hul Lionbeker-wedstryd teen Verre Noord. Weer was dit ’n obskure dorpshotel waar ek en die gemengde WP Liga-span tuisgegaan het.

Terwyl spelers besig was met hul Vrydagaand-spanpraatjie het ek maar onder in die kroeg ’n paar kappe gaan maak. Dit was van korte duur. Die manne by die snoekertafel het nie gehou van wat hulle sien nie.

Ek is met ’n snoekerstok op die skouer getik en gevra wat ek dan nou eintlik in die “blanke” kroeg soek.

Ek het mooi verduidelik dat ek hier saam met die span was en in my voorbarigheid het ek nog aangebied om vir die man met die snoekerstok in die hand vir ’n bier te skiet. Maar sy antwoord was kort en kragtig: “Hotnotjie, laat jou voete raas!”

Omdat ek nie geweet het wat “laat jou voete raas” beteken het nie, het ek maar net omgedraai en weer aan my bier gesuig. En toe eensklaps ’n hou met die snoekerstok gekry en ’n ses-stuks wat lus was om appels met my te swaai.

Ek het blitsvinnig verdwyn en ingestorm by die spanpraatjie en verduidelik wat pas gebeur het. Koelkoppe het daardie aand ’n rassegeveg verhoed.

Omdat dit ’n klein hotel was met net een verdieping hoog, kon jy met ligte uit hoor hoe daar met die snoekerstokke gekap is teen die hotel se plafon. Van slaap was daar die Vrydagaand maar weinig.

1978

Maar Rapport Ekstra was lank voordat diversiteit ’n modewoord sou word in ons bestaanswêreld een van die voorlopers. Dis die plek waar joernalistieke ebbehout en ivoor mekaar ontmoet het. In Rapport Ekstra se dae was daar soms meer wit as bruin joernaliste! Ons was ook polities bedraad. Lank voordat Suidwes-Afrika hernoem is na Namibië het Ferdinand Tjombe al gepraat van Namibië. Mohamed het weer in sy hele tesis “bruin” in aanhalings geskryf, terwyl Zelda Jongbloed altyd gepraat het van die “regime”.

Wat sirkulasie betref het Rapport Ekstra geil tye beleef. Ons het by twee geleenthede – een in die 1970’s en een in die ’80’s – die magiese 100 000-sirkulasiekerf verbygesteek wat natuurlik die algemene sirkulasiesyfer van Rapport tot ongekende hoogtes laat klim het. Met die laaste 100 000 was dit Izak de Villiers wat die uitdaging aan ons gestel het: Verkoop 100 000 vir meer as ses maande agtereenvolgens en ons stuur Rapport Ekstra se redaksie Mauritius toe. En toe doen ons dit wraggies.

Izak het woord gehou, maar op die ou end het die meeste van ons redaksie maar die kontant verkies eerder as die vakansie. Elkeen van ons het toe R6 000 (belastingvry) ontvang. Dit was destyds ’n kleinhuisie vol geld en ek kon daarmee my huis se fondasie gooi.

Rapport Ekstra was dus soms in direkte konfrontasie met die regering van die dag en dit het tot spanning gelei tussen Rapport-base wat Sondagoggende uit hul kooi wou val oor ons berigte en kommentaar.

Ons was nooit ’n klakkelose naprater van die hoofkoerant se redaksionele beleid, wat grootliks pro-regering en pro-NP was, nie, maar het toegetree tot die groter struggle om politieke beregtiging. Die verskillende bruin redakteurs het die koerant se rol nie net gesien as ’n sirkulasiebouer nie, maar ook as instrument om politieke bewustheid te skep, om vir gemeenskappe rolmodelle te bou en om ’n nuwe geslag bruin intellektuele op die terrein van die openbare diskoers te vestig.

So byvoorbeeld is ek verkla deur die Arbeidersparty by Ed Linington (destydse persombudsman) omdat ek dit durf waag het om na Ashley Kriel, wat deur die polisie doodgeskiet is, te verwys as ’n “ANC-vegter” en nie as ’n “ANC-terroris” nie soos genl.maj. Leon Mellett, segsman van die polisie, hom in ’n verklaring genoem het.

Chris Moolman wat in die ’90’s redakteur was van Rapport, wou een Saterdagoggend ’n hoofartikel skryf vir Rapport Ekstra om die bruin mense aan te moedig om te gaan stem. Die “spesiale hoofartikel” het Zelda rooi laat sien, want sy het geweet dit sou oorhel na die Nasionale Party. Sy het vasgeskop en soos die ongeluk dit wou hê moes ek toe die Saterdagoggend instaan vir Zelda. Haar opdrag was dat ek nie moet toelaat dat Moolman se hoofartikel in Rapport Ekstra verskyn nie. Moolman was briesend toe hy hoor ons gaan dit nie gebruik nie, maar ná ’n toutrekkery het Zelda die ronde gewen.

Toe Nelson Mandela uit die tronk vrygelaat word, was sy woorde aan Zelda. “Is jy Zelda? Dankie vir die rol wat Rapport Ekstra gespeel het in die struggle. Ek lees maar swaar Afrikaans, maar ek het julle koerant op die eiland [Robbeneiland] gelees en waardeer hoe julle dit gedoen het.” Vir ’n beter getuigskrif kon die koerant nie gevra het nie!

Rapport Ekstra en later in die gedaante van Rapport Metro en Kaap-Rapport het die joernalistiek en Media24 met onderskeiding gedien. Hulle het hul doel gedien en met gellings sweet onbetwisbaar help gestalte gee aan ’n oop en nuwe Suid-Afrika.

Rapport is vandag 50. Rapport Ekstra se manne en vroue soos Conrad Sidego, Mohamed Shaikh, Lionel Jack, Dawid van Wyk, Ferdinand Tjombe, Zelda Jongbloed, Jack Lestrade, Sharief Jaffer en Deon Valentine was die grondleggers. Hulle sou vir seker vandag saam hiep-hiep-hoera geskree het.

*Maarman was die vierde redakteur van Rapport Ekstra en was ook senior assistentredakteur van Rapport.

Meer oor:  Conrad Sidego  |  Zelda Jongbloed  |  Rapport50
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.