Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Swyg as jy lief is vir jou land

Om patrioties te wees in Zimbabwe beteken om anderpad te kyk en te maak asof niks verkeerd is nie, skryf Tawanda Mudzonga.

Emmerson Mnagagwa in November 2017 – kort voor sy inhuldiging as nuwe president van Zimbabwe. Foto: Getty Images

Daar is ’n sêding in Zimbabwe wat lui: “Daar is vryheid van spraak, maar daar is geen vryheid ná spraak nie.”

Die grappie – alhoewel dit eintlik nie meer snaaks is nie – wys op die illusie, wat al ’n bietjie dun raak, dat Zimbabwiërs vry is om te sê wat hulle wil, die regering kan kritiseer en aan die wêreld kan vertel wat hier besig is om te gebeur. Maar daar sal altyd gevolge wees.

Die nuwe patriotisme-wetsontwerp wat verlede maand voor die parlement gedien het, maak dit duidelik dat ons as Zimbabwiërs niks meer inspraak het nie. Ons kan nie die regering tuis kritiseer nie. Ons kan ook nie die regering in die buiteland kritiseer nie. Ons kan nie op regeringsmislukkings wys nie. As landsburgers kan ons nie vir ’n beter lewe vra nie. Ons moet eenvoudig bestaan ??in die hel wat Zanu-PF van ons eens pragtige land gemaak het.

Vir 41 jaar is Zanu-PF in beheer van hierdie nasie, eers onder die gevalle ikoon Robert Mugabe, en nou onder sy handlanger Emmerson Mnan­gagwa. Vir die grootste deel van my lewe het ek grootgeword met die idee dat Mugabe die vader van ons nasie was. ’n Ideoloog wat toenemend paranoïes, wreed en onderdrukkend geword het namate die teenstand teen hom en sy beleid toegeneem het.

Soos baie het ek vrede gemaak met die idee van ’n Zimbabwe waar Mugabe vir ewig sou regeer. Soos ’n koning. Hy was die soewereine mag wat die land met ’n ysterhand regeer het. Hy was ons patriarg, ons vader. Elke paar jaar sou gerugte die ronde doen dat ons vader oorlede is en dat die staat dit nog net nie vir ons gesê het nie. Net om te sien hoe hy ’n paar dae later vir ’n openbare toespraak opdaag.

Die regering werk hard daaraan om die land van al sy goud te plunder.

Toe hy in 2017 sonder seremonie deur sy eie kamerade in ’n bloedlose staatsgreep verwyder is, was die mense eufories van vreugde. Ons het deur die strate gehardloop en gejuig oor die feit dat ’n beter Zimbabwe tog wel in ons leeftyd moontlik sal wees.

Toe hy twee jaar later sterf, slegs ’n skadu van sy voormalige self, was ons vader dood. Die argitek van ons lyding was weg.

Emmerson Mnagagwa het by Mugabe oorgeneem met die belofte van hervorming – ’n belofte wat hy soos ’n serp om sy nek gedra het. Ons nuwe pa dra ’n serp.

Maar dit was nie lank ná die “verkiesing” in Augustus 2018 voordat soldate met skerppuntammunisie op vermeende ondersteuners van die opposisieparty die Movement for Democratic Change (MDC) geskiet het nie. (In werklikheid was die slagoffers onskuldige omstanders wat bloot hul daaglikse gang gegaan het in Jason Moyolaan in die middestad van Harare.)

Die voorgestelde en sogenaamde “patriotisme-wetsontwerp” het in Oktober verlede jaar vir die eerste keer sy verskyning gemaak in reaksie op Zimbabwiese burgers wat steeds op die een of ander manier die vermoë gevind het om hulself uit te druk en hul menings te lug ten spyte van al die struikelblokke wat Zanu-PF in hul pad plaas. Alle voorgenome betogings moet eers goedkeuring verkry. Met ander woorde, as Zanu-PF nie hou van dit waarteen jy wil betoog nie, sal dit nie gebeur nie. Want dit is onpatrioties.

By ’n beplande protes op 31 Julie verlede jaar het moorddadige soldate met hul swaar stewels en dreigende vuurwapens hul verskyning gemaak en al die groot kruisings in die middestad van Harare versper.

Dan was daar ook die optrede teen die joernalis Hopewell Chin’ono wat sy Twitter-rekening gebruik het om die regering se plundering van Covid-19-geld te ontbloot. Hy is verlede jaar verskeie kere in hegtenis geneem en vir weke lank sonder verhoor of borgtog in Zimbabwe se berugste oorvol en vuilste tronk gegooi.

Die gevolg van al hierdie pogings om hul spraakvryheid uit te oefen en Zanu-PF se pogings om “geen vryheid ná spraak” af te dwing nie, het gelei tot die #ZimbabweanLivesMatter-beweging – ’n hutsmerk-beweging geïnspireer deur die Amerikaanse (en daarna wêreldwye) #blacklivesmatter-beweging wat gevolg het op die dood van George Floyd.

Miskien was die wêreld reeds hiervoor voorberei weens die gebeure in Amerika, maar as gevolg van die #ZimbabweanLivesMatter-beweging het die wêreld skielik weer begin aandag gee aan wat in hierdie teepotvormige land in die suide van Afrika gebeur. Wêreldwyd was Zimbabwe skielik weer in die nuus en op almal se lippe.

Die laaste keer dat ons sulke groot nuus was, was toe Mugabe uit die kussings gelig is om ’n oënskynlik nuwe era van hervorming in te lui; een waar Zimbabwiese burgers nie meer deur hul eie regering geterroriseer sou word nie. #ZimbabweanLivesMatter het aan die wêreld gewys dat dié hoop beskaam het.

Die Zimbabwiese regering was in die verleentheid. Die regering werk net so hard daaraan om vrees by sy bevolking aan te wakker as wat hulle daaraan werk om die land van al sy goud te plunder.

Elke Zimbabwiër weet dat enige kritiek teen Zanu-PF die regering sal noop om elke regsinstrument tot sy beskikking te gebruik om jou so vinnig as moontlik in Chikurubi te kry – moontlik die verskriklikste tronk in die wêreld.

Alles om jou te laat stilbly.

Dit het met Evan Mawarire in 2016 gebeur toe hy sy passie vir #ThisFlag en ’n hoop vir ’n beter Zimbabwe gedeel het in ’n Facebook-protesveldtog wat die land vir een dag tot stilstand gedwing het.

Dit het gebeur met Joana Mamombe, Cecilia Chimbiri en Netsai Marova, die dapper vroue wat bekend staan ??as die “MDC-Drie” toe hulle in Januarie vanjaar ’n betoging gelei het – ’n optog wat gelei het tot hul ontvoering, aanranding en marteling.

Dit het gebeur met die bekende skrywer Tsitsi Dangarembga, wat in hegtenis geneem is ná ’n reeks eenvrou-betogings verlede jaar.

Dit het gebeur met die woordvoerder en advokaat van die MDC, Fadzai Mahere, toe sy ’n betoging gelei het met ’n plakkaat waarop geskryf was:

#SAVETHEBABIES

#FREETHEMDCTRIO

#STOPABDUCTIONS

#ENDHUNGER

#FREEHOPE&JACOB

#PAYBACKTHEMONEY

#HANDSOFFCONSTITUTION

#IHAVEADREAM

#FIXOURHOSPITALS

#FREEZIMBABWE.

Die uitwerking van gewaagde protes soos hierdie en die deelname aan die internasionale hutsmerk-gesprek met ons eie #ZimbabweanLivesMatter-beweging was enorm.

Hiervan is die nuwe patriotisme-wetsontwerp die bewys.

Eenvoudig gestel beteken dit dat niemand Zanu-PF kan of mag kritiseer nie.

Onder die dekmantel dat Zimbabwe nie die buitelandse beleggings kry wat die land verdien nie as gevolg van hierdie onregverdige kritiek, is die wetsontwerp oënskynlik Zanu-PF se erkenning dat sosiale media aan Zimbabwiërs ’n platform bied om aan die buitewêreld te vertel hoe hulle die land in die grond in bestuur.

Vir 41 jaar bestaan ??Zimbabwe al as ’n nasie met net een staatsbeheerde TV-kanaal, ZBC, wat soos ’n worsmasjien propaganda uitspoeg oor hoe wonderlik Zanu-PF is. Net so word die radiogolwe deur die staat oorheers en selfs die stasies wat nie deur die regering bestuur word nie, loop lugtig vir die regering.

Die feit dat Zimbabwiërs die bose en onderdrukkende aard van die militêre diktatuur van Zimbabwe vrylik onder die buitewêreld se aandag kan bring, het tot hierdie wetsontwerp gelei. ’n Wet wat ons almal daaraan gaan herinner om “patrioties” te wees. Om ons te herinner dat ons ’n soewereine nasie is en dat die vaderlike patriargie-cum- militêre regering, wat besluite neem om homself te bevoordeel op ’n manier wat massiewe lyding onder gewone Zimbabwiërs tot gevolg het, hier is om te bly. En om almal wat anders dink of sê te vernietig.

Want dit is onpatrioties.

* Tawanda Mudzonga is ’n Zimbabwiese joernalis.

Meer oor:  Robert Mugabe  |  Emmerson Mnagagwa  |  Zimbabwe  |  Zanu-Pf  |  Staatsgreep  |  Demokrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.