Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Stuurman eindelik geëer

Deur ’n lughawe in die Oos-Kaap na Dawid Stuurman te vernoem, word die Khoi-San se droom versterk om hul volledige plek onder die Afrika-son in te neem, skryf Willa Boezak.

’n Bronsbeeld van hoofman Dawid Stuurman wat deel vorm van die Long Walk to Freedom Nasionale Erfenismonument. Foto: FACEBOOK

Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, het op 23 Februarie aangekondig dat Port Elizabeth se lughawe hernoem word tot die Hoofman Dawid Stuurman-lughawe.

Dis egter nie die eerste keer dat hierdie man, ’n ikoon vir die Khoigemeenskap, vereer word nie. Tussen meer as 100 bronsbeelde in die Long March to Freedom Nasionale Erfenismonument staan ook syne – vurig, fier, veglustig.

Ook buite die Khoi-San-gemeenskap gee die DAK-netwerk, ’n niewinsgewende maatskappy, erkenning aan inheemse leiers in die vroeë koloniale tydperk, soos blyk uit die DAK-akroniem: Doman, Autshumao en Krotoa.

So, wie is hierdie Dawid met die Hollandse van?

Mishandel op ’n plaas

Dawid se statuur, ironies genoeg, het eers gegroei ná sy pa, Klaas, se onverwagse sterfte. In die laat 1700’s het die Kaapkolonie snel uitgebrei met Hollandse koloniste, trekboere en Britse setlaars wat al hoe meer grond beset het – meestal met geweld.

Een van die hartseerste hoofstukke in ons land se koloniale geskiedenis het ook in die Oos-Kaap ontvou, naamlik die stelselmatige uitmoor van Boesmans. Ook die Stuurman-familie het hul vrugbare stukkie grond in die Gamtoosriviervallei, die eeue oue woongebied van die Zuurveld-Gonakwa, in 1778 verloor.

Terwyl Dawid as tiener op Johannes Vermaak se plaas erg mishandel is (later geboekstaaf deur Bethelsdorp se sendelinge), het Klaas ’n tolk geword – ’n werk wat hom later goed te pas sou kom.

Wraak gesweer

Ons moenie die destydse, gevestigde sosio-ekonomiese en politieke bande tussen die Xhosas en die Khoi-Khoin onderskat nie. Ondanks struwelinge het wedersydse vriendskappe en ondertrouery tot nuwe, gemengde stamme gelei, soos die Khoi-sprekende Inkwa, Gqunukhwebe en die Gonakwa.

Die Xhosas het reeds van 1779 af verwikkel geraak in versetoorloë teen die koloniste. Khoi-mense was dus in ’n mate daarby betrokke, maar 20 jaar later het Klaas na vore getree as ’n sterk segspersoon.

Hy het die Britse oorname van die Kaap in 1795 as ’n gulde geleentheid beskou om sy mense se griewe op die onderhandelingstafel te plaas.

Die nuwe koloniale owerheid se liberale aanslag was onaanvaarbaar vir die Hollandse koloniste en het trouens ’n rebellie ontketen. Uiteindelik het ook Klaas se diplomatieke gesprekke met die Britse gesant, genl. Thomas Pakenham Vandeleur, misluk. Daarop het Klaas se veelbesproke respons gevolg: “Ons het rustig hier gebly voordat die Hollandse plunderaars ons kom molesteer het. En sal ons dan nie weer rustig lewe as ons maar net in vrede gelos word nie? Ons het baie bloed verloor en daarvoor moet ons wraak neem.”

Vertrouensbreuk

Op daardie dreigende noot het die Derde Grensoorlog, met die hulp van Xhosa-leiers, in 1799 ’n aanvang geneem – ’n sporadiese guerrilla-oorlog wat vier jaar geduur het. Klaas Stuurman was saam met Hans Trompetter en Boezak die hoofleiers en onder hulle Klaas se drie seuns, Dawid, Andries en Bootsman.

Honderde omgekrapte Khoi-plaaswerkers word hul volgelinge, totdat Klaas in 1802 ’n vredesooreenkoms onderteken het waarin ’n stuk grond aan hom beloof is, onderhewig aan sekere voorwaardes.

Boezak en Bovenlander verwerp die aanbod, wat tot ’n vertrouensbreuk tussen die leiers en voortgaande aanvalle lei. Toe Klaas ’n paar jaar later tydens ’n buffeljagtog in ’n fratsongeluk sterf, het die mantel sonder meer volgens Khoi-tradisie op sy oudste seun geval.

Terug na die oergeloof

Dawid en sy klein groepie volgelinge op ’n kleinhoewe het aanvanklik met die koloniale owerheid saamgewerk, maar om verskeie redes het hy later hul argwaan gewek.

Sy geboortejaar is 1773 en met sy toetrede as 25-jarige leier was sy erge mishandeling as jeugdige plaaswerker nog vars in sy geheue. Verder het hy die kapteinskap, wat sedert Jan van Riebeeck se era met ’n amptelike staf aangebied is, botweg geweier.

Aanvaarding sou ’n gewilligheid aandui dat sy manskappe deel kon word van die Kaapse Hottentot-korps wat gedwing is om selfs teen hul eie mense te veg.

Hy het wel, soos sy vader, vriendskapsbande met dr. Johannes van der Kemp, ’n sendeling, gesmee, maar teen 1808 het hy die Christelike geloof verwerp en eerder op sy mense se oergeloof geleun.

Die ergste vir die Kaapse goewerneur was toe die vyandiggesinde Gqunukhwebe-stamhoof, Kungwa, by Dawid aangesluit het.

Die vrees vir nog ’n Khoi-Xhosa-alliansie het gegroei – soos die getalle op Dawid se kleinhoewe naby die Gamtoosrivier. Toenemend is hy in amptelike verslae as ’n skurk, gevaarlik en ’n uitvaagsel gebrandmerk.

Krygskenner

Op 16 Mei 1809 word Dawid en drie ander navolgers saam met sy drie vroue en kinders in hegtenis geneem op grond van hul “agterdogwekkende gedrag.” Een van sy eggenotes was Pule, ’n Xhosavrou.

Sonder ’n verhoor is Dawid in September gevonnis tot strawwe handearbeid op Robbeneiland. Omdat selfs die kinders in tronkselle aangehou is, het een binne drie maande gesterf. Die oorblywende gesinslede is vir nog twee jaar in Kaapstad se selle aangehou.

Intussen het Dawid se volgelinge na Xhosa-land gevlug.

Binne drie maande het Dawid, sy jongste broer, Bootsman, en ander gevangenes in gesteelde bote weggekom. Aan wal verdeel die groepie in twee om gouer te ontvlug, maar Bootsman word in die Langkloof aangekeer en nog een doodgeskiet.

Toe maj. Jacob Cuyler verneem dat Dawid hom in Kaffraria (Transkei) bevind, maak hy in September 1810 ’n aanloklike aanbod aan hom: Sy gesin sou onmiddellik vrygelaat word indien hulle naby ’n Kaapse drosdy ’n tuiste aanvaar en hy sou genoeg geld ontvang om weer te kon boer.

Dawid doen toe presies dit wat die Britse majoor gevrees het, naamlik om sy ervaring as guerrilla-krygskundige met Xhosa-leiers soos Kungwa en Ndlambe te deel. Dit het laasgenoemdes goed te pas gekom tydens die grensoorloë, met Dawid as taktikus. Selfs Khoi-spioene kon hom nie uitsnuffel nie en hy het vir nog sewe jaar daar gewoon.

Sterf in die vreemde

Intussen het die Vierde Grensoorlog in 1812 aangebreek, met Dawid en sy Khoi-krygers as deel van die speerpunt.

Dawid word uiteindelik in 1819 vasgekeer en summier na Robbeneiland geneem. In die vroeë oggendure van 9 Augustus 1820 wys Dawid dat hy ’n ware leier is. Saam met Hans Trompetter en Nxele (beter bekend as Makana) het hulle ene John Bryant, die wag by drie walvisbote, oorrompel vir die ontsnapping van 30 gevangenes.

Toe die ander leiers Bryant wou vermoor, was dit Dawid wat hulle gekeer het. Een boot het egter in die onstuimige golwe naby Bloubergstrand getuimel en Makana het verdrink. Toe Stuurman en Trompetter later weer gevange geneem is, is hy begenadig weens sy weldaad, maar Trompetter is opgehang.

In 1823 is Stuurman en 11 ander op ’n verbygaande boot vol veroordeeldes, die Brampton, na Australië geneem.

Ná ses jaar in aanhouding het hy homself losgewerk met arbeid in ’n militêre barak, waarna sy familie vergeefs met vertoë aan koningin Victoria probeer het om hom terug te bring na Suid-Afrika.

Dawid sterf uiteindelik op 22 Februarie 1830 ’n tragiese dood in Sydney se algemene hospitaal en word in ’n Rooms-Katolieke begraafplaas daar naby begrawe.

Later is die stad se nuwe spoorwegstasie daar gebou en die oorskotte elders geneem. Niemand kon egter sy graf identifiseer nie. Hy is toe in ’n massagraf herbegrawe.

Die langverwagte proses insake die erkenning van Khoi-San-leiers en hul gemeenskappe begin eersdaags.

Die naamsverandering in die Oos-Kaap, waarin hulde gebring word aan Dawid Stuurman, dui aan dat hy vandag as ’n nasionale held beskou word.

Dít versterk die droom van die Khoi-San om hul volle plek onder die Afrika-son in te neem.

Dr. Boezak is ’n oudpredikant, skrywer en direksielid van die DAK-netwerk.

Meer oor:  Dawid Stuurman  |  Willa Boezak  |  Geskiedenis  |  Lughawe  |  Benoeming  |  Grensoorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.