Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Sy’s een van CR se foute’

Die nuwe kabinet is in wese ’n kompromiskabinet om die faksies in die ANC bymekaar te hou, skryf Pieter Labuschagne. Maar die aanstel van Patricia de Lille was niks meer as korttermyn-opportunisme nie. 

Patricia de Lille word eergister as minister beëdig deur hoofregter Mogoeng Mogoeng.Foto: felix dlangamandla

Pres. Cyril Ramaphosa se nuwe kabinet het min groot verrassings – maar wel een groot, onverwagte skok.

Daar is veel te lees in die lang vertraging om die kabinet aan te kondig, en dit is duidelik dat Ramaphosa wyd gekonsulteer en baie moeilike gesprekke agter die skerms gevoer het.

Die verdere vertraging Woensdagaand van ’n driekwartier voor die aankondiging by die Uniegebou, bevestig die lang gesprekke en die balanseertoertjie wat Ramaphosa moes uitvoer.

As jy die nuwe kabinet beoordeel, moet die doel en oogmerke van ’n kabinet in ’n parlementêre regeringstelsel nie uit die oog verloor word nie.

Die primêre doel is om doeltreffende leierskap in die hoogste uitvoerende liggaam van die staatsapparaat te verseker. Die kabinet moet doeltreffend in die uitvoering van sy pligte in die onderskeie portefeuljes wees.

Dit sluit in beheer oor die proses van beleid maak, die uitvoering van beleid, die bestuur van die lomp burokratiese masjien en ook krisisbestuur. Laasgenoemde beteken dat kabinetslede vinnige en daadwerklike aksie moet kan neem wanneer dit nodig blyk te wees.

Die kabinet het egter ook ’n simboliese kant, wat nie buite rekening gelaat moet word nie.

Die ministers simboliseer die uitvoerende gesag in die land en beklee die poste op grond van ’n bepaalde legitimiteit en status wat hulle verwerf het – veral op grond van hul individuele bekwaamheid.

Dit beteken eenvoudig dat indien daar ’n direkte verkiesing gehou sou word, die ministers die meeste individuele stemme sou ontvang, want die kiesers het besluit hulle is die legitieme leiers.

Die samelewing glo hulle is die beste en die doeltreffendste en hulle is vanweë hul bekwaamheid in die kabinet – en nie om ander redes soos kompromieë en om strydende faksies te paai nie. Dit is nie geskenke wat om ’n Kersboom uitgedeel word om al die kinders tevrede te stel nie.

Die legitimiteit, doeltreffendheid en gewildheid van die kabinetslede is uiters belangrik vir die karakter en die stabiliteit van ’n politieke regime. Indien nie, is dit uiters moeilik om steun en samewerking van die breër bevolking te kry vir die uitvoering en die implementering van hul beleid. Teenstrydige faksies ondermyn mekaar en werk nie saam as ’n goeie bestuurspan nie.

’n Kabinetsminister is die gesig van die staat, vereenwoordig die groter samelewing en simboliseer die eenheid in die land – en dit is hier waar Patricia de Lille te kort skiet.

Strategiese klopdans

Die Ramaphosa-kabinet is in wese ’n kompromiskabinet. Beoordeel jy die ministers volgens die bogenoemde maatstawwe, is dit duidelik dat die nuwe kabinet eerder deel van ’n strategiese klopdans is om al die faksies bymekaar te hou.

Die kabinet is eerstens gepak met swaargewigte wat lojaal teenoor Ramaphosa is – mense soos Fikile Mbalula, Bheki Cele en Jackson Mthembu. Hulle is duidelik in die Ramaphosa-kamp en sal saam met ander lojaliste hom die broodnodige oorwig gee om sy hande losser maak en om sy beleid uit te voer.

Mense soos Nkosazana Dlamini-Zuma, Njabulo Nzuza, David Mahlobo en Lindiwe Zulu en twee of drie ander ministers en adjunkministers is steeds Jacob Zuma-ondersteuners en verteenwoordig die opponerende faksies.

Die insluiting van David Mabuza as adjunkpresident en leier van die wetgewende vergadering, skep vir Ramaphosa ’n onseker teenwoordigheid in die parlement.

Die lang samesprekings met veral Cosatu was ook betekenisvol. Dit dui daarop dat toekomstige samesprekings met dié vakbond een van die prioriteite van die nuwe Ramaphosa-leierskap gaan wees.

En al die adjunkministers?

Die algemene indrukke van die kabinet is egter gunstig en die lang verwagte vermindering van die getal ministers van 36 na 28 word wyd verwelkom. Die samesmelting van verskeie departement is ’n positiewe stap tot verdere rasionalisasie.

Dié vermindering is egter grootliks gefnuik deur die groot getal adjunkministers wat in die onderskeie portefeuljes aangestel is. Dit is nie nodig om soveel adjunkministers aan te stel nie, behalwe dalk in ’n paar sleutelposte soos finansies.

Dan is daar ook ’n element van risiko met van die ministers wat ingesluit is. Dit sluit in onder andere Pravin Gordhan (as minister van openbare ondernemings), in die lig van die openbare beskermer se verslag teen hom.

Daar is ook onsekerheid oor diegene wat voor die ANC se integriteitskomitee verskyn het, soos Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie.

Die weglating van Ramaphosa se aangetroude familielid Jeff Radebe as die langsdienende minister in die kabinet, is interessant, terwyl dit betekenisvol is dat daar geen plek te vinde was nie vir Derek Hanekom, voormalige minister van toerisme. Dit kan wees weens Hanekom se rol om van Zuma ontslae te raak, en dat dit ’n kompromis met die opponerende faksie was.

Uiters bekwame vroue

Daar is natuurlik groot dankbaarheid oor die weglating uit die kabinet van Bathabile Dlamini, voormalige minister van vroue in die presidensie.

Haar amp as president van die ANC-vroueliga gaan natuurlik met ’n groot mate van risiko gepaard. Ramaphosa het waarskynlik haar weglating probeer uitkanselleer deur vroue in helfte van kabinetsposte aan te stel.

Die aankondiging dat vroue nou vir die eerste keer die helfte van die kabinet uitmaak, is deel van die simboliek en legitimiteit waarna Ramaphosa op soek is.

In die samestelling van ’n kabinet behoort die president egter die beste ministers aan te stel, want bekwame vroue sal self deur die proses na ministeriële posisies beweeg.

Daar is baie bekwame vroue in die kabinet, soos Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling. Sy sal met integriteit in die kabinet dien. Naledi Pandor, minister van nasionale betrekkinge en samewerking, val ook in dié kategorie.

Een van Cyril se foute

Die grootste verrassing was egter die insluiting van Patricia de Lille van die nuutgestigte Good-party as minister van openbare werke en infrastruktuur in die kabinet.

Dit is natuurlik nie die eerste keer dat ’n president iemand uit opposisiegeledere nadertrek en as minister aanstel nie. Dit was vroeër die geval met Mangosuthu Buthelezi as minister van binnelandse sake, en Pieter Mulder wat deur Zuma as adjunkminister van landbou aangestel is, waar hy egter grootliks geïsoleerd was.

’n Kabinetsminister is die gesig van die staat, vereenwoordig die groter samelewing en simboliseer die eenheid in die land – en dit is hier waar De Lille te kort skiet.

Haar aanstelling is opportunisties en een van die foute wat Ramaphosa gemaak het.

De Lille het baie plakkers op haar reistas weens haar stamperige reis vanaf die PAC na die OD na die DA en nou na Good. Die vraag is of De Lille se party nie maar mettertyd in die ANC sal opgaan nie.

De Lille is nie ’n spanspeler nie, sy raak gou uitgeboer en stamp vinnig koppe met ander. Die kernvraag is: Wie verteenwoordig sy werklik nou – die beleid van die ANC of die van Good?

Sy het net 0,4% van die stemme op haar verenig in die verkiesing en met verwysing na kiesersteun het sy dus werklik min legitimiteit.

Verteenwoordig sy werklik eenheid in die land, en hoeveel steun het sy buiten die klein getal kiesers wat in 2019 vir haar gestem het?

Haar aanstelling is niks meer as korttermyn-opportunisme nie.

Indien die doel was om in die Wes-Kaap steun vir die ANC te probeer werf, het Ramaphosa ’n fout gemaak. Die stemme vir De Lille se party was protesstemme teen die DA en verteenwoordig nie daadwerklike steun nie.

Ramaphosa het met dié “tonguitsteek” vir die DA ander senior ANC-vroue oorgesien en daar was geen werklik legitieme gronde om De Lille aan te stel nie.

Op ’n vrolike noot: Met die nuwe kabinet is tot ’n groot mate van die vermeende korruptes en staatskapers soos Dlamini en ander ontslae geraak. In die geheel is die nuwe kabinet dus tog meer positief as negatief.

Die ware toets vir die kabinet is egter of hy doeltreffend kan regeer. ’n Enorme uitdaging wag op Ramaphosa en sy kabinet.

  • Labuschagne is ’n emeritusprofessor in die departement van politieke wetenskap aan Unisa.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.