Suid-Afrika se regering waag dit steeds nie om hom uit te spreek teen die vergrype deur die regerende Zanu-PF nie. Liesl Louw-Vaudran meen Naledi Pandor se mond is steeds tot ’n mate oor Zimbabwe gesnoer.

Toe pres. Emmerson Mnangagwa mense tot ’n anti-sanksie-dag opgeroep het, moes hy in Harare in ’n halfleë stadion praat.Foto: AFP
Naledi Pandor kom voor as ’n minister met deernis en integriteit. Tog is sy klaarblyklik genoop om katvoet te wees wanneer dit by ons buurland kom.
Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het Maandag op ’n byeenkoms by die Universiteit van Suid-Afrika gepraat oor hoe Suid-Afrika Zimbabwe kan help om uit die huidige moeras van ekonomiese ineenstorting te kom. Die tema van die debat was “Paaie wat tot ’n voorspoedige Zimbabwe lei”.
Suid-Afrikaanse politici kyk al baie lank eenvoudig anderpad as van die ekonomiese ineenstorting en politieke aftakeling in Zimbabwe gepraat word.
Oor twee kwessies moet ’n mens haar gelukwens. Eerstens het sy ingestem tot so ’n debat met akademici wat nie noodwendig die regering se posisie sal napraat nie. Sy het ook aangedui dat haar departement regtig sal luister en waar moontlik hul raad sal aanvaar.
Tweedens het sy ook nie soos al haar voorgangers van die werklikheid van die krisis in Zimbabwe weggeskram nie. Suid-Afrikaanse politici kyk al baie lank eenvoudig anderpad as van die ekonomiese ineenstorting en politieke aftakeling in Zimbabwe gepraat word.
Pandor het erken dat die situasie haglik is, dat miljoene mense in Zimbabwe nie kos kan bekostig nie, dat diegene wat lewensnoodsaaklike werk doen soos dokters uiters swak betaal word en dat die regering nie basiese dienste lewer nie.

Dit is duidelik dat dr. Naledi Pandor, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, se mond steeds tot ’n mate gesnoer is wanneer dit by Zimbabwe kom. Foto: Theana Breugem
Rug teen die muur
Maar uit haar toespraak blyk dit duidelik dat haar mond, net soos dié van alle ANC-politici, steeds in ’n mate gesnoer is as dit by Zimbabwe kom.
Sy het gepraat oor die komplekse en byna onoplosbare hardnekkige politieke krisis in Zimbabwe wat onlosmaaklik deel van die ekonomiese ineenstorting is. Maar sy het in haar toespraak nie die Zanu-PF en pres. Emmerson Mnangagwa by name genoem nie.
Sy waag dit ook nie om die narratief rondom sanksies teen Zimbabwe te bevraagteken nie.
Volgens haar is die polarisasie van politieke partye in Zimbabwe vir die politieke krisis verantwoordelik. Nie die vergrype van ’n voormalige bevrydingsbeweging wat met sy rug teen die muur staan nie.
Sy waag dit ook nie om die narratief rondom sanksies teen Zimbabwe te bevraagteken nie.
In Augustus vanjaar het die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap besluit dat 25 Oktober ’n anti-sanksiedag oor die hele Suider-Afrika sou wees en dat die streek in solidariteit met Zimbabwiërs die dag moet herdenk. Suid-Afrika het hiermee saamgestem.
Die feite oor die werklike impak van geteikende sanksies teen individue en maatskappye deur die Europese Unie (wat nog net Grace Mugabe op sy lys het) en Amerika, raak verlore te midde van al die fopnuus en propaganda van Zimbabwe se regering.

Liesl Louw-VaudranFoto: Foto24
‘Stille diplomasie’
Die feit bly staan dat Zimbabwe se situasie die gevolg is van politieke vergrype en nie sanksies nie.
Gewone Zimbabwiërs weet dit beter as enigiemand anders. Toe Mnangagwa mense tot ’n anti-sanksie-dag opgeroep het, moes hy in Harare in ’n halfleë stadion praat. Die hele anti-sanksie-veldtog was ’n reuse-mislukking.
Uit haar toespraak het dit geblyk dat Pandor duidelik raadop en gefrustreerd met die situasie in Zimbabwe is.
In die binnekringe word gesê dat Suid-Afrika hard probeer om Mnangagwa en sy aartsvyand, Nelson Chamisa, die opposisieleier, te oortuig om met mekaar te gesels. Dit sal die politieke vyandigheid in die land effens ontlont sodat almal saam die ekonomie kan probeer red.
Maar dit is nog glad nie ’n uitgemaakte saak nie.
Destyds is oudpres. Thabo Mbeki uitgekryt oor sy “stille diplomasie” teenoor Zimbabwe wat alom beskou was as ’n verskuilde manier om Robert Mugabe aan bewind te hou.
Pandor se versigtige woorde rondom “komplekse krisisse” en Zimbabwe se vele “uitdagings” klink maar al te veel na dieselfde stil-stil verskuilde boodskappe aan die bewindhebbers in ons buurland wat duidelik nog steeds hul land die afgrond instuur – lank nadat Mugabe graf toe is.
’n Mens kan net hoop dat haar versigtig trap wel positiewe gevolge sal hê – vroeër eerder as later.