Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Stuur VSA af op grondwetlike chaos en bloed op die strate?

Pres. Donald Trump het die laaste tyd herhaaldelik die moontlikheid geopper dat hy nie ’n nederlaag by die stembus sal aanvaar nie. Leopold Scholtz vra wat dit vir die verkiesingsveldtog en die Amerikaanse demokrasie beteken.

Die Amerikaanse president Donald Trump aan die woord op ’n perskonferensie by die Withuis. Foto: Bloomberg via Getty Images

Die Amerikaanse verkiesingstelsel is interessant. Die kiesers stem nie regstreeks vir ’n presidentskandidaat nie, maar vir afgevaardigdes na ’n kieskollege, wat dan die president formeel aanwys.

Die getal afgevaardigdes wat ’n deelstaat na die kieskollege kan stuur, is dieselfde as die getal mense wat die staat in die kongres het – twee senatore plus die hoeveelheid lede in die huis van verteenwoordigers. Maar ook hier is sake eienaardig: Die kant wat die meerderheid stemme kry – al is dit maar ’n meerderheid van één – wys ál die afgevaardigdes na die kieskollege aan.

In die Amerikaanse geskiedenis het dit egter al vyf keer gebeur dat die man wat die minste stemme gekry het, tog die Withuis kon betrek.

Meestal werk dit tog min of meer uit; byna altyd word die presidentskandidaat wat landwyd die meeste stemme gekry het tog deur die kieskollege aangewys. In die Amerikaanse geskiedenis het dit egter al vyf keer gebeur dat die man wat die minste stemme gekry het, tog die Withuis kon betrek. Dit was in 1824, 1876, 1888, 2000 (toe die Republikein George W. Bush marginaal minder stemme as die Demokraat Al Gore gekry het), en in 2016 (toe die Demokraat Hillary Clinton byna 3 miljoen stemme, of 2,1 persentasiepunte, meer as Trump gekry het).

Dat Trump vier jaar gelede met ’n minderheidstem in die Withuis aangekom het, het hy destyds toegeskryf aan die feit dat “miljoene” onwettige stemme op Clinton uitgebring is. Hy het nooit enige flenter bewys daarvoor aangevoer nie.

Die Demokraat Hillary Clinton vroeër vanjaar op “Good Morning America”. Foto: ABC via Getty Images

Hy kom nou weer met ’n ander weergawe van dieselfde bewering. Dis volstrek ondenkbaar dat hý – Trump – die verkiesing kan verloor, verklaar hy die laaste dae by elke verkiesingsaamtrek. Die enigste manier waarop die Demokraat Joe Biden kan wen, is deur grootskaalse verkiesingsbedrog.

Eers oor Trump se bewering rakende verkiesingsbedrog van 2016: Die baie konserwatiewe Heritage Foundation het in ’n uitvoerige verslag alle gevalle van beweerde verkiesingsbedrog noukeurig ondersoek, en gevind dat dit in 1 298 gevalle bewys kon word, ’n weglaatbare persentasie. Ook die Brennan Center for Justice het in ’n uitvoerige verslag van 46 bladsye bevind dat bewerings oor kiesersbedrog “grootliks oordrewe” en dat sulke bedrog “buitengewoon seldsaam” is.

Ten slotte: Die komitee wat Trump self aangestel het om kiesersbedrog te ondersoek, het homself in 2018 ontbind nadat hy tot die gevolgtrekking gekom het dat geen bewys daarvoor gevind kon word nie.

Is posstem-stelsel ontvanklik vir bedrog?

Maar goed, dít was toe en nou is nóú. Is daar enige aanduiding van ’n gekierang in die huidige verkiesing?

Alles draai om die kwessie van posstemme. Afhangende van die deelstaat, is daar twee soorte.

’n Verkiesingsveldtogteken vir die Demokrate se presidentskandidaat Joe Biden buite ’n huis in Charlotte, North Carolina. Foto: Getty Images

Die een, waarvan Trump trouens reeds gebruik gemaak het, is waar jy op stemdag nie in jou kiesafdeling kan wees nie (reis, siekte, ensovoorts) en waar jy dus ’n posstem vra en jou stem uitbring.

Die ander een vorm die twispunt. Dit is waar die deelstaat posstembriewe aan almal op die kieserslys stuur. Mense kan dan tuis stem, die koevert met die stem teken, verseël, dit in ’n ander koevert plaas en dit aan die instansies wat die stemme tel, pos.

Weens die koronaviruskrisis, en mense se vrees om die virus op te doen as hulle in lang rye by die stembus skouers met ander mense skuur, is die vraag na posstemme na verwagting dubbel soveel as in vorige verkiesings. Trump-hulle se aanklag is nou dat die stelsel ontvanklik vir bedrog is, en dat die Demokrate dié bedrog wil gebruik om sy verkiesingskanse te kelder.

Hoe geldig is die klag?

Wel, in die voorverkiesings (wat die partye self georganiseer het om hul presidentskandidate aan te wys) is 534 000 stemme verwerp weens foute op die stembriewe of omdat hulle te laat ingestuur is. Dit is maklik ’n vyfde van die totaal.

Dit wys dat die stelsel nie sonder probleme is nie, veral omdat die Trump-administrasie weier om meer geld vir die hantering van soveel posstemme deur die poskantoor te begroot. Dit wys egter ook dat die maatreëls om die integriteit van die verkiesing te waarborg, grotendeels werk.

Hoe ook al, die politieke scenario waarmee talle politieke kenners rekening hou, is die volgende: Omdat peilings wys dat dit oorwegend Demokrate is wat per pos wil stem, is dit waarskynlik dat die tussentydse uitslae van onmiddellik ná die sluiting van die ortodokse stembusse op die aand van 3 November ’n oorwinning vir Trump sal wys.

Joe Biden, die Demokrate se presidensiële kandidaat, by die gedenkdiens vir regter Ruth Bader Ginsburg, voormalige regter van die Amerikaanse hooggeregshof. Foto: Bloomberg via Getty Images

Soos ons vir Trump ken, sal hy onmiddellik op ’n weergalose oorwinning aanspraak maak, terwyl Biden se reaksie sal neerkom op “wag ’n bietjie, nie so haastig nie”.

In die dae hierna kom die ander stemme binne. En as ’n mens op die peilings moet afgaan, gaan Biden Trump verbysteek. Luidens verskeie gemiddeldes van die peilings loop Biden respektiewelik met 7 (RealClearPolitics en die BBC), 7,3 (FiveThirtyEight), en 9 (CNN) persentasiepunte voor.

Bloed op die strate?

Neem in ag dat sommige posstemme reeds uitgebring is. En dat meer as 90% van die kiesers luidens peilings reeds in hul eie gemoed besluit het vir wie hulle gaan stem. Die gevolg is dat die ongekend stabiele syfers wat nou al lank aangeteken word, waarskynlik nie veel tot op stemdag gaan verander nie.

Die verwagting is dat Trump sy ondersteuners sal oproep om op groot skaal op straat te betoog, iets wat die potensiaal van taamlike geweld inhou ...

As ’n mens Trump se dreigemente moet glo, doem hier dus ’n moontlike scenario op wat ’n konstitusionele krisis in die wêreld se oudste demokrasie kan beteken – ’n president wat by die stembus verslaan word, maar wat vasskop en weier om die mag oor te dra.

Die verwagting is dat Trump sy ondersteuners sal oproep om op groot skaal op straat te betoog, iets wat die potensiaal van taamlike geweld inhou, veral as jy kyk na die wilde gewelddadige betogings van linkses in die afgelope weke. Dis ’n ongeluk wat ’n plek soek om te gebeur.

Om eerlik te wees, Hillary Clinton het Biden ook aangemoedig om “onder geen omstandighede ’n nederlaag toe te gee nie”. Dit was taamlik dom, maar die konteks maak duidelik dat haar bedoeling was dat Biden nie moet toegee voordat die finale uitslag bekend is nie.

Trump stel vir regter Amy Coney Barrett voor as sy kandidaat vir ’n nuwe regter in die Amerikaanse hooggeregshof om vir regter Ruth Bader Ginsburg te vervang. Foto: Asahi Shimbun via Getty Images

Trump, word verwag, sal ook ’n hele horde hofsake begin om uiteindelik sy nederlaag te vermy. En dis hier waar sy keuse van ’n nuwe konserwatiewe regter, Amy Coney Barrett, belangrik is.

Dit lýk asof Trump se keuse minstens deels gebaseer is op die hoop dat Barrett, saam met die vyf ander konserwatiewe regters op die hooggeregshof, ten gunste van hom sal beslis. Hy kan natuurlik bedroë daarvan afkom, want ál die regters, met inbegrip van Barrett, is knap regsgeleerdes wat ’n eed sweer om die grondwet te dien, nie Donald J. Trump nie.

Leopold Scholtz Foto: Lerato Maduna

Trump weet ook dat verskeie ander klagte – van verkragting en seksuele aanranding tot belastingbedrog – bo sy kop hang as hy die Withuis verlaat. Dit is nóg ’n rede om ’n verkiesingsnederlaag tot die laaste asemteug te betwis.

Maar goed, die grondwet laat geen twyfel nie. Ás Trump verloor – let op die klem op die ás – hou hy op om president te wees die oomblik as sy opvolger om twaalfuur die middag van 20 Januarie ingehuldig word.

En as daar nog geen wenner van die verkiesing aangewys is nie, moet die kongres die president aanwys. Die kans is oorweldigend dat die huis (waar die Demokrate die meerderheid het) en die senaat (waar die Demokrate ’n goeie kans staan om die meerderheid te kry) Biden sal kies.

Dis nie te sê dat só ’n scenario onafwendbaar is nie. Daar is ’n kleinerige kans dat Trump só oorweldigend kan verloor dat hy maar die veld sal ruim.

Die moontlikheid van ’n grondwetlike chaos – en bloed op die strate – is veel groter.

*Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator wat in Nederland woon. Die menings in hierdie rubriek is sy eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.