Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Swaar taks op swart skouers

’n Sindroom van afhanklikheid onder swart mense is tydens apartheid geskep. Vandag nog dra dié wat ’n salaris verdien uitgebreide families finansieel, skryf Fred Khumalo.

Fred Khumalo in sy huis in Wendywood, Johannesburg. Foto: Deon Raath

’n Paar jaar gelede het my skoonsuster my voorgestel aan haar vriendin – toe 25 jaar oud – wat pas haar meestersgraad gekry het. Die vriendin het my hulp benodig.

Ek het weggeval met: “Ek kan dalk help as jy ’n werk in die media soek, maar aangesien bemarking jou ding is, weet ek nie so mooi of . . .”

Waarop sy toe antwoord: “Nee, bra Fred! Ek soek nie ’n werk nie. Ek het net gewonder of ek moet voortgaan met my doktorsgraad en of ek liewer volgende jaar ’n bietjie moet afvat – oorsee gaan, reis en so aan.”

Ek het amper begin vloek. Wat het hierdie narsistiese nar nou net gesê? Doktorsgraad, of oorsee rondflenter? En sy is swart! Maar toe kalmeer ek en kyk objektief na Thandi se werklikheid: Sy is ’n enigste kind. Haar ma is ’n enkelouer wat ook op universiteit was en haar eie paadjie uitgekap het – sonder ’n man of uitgebreide familie.

Die meeste geld het van my pa se ouer suster gekom.

Ja, Thandi is swart nes ek, maar sy was ’n kind van die 2000’s, gebore ná 1994. Sy het grootgeword in Kaapstad en kon in model C-skole leer. Daarna het sy gestudeer aan die Universiteit van Kaapstad. Deur haar ma se bloedsweet en toewyding.

My werklikheid was totaal anders. Om my storie te verstaan, moet ’n mens terugkyk na die middel 1960’s.

                                                                           ***

Toe apartheid hoogty gevier het, kon my pa wonder bo wonder ’n pas kry om werk in die stad te gaan soek. Hy durf sy dorpie in Ixopo – waaroor Alan Paton in sy klassieke Cry, The Beloved Country geskryf het – verlaat.

Omdat my pa nie veel skoling gehad het nie – net drie jaar – kon hy nie destyds ’n vaste betrekking kry in Pinetown, noordwes van Durban nie. Hy het gewerk op boupersele, as ’n bode, ’n “tuinjong” en ’n stalkneg. (In daardie tyd was daar natuurlik geen swart mans in Suid-Afrika nie. Net “jongens”. “Boys.” Al was jy 69 jaar oud, vir wit mense bly jy ’n “boy”.)

                                                                          ***

My pa het in sy tyd as ’n stalwerker my ma ontmoet. Anders as my pa, het my ma háár township, Chesterville – vyf minute van Durban – vaarwel toegeroep, gewapen met, in vandag se terme, ’n gr. 10-sertifikaat. Sy het pas aangemeld as ’n leerlingverpleegster by die Marianhill-hospitaal toe sy my pa ontmoet het.

Saam met sy kinders, Khanyani (links), Malaika (middel) en Gugu, asook die kinders se skaakonderwyser.

Hulle was verlief. Ek is verwek. My ma het die verpleegskool gelos. Hulle is getroud.

’n Jaar later het my pa en my ma ’n huis gekry in die nuwe township Mpumalanga, neffens die Hammarsdale- industriële gebied in die Natalse Middelland. Dis waar ek grootgeword het. Teen die tyd dat ek klaar was met matriek, was daar agt kinders in die huis.

My pa het ’n “ordentlike” werk gehad as looier by Bata Shoes, en my ma was daar in diens as masjienbediener.

Hoewel my ouers op die oog af meer welgesteld was as van ons bure, het hulle met hul agt kinders uiteraard finansieel gespartel. Die tien van ons het in ’n tweeslaapkamerhuis gebly. Ook: Daar was gereeld ooms en tantes en nefies – en nefies van nefies – wat vir ’n maand of twee by ons kom bly het terwyl hulle werk soek.

Dit was die werklikheid van die meeste swart mense in stedelike gebiede – altyd deel van ’n groter familie. Ek het later jare besef van die “ooms” en “tannies” was nie eens verwant nie. Hulle het bloot van my pa se dorpie in Ixopo gekom. Só was ons “familie”.

                                                                         ***

Ja, ons kon nie bekostig om elektrisiteit in ons huis te installeer nie, maar ons armoede het op ’n wrede manier by my ingesink nadat ek matriek geskryf het. Ek was vol selfvertroue dat ek goed sou vaar en ek het aansoek by verskeie universiteite gedoen. Drie het my aanvaar. Ek kon spog met matriekvrystelling. Toe kom die donderwolk: Daar was nie geld om te gaan studeer nie. Ek het dae lank gehuil.

Fred Khumalo se ouers, Maureen en Israel.

Maar toe kom my pa terug van sy besoek aan sy voorvader-dorpie in Ixopo. Hy bring die nuus: Daar was tog geld vir my om te gaan swot.

Ek kon kies waar. Die Universiteit van Zoeloeland was uit – studente daar is vermoor in die naam van Inkatha Yenkululeko Yesizwe, later hernoem na die Inkatha-Vryheidsparty.

Die Fort Hare-Universiteit sou ook nie deug nie – die vervoer soontoe was te duur.

Toe is ek na die Technikon Natal, wat toe ’n wit kollege was.

Jare later – steeds by die technikon – het ek my ouers terloops gevra waar hulle so te sê oornag die geld gekry het om my te laat studeer. Wat gevolg het, was soos ’n toneel uit die roman No Longer at Ease van Chinua Achebe, wat ek daardie tyd pas klaar gelees het.

Dis deel van ons groei as swart Suid-Afrikaners.

In die boek, wanneer ’n karakter ’n dorpie in Nigerië verlaat om in Engeland te gaan studeer, verg dit finansiële bydraes van almal in die dorpie. Wanneer hy terugkeer, verwag niemand dat hy die geld terugbetaal nie, maar bloot dat hy ander help wat behoeftig is.

Dit is presies wat met my gebeur het. My pa het teruggegaan na die dorpie van sy voorvaders en sy saak gestel. Inwoners – van wie baie my nog nooit ontmoet het nie – het hul hande in hul sakke gesteek en munte en banknote uitgehaal. Die meeste geld het van my pa se ouer suster gekom.

Ek het sprakeloos na dié storie geluister. My pa het verduidelik: Ek hoef nie die geld terug te betaal nie, dis nie ’n lening nie.

Al wat van my verwag word wanneer ek klaar gestudeer het, is om hulp te verleen aan nabye en uitgebreide familielede wat dit nodig het.

Toe ek my nasionale diploma in joernalistiek kry, het ek die druk gevoel om werk te soek sodat ek kon begin terugploeg.

Fred en sy vrou, Nomvuzo, op hul troudag.

My sewe jonger sibbes het almal in die ry gewag sodat hulle ook van die fontein van kennis by tersiêre instellings kon drink.

Plus: Die groter Khumalo-familie het in afwagting na my gekyk as die eerste een wat ’n tersiêre kwalifikasie behaal het.

Dít in ’n neutedop, is die harde werklikheid van wat mense black tax – swart belasting – noem. Veral as jy ’n senior lid van ’n familie is, moet jy jou drome op die lange baan skuif sodat jy die onmiddellike behoeftes van ander kan bevredig.

Natuurlik is daar ander mense, al het hulle die geldelike en morele ondersteuning van familielede gehad, wat weier om dit te onthou. Met hul eerste salaristjek sal hulle ’n motor koop, stad toe trek en ’n huis kry. Daar sal hulle lekker leef – sonder lastige gedagtes aan familie.

                                                                         ***

’n Vriend, oorspronklik van Nelspruit (nou Mbombela), het ’n interessante storie oor sy pa vertel. Omdat sy pa en sy broers nie juis skoolopleiding gehad het nie, was hulle gedoem om op die myne te gaan werk, al agter die ontwykende geel klip aan wat wit mense ryk gemaak en swart mense alewig afhanklik van wit weldoeners gehou het.

My vriend se pa het – anders as sy broers wat hul klein lone bestee het aan vermaak of vrou soek – sy geld gebruik om ’n hoërskoolkwalifikasie deur ’n korrespondensiekursus te bekom. Toe het hy uit sy werk by die myn bedank en ’n pos gekry by ’n versekeringsmaatskappy in Johannesburg.

Intussen het hy ’n ordentlike huis vir sy vrou en kinders in hul voorvaderlike dorpie in Nelspruit gebou. Dit is toe dat sy broers se vroue en kinders – in die aangesig van sy groot huis – begin om my vriend se pa te beskuldig dat hy hulle “getoor” het sodat net hý en sy naaste familielede die mas kon opkom.

Dít is nog ’n unieke swart uitdaging: Die geloof dat as jy nie suksesvol is nie, daar iemand is wat jou “toor”.

In antieke Rome het mense wat weier om verantwoordelikheid te aanvaar, die sterre vir hul teenspoed blameer.

In die swart gemeenskap reageer ons soos daardie Romeine wanneer ons nie suksesvol is nie. Dis makliker om ander die skuld te gee. Ons weier om te aanvaar dat ons dalk nie hard genoeg gestudeer of gewerk het nie. Dis maklik om te begin fluister oor “toordery”.

                                                                          ***

My vriend se pa het besef hy moet iets doen oor die aantygings van toordery. Hy het ’n familievergadering belê en verklaar: Hy kan help – hy sal die geld gee vir dié van sy broers se kinders wat skool en universiteit toe wil gaan. (Hy het later aan sy vrou verduidelik: “As hulle nie skool toe gaan nie, sal hulle aanhou om almal te verpes. Selfs al is ek nie meer hier nie. Dis beter om die kruis nou te dra. Deur opvoeding kan ek ’n sin vir onafhanklikheid en verantwoordelikheid vestig.”)

Twee generasies later is daar verskeie gegradueerdes in daardie familie. Die swart belasting van destyds het dividende gebring. Dit was ’n ingryping wat die lot van mense ingrypend verander het.

Fred Khumalo is ’n bydraer in Black Tax: Burden or Ubuntu?, uitgegee deur Jonathan Ball. Dit kos R260.

Die omwisseling van skuld aan familielede verskil, maar dit is werklik. As jy nie sibbes het om deur die skool te kry nie, is dit ’n lening wat jou ouers gekry het vir jou studie. Of jy moet ’n oom of tante terugbetaal wat bygedra het tot jou universiteitsloopbaan.

Swart belasting kan erg frustrerend wees vir iemand wat pas begin werk het. Jou karige salaris aan die einde van die maand gaan verdeel word – vir bietjie kos in ’n tante se huis, sodat ’n nefie kan teruggaan skool toe.

Die salaristrekker kan vasgevang voel in ’n eindelose kringloop van armoede, tensy hy of sy die Lotto wen . . .

                                                                          ***

Armoede is oor die algemeen weens ’n gebrek aan opvoeding. En die gebrek aan opvoeding in die swart gemeenskap is die erflating van apartheid. Dit is ’n hartseer oes. Die apartheidsmeesters het gedink hulle is slim toe hulle aan swart mense net genoeg skoling gegee het om diensknegte te wees.

Hul onmiddellike doelwit was om kreatiwiteit en entrepreneurskap te verpletter. Dit sou ’n sindroom van afhanklikheid skep. Baie swart mense kon nie verder dink as die volgende loonkoevert nie – hulle kon dit net by wit mense kry.

Ongelukkig betaal ons ’n swaar prys weens die apartheid-oligarge se stiksienigheid. Die Verwoerds en die Malans van die wêreld is lankal dood. Maar die stank van hul handewerk maak die land dood. Baie mense in die swart meerderheid – hoewel hulle skoling het – is onindiensneembaar. Dit is omdat hulle nie die vaardighede het wat die moderne wêreld vereis om op sy beste te werk nie.

Gegewe hierdie ekonomiese werklikhede, sal swart belasting nog vir ’n ruk met ons wees. Dié wat kan, moet aanhou om ’n jonger generasie te help om ’n sinvolle opvoeding te kry wat gaandeweg dinge gaan regruk.

Te danke aan wit bevoorregting het baie wit mense toegang gehad tot beter opvoeding. En opvoeding gaan nie net oor akademiese oefeninge in ’n klaskamer nie.

Dit strek breër: Dit gaan ook oor hoe mense hul gesinne beplan. As gevolg daarvan is wit mense – nie omdat hulle intrinsiek intelligenter is nie, maar omdat hulle meer bewus was van gesinsbeplanning op ’n jonger ouderdom – geneig om kleiner gesinne te hê wat hulle beter kan bestuur. Hoe kleiner die gesin, hoe kleiner die finan­siële las. Dis so eenvoudig.

Ek sê nie alle wit mense is trustfonds-babas wat gebore is met silwer lepeltjies in die mond nie. Ek ken wit ouens wat nadat hulle gestudeer het, hul studielenings moes terugbetaal. Maar dis dit.

Hulle hoef nie hul ouers se krot reg te maak nie, elektrisiteit tuis laat installeer nie, hul ouers se doktersrekeninge betaal, of bure terugbetaal wat dalk ’n bydrae gemaak het tot hul studie nie.

Niemand vier swart belasting nie. Dis eintlik ’n albatros. Maar as ’n mens dit uit ’n positiewe hoek beskou, is dit deel van ons groei as swart Suid-Afrikaners.

Toe Afrikaners opgestaan het uit die puin van Engelse onderdrukking, het hulle iets soortgelyks ervaar: geldelike verpligtinge moes gedeel word tussen ouers en hul kinders. Afrikaners het bougenootskappe begin om families te stabiliseer en die gemeenskap te bou – een baksteen op ’n slag.

Hierdie mikro-ondernemings het gegroei tot formidabele entiteite soos Saambou, Santam, Sanlam en Naspers.

Ek is bly dat met elke nuwe generasie die kettings van swart belasting geleidelik van ons polse val.

Uiteraard gaan dit nie oornag gebeur nie. Teen ons is ’n reuse-nalatenskap van koloniale oorheersing en apartheid se ekonomiese uitbuiting. Dis ’n bitter nalatenskap van 400 jaar gelede, toe die wit hordes met hul gewere en kanonne om ons dood te maak en hul Bybels om ons te flous en te paai op die suidelike punt van hierdie kontinent aangekom het.

Hulle het mense grond ontneem, hulle uitgebuit, en hulle bedelaars en slawe gemaak in die land van hul voorvaders.

  • Fred Khumalo is ’n joernalis en die skrywer van sewe boeke. Hy het ’n MA in kreatiewe skryfwerk aan Wits behaal, is ’n Nieman-genoot aan die Harvard-Universiteit en ’n genoot by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing. Hy is tans ’n PhD-kandidaat aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Fred Khumalo  |  Boek  |  Black Tax  |  Swart Taks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.