Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Studente-smeltkroes
Die Rhodes-standbeeld wat van die kampus van die Universiteit van Kaapstad verwyder is nadat studente teen dié “sigbare simbool van kolonialisme” betoog het. Foto: Lisa van Deventer

Die frase “die dekolonisering van universiteite” word gereeld gehoor wanneer studente betoog. Wat beteken dit? Sabelo J. Ndlovu-Gatsheni en Everisto Benyera gee ’n antwoord uit die hoek van die studente.

Die #RhodesMustFall- en #FeesMustFall-beweging is die manier waarop studente uiting gee aan ’n diepliggende probleem waarmee die hele postkoloniale Afrika vandag spook.

Die feit dat studente steeds teen sigbare simbole van kolonialisme en apartheid en vir “gratis onderwys” veg, getuig van die mislukking van dekolonisering en demokratisering.

Die beste manier om die ­wese van hierdie struggles te verstaan, is om dit te sien teen die agtergrond van ’n breër, wydlopende onvergenoegdheid waardeur die moderne wêreld gekonfronteer word, want selfs in Europa en Amerika veg studente vir gratis onderwys.

Simbole van kolonialiste en slawehandelaars is oor die res van die wêreld heen onder ­beleg.

Saam beskou is die MustFall-beweging ’n aanklag teen ’n spesifieke Noord-Europese en Amerika-sentriese beskawing wat Aimé Césaire reeds in 1955 in sy Discourse on ­Colonialism akkuraat as dekadent, siek, sterwend en onverdedigbaar beskryf het.

Wat moet val, is ’n “beskawing van die dood” wat Julia Suárez-Krabbe ontleed het in haar onlangse boek Race, Rights and Rebels – ’n beskawing wat stelselmatig en doelbewus ’n beeld van swart mense geskep het as mindere mense wat net goed genoeg was vir goedkoop arbeid in ’n wêreld wat deur rassekapitalisme ­oorheers is.

Die studente sit die stryd voort waar die antikoloniale aktiviste opgehou het en verklaar luid en openlik dat hulle siek en sat vir kolonialisme is.

Cecil John Rhodes het nie net kolonialisme en rassisme verteenwoordig nie, maar ook, soos treffend verwoord is deur Njabulo Ndebele, skrywer en kanselier van die Universiteit van Johannesburg (UJ), “the uncivilised that is buried ­deeply in the heart of the ­self-proclaimed civilised”.

Die Europeërs se onbeskaafde streep het neerslag gevind in hul gebruik van vuur om biblioteke wat deur ander gebou is, af te brand.

Apartheid-kolonialisme het die beskawing afgebreek deur moord op ander rasse, die vernietiging van bestaande kennis, moord op ander tale en die afdwing van patriargie.

Prof. Sabelo J. Ndlovu-Gatsheni is verbonde aan die Change Management Unit (CMU) by Unisa en dr. Everisto Benyera is ’n kontraklektor in die departement politieke wetenskappe aan dieselfde universiteit. Albei is lede van die Africa ­Decolonial Research Network (ADERN).

Dit is dus geen wonder dat die beroepe vir die val van neo-apartheid, Eurosentrisme, patriargie, onderwys as ’n handelsproduk, universiteite as korporatiewe instellings, korrupsie en so meer aan die kern van die MustFall-beweging is nie.

Hierdie is dele van ’n stelsel wat nie in afsondering ontleed moet word nie. Ons sal nooit die bos sien as ons te veel op die bome konsentreer nie.

Die regering en universiteite kan nie vir hulself lieg deur te ontken dat die studente gepraat het nie!

Ons moet let op wat Sabelo J. Ndlovu-Gatsheni as die “ryk studenteargief” beskryf – wat bestaan uit liedjies en danse, graffiti, toesprake, plakkate, blogs, artikels in die media en memorandums.

Dit bestaan ook uit baie spesifieke aksies van studente, wat die gebruik van vuur om biblioteke en ouditoriums af te brand, insluit.

Daar is baie uit hierdie ­argief te leer:

  • Dat #FeesMustFall teleurstelling verwoord met die gebrek aan werklike dekolonisering en demokratisering wat veronderstel was om gratis, ­relevante onderwys van ­gehalte te bied.

Dit ontbloot die perke van hierdie valse beloftes. Hierdie beweging gaan derhalwe oor ’n produk wat nié gelewer
is nie.

In ander lande soos Zim­babwe en Ghana is hierdie produk wel gelewer, maar toe gestaak.

  • Die ironie van die nasionale ontwikkelingsplan se belofte van ’n kennisgedrewe gemeenskap in ’n staat wat sy siel aan neoliberale kapitalisme verkoop het en wat gekant is teen enige ernstige belegging in onderwys en die verlangde kennisgedrewe toekomstige samelewing.
  • Dat #FeesMustFall ’n roerende beroep vir die dekolonisering van die begroting is.

In die VSA behels dié beroep om betrokkenheid by oorloë in die Midde-Ooste te staak en in onderwys te belê.

Hier in Suid-Afrika behels dit om korrupsie stop te sit en in onderwys te belê.

In Zimbabwe is dit om ’n einde te bring aan die belegging in die beskerming van die regime, oftewel Mugabeïsme, en in onderwys te belê.

  • Dat die toekoms nie verpand kan word aan neolibe­rale rassekapitalisme waarin alles, met inbegrip van die ­lewe self, tot ’n kommoditeit gereduseer word nie.

Die somtotaal van die MustFall-diskoers is ’n aanduiding van die klaaglike mislukking van dekolonisering, demokratisering en neoliberalisme.

Die MustFall-beweging is deel van swart mense se ­strewe om hul eie toekoms te ontwerp – ’n toekoms wat vry is van die verstrengeling van die globale koloniale vorme waarin mag gegiet word.

Daarom moet almal wat verbind is tot die toekoms waarvoor die studente veg, as ’n noodsaaklike voorvereiste om mee te werk aan verandering, hulself bevry van rasionaliteit en begin redeneer.

“Rasionaliteit” is hier ’n vooraf verpakte en geslote denkstelsel wat hoogs krities en eintlik fundamentalisties is.

“Redenering” is ’n lewende gedagte wat altyd ’n oop einde het en empaties is jeens enige begrip van die logika van die huidige struggles.

Die moderne wêreld het meer redenering en minder ­rasionaliteit nodig: Rasionaliteit is egosentries, Cartesiaans en gegrond op vooropgestelde denke en beginsels.

Diegene van ons wat rasionaliteit byvoorbeeld gebruik om die afbrand van biblioteke te verklaar, verval in rigiede en simplistiese wettiesheid, ­versinde moralisme en afgekampte konstitusionalisme, want ongeregtighede word deur die gebruik van rasionaliteit gekonstitusionaliseer.

Met redenering, daarenteen, word ’n poging aangewend om die omstandighede te verstaan wat sou veroorsaak dat iemand ’n biblioteek afbrand.

Redenering beteken ons kan sekere idees verleer en onsself oopstel om opnuut te leer. Kom ons redeneer as deel van ons poging om te begryp wat om ons gebeur.

As ons rasionaliseer, verkoop ons redenering uit en dwing ons die hede terug na die verlede. Ons omhein die toekoms deur die teenswoordige en word medepligtig aan die handhawing van ’n status quo van ongeregtigheid.

Hierdie is ’n besliste toe­trede tot die akademie van ­studente wat die afstammelinge is van die wesens wat verkneg, gekoloniseer, verontmenslik en in rasse geklas­sifiseer is.

Dié studente verkondig dat hulle die erfgename van ­geldige kennisstelsels is.

Dit vereis onvermydelik van almal van ons om die hele idee van universiteite, kennisleer, kurrikulums, institusionele kultuur en pedagogie te ­verander.

Sabelo J. Ndlovu-Gatsheni Foto:
Everisto Benyera Foto:

Prof. Sabelo J. Ndlovu-Gatsheni is verbonde aan die Change Management Unit (CMU) by Unisa en dr. Everisto Benyera is ’n kontraklektor in die departement politieke wetenskappe aan dieselfde universiteit. Albei is lede van die Africa ­Decolonial Research Network (ADERN).

Meer oor:  Politiek  |  #Feesmustfal  |  Studentebetogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.