Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Suiwer Sol

Sol Kerzner was baie meer as ’n herbergier met die oog vir ’n vinnige wins, skryf Jani Allen.

Sol Kerzner in die strate van Bezuidenhoutsvallei in Johannesburg waar hy grootgeword het. Foto’s: Getty images

Daar is ’n handjievol groter as lewensgroot Suid-Afrikaners wat die tydige met die ewige verwissel het sedert ek in Amerika bly. En Sol Kerzner, wat verlede Saterdagaand dood is, is sekerlik een van hulle.

Mense sal dink aan sy ongelooflike moed en sakevernuf. Maar dit was veel, veel meer as dit. ’n Eggo van hoe dit was in die tyd van Sol het hierdie week na my toe teruggekom.

Lank voordat ek ’n rubriekskrywer by die Sunday Times geword het, was ek reeds bewus van Chez Kerzner.

Hy het in ’n groot huis in Homesteadlaan in Bryanston in Johannesburg gewoon. Die huis sit agter in die erf, ver van die pad af en nie té weelderig nie. Soms sou ek Shirley Kerzner (gebore Bestbier) in haar Mercedes-sportmotor sien ry.

Jare later is ek na die Beverly Hills Sun in Umhlanga Rocks (Kerzner se eerste vyfsterhotel) geneem. Ek was so beïndruk dat ek met die man getroud is wat my op le weekend geneem het. (Onthou, ek was ’n hoërskoolonderwyseres. Wat het ek van hotelle geweet?)

Eers later sou ek meer te wete kom van die hoë pieke en die diep dale wat Kerzner sou ervaar. Hy is vier keer getroud.

Hy het hom omring met uitnemendheid en kreatiwiteit.

Drie kinders is uit sy eerste huwelik met Maureen Adler gebore: Howard “Butch”, Andrea en Beverly. Hy het toe nog twee kinders, Brandon en Chantal, by sy tweede vrou, Shirley, gehad. Shirley het in 1978 tragies haar eie lewe geneem.

Sy bekendste huwelik was met sy derde vrou, die Mej. Wêreld Anneline Kriel, met wie hy in 1980 getroud is. Die huwelik het vyf jaar gehou. In 2000 is hy met Heather Murphy getroud voordat die huwelik in 2011 beëindig is. Sy seun en erfgenaam van die hotel-ryk, “Butch”, is in 2006 in die Dominikaanse Republiek dood in ’n helikopterongeluk.

Maar wie was hierdie miniatuur-minotaurus met die seunskind-glimlag wat hotelle oopgemaak het soos ander mense lekkergoedboksies oopmaak?

Ek onthou hoe ek destyds vir ’n 40-minute-onderhoud met die sonkoning gevra het. Melanie Millin-Moore, vir dekades sy persoonlike assistent, het my vooraf gewaarsku dat hy onderhoude verafsku. Mel het my baie beleefd gevra om asseblief nie laat te wees nie.

Ek sou liewer laat wees vir die oordeelsdag!

Sol Kerzner in die Superbowl-arena in Sun City waar menige internasionale superster opgetree het.

Sol was beleefd en behulpsaam. Miskien ’n bietjie afgetrokke en selfs verveeld.

Ons sakgrootte verowerende held het wat vroueblaaie sou noem “ ’n sonverweerde gesig met priemende grys oë” gehad.

Was hy ’n ambisieuse kind?

’n Flou grynslag het aan die mondhoeke van sy grinterig sensuele gelaat gepluk.

“Naah. Toe ek op skool was, wou ek ’n motorwerktuigkundige wees. Dit was omtrent die omvang van my ambisie. Dit was eers toe ek aan die Damelin College gematrikuleer het en my akademiese uitslae nie te sleg gelyk het nie dat ek besluit het om rekeningkunde by Wits te gaan swot.”

Sy Joodse immigrante-ouers uit Litaue het die Minora-hotel in Durban gekoop, so Sol het Durbs toe getrek om hulle met die hotel te gaan help.

Nadat sy ouers ook die gelisensieerde Palace-hotel gekoop het, het hy kroegman geword. Daar het hy elke nag swartbessies saam met Bloody Marys bedien aan Runyoneske karakters soos Harry the Horse en Nick the Greek.

Maar sy talente het nie ongesiens verbygegaan nie.

Sol Kerzner soengroet sy vierde vrou, Heather, met sy aankoms in Kaapstad waar hy hom in 2009 permanent gevestig het ná baie jare oorsee.

Die Suid-Afrikaanse Brouerye het hom ’n aanbod gemaak wat hy nie kon weier nie: “Kom saam in vennootskap met ons en begin ’n ketting van hotelle.”

Miskien is Sun City die hoogtepunt van Sol se visie en dryfkrag. Die ontwikkeling is al baie dinge genoem – van Solcatraz, Sin City, Sol City tot Sol se Pilanesberg-paleis.

Feit is dat Sol se fantasie om ’n Xanadu in die granola-Bosveld te skep – of eerder te ontdek – en dit Sun City te noem, ’n reuse-waagstuk was wat miskien net Sol sou kon deurtrek.

Hier het hy al die internasionale supersterre gelok wat bereid was om hul reputasie te waag deur in Suid-Afrika op te tree. Ek kan onthou dat ek Frank Sinatra daar sien optree het. So ook The Beach Boys, Queen, Rod Stewart – dit was ’n skitterende lys.

Hy het een keer sy resep vir sukses aan my verduidelik: “Jy vat ’n kans, bereken die risiko, ondersoek die internasionale mark, bepaal die smaak, styl en behoefte van die Suid-Afrikaanse mark, streef daarna om hulle die beste moontlike tyd te gee teen ’n prys wat hulle kan bekostig – en dan gaan jy daarvoor!”

Hy het ook vertel dat hy ’n punt daarvan maak om elke dag ten volle te geniet en bygevoeg dat hy glo dat ’n mens presies soveel uit die lewe kry as wat jy bereid is om in te sit.

“Ek is nie bang om oud te word nie. Ek is nie seker of ek ooit ’n ou man sal wees nie. Miskien in die chronologiese sin – maar dit is al.”

Tog moet dit duidelik wees vir selfs die toevalligste waarnemer dat om die persoonlike, kommersiële, politieke en internasionale sukses te bereik wat Kerzner bereik het, jy die mentaliteit nodig het van meer as net ’n vrolike herbergier met die oog op ’n vinnige wins.

Hy was ’n man wat homself omring het met uitnemendheid en kreatiwiteit. Ek het een keer vir Monty Shadow op Mauritius ontmoet. Sol het Monty, ’n beroemde Italiaanse fotograaf, opdrag gegee om foto’s te neem vir promosie-advertensies vir sy Sun International-groep. Monty was ’n kreatiewe genie. Ek het gekyk hoe hy ’n roulettetafel in die Indiese Oseaan laat indra vir ’n glansryke skoot.

Die roulettetafel is verwoes – seewater doen dit aan ’n roulettetafel – maar die foto’s was suiwer goud.

Sy geldeenheid was toewyding en entoesiasme. Dit, tesame met ’n skerp brein en vinnige, beslissende oordeel het hom die hoofdryfkrag agter die Suider-Afrikaanse toerismebedryf gemaak.

Sommige sal die Kerzner-jare veral onthou vir sy buitengewoon glansryke en duur partytjies.

Een so ’n geleentheid was die “Pink Splash” by die Wild Coast Sun.

Die uitnodigings was perspeks-“toebroodjies” gevul met pienk kolkende vloeistof wat beloof het om alles te wees wat jou eerste Campari in Benoni was – en nog baie meer.

Almal was daar – teugend aan pienk sjampanje terwyl hulle Giza-agtige piramides van babapienk garnale, appelkoospienk salm en vet terracotta-pienk krewe verorber het. So te sê almal wat al ’n Mej. Suid-Afrika was, was daar.

Met ’n swetterjoel pienk en wit ballonne, al die gaste wat lapelruikers dra, pienk en wit suikeramandels in wit tulle, tafels versier met pienk en wit blomme en die tradisionele beleefde samedromming by die uitspattige buffet, was dit nogal soos ’n troue, sonder die bruid en bruidegom.

Terloops, die seremoniemeester, Richard Loring, hét na Sol (wat ’n ysige pienk baadjie aangehad het) en Anneline Kriel as “Mr and Mrs Kerzner” verwys.

’n Persoon in ’n Pink Panther-pak het ’n string pienk kommerkrale aan mnr. Kerzner oorhandig.

Tientalle mooi seuns en meisies het rondom die swembad gesit en honderde ballonne vasgehou. Die ballonne is in trosse saamgevoeg wat presies soos die tekeninge van DNA-molekules gelyk het. Daar was selfs drie baba-olifante wat groot pienk strikke gedra het . . .

Dit was suiwer Sol.

Ek het etlike jare gelede geskryf: “Die plofbare dinamiek wat die Suidelike Sol voortdurend in ’n wentelbaan om die aardbol hou, sal ongetwyfeld voortgaan om die waaghalsige en innoverende idees te genereer wat voortkom uit die gedagtes van hierdie – ja, hy verdien om dit genoem te word – unieke man.”

Hoe reg was ek nie. Sol het na die Bahamas gekyk en die resultaat was Atlantis.

As ’n man wat voortdurend die polsslag van die publiek met ’n stomp miljoen-rand-vinger gevoel en sy oë op die horison van die toekoms gehou het, het Kerzner die mag gehad van ’n Prometeus wat ongebonde was.

Hy is in 2010 deur die koningin tot ridder geslaan as die grootste werkgewer in die Bahamas.

Sir Sol, jy is nou in daardie groot hotel in die lug. Ek wens almal wat jou geken en liefgehad het ’n lang lewe toe.

  • Jani Allen was gedurende die 1980’s een van die land se gunsteling-rubriekskrywers en sosiale vlinders. Sy woon deesdae in Amerika.
Meer oor:  Sol Kerzner  |  Sakeman  |  Sun City
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.