Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Stuit nou orgie van rykdom

Terwyl armes armer word tydens hierdie ekonomiese krisis word rykes ál ryker. Iets gaan meegee, skryf Chris Jones.

Ná ’n onlangse gesprek met iemand oor die geweldige ekonomiese ongelykheid in Stellenbosch en in ons land, het ek weer gedink aan die boek van die sosiale etikus Miguel A. De La Torre, met die titel Doing Christian Ethics from the Margins (2004). Hy skryf: “Die klaskamer het ’n heel gepaste naam aangesien dit inderdaad ’n kamer van klas is – waarin studente leer tot watter klas hulle behoort en die mag en voorregte van daardie klas leer ken.”

As ’n mens aan die Universiteit Stellenbosch (en elders) kyk na die studente wat in klaskamers sit, sien jy baie duidelik die patrone van ekonomiese ongelykheid en sosiale klas.

Daar is dié studente wat in hul eie motors opdaag met hul skootrekenaars, en dan is daar dié wat met ’n trein of ander vorm van openbare vervoer na die kampus moet pendel.

Daar is ’n duidelike onderskeid tussen diegene wat op of naby die kampus woon en die ander wat reeds douvoordag moet opstaan om betyds by hul klasse te wees. Hulle is dikwels eers skemer of donker terug by hul verafgeleë blyplek om onder moeilike omstandighede, soms by kerslig, te studeer.

Stellenbosch is een van die ongelykste dorpe ter wêreld.

Soms vertel studente jou dat hulle nie klas kon bywoon nie omdat hulle (of hul vriende) daardie spesifieke dag moes kies tussen ’n bord kos of vervoerkoste.

Só ’n stelsel dien nie die mense van ’n land nie – waar één heeltemal te veel het en ander skaars kan oorleef. En as die regering van die dag boonop skuldig is aan erge wanbestuur en korrupsie, spreek dit van ’n gebroke ekonomiese stelsel en sosiale kontrak.

Stellenbosch is een van die ongelykste dorpe ter wêreld (Armstrong, Lekezwa & Siebrits 2008; Seery & Arendar 2014). Suid-Afrika, soos ons weet, het wêreldwyd een van die hoogste Gini-koëffisiënte, wat inkomsteongelykheid meet. Hierdie ongelykhede kom wêreldwyd voor.

In die VSA het The Washington Post onlangs berig oor die vrygewigheid van die 50 rykste Amerikaners en hul families. Hul gesamentlike netto waarde is sowat $1,6 duisend miljard, en hul skenkings – in elk geval dié wat bekend is – beloop ongeveer $1 miljard.

Dit klink na baie geld, maar vorm minder as 0,1% van hul gesamentlike welvaart.

Dít terwyl die welvaart van Amerika se miljardêrs tussen 18 Maart en 17 Junie 2020 met $584 miljard toegeneem het – ongeveer 20%.

Terwyl die pandemie in inperking sy wurggreep op die wêreldekonomie verstewig het, het die VSA 29 nuwe miljardêrs bygekry . . . en het 45,5 miljoen Amerikaners vir werkloosheidsversekering aansoek gedoen.

Gewone Amerikaanse huishoudings het reeds $6,5 duisend miljard verloor, volgens dié land se sentrale bank. Die vyf topmiljardêrs – Jeff Bezos, Bill Gates, Mark Zuckerberg, Warren Buffett en Larry Ellison – se rykdom het egter met $101,7 miljard of 26% gegroei.

Jerome H. Powell, voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad, het op 10 Junie gesê: “Dit is die grootste ekonomiese skok in die VSA en in die wêreld in menseheugenis. Ons het gegaan van die laagste werkloosheid in 50 jaar na die hoogste vlak in 90 jaar, en dít binne net twee maande.”

Volgens Frank Clemente, uitvoerende direkteur van Americans for Tax Fairness (ATF), toon hierdie “orgie van rykdom” hoe fundamenteel gebrekkig die ekonomiese stelsel is.

“Binne drie maande het sowat 600 miljardêrs hul rykdom vermeerder met ’n bedrag wat veel groter is as wat die nasie se goewerneurs sê hul deelstate in fiskale bystand benodig sodat hulle kan aanhou om dienste aan ongeveer330 miljoen inwoners te lewer.”

Hierdie miljardêrs se welvaart het twee keer soveel toegeneem as wat die federale regering in eenmalige tjeks aan meer as 150 miljoen Amerikaners uitbetaal het.

Die markte het weliswaar gestyg, maar sekere individue se fortuine het aansienlik skerper as die mark gestyg.

Só het party miljardêrs se welvaart toegeneem in die drie maande sedert 18 Maart: Jeff Bezos van Amazon met $36,2 miljard; Mark Zuckerberg (Facebook) met $30,1 miljard; Elon Musk (Tesla en SpaceX) met $14,1 miljard; die twee Google-stigters Sergey Brin en Larry Page met $13,9 miljard en $13,7 miljard; Steve Ballmer (Microsoft) met $13,3 miljard; die voormalige New Yorkse burgemeester en sakeman Michael Bloomberg met $12,1 miljard; Bill Gates (Microsoft) met $11,8 miljard; die beleggingsghoeroe Warren Buffett met sowat $7,7 miljard.

Terug in Suid-Afrika: heelwat voorbeelde van “ekonomiese versteurdheid” sou genoem kon word, maar die een wat spontaan na vore gekom het, is Naspers, wie se groep- uitvoerende hoof die vorige jaar vir hulle (skynbaar) R276 miljoen werd was, terwyl een van Naspers se filiale oorweeg om meer as 500 werknemers af te lê.

Adam Smith, die vader van die moderne vryemarkekonomie, skryf in sy boek The Theory of Moral Sentiments (1759): “Man naturally desires not only to be loved, but to be lovely”.

Om “lovely” te wees, beteken om menslik en medemenslik te wees.

Sonder etiese en morele deernis, liefde en respek vir menswaardigheid, sal hierdie erge ekonomiese en maatskaplike breuklyne moeilik verbeter word.

Iets sal drasties gedoen moet word!

* Dr. Chris Jones is verbonde aan die eenheid vir morele leierskap by die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Chris Jones  |  Rykdom  |  Ekonomie  |  Ongelykheid  |  Armoede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.