Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Swart denkers met ’n witwarm woede

Uiteenlopende menings stem saam oor een ding:  witheid oorheers steeds, skryf Danie Smit.

Ferial Haffajee
Eusebius McKaiser

Sommige swart denkers is woedend. Hul woede is gerig teen wit meerderwaardigheid verskuil agter die goeie bedoelings van nierassigheid, die reënboognasie en versoening.

Hulle sien dié konsepte as ’n poging om wit bevoorregting en ekonomiese mag te beskerm teen verandering en rassegeregtigheid.

Ondanks politieke verandering suig swart mense steeds aan die agterspeen, in Suid-Afrika en elders. ’n Verskerpte fokus op “witheid”, “wit bevoorregting” en “wit oorheersing” probeer sin maak van die dieper redes agter die voortgesette heerskappy van wit mense.

Twee onlangse boeke ondersoek die denkstrome uit radikaal verskillende hoeke. Ferial Haffajee se What If There Were No ­Whites in South Africa? bekyk dit van buite en poog om te verstaan waarom swart denkers – veral jong mense – voel hulle gaan steeds gebuk onder oorheersing deur wit mense. Dít terwyl hulle in der waarheid veel meer geleenthede en keuses het as haar generasie.

Haffajee, tans die redakteur van City Press, wyt die woede van jong swart denkers aan ’n generasiegaping. Dis ’n gaping tussen dié wat gelouter is deur die gruwels van apartheid en wat die beëin­diging daarvan in 1994 beleef het – soos sy – en dié wat, ná die val van apartheid, van jongs af gekonfronteer is deur hul relatiewe ekonomiese agterstand teenoor hul wit eweknieë: kortom, die sogenaamde “born frees” wat met afguns hul wit maats se studiegeld, sorgvryheid en sosiale netwerke begeer.

Eusebius McKaiser se Run ­Racist Run: Journeys into the ­Heart of Racism verduidelik in ’n aantal essays waarom die huidige bestel steeds gebuk gaan onder rassisme, waarom hy – en ander swart denkers – woedend is en waarom sy woede moreel geregverdig en polities nuttig is. McKaiser is ’n kommentator met die vorige boeke A Bantu in My Bathroom en Could I Vote DA? A Voter’s Dilemma op sy kerfstok. Hy beskryf Run Racist Run as ’n skuif in sy rassepolitiek – ’n gedwonge uitlaatklep vir witwarm woede wat hy nie kan beteuel nie.

Vir ’n boek gebore uit woede lees Run Racist Run egter soos ’n kalm, effens didaktiese verduideliking van denkstrome oor witheid en antiswart rassisme. Rassisme is ’n spektrum van karaktergebreke wat uiting vind in enigiets van bloeddorstige aanvalle (aan die ekstreme kant) tot ’n blote onvermoë om in te sien dat witheid ’n reeks onverdiende voorregte inhou vir wit mense. Voorregte soos erfgeld, sosiale netwerke, ’n versweë maar algemene aanname van bekwaamheid tot die teendeel bewys word, ensovoorts. (Die onvermoë om die onreg daarin te sien is rassisties omdat dit op die aanname berus dat wit mense se huidige sukses slegs aan hul eie meerderwaardigheid te danke is.)

McKaiser aanvaar dat hy nie vir ekstreme rassiste skryf nie. Daarom fokus hy sy toorn op wat ’n mens kan noem “liberale” rassisme, die rassisme van wit mense wat glo hulle is nie self rassisties nie en dat rassisme reeds oorkom of maklik oorkombaar is, terwyl hulle met hul lewens kan aangaan in ’n kleurblinde wêreld.

Sulke wit mense, glo McKaiser, bedreig die stryd om die onregte van die verlede reg te stel.

McKaiser skryf dat narsisme ’n belangrike onderdeel en oorsaak is van rassisme. Narsisme is ’n onvermoë om die wêreld uit enige ander hoek as dié van die self te benader.

Daar is veral twee aspekte waarin McKaiser se boek, miskien onbedoeld, aansluiting vind by dié van Haffajee. Die eerste is McKaiser se argument oor die rol van emosie – en veral woede – in openbare gesprek. Hy voer aan dat dié rol misken word: “Neutrale” reëls vir gesprekvoering bevoordeel die rassis bó die slagoffer van rassisme omdat dit die slagoffer verhinder om haar pyn te verwoord. Die teenkant van die munt is dat die slagoffer haar nie hoef te steur aan die emosies van diegene wat van rassisme beskuldig word nie. Sy hoef haar nie te steur daaraan as die beskuldigde voel hy word onregverdig beskuldig of sy menswaardigheid word aangetas of sy stem word stilgemaak nie. Dit is die prerogatief van die slagoffer om ’n daad of ’n houding as rassisties te tipeer in ’n sosiale konteks waarin rassisme die norm eerder as die uitsondering is.

Die tweede raakvlak met Haffajee se boek is McKaiser se toegewing dat denkstrome oor witheid en wit bevoorregting hoofsaaklik ’n middelklasfenomeen is. Nietemin beliggaam dit solidariteit met die swart werkersklas en werkloses – tereg, sê hy, omdat rassisme alle swart mense benadeel.

Die oorsprong van Haffajee se boek is nie woede nie, maar ’n kombinasie van verstomming en nuuskierigheid. Sy is verstom omdat jong swart mense wat sy as hoogs suksesvol en invloedryk beskou – mense soos McKaiser – steeds magteloos voel in die aangesig van wat hulle as oorweldigende en oorheersende witheid beskou.

Sy voer aan dat die tekstuur van háár leefwêreld oorweldigend swart is: van politieke leiers, tot kulturele ikone en styl-ghoeroes. Nogtans is sy nuuskierig daaroor en organiseer ’n aantal rondetafel-gesprekke met swart intelligentsia om agter die kap van die byl te kom. Dele van haar boek handel oor die inhoud van dié gesprekke.

Haffajee se terneergedrukte opsomming is dat sy soos ’n vergeelde UDF-plakkaat voel teenoor haar jonger gespreksmaats: ’n uitgediende oorblyfsel uit ’n meer optimistiese era. Nietemin kom sy tot die gevolgtrekking dat die oorsprong van McKaiser en andere se denke minder edel is as wat voorgegee word: Dit is makliker om te verenig teen ’n gemeenskaplike vyand eerder as vir ’n gemeenskaplike doel. Dit is makliker om voor te gee dat jy magteloos staan teenoor ’n verbeelde vyand as om die mag wat jy het ten goede te gebruik. Daarom die skyn van solidariteit met die armes. Rassisme word gebruik as ’n strydkreet om swart mense oor klassegrense heen te verenig en om sodoende ’n gebrek aan konsensus binne die swart heersersklas oor gepaste ekonomiese en maatskaplike beleid te verbloem.

Haffajee voer uiteindelik aan dat die mag om armoede uit te wis in die hande van swart mense lê, nie van wit mense nie. ’n Fokus op witheid, wit welvaart en wit bevoorregting is ’n gevaarlike verandering van die eintlike onderwerp: Hoe skep Suid-Afrika welvaart om die armes se lot te verbeter?

Dit is opvallend hoe albei outeurs hul ervaring en leefwêreld verhef tot ’n algemeen geldende maatstaf. In McKaiser se geval is dit ironies, want hy skryf – tereg, meen ek – dat narsisme ’n belangrike onderdeel en oorsaak is van rassisme. Narsisme is ’n onvermoë om die wêreld uit enige ander hoek as dié van die self te benader.

Het Haffajee meer erns gemaak met die statistieke oor die Suid-Afrikaanse ekonomie wat sy inspan, sou sy dalk meer simpatie getoon het vir die feit dat baie swart mense steeds leer, werk en speel in wit-oorheersde omgewings. Het McKaiser ingesien dat woede net so maklik kan verblind as wat dit kan openbaar, sou hy dalk nie so geredelik kon aanvoer dat slagoffers van rassisme die gevoelens van vermeende rassiste maar kan onderspeel nie.

Uiteindelik sal daar slegs geregtigheid én vooruitgang wees wanneer álmal die foute van die hede kan uitwys sonder om historiese ongeregtigheid onder die tafel te vee; en álmal kan poog om die sondes van kolonialisme en apartheid aan die kaak te stel sonder om koppe te begrawe in die sand oor die gevare van huidige korrupsie en nepotisme.

Haffajee en McKaiser se boeke huiwer elkeen te ver in die een rigting sonder om die ander aan te spreek. Nietemin is elk ’n belangrike bydrae tot ’n debat waarvan die uitkoms almal se lot gaan bepaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.