Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Swapo se greep op mag verswak

Swapo het aan die mag vasgeklou in die pas afgelope Namibiese verkiesing, maar die opvatting dat dié party se posisie skynbaar onaantasbaar is, is verpletter, skryf Reinhart Kössler.

Pres. Hage Geingob van Namibië daag by ’n stempunt in Windhoek op. Foto: AP

Die vlak van onsekerheid rondom die sesde Namibiese verkiesing sedert dié land in 1990 onafhanklik geword het, was ongekend.

Die verkiesing was verlede maand waarin vir lede van die parlement en die president gestem is.

Twee kwessies het die debat in die land tot voor die dag van die verkiesing oorheers. Die eerste was dat ’n onafhanklike kandidaat, Panduleni Itula, na verwagting die presidensiële stem vir die regerende party, die South West Africa People’s Organisation (Swapo), sou verdeel.

Die tweede was ’n groot korrupsieskandaal oor die toekenning van visvangkwotas. Dit het op die lappe gekom twee weke voor die verkiesing en het onder meer daartoe gelei dat twee kabinetsministers in hegtenis geneem is.

Die onopgeloste grondkwessie is nog ’n netelige probleem.

’n Ander kenmerk van die verkiesing was die omstredenheid rondom die elektroniese stem-apparate. Vrae oor die doeltreffendheid daarvan het weer die kollig laat val op die vertroue in die staatsmasjinerie wat besig is om af te neem. Selfs op verkiesingsdag het Itula steeds sy bedenkinge oor dié kernaspek van die verkiesingsproses uitgespreek.

Dié kwessies het ander redes vir die stygende ontevredenheid in die land verbloem. Dit sluit in die verstommende werkloosheidsyfer, veral onder jong mense, ’n voortdurende ekonomiese krisis en grootskeepse sosiale ongelykheid.

Die onopgeloste grondkwessie is nog ’n netelige probleem.

Dié krisisse word deur toenemende beperkings op die staat se begroting vererger.

Die Helde-akker in Windhoek wat ná onafhanklikheidswording aangelê is. Swapo is een van die bevrydingsbewegings in Suid-Afrika wat steeds aan bewind is. Foto: Getty Images

Die uitslae toon dat kiesers hul aandrang op drastiese veranderings duidelik gemaak het. Veral die skerp afname in pres. Hage Geingob se steun is ’n bewys daarvan. Vyf jaar gelede het hy 87% van kiesers se steun geniet. Dié keer het hy met net 56,3% deurgeskraap en grootliks danksy die steun in die oorwegend landelike noorde waar hy op ’n lojale Swapo-magsbasis kan reken.

Itula het gedurende die hele verkiesingsveldtog daarop gewys dat hy ’n Swapo-lid bly. Deur ’n skuiwergat in die party se grondwet te gebruik, het hy en sy ondersteuners blykbaar gehoop om Swapo-steun te kry. Sy kandidatuur het gedui op ’n voortdurende verdeling in die regerende party wat skynbaar ’n etniese grief teen die “Damara” Geingob insluit.

Itula het net minder as 30% van die steun gekry en het goed gevaar in stedelike gebiede en onder die jeug, hoewel hy nie juis in die digter bevolkte noorde hond haaraf kon maak nie.

Opposisiepartye in die parlement, waaronder die pas gestigte Landless People’s Movement, het hul posisies verstewig. Swapo het uiteindelik 65,5% van die steun op hom verenig, net minder as die tweederdemeerderheid wat nodig is om die grondwet te verander.

Dit is ’n reuse-daling in steun van bykans 15 persentasiepunte vergeleke met die 80% in 2014. Dit is die eerste keer sedert 1994 dat Swapo se steun tot onder die magiese 66% gedaal het.

Die stempersentasie het ook van meer as 70% in 2014 tot 60% gedaal.

Die opvatting dat Swapo ’n skynbaar onaantasbare posisie het, is verpletter.

Die uitslag kan dui op meer as ’n effense erodering van Swapo se magsposisie. Dit mag lei tot ’n situasie waarin die ontevredenheid van gefrustreerde kiesers in ander rigtings as die formele politiek gekanaliseer word. ’n Latente krisis oor die legitimiteit van die postkoloniale staat kan dus in openlike ontevredenheid uiting kry.

Vertroue aan flarde

’n Werker in ’n visverwerkingsaanleg in Walvisbaai. Korrupsie met visvangkwotas het Namibiërs voor die verkiesing geskok. Foto: Getty Images

Maar sal die uitslag beteken dat die regering aandag gee aan die land se reuse-uitdagings?

Behalwe die langtermynkwessies van voortdurende grootskeepse ongelykheid, die verslegtende krisis rakende staatsfinansies en die swak ekonomiese vooruitsigte, maak samehangende aangeleenthede soos korrupsie en deursigtigheid in die regering en politiek ook deel daarvan uit.

“Fishrot”, die reuse-skandaal oor die toekenning van visvangkwotas wat enkele weke voor die verkiesing op die lappe gekom het, het skuldiges van Namibië sowel as Angola, Ysland en Noorweë ingesluit.

Dit het die betaal van omkoopgeld vir visvangkwotas behels. Korrupsie in die hoogste kringe is welbekend.

Dit is algemene kennis dat visvangkwotas uitgereik word aan mense wat geen verbintenis met die visbedryf het nie en bloot ’n stewige bedrag daarvoor betaal.

Voor die verkiesing was daar hoë verwagtinge van die onafhanklike presidensiële kandidaat en opposisiepartye, veral onder stedelike jong mense.

Die mees onlangse geval was ongewoon dramaties met die inhegtenisneming van top-politici kort voor die verkiesings. Maar dit word allerweë aanvaar dat dit bloot die oortjies van die seekoei is. Albei die ministers wat in hegtenis geneem is, sou ná die verkiesing terugkeer parlement toe maar Swapo het hul name sedertdien van die kandidatelys verwyder.

Dié korrupsiesake sal moontlik net verder bydra tot ’n gebrek aan vertroue in die institusionele opset wat in die naweë van die verkiesing baie broos lyk.

Voor die verkiesing was daar hoë verwagtinge van die onafhanklike presidensiële kandidaat en opposisiepartye, veral onder stedelike jong mense.

Die bekendmaking van die amptelike uitslae het nie net tot teleurstelling gelei nie, maar ook ergernis. ’n Vertraging van 72 uur in die bekendmaking daarvan is een van die redes daarvoor.

Dit het gebeur ondanks die gebruik van elektroniese stemapparate wat veronderstel was om die proses te bespoedig. Dit het die agterdog net laat toeneem.

Die leier van die Landless People’s Movement, Bernardus Swartbooi, het tot so ver gegaan as om te sê dat die verkiesingsuitslae beknoei is.

Hy het ook gekla omdat dit, volgens hom, niks help as ontevredenes hulle op die reg beroep nie omdat die howe elke keer die kant van die verkiesingskommissie kies.

Pres. Hage Geingob en Swapo word deur verskeie uitdagings in die gesig gestaar waaronder maatskaplike ongelykheid en ’n verswakkende ekonomie. Foto: Getty Images

Namibië se institusionele opset is vir die eerste keer sedert onafhanklikheidswording bevraagteken. Daar is skynbaar binne die stelsel geen kans om teen tekortkominge of doelbewuste misbruik te appelleer nie.

Die ontoeskietlike houding van die verkiesingskommissie het tot die wantroue bygedra. Verskeie opposisiepartye het aangekondig dat hulle regstappe teen die uitslae oorweeg.

Skape op ’n plaas in Namibië. Die maatskaplike ongelykheid in dié land vind nou neerslag in die aandrang op grond. Foto: Getty Images

Swapo word deur ernstige uitdagings in die gesig gestaar. Die voortdurende kwessie van grootskaalse maatskaplike ongelykheid vind neerslag in die aandrang op grond; nie net vir doeleindes van landbou nie, maar ook om op te woon. Die Fishrot-skandaal het weerstand onder werkers aan die kus laat opvlam.

Die leier van die amptelike opposisie, McHenry Venaani van die Popular Democratic Movement, het gesê Swapo se gebrek aan ’n tweederdemeerderheid is ’n kans om die “debat in die huis te suiwer”. Maar die politiek in die land ly ook onder die opgeblaasde kabinet en die gepaardgaande buitstelsel wat die staatsapparaat deurdrenk. Dit is weer verbind met die begrotingskrisis in verslegtende ekonomiese toestande.

Swapo het met die verkiesing aan die mag vasgeklou en dit kan dalk net die begin wees van ’n baie meer dramatiese tydperk as wat oor die eerste drie dekades van onafhanklikheid in 1990 gesien is.

* Kössler is professor in politieke wetenskap aan Freiburg-universiteit. Die artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

Meer oor:  Swapo  |  Hage Geingob  |  Namibië  |  Verkiesing  |  Werkloosheid  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.