SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Aktueel
Taal: Regte het ’n plig

Die vasberadenheid van diegene wat Afrikaans wil beskerm moet nie onderskat word nie, skryf Cerneels Lourens. Te midde van die aanslag op Afrikaans is die vraag: Kan ons meer doen om Afrikaans as regstaal te red, of is dit te laat?

Die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. Foto: Getty Images

Die antwoord is: Nee, dit is nie te laat nie.

Die regsberoep en Afrikaanssprekendes beskik oor geweldige intellektuele kapitaal, maar weens die individualistiese aard van die regswese, die kaping van die prokureursordes en die opgaan daarvan in die regsraad onder die bewind van die Black Lawyers Association, moet ons herbesin oor ons benadering.

Veral in Afrikaans-gekonsentreerde gebiede behoort daar op streeksvlak saamgewerk te word om die regte van Afrikaanssprekendes in ons howe af te dwing.

Het ons senior regslui te deftig, te waardig, te steriel geword oor Afrikaans? Sal hulle saamwerk met ’n woorde-optog na die konstitusionele hof of so iets? Dit is tyd en die tyd is nóú vir behoorlike gemeenskaplike agitasie.

Die hoofregter se konstitusionele misdaad om Engels tot enigste amptelike hoftaal te verhef moet aan die kaak gestel word en in die openbaar oopgevlek word. Ons moet hom dus in ’n openbare staat van beskuldiging plaas, want dit is die wortel van die kwaad.

Het ons senior regslui te deftig, te waardig, te steriel geword oor Afrikaans?

Die medepligtiges tot hierdie besluit moet ook minstens van hul poste as regters-president van die hoër howe afstand doen.

Daar is nog ’n paar idees om in die gedagte-knapsak te plaas om in die toekoms verder te neem:

  • Ons benodig ’n behoorlike taalbestuursplan vir die howe. Taalsosioloë behoort hier betrek te word en die hoofregter behoort die inisieerder van so ’n taalbestuursplan vir die howe ná konsultasie met alle belangegroepe te wees.

Die onmiddellike versoek behoort te wees dat daar ’n rondgaande stelsel van howe ontwikkel moet word waar regters en landdroste wat Afrikaanssprekend of Afrikaans magtig is rondgaan om op verskillende plekke in die land Afrikaanse verhore te hanteer. Dit geld natuurlik ook vir die ander tale en as hulle dit wil opneem, moet hulle daarvoor vra.

In die streke waar Afrikaans goed verteenwoordig is – soos Pretoria, Bloemfontein, Kimberley en Kaapstad – behoort genoegsame regters volgens ’n interne taalbestuursplan beskikbaar te wees om sake in Afrikaans te kan aanhoor.

Dit is ’n onding dat ’n kliënt in ’n siviele saak wat sy saak in Afrikaans verhoor wil hê R6 000 per dag vir ’n tolk in die hooggeregshof in Pretoria moet betaal (en moontlik ook vir ’n ekstra dag of twee vir sy advokaat, omdat ’n saak wat getolk word soveel langer neem).

Dat dit boonop in stede gebeur waar ’n groot konsentrasie Afrikaanssprekendes woonagtig is, grens aan ’n konstitusionele misdaad.

  • Distrikshowe behoort landwyd volgens die streektaalgebruik bestuur te word. Noodsaaklike skaars tolkdienste kan dan beter aangewend word.

Toeganklikheid tot die howe sal sodoende verbeter, want daar sal meer sake vinniger afgehandel word en die hofrolle sal verkort.

Slegs baie beperkte sake word op appèl geneem en regters in daardie afdelings behoort volgens die streektaalgebruik aangestel te word wat die appèlle en hersienings kan bereg.

  • Ons moet Afrikaanssprekende regters en landdroste op die bank kry en senior regspraktisyns oortuig om dit op te neem. So behoort die landdroskommissie senior prokureurs op ’n ad hoc-grondslag aan te stel om vir ’n paar dae as ’n streeklanddros in die siviele hof waar te neem. Op hierdie wyse kan daar Afrikaanssprekende voorsittende beamptes in die streekhowe wees.
  • Die opleiding van tolke om kommersiële en siviele sake in Afrikaans na Engels te tolk, en die beskikbaarmaking van so ’n lys van tolke is vir ons bedryf van kernbelang.
Dit kan vergelyk word met die brand van die biblioteek van Alexandrië.

Die Vereniging vir Regslui in Afrikaans (VRA) kan moontlik hierby betrokke raak ten einde die koste van litigante te verminder en só werk vir Afrikaanssprekendes te skep. Die departe­ment van justisie behoort daarvoor te betaal.

  • Verder behoort die VRA dit te oorweeg om ’n “regtepedia” tot stand te bring waar Afrikaanse regsmenings (natuurlik ná die verwydering van kliënte se persoonlike inligting) gepubliseer kan word.

Daar is byvoorbeeld bundels dorpsraadbeslissings wat adv. Derek Coetzee saamstel en wat op so ’n “regtepedia” geplaas kan word.

Daar is talle ander voorbeelde – byvoorbeeld die regsmenings oor waterregte van Martin Grüter – wat hier gepubliseer kan word.

In hierdie regsmenings is daar ryke stof wat regsnavorsing in Afrikaans ’n groot hupstoot kan gee.

  • ’n Begin moet gemaak word met ’n Afrikaanssprekende drukgroep wat oor landsgrense strek. Dit kan myns insiens deur middel van ’n virtuele politieke drukgroep bewerkstellig word.

’n Virtuele tiende “Afrikaanse provinsie” en uiteindelik ’n Afrikaanse virtuele staat is dalk nie so ’n vergesogte gedagte soos dit klink nie.

Daar is plek vir alle organisasies en politieke partye in so ’n drukgroep.

  • Die stigting van ’n “senaat” van Afrikaanssprekendes waar die intellektuele kapitaal van die Afrikaanse gemeenskap bo 55 jaar benut kan word.

Dit is iets wat onmiddellike oorweging verdien en waarop gewillige oudregters, soos byvoorbeeld oudregter Eberhard Bertelsmann, en senior advokate soos Jan Heunis en ander kan dien.

So ’n senaat kan, soos ’n sinode, van tyd tot tyd op ’n streeksgrondslag vergader – of virtueel.

Sulke gemeenskaplike optrede sal waarskynlik die aandag van die regering trek en die vordering van ons regte sal met groter erns opgeneem word. So ’n senaat kan ook die virtuele drukgroep verder ondersteun.

  • Daar behoort onverwyld ’n vertaalfonds gestig te word wat belê in vertalings, ook van regswerke.
  • Ons moet belê in die Afrikaanse private universiteit Akademia en alle afgetrede regslui moet dit oorweeg om hul biblioteke en opleidingsvaardighede aan Akademia beskikbaar te stel.

Daar behoort ook in die Suid-Kaap, moontlik in George, ’n satellietkampus gestig te word.

Terselfdertyd moet geveg word om die universiteite van Stellenbosch en Potchefstroom se verengelsing te rem ten einde Akademia kans te gee om op dreef te kom. Dit gaan opoffering en natuurlik ook geld kos. Die onreg dat ons weer nuwe universiteite moet vestig is egter diepliggend en is sulke verset werd.

  • Meer Afrikaanssprekende vegters vir taalregte behoort internasionale konferensies, waarvan daar verskeie is, by te woon ten einde te put uit die ervaring in ander lande.

Aan die einde van dit alles bly daar nog net die vraag: Gaan Afrikaans hierdie taalstorm oorleef?

Ek en u gaan dit nie weet nie, dit gaan aan die nageslag oorgelaat word om ons suksesse al dan nie in die geskiedenisboeke aan te teken.

Die vraag is dus eerder: Wat gaan hulle oor u en my aanteken? Het u en ek ons verantwoordelikheid nagekom met betrekking tot ons taal toe ons die kans gehad het?

Die goeie nuus is dat ons uit ons menslike ervaring weet dat storms nie vir ewig aanhou nie.

Die kollektiewe aanslag op die Afrikaanssprekende gemeenskap deur die aanslag op Afrikaans in ons onderwysinstellings, universiteite en howe bedreig die kosbare vrede in ons land.

Dit kan vergelyk word met die brand van die biblioteek van Alexandrië: Dit is ’n brand wat poog om die “intellektuele biblioteek” van die Afrikaanse gemeenskap te vernietig.

Die vasberadenheid van Afrikaanssprekendes om die taal te beskerm en te bewaar (soos ons ander regte) moenie onderskat word nie.

Ons sal die stryd teen strukturele geweld teen Afrikaans gesamentlik en individueel op ’n kreatiewe verantwoordelike wyse voer.

Dit is nie net ons reg nie, maar ons verantwoordelikheid. Dit baan ook die pad vir ons mede-Suid-Afrikaners om hul Afrika-tale op te eis.

  • Sonder Afrikaans is Suid-Afrika nie die moeite werd nie. Cerneels Lourens is ’n prokureur. Hierdie artikel is ’n geredigeerde en verkorte weergawe van ’n toespraak wat hy by ’n vergadering van die Vereniging vir Regslui in Afrikaans gelewer het.
Meer oor:  Howe  |  Afrikaans  |  Regstaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.