Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Studente is eintlik vir regering vies

Die leër moet op kampusse ontplooi word, sê Sara Gon van die Instituut vir Rasseverhoudinge aan Hanlie Retief.

Foto:

Staan ons op die drumpel van ’n groter, landwye onrus? Nee, ek is hoopvol. Suid-Afrikaners is verenig in hul griewe teenoor die regering en swak landsbestuur. By universiteite word die narratief gedryf deur ’n woede oor studente se frustrasies dat die onderwysstelsel hulle in die steek laat.


So, wat is nodig om wet en orde op kampusse te herstel?
Daar’s twee opsies: Ontplooi die polisie en leër in groot getalle. Dit is drasties, maar ’n gepoer-poer met klein getalle polisielede en veiligheidsmense werk duidelik nie.

Die leër hoef nie soseer op te tree nie; hulle is nie veel beter opgelei as die res nie, maar hul teenwoordigheid – ’n Cass­pir, Ratel en ’n paar ouens in kamoefleerdrag – behoort sekuriteit aan die veiligheidsmense te bied.

So nie moet ons universiteite sluit, ­tensy ’n ooreenkoms nou vinnig bereik kan word.


Is die onluste spontaan of sit iets anders hieragter? Dit word gedryf. Daar’s wel spontane oomblikke. Maar wat afwesig is, is intelligensie, hetsy van die polisie of die intelligensiedienste oor die leiers wat dié proteste aanhits. Studentebewegings en politieke groeperings op die kampusse moet ondersoek word. Kom ek stel dit so: Hulle het hul plig versaak om in dié soort konfrontasie te gaan sonder die nodige voorafkennis. Dis immers hoe samelewings moet funksioneer om konflik behoorlik te bestuur.


Wat sit daaragter? Benewens studente- en politieke groeperinge op kampusse, moontlik ’n groter groep agtergeblewe, verontregte jong mense wat hulle steun, asook akademici wat die linkse narratief verder druk.

Kan dit versprei na skole? Dit is interessant dat dit nog nie gebeur het nie. Dalk bloot weens taktiese redes: By universiteite kan groter impak gemaak word, want al is dit openbare instellings, word dit grootliks privaat bestuur. Skole is meer divers, kleiner en makliker om te
polisieer.

Hoe het ons hier beland? Universiteite is geneig om oortegemoetkomend as instellings te wees, met ’n effens linkse slag­offersimpatieke houding teenoor studente. Hulle besef nie in die kommersiële buitewêreld kan jy nie onderhandel oor iets wat jy in elk geval nie kan lewer nie.

Hulle het toegelaat dat hul RhodesMustFall-onderhandelinge oorgly in FeesMustFall. Die probleem? Omdat die universiteite nie kan gehoor gee aan die eise nie, kan die onderhandelinge nie slaag nie.
En die studente se eise hou aan verander. Daar is selfs nou sprake van grondeise? Ja. Hulle is vir die regering kwaad, maar rig hul woede op die universiteite. Hulle verwerp die universiteite se toegewings, want hulle is desperaat vir dialoog, hulle wil die momentum aan die gang hou.

Dié week se halfkaal vroue by Wits – hoe hanteer die polisie dit sonder om beskuldig te word van seksuele teistering? Dit is slim, maar onwaardig en behoort ten sterkste veroordeel te word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.