Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Stryd van ’n vrou wat man geword het

Daar is gevolge wanneer ’n ‘transitioner’ van plan verander, skryf Inge Kuhne.

Keira Bell Foto: Instagram

Puberteit was ’n nagmerrie vir Keira Bell. Haar ma was ’n alkoholis. Keira was angstig en depressief. En sy het ongemaklik gevoel in die vroulike lyf waarin sy gebore is.

Om te begin menstrueer was vir haar onhoudbaar. Sy wou nie haar groeiende borste hê nie. Haar lyf was dié van ’n dogter, maar in haar hart was sy ’n seun.

Keira het in Engeland grootgeword waar die nasionale gesondheidsdiens behandeling toeganklik maak vir transgender mense. Sy is verwys na die Tavistock-kliniek se Gender Identity Development Service (Gids) en teen die tyd dat sy 16 was, het sy puberteitsonderdrukkers, sogenaamde “puberty blockers”, begin gebruik. Dit is hormoonbehandeling wat die natuurlike proses stopsit om die geslagseienskappe van jou biologiese of geboortegeslag te ontwikkel.

In Keira se geval het die borste reeds begin vorm voordat haar behandeling begin het, so op 20 het sy ’n dubbele mastektomie ondergaan.

Dit sou die einde wees van haar pad van geslagsverandering. Sy kon haar geboortegeslag agterlaat en haar lewe voortsit as die jong man wat sy gevoel het sy behoort te wees.

Kinders in Swede by wie genderdisforie gediagnoseer is, het in tien jaar met 1 500% toegeneem.

Dit is inderdaad die beste uitkoms vir ’n geval waar iemand se biologiese geslag nie klop met die geslag waarmee hulle gemaklik is nie – in die mediese wêreld bekend as genderdisforie (gender dysphoria).

Maar Keira se verhaal was op die punt om ’n dramatiese draai te loop.

Keira is ’n “detransitioner”, ’n konsep wat nog so min hier plaaslik ter sprake gekom het dat daar in geen woordeboek ’n Afrikaanse woord daarvoor bestaan nie. Danksy omstrede gevalle soos Keira s’n elders in die ontwikkelde wêreld het dit egter al omgangstaal geword in Engels. Kortom: Keira het van plan verander. Sy wou weer ’n vrou wees.

Sy het Tavistock hof toe geneem, nie om skadevergoeding te eis nie, maar om ’n hofbevel te kry wat die organisasie sou dwing om voortaan anders om te gaan met gevalle soos hare.

Keira beskuldig Tavistock daarvan dat sy by hulle geslagsveranderings­behandeling gekry het sonder dat hulle behoorlik seker gemaak het dit is in haar beste belang en dat sy inderdaad transgender is. Noudat sy terugdink aan haar jeug, sê sy, dink sy daar was nooit iets fout met haar liggaam nie. “Ek was net verlore en sonder behoorlike ondersteuning. Om van geslag te verander het my ’n plek gegee om nog verder van myself te ontsnap. Dit was ’n tydelike oplossing.”

Sy het uiteindelik tot die besef gekom dat sy, ondanks die puberteitsonderdrukkers, die testosteroon waarmee sy van haar 17de jaar af behandel is en die chirurgie, eerder vrou as man wou wees. In haar manlike lyf het sy meer “verlore, geïsoleerd en verward gevoel” as voor die oorgang, het sy vir die hof gesê. In haar eie woorde, sy het vir haarself begin lyk soos ’n “vrou met ’n baard”.

Om van geslag te verander .?.?. was ’n tydelike oplossing.

Die gevolge van die “fout” is verreikend en diep persoonlik vir Keira, wat danksy die behandeling gesigshare ontwikkel en ’n dieper, manlike stem het.

Die nadraai van Keira se ervaring kring egter uit na alle Britse kinders met genderdisforie vir wie die vooruitsig van puberteit in die “verkeerde geslag” angswekkend is.

Die hof het Keira in Desember gelyk gegee en aanbeveel dat Tavistock alle hormoonbehandeling aan kinders onder 16 staak. ’n Kind jonger as 18 kan nie ten volle die betekenis verstaan van onvrugbaarheid en die moontlike verlies aan seksuele funksionering wat hormoonbehandeling op ’n vroeë ouderdom kan meebring nie, het die hof gesê. Tavistock het intussen toestemming gekry om teen die uitspraak te appelleer.

Die publiek is erg verdeeld oor die hofuitspraak. Kritici van die gebruik van hormone vir kinders sê hulle is verheug dat kinders nie meer “oorhaastig die lewensveranderende en onomkeerbare behandeling sal kry nie”; terwyl transgenderaktiviste sê dis rampspoedig vir tieners wat gender­disforie ervaar. Om sulke jong mense te dwing om deur puberteit te gaan en die liggaamlike veranderinge te beleef van ’n geslag wat hulle verwerp – soos ereksies, menstruasie en borsvorming – is onmenslik en kan party van hulle tot selfdood dryf, word gewaarsku.

Daarenteen, redeneer die anti-hormoon-kampvegters, is sommige kwesbare kinders soos Keira se behoefte om van geslag te verander soms eintlik ’n simptoom van onderliggende emosionele nood.

Een van die betoë wat aan die hof voorgelê is teen hormoonbehandeling om puberteit te onderdruk is dat geslagsverwarring dramaties toegeneem het in die laaste dekade. Tavistock het in 2009 97 pasiënte behandel vir genderdisforie en in 2018 2 519.

Volgens die Sweedse gesondheidsowerhede het die getal kinders in dié land by wie genderdisforie gediagnoseer is, in tien jaar (voor 2018) met 1 500% toegeneem. Ook in Australië, Amerika en Engeland het die vraag na geslagsveranderingsbehandeling onder tieners skerp gegroei.

Die debat wentel om die vraag of transgender tieners meer vrymoedig is om daaroor te praat omdat hulle weet dat hulle simpatiek gehoor sal word en dat hul lyding met mediese ingryping verlig kan word en of dié toename net ’n aandagsoekery is deur kinders wat “deur ’n fase gaan”.

Een van die kwessies wat gedurig opduik, is of dit moontlik is dat ’n kind tot met die aanvang van hul tienerjare géén teken van genderdisforie toon nie en dan skielik sê hulle is transgender.

Prof. Lisa Littman van die Brown-University in Amerika het haar die woede van transgenderaktiviste op die hals gehaal vir navorsing wat daarop dui dat dit in Amerika meestal meisies en minder dikwels seuns is wat tekens van genderdisforie toon en dat groepsdruk partykeer ’n rol speel in wat sy noem “rapid-onset gender dysphoria” (ROGD). Trans-aktiviste verwerp nie net haar bevindings nie, maar ook die term ROGD, wat sy gebruik vir jong mense wat eers in hul tienerjare besef hulle is transgender. In die Bell vs. Tavistock-hofsaak het dit wel geblyk dat die verhouding tussen seuns en meisies wat met genderdisforie by Tavistock aangeklop het tussen 2011 en 2019 verander het van 50/50 tot 76% meisies.

Daar is nie eenstemmigheid oor die redes hiervoor nie.

Trans-aktiviste glo dat gender vloeibaar kan wees. Die feit dat iemand nie van kleins af tekens van genderdisforie getoon het nie, of dat sommige mense teruggaan na hul geboortegeslag, kan nie as die enigste maatstaf gebruik word om die pad te bepaal vir alle ander transgender mense nie, het dr. Sahar Sadjadi, ’n mediese antropoloog en kenner van transgender-kwessies, in Januarie aan The New Yorker gesê.

“Die vraag of hierdie mense gaan ‘deurdruk’ kan tog nie die kern van die debat wees nie. Gender verander met ouderdom. Die gender van ’n 50-jarige vrou is nie dieselfde as dié van ’n vyfjarige dogter nie. Dis nie die einde van die wêreld as iemand later besluit om terug te verander nie.”

Gevalle soos Keira s’n is seldsaam. Navorsing in Nederland, waar puberteitsonderdrukkers in die 1990’s vir die eerste keer gebruik is, het gewys meer as 98% van tieners wat puberteitsonderdrukkers begin gebruik het, het gekies om ook hormoonaanvullings van die teenoorgestelde geslag te gebruik.

Vir sommige stemme teen hormoonbehandeling is dit weer júis kommerwekkend dat pasiënte selde omdraai nadat hulle die pad van geslagsveranderingsbehandeling begin stap het. Hulle glo dat puberteitsonderdrukkers die begin is van ’n eenrigtingpad van waar dit baie moeilik is om af te wyk. En dít, sê hulle, is ’n besluit wat tieners nie toegerus is om te neem nie.

Wat is in ’n naam?

Tot in 2013 is transgender mense gediag­noseer met ’n sielkundige toestand genaamd gender-identiteitsversteuring. Deesdae aanvaar medici dat om transgender te wees nie ’n psigiatriese toestand is nie. Hulle gebruik die terme genderdisforie of gender-inkongruensie om die ongemak en emosionele pyn te beskryf wat mense ervaar as hul geboortegeslag nie ooreenstem met die geslag waarmee hulle identifiseer nie, verduidelik Ron Addinall. Dit word beskou as ’n tussentydse diag­nose, ’n situasie wat opgelos word en dus nie meer bestaan nie as die persoon in staat gestel word om te identifiseer as die geslag wat hy of sy wil wees. Daar is drie opsies vir ’n pasiënt wat genderdisforie ervaar:

  • Sosiale oorgang, wat byvoorbeeld behels dat die persoon ’n ander naam en haarstyl kry, klere van die ander geslag dra en leef as die ander geslag.
  • Hormoonbehandeling (ook genoem gender-bevestigende behandeling). Dit sluit in puberteitsonderdrukkers (puberty pausersof puberty blockers, onderskeidelik deur mense wat vír en téén dié behandeling is) en hormone van die ander geslag (byvoorbeeld vroulike hormone vir iemand wat as seun gebore is, maar as vrou wil leef).
  • Chirurgie. Volgens dr. Elna Rudolph is dit ’n baie klein persentasie van transgender mense wat kies om hul genitalieë chirurgies te verander, deels omdat dit duur is, maar ook omdat dit so ingrypend is en weens vrese oor die sukses van dié operasies. Dubbele mastektomieë word egter meer gereeld gedoen.

LEES OOK:

Meer oor:  Brittanje  |  Transgender  |  Genderdisforie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.