Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Suiker en die Kerkstraat-bomplanter

Op die skrikwekkende toneel van die Kerkstraat-bomontploffing in 1983 het Suiker Britz, toe nog ’n majoor, die liggaam van een van die bomplanters herken en dié belangrike brokkie inligting met die ondersoekers gedeel, skryf Anemari Jansen en Stefaans Coetzee in dié uittreksel uit Suiker Britz: Dossier van ’n Speurbaas.

Op 19 Mei 1983 vertrek die 40-jarige Belgiese burger, Hélène Passtoors, uit Swaziland met ’n roomkleurige 1982-model-Colt Galant. Die Colt is op 19 Junie 1982 op die perseel van mnr. V.A. Sabattier in Sesdelaan, Edenvale, gesteel.

Passtoors se bestemming: Mamelodi, Suid-Afrika.

Die dosent aan die Eduardo Mondlane Universiteit in Maputo, Mosambiek, is blykbaar onbewus daarvan dat die motor wat sy bestuur, in ’n kragtige motorbom omskep is. In ’n brief wat sy twee jaar later skryf, sê sy: “Strictly speaking, I also knew nothing of the car I was driving, but I think you could say I should have known, since I knew car bombs were among the possibilities and that I must have asked questions.”

Passtoors het geleentheid gehad om tydens studiereise verkenningswerk te doen en moontlike teikens vir ANC-aanvalle te identifiseer.

Slegs twee jaar voordat Passtoors die rit vanuit Swaziland na Suid-Afrika onderneem het, is sy deur die African National Congress (ANC) se stafhoof, Joe Slovo, gewerf as lid van die organisasie se militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe (MK). Passtoors se 45-jarige Nederlandse eggenoot, Klaas de Jonge, ook ’n MK-operateur, het al voorheen sendings onderneem, hoofsaaklik om wapens vanaf Mosambiek en Swaziland na MK-selle in Suid-Afrika te smokkel.

Vir MK was wit operateurs soos dié egpaar besonder nuttig in hul offensief teen die apartheidsregering, aangesien hul velkleur dinge aansienlik makliker gemaak het om deur grensposte te reis. Passtoors was boonop besig met haar doktorale studie aan die Universiteit van die Witwatersrand; sy het dus geleentheid gehad om tydens studiereise verkenningswerk te doen en moontlike teikens vir ANC-aanvalle te identifiseer.

Pas nadat die Colt Galant die grens tussen Mosambiek en Suid-Afrika oorgesteek het, het die bestuurder van die pad afgetrek en die motor se Belgiese nommerplate met Suid-Afrikaanse nommerplate vervang. Die motor moes nie onnodig aandag trek nie.

In Suid-Afrika parkeer Passtoors die motor by die Mamelodi-stasie net buite Pretoria. Die bestemming is vooraf deur haar MK-hanteerder, Aboobaker Ismail, aangedui. Ismail was bevelvoerder van MK se spesiale-operasies-eenheid, en sy instruksies was duidelik: Los die motorsleutel in die aansitter en keer per trein terug na Mosambiek.

Gewerskaf onder enjinkap

Hélène Passtoors het drie jaar in die tronk deurgebring vir haar aandeel in die Kerkstraat-bomontploffing van 1983. Foto: Argief

In Umkhonto we Sizwe: The ANC’s armed struggle skryf Thula Simpson dat Freddi Shongwe sy vriend, Jerry Shabangu, by sy huis in Block B 388, Mamelodi, op dieselfde dag – 19 Mei – besoek het. Shongwe wou by sy vriend uitvind waar hy ’n gesteelde voertuig in die hande kon kry, waarop Shabangu hom van ’n adres voorsien het.

Die volgende oggend, Vrydag 20 Mei 1983, skryf Simpson, het Shongwe teruggekeer en aan Shabangu genoem dat hy wel ’n voertuig bekom het, maar dat hy sy vriend se hulp nodig het om die enjinnommers te verwyder. Hy het ook aan Shabangu genoem dat hy die kar vir ’n “groot job” wil gebruik, sonder om enige verdere inligting te verskaf.

Teen ongeveer 11:00 ry Shongwe na Ezekiel Maseko se huis in Block J 2824, Mamelodi. Voor in Ezekiel se erf staan Maseko se kombi geparkeer, en net agter die kombi staan ’n roomkleurige Colt Galant.

Maseko se vrou, Anna, met wie hy reeds 17 jaar getroud was, het later aan Beeld vertel dat sy vanuit die huis opgemerk het hoe haar man en Shongwe met ’n hoekslyper onder die Colt se enjinkap gewerskaf het. Anna het die bedrywighede op die werf met kommer gadegeslaan. Haar man het jare tevore tronkstraf uitgedien vir huisbraak, diefstal en gewapende roof, en sy het om haar kinders se onthalwe gehoop dat hy nie weer by een of ander onderduimsheid betrokke geraak het nie. Net na 15:30 het die mans by die werf uitgery – Shongwe agter die stuur van die Colt, en Maseko agterna in die kombi.

’n Miernes van bedrywighede

Suiker Britz in sy jonger dae. Foto: Argief

Jare later vertel die MK-vryheidsvegter Johannes Mnisi, tydens sy amnestieverhoor voor die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK), dat hy vir Shongwe en Maseko gewerf het om mee te werk aan die Kerkstraat-bomontploffing. Hulle is tydens naweekbesoeke in Swaziland as MK-lede opgelei.

Maseko het die kombi, wat as wegkommotor moes dien nadat die Colt geparkeer is, op die sypaadjie voor die Poyntonsgebou digby Kerkplein getrek. Daarvandaan het hy in Kerkstraat af gestap na die Colt wat voor die Nedbankpleingebou gestaan het. Shongwe het vir hom in die Colt gesit en wag.

Die Nedbankpleingebou het die hoofkwartier van die Suid-Afrikaanse Lugmag op die eerste, tweede en derde verdiepings gehuisves. Die res van die dertien verdiepings is deur burgerlikes gebruik. Op die grondvloer was die Golden Egg-restaurant en ander sakeondernemings geleë. Oorkant die Nedbankpleingebou was die kantore van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) se Direktoraat van Militêre Intelligensie (MI).

Tydens spitstyd was die strate rondom die gebouekompleks ’n miernes van bedrywighede, veral weeksdae rondom 16:30. Lede van die Suid-Afrikaanse Lugmag het ná werk by die bushalte naby die Nedbankpleingebou saamgedrom om busse huis toe te haal. Onder die malende mensemassa wat uit kantore na die bushalte gestroom het, was die 22-jarige onderkaptein Anton Nel en sy beste vriend, vlugsersant Johan Ras.

Anton het as klerk in die lugmagkantoor gewerk. Hy en sy 21-jarige vrou, Yvonne, het net ’n week tevore hul tweede huweliksherdenking gevier. Die egpaar se baba, Antoinette, was 18 maande oud. Nel en Ras het al geselsende verby die Colt Galant in Kerkstraat gestap.

De Villiers moes reeds gesmag het na die koffie wat sy vrou, Hannie, in Lyttelton Manor in Amkorweg oudergewoonte vir hom gereed gehou het as hy smiddae tuiskom.

Magriet Page sou normaalweg by die bushalte naby die Nedbankpleingebou vir haar eggenoot, Steven John, wag, waar hy haar in sy motor sou oplaai op pad huis toe. Maar op dié dag besluit sy om die wintersonnetjie teen ’n pilaar op te soek, nie ver van waar die Colt Galant geparkeer staan nie.

In daardie stadium was Magriet onbewus van die feit dat Steven se motor vroeër die dag by sy werk naby die Strijdomplein-poskantoor sonder brandstof gaan staan het, en dat hy op daardie oomblik besig was om in Kerkstraat af te stap na haar toe.

’n Entjie verder aan, op die hoek van Kerk- en Schubartstraat, was die 16-jarige Patrick Kuzwayo oudergewoonte besig om koerante aan verbygangers te verkoop. Hy moes gesien het hoe sy potensiële klante ná werk by die bushalte sporadies aangroei.

Heelparty senior militêre offisiere was onder die mensemassa, onder andere kommandante Izak Henning, Boet Botha en Johan de Villiers, asook kaptein Riaan Liebenberg wat by MI werksaam was. De Villiers moes reeds gesmag het na die koffie wat sy vrou, Hannie, in Lyttelton Manor in Amkorweg oudergewoonte vir hom gereed gehou het as hy smiddae tuiskom.

Rapport berig later dat kaptein Neville Clarence en ’n paar vriende in ’n motor reg voor die Colt was waarin Shongwe en Maseko gesit het. Hulle het naweekplanne gehad en gewag vir ’n vriend om by hulle aan te sluit.

’n Apokaliptiese toneel

Mense staan by die lyk van een van die slagoffers van die Kerkstraat-bomontploffing in 1983. Foto: Argief

Dan, in ’n breukdeel van ’n sekonde, wanneer die motorbom ontplof, verander Kerkstraat in ’n apokaliptiese toneel.

’n Massiewe rookwolk skiet soos ’n paddastoel teen die gebouekompleks op. Die Colt Galant disintegreer en laat ’n krater in die straat agter. Ondergrondse waterpype bars en skokgolwe ruk soos ’n kragtige aardbewing deur die geboue.

Die motorbom het ’n paar minute te vroeg gedetoneer, en dit was nie deel van die insittendes se beplanning nie.

Meubels in die Bears-winkel is in miljoene stukkies skrapnel omskep. Vensterruite het versplinter tot vlymskerp vlieënde projektiele. Dakplate het oral op mense ineengestort.

Aanvanklik heers daar ’n doodse stilte van skok en ongeloof, maar toe klink die geskreeu van beseerdes op.

In die Golden Egg-restaurant op die grondvloer van die Nedbankpleingebou is twee mans deur die venster geslinger – op slag dood. ’n Brand, veroorsaak deur die elektriese braaiplate, het in die restaurant uitgebreek.

Buite het die reuk van kordiet swaar in die lug gehang. Aanvanklik heers daar ’n doodse stilte van skok en ongeloof, maar toe klink die geskreeu van beseerdes op. Bebloede mense het so vinnig as moontlik van die toneel probeer wegkom.

Nooddienspersoneel het opgedaag en die slagveld vir oorlewendes begin fynkam. Twintig ambulanse het met loeiende sirenes na hospitale in die stad gejaag. Die dodetal styg stelselmatig: eers 14, dan 16; uiteindelik word die finale dodetal op 19 vasgestel. Tweehonderd-en-sewentien beseerdes se lewens is onherroeplik verander.

Shongwe se liggaam word agterna teen ’n lamppaal aangetref. Maseko is met ’n verbryselde onderlyf hospitaal toe gehaas, maar hy het op pad daarheen beswyk.

Suiker twyfel nie dit was ’n bom

Oliver Tambo was die ANC se president in ballingskap tydens die Kerkstraat-bomontploffing van 1983. Foto: Argief

Twee straatblokke verder, in die kantore van Pretoria News, was die joernalis Arnold Kirkby besig om ’n artikel af te rond toe die kantoorvensters skielik begin vibreer het. Hy het dadelik vermoed dat die kragtige donderslag wat Pretoria op daardie oomblik geruk het, ’n terreuraanval moet wees. Arnold het by die koerantkantoor uitgestorm en in die rigting van die chaos begin hardloop. Rondom hom, op straat, het ’n horde mense hulle na die toneel van verwoesting gehaas.

’n Jong joernalis van die Star, wat ook op die toneel opgedaag het, is begroet deur ’n skokkende gesig: ’n soldaat wat sit en wieg – sy gesig swart en sy oë verblind; ’n huilende dogtertjie wat langs twee lyke lê en reddeloos na haar ma roep; ’n kreunende vrou met ’n bebloede gesig wat hemelwaarts wys.

Eenkant, agter die wrak van ’n nagblou Mazda 323, het ’n klein swart katjie met groot goudgeel oë gestaan. Verstar in doodsangs.

Suiker en Smit het hul bier net so laat staan, die klub verlaat en met flitsende blou ligte teen die eenrigtingverkeer opgejaag.

In Klub 34 op die vyfde verdieping van die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) se distrikshoofkantoor in Pretoria, het kolonel Basie Smit en majoor Suiker Britz skaars die eerste sluk van hul bier geneem, toe hulle deur die venster ’n rookwolk die lug in sien skiet, en oomblikke daarna ’n oorverdowende slag hoor.

Kort voor 16:00 het Smit vir Suiker geskakel en hom gelukgewens met sy sukses in die Natie Chinner-saak. Die twee polisiemanne het afgespreek om dié prestasie dadelik oor ’n biertjie te gaan vier.

By Suiker was daar uit die staanspoor geen twyfel dat dit ’n bom was wat ontplof het nie. Hy en Smit het hul bier net so laat staan, die klub verlaat en met flitsende blou ligte teen die eenrigtingverkeer opgejaag.

’n Afskuwelike gesig het die senior polisiemanne begroet toe hulle in Kerkstraat opdaag. In sy boek wat in 2010 verskyn het, Trou tot die dood toe, teken generaal Johan van der Merwe sy herinneringe van dié dag aan: “Oral het lyke, erg beseerde of verminkte mense, ledemate, stukke verskroeide vlees, beendere en bebloede en verskeurde klere rondgelê.”

Liggaam lyk bekend

Toe Suiker en Smit uit die polisiemotor klim, het glasskerwe onder hul skoene gekraak. Die teer was taai van bloed. ’n Rookwolk het onheilspellend oor Kerkstraat gehang. Die smeekroepe om hulp vanuit die Golden Egg-restaurant is vererger deur ’n reuk wat die speurders met ’n naar gevoel op die maag gelaat het.

Voor die Nedbankpleingebou het ’n motorwrak met menslike oorblyfsels, vermoedelik die oorsprong van die ontploffing, gestaan. Suiker se plomp gesig het verstar toe hy ’n lyk voor die motorwrak sien lê. Die liggaam het vir hom bekend gelyk, maar hy kon nie dadelik onthou waar hy die oorledene se gesig vantevore gesien het nie.

Volgens Van der Merwe het Suiker dieselfde aand van die Kerkstraat-bomaanval by sy huis deur polisielêers geblaai en die gesigte op die foto’s van mense wat hy oor die jare gearresteer het, bestudeer. Op een van die foto’s herken hy vir Ezekiel Maseko, vir wie hy eens op ’n tyd weens huisbraak, diefstal en gewapende roof aangekeer het.

Terwyl lede van die SAP se teeninsurgensie- en onlusbestrydingseenheid die terreurtoneel afsper, het die taakmag toegesien dat bewysstukke nie versteur word nie. Studente van die polisie se opleidingskollege het ’n menslike ketting om die terreurtoneel gevorm. Net buite die afgekordonde gebied het verslae verslaggewers met flitsende kameras saamgedrom.

Padblokkades is onmiddellik op die noordelike en oostelike roetes van die stad opgestel en die SAP se onlusbestrydingseenheid het ander roetes in en om die hoofstad met valkoë dopgehou. Telefone het onophoudelik by polisiekantore gelui.

Kragopwekkers wat die talle spreiligte op die terreurtoneel aangedryf het, het gedreun terwyl speurders en polisielede die toneel sentimeter vir sentimeter vir leidrade gefynkam het. Elke detail is tot in die fynste besonderhede op video vasgelê. Generaal Van der Merwe onthou die frenetiese pas waarteen almal opgekommandeer is: “Kundiges op verskillende terreine het dadelik aan die werk gespring: die forensiesewetenskap-laboratorium onder generaal Lothar Neethling het noukeurig opnames gedoen, die ingenieursafdeling van die kwartiermeester het die motorwrakstukke ondersoek en plofstofkundiges het die toneel gefynkam om vas te stel watter en hoeveel springstof gebruik is.”

Ná die aanval het generaal Mike Geldenhuys, destyds die polisiekommissaris, aan die BBC gesê: “Many of the victims are so badly mutilated they have not yet been identified.” Forensiese deskundiges moes die hartseer taak aanpak om met behulp van bloed- en weefselmonsters te bepaal watter ledemate aan watter slagoffers behoort het. Op dié wyse kon die identiteit van die 19 oorledenes bepaal word.

Volgens Van der Merwe het Suiker dieselfde aand van die Kerkstraat-bomaanval by sy huis deur polisielêers geblaai en die gesigte op die foto’s van mense wat hy oor die jare gearresteer het, bestudeer. Op een van die foto’s herken hy vir Ezekiel Maseko, vir wie hy eens op ’n tyd weens huisbraak, diefstal en gewapende roof aangekeer het. Suiker het dié belangrike stukkie inligting gedeel met die spesiale ondersoekspan wat die volgende dag saamgestel is om die terreuraanval te ondersoek.

Lede van die veiligheidstak, die speurtak en die moord-en-roofeenheid waarby Britz betrokke was, het kragte met die forensiesewetenskap-laboratorium saamgesnoer om elke leidraad te konsolideer tot ’n akkurate geheelbeeld.

’n Informant het vir kaptein Frik Nel van die veiligheidstak ingelig dat Maseko en Shongwe by die terreurdaad betrokke was. Dié inligting het Suiker se foto-leidraad oor Maseko bevestig.

Die ondersoekspan het vasgestel dat Maseko Swaziland gemiddeld twee keer per maand besoek het, en dat Shongwe hom dikwels vergesel het. Tydens heelparty van dié besoeke het Maseko kontak met sy neef, die MK-operateur Johannes Mnisi, gehad.

Ontploffing maak nou nog opslae

Op 21 Mei 1983 het die ANC by monde van hul president in ballingskap, Oliver Tambo, tydens ’n nuuskonferensie in Nairobi verantwoordelikheid vir die bomaanval aanvaar. “Never again, never again are our people going to be doing all the bleeding, never again,” het hy gewaarsku.

Ondersoekbeamptes het op Maseko se kombi op die hoek van Schubart- en Vermeulenstraat afgekom. Springstof is in die voertuig gevind, asook ’n draagbare radio wat in ’n afstandbeheer-meganisme omskep is waarmee die motorbom geaktiveer moes word.

Die radio was toegerus met ’n skakelaar en sender. In die wrak van die Colt Galant het ondersoekbeamptes die oorblyfsels van ’n ontvangstoestel aangetref.

Die motief agter die Kerkstraat-bomaanval het eers in 1998 bekend geraak toe 10 ANC-vryheidsvegters voor die WVK verskyn het tydens ’n amnestieaansoek.

Die Kerkstraat-bomaanval, wat allerweë as die grootste terreurdaad in die geskiedenis van Suid-Afrika bestempel word, is een van die bevrydingstryd-insidente teen apartheid wat vandag steeds sterk emosies ontlok. Opinies oor dié gebeurtenis, asook vele ander tydens Suid-Afrika se reis na demokrasie, is verdeeld.

Joe Slovo het tydens dié geleentheid verklaar dat die bomaanval gepleeg is in weerwraak vir twee aanvalle wat Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte op die ANC in buurlande uitgevoer het, te wete die moord in 1982 op Slovo se vrou, Ruth First in Maputo, en die Lesotho-inval in Desember 1982, waartydens 42 ANC-ondersteuners gedood is.

Hélène Passtoors en Klaas de Jonge is in Junie 1985 gearresteer nadat hulle die MK-operateur Ismail Ebrahim onwettig uit die land probeer smokkel het.

De Jonge het daarin geslaag om uit aanhouding te ontsnap en in die Nederlandse ambassade in Pretoria gaan skuil. Hy het 26 maande in die ambassade deurgebring.

Passtoors is in Mei 1986 tot 10 jaar tronkstraf gevonnis nadat sy aan hoogverraad skuldig bevind is. Sy het slegs drie jaar in Kroonstad se vrouegevangenis deurgebring voordat sy vrygelaat en uit Suid-Afrika verban is. Ná haar vrylating het sy in die ANC-kantoor in Brussel gewerk.

In 1988, terwyl Passtoors in die tronk was, het sy die Europese Vrou van die Jaar-toekenning ontvang.

Die Kerkstraat-bomaanval, wat allerweë as die grootste terreurdaad in die geskiedenis van Suid-Afrika bestempel word, is een van die bevrydingstryd-insidente teen apartheid wat vandag steeds sterk emosies ontlok. Opinies oor dié gebeurtenis, asook vele ander tydens Suid-Afrika se reis na demokrasie, is verdeeld.

In 2014, op die vooraand van die 31ste herdenking van die aanval, het ’n openbare debat ontstaan nadat Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, ’n versoek gerig het dat slagoffers se name ook op die gedenkmuur by Vryheidspark in Pretoria aangebring moet word:

“Dit is belangrik,” het hy aangevoer, “dat alle slagoffers van die apartheidsera onthou moet word, selfs die onskuldige slagoffers van ’n ANC-terreuraanval op burgerlikes.”

Elaine Swanepoel berig hieroor in Beeld van 21 Mei 2014. Sy skryf dat die afgetrede besturende direkteur van Erfenisstigting, generaal-majoor Gert Opperman, van mening is dat enige persoon wat in die stryd om bevryding gedood is, herdenk moet word.

’n Jaar later verduidelik Jane Mufamadi, uitvoerende hoof van die Vryheidspark, in ’n brief waarom die name van die oorledenes nie op die muur aangebring kan word nie: “Hul biografiese inligting dui daarop dat hulle militêre offisiere in die haatlike stelsel van apartheid was, wat tereg deur die internasionale gemeenskap as ’n misdaad teen die mensdom beskryf word.”

Mufamadi het dit betreur dat AfriForum nie ook die bomplanters se name vir goedkeuring voorgelê het nie.

* Suiker Britz: Dossier van ’n Speurbaas word deur Penguin Books uitgegee en kos R230.

Meer oor:  Umkhonto We Sizwe  |  Oliver Tambo  |  Suiker Britz  |  Pretoria  |  Mamelodi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.