Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Swart Dinsdag: Red die joernalistiek, nou!

Media24 is die derde mediamaatskappy wat aangekondig het van sy drukmedia kan nie meer die druk van die tyd weerstaan nie. Lizette Rabe vra wat beteken dit vir ons as nuusverbruikers en ook vir ons demokrasie?

Lizette Rabe, professor in die joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch. Foto: Denzil Maregele

Dis asof ons Westerse tale hulle tot die Germaanse moet wend wanneer oer-eksistensiële krisisse ons tref. Soos dat Angst meer vreesaanjaend is as sommer net angs. Of Zeitgeist indrukwekkender as sommer net tydsgees. En nou: Zeitwende. ’n Tydsomwenteling. Eintlik: Dat ons ’n kantelpunt beleef.

Dit is onderstreep deur die aankondiging van Suid-Afrika se grootste mediamaatskappy dat van sy titels – sommige ikoniese erfenistitels – nie die druk van die tyd kon weerstaan nie. Sommige sluit geheel en al; ander se frekwensie word verminder met redaksionele uitkontraktering; ander word net digitaal uitgegee.

Wat volgende as selfs daardie rots op die horison, Media24, kapituleer?

Geen wonder dit voel asof Angst, Zeitgeist en Zeitwende alles ineen geklits is en ons saam sleur in ’n maalstroom nie; dat ons ’n eksistensiële krisis van onvoorstelbare omvang beleef. Wat volgende as selfs daardie rots op die horison, Media24, kapituleer?

Maar eintlik het ons geweet dit was net ’n kwessie van tyd. Die vraag was nie óf nie, maar wanneer daardie aankondiging sou kom. Immers, enkele dae voor 2020 se Wêreldpersvryheidsdag op 3 Mei het Associated Media Publishing van Jane Raphaely, media-ikoon in eie reg, bekend gemaak hulle maak hul deure toe. Net twee dae ná Wêreldpersvryheidsdag het nog ’n uitgewer van ikoniese titels, Caxton, bekend gemaak hy sluit die meeste van sy titels.

Swart Dinsdag

En nou ook Media24, wat nie langer die druk wat sekere van sy drukmedia beleef, kan troef nie. En dis nie net oor die afgelope klompie Covid-19-maande nie, dis sedert die digitale revolusie begin het.

En, skryf ’n oudkollega daar uit die soutmyne van die nuuskantoor: Dis bloed teen die mure.

En 7 Julie 2020 was toe die dag. Voortaan dalk as Swart Dinsdag bekend, na aanleiding van 1977 se Swart Woensdag toe koerante onder meer toegemaak is onder die apartheidsregering se sensuur. Nou is die media die slagoffer van die digitale revolusie en Covid-19. En, skryf ’n oudkollega daar uit die soutmyne van die nuuskantoor: Dis bloed teen die mure.

Die ontsetting, ontsteltenis, hartseer, en ja, ook trane, het vlaag op vlaag oor my rekenaarskerm gegolf. Daar is sekerlik nie ’n beroep waar daar nie groter kameraderie is as in die joernalistiek nie. Joernaliste wat saam deur die vagevuur van die nagkantoor en deadlines is, raak bloedfamilie.

Daarom ook dat ons wat eens op ’n tyd daar in die Media24-sentrum, oftewel die Moederskip, gewerk het, voel asof die doodsklok ook vir ons gelui het. Meer as 500 poste word by Media24 geraak. Of, as bestaande vakatures ingereken word, 660 poste. Tel dit by die geskatte 700 poste wat tot niet is met die vorige twee mediahuise se aankondigings en die sowat 80 publikasies wat in April en Mei gesluit het. Plus: Moontlike afleggings by die SABC (tot 600 poste word geraak) is ook reeds bekend.

Digitale revolusie

En tog, in hierdie tyd van die virus, en veral in die tyd van fopnuus, het ons die nuusmedia nodiger as ooit tevore. Ook die Nasionale Redakteursforum, Sanef, het beklemtoon hoe die toegang na nuusportale gestyg het ná die uitbreek van die pandemie. Media24 se verklaring verwys ook na die groei in sy digitale platforms. News24 het ’n gemiddelde van 1,6 miljoen daaglikse unieke gebruikers gehad – reeds ’n groei van 63% op die 2019-gemiddelde. Teen einde Junie het Netwerk24 byna 67 000 intekenaars gehad – 36,5% meer as Junie 2019.

In hierdie tyd van fopnuus het ons die nuusmedia nodiger as ooit. Grafika: Hanlie Malan

Die sogenaamde Windhoek-deklarasie oor mediavryheid wat die grondslag was vir Unesco se verklaring van 3 Mei op Wêreldpersvryheidsdag beklemtoon ’n diversiteit en pluraliteit van stemme. Eenvoudig gestel: Hoe meer stemme gehoor word oor die sake van die dag, hoe beter vir ’n demokrasie. Plus: Sonder ’n vrye media is daar nie ’n demokrasie nie.

Die regbank kan moontlik nog gekorrupteer word, maar ’n diverse en plurale mediasektor sal die lig op al die krake in ons samelewing laat skyn. Dis juis aan ondersoekende joernalistiek te danke dat ons nie dieper in die moeras van staatskaping en korrupsie is nie.

Die krisis weens die koronavirus was maar net die laaste spyker in die doodskis, want die pasiënt was reeds in die waaksaal. Die digitale revolusie het al lankal veroorsaak dat die drukmedia-model nie meer werk nie. En die digitale media-model werk nog nie, en sal dalk nooit werk nie, want die publiek het gewoond geraak daaraan dat hy sy nuus gratis kan kry.

’n Kwessie van tyd

Maar dis waar ook ’n Zeitwende moet gebeur. ’n Mens kry nie gratis dienste elders nie. Jy kan nie by ’n dokter uitstap sonder om te betaal nie; ook nie by die supermark met ’n gratis mandjie goedere nie. So ook moet vir gehalte-joernalistiek betaal word.

Die tydskrif ‘Drum’ was in 2011 sestig jaar oud. Dié tydskrif verskyn voortaan net digitaal. Foto: Foto24
’n Voorblad van die ikoniese tydskrif ‘Drum’ uit die 1950’s. Foto: Foto24

En dis die ironie: Terwyl professionele joernalistiek nodiger is as ooit, word nuuskantore oral afgeskaal. Die sogenaamde vierde stand – die nuusmedia – is boonop veral nodig in ’n tyd waarin fopnuus gedy.

Daarom: Dit bly hartverskeurend om te hoor hoeveel titels, en sommige erfenistitels daarby, geraak word. Maar dit was onrealisties om te verwag dat dit “business as usual” sou kon wees. Dit wás net ’n kwessie van tyd. Dat ’n ikoniese titel soos Drum nou net as digitale blad gaan oorleef, bly ’n slag.

Dit moet bitter wees vir almal wat baklei het oor dekades vir die oorlewing van die blad met sy nalatenskap van die “Drum-generasie” van joernaliste, van Lewis Nkosi tot Nat Nakasa, na wie Sanef se prys vir dapper joernalistiek vernoem is.

Nat Nakasa was een van die “Drum-generasie” van joernaliste, na wie Sanef se prys vir dapper joernalistiek vernoem is. Foto: City Press

Gehalte nuusmedia – met ander woorde professionele, geverifieerde, onafhanklike inligting – ís belangriker as ooit. En dís wat gered moet word. Nog voor Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing in April 1994 het Nelson Mandela, toe nog nie president nie, in Februarie daardie jaar by die opening van die International Press Institute se konferensie in Kaapstad gesê:

“A critical, independent and investigative press is the lifeblood of any democracy . . . It must enjoy the protection of the Constitution so that it can protect our rights as citizens. It is only such a free press that can temper the appetite of any government to amass power at the expense of the citizen . . . It is only such a free press that can have the capacity to relentlessly expose excesses and corruption on the part of the government, state officials and other institutions that hold power.”

Nelson Mandela het in Februarie 1994 by die opening van die International Press Institute se konferensie in Kaapstad gesê:“ ’n Kritiese, onafhanklike en ondersoekende pers is die lewensaar van enige demokrasie”. Foto: Theana Calitz

’n Gesonde demokrasie

Die joernalistiek ís die lewensbloed van ’n demokrasie. Ek het geen twyfel nie dat ook Media24, juis met sy erfenis, alles in sy vermoë gaan doen om daardie sosiale kontrak met die Suid-Afrikaanse publiek na te kom.

Want net soos wat ’n mens geen ander diens kry sonder om te betaal nie, net so moet ons as die publiek besef gehalte-nuus kom nie verniet nie ...

En nou vir die goeie nuus: Covid-19 het gemaak dat die digitale manier van doen reeds ’n lewenswyse geword het, van e-vergaderings tot e-klaskamers. Nou moet ons as die publiek ook ons deel doen en professionele digitale nuusmedia ondersteun met subskripsies.

Want net soos wat ’n mens geen ander diens kry sonder om te betaal nie, net so moet ons as die publiek besef gehalte-nuus kom nie verniet nie, en ons moet bereid wees om ’n bydrae te lewer tot die insamel en aanbied van daardie gehalte-nuus.

Dus ja, ons beleef ’n Zeitwende, in soveel opsigte. Dis ’n tyd om te treur oor ’n tyd wat verbygegaan het. Dis hoe dit moet wees. Maar dan moet die tyd aanbreek dat ons met innoverende en entrepreneuriese digitale media-modelle ons publiek dien en bedien.

Lizette Rabe in die departement joernalistiek in Crozierstraat, Stellenbosch, waar generasies joernaliste hul opleiding gekry het. Foto: Denzil Maregele

Joernaliste is spesialiste wat inligting versamel, wat dit onafhanklik van enige invloed kan doen, dit kan verifieer, en sorg dat dit voldoen aan die etiese riglyne van die Suid-Afrikaanse Perskode. En alle joernaliste wat nou afgelê word, moet weet hulle is sulke inligtingspesialiste – inligting wat ’n publiek bemagtig, op watter wyse ook al, hetsy die koronaviruskrisis of korrupsie – en wat met hul werk ’n gesonde demokrasie verdiep.

Ek en jy, as lid van die publiek, kan ’n bydrae maak om die lewensbloed van ons demokrasie te verseker. Teken in op ’n digitale nuusdiens. Red die joernalistiek.

*Lizette Rabe is professor in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch. Voor haar toetrede tot die akademie was sy onder andere redakteur van die glanstydskrif Sarie. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Lizette Rabe  |  Media24  |  Herstrukturering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.