Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Taal van ‘oorlog’ sal nie help teen virus

Die metafore van geweld en oorlog skep nie ’n gesonde atmosfeer wanneer dit by die bekamping van Covid-19 kom nie omdat oorreding eerder as dwang die sleutel is, skryf Malcolm de Roubaix.

’n Soldaat wat verlede jaar buite Durban gehelp het om die inperkingsmaatreëls af te dwing. Foto: Gallo Images

Die mensdom staan dikwels verstom en ietwat ontnugter voor die geweldige magte van die natuur: aardbewings, tsoenami’s, vulkaniese uitbarstings, orkane, sneeustorms, oorstromings en vloede, om maar net enkeles te noem.

Weens die uitwerking daarvan op menslike lewens beskryf ons hierdie natuurverskynsels as rampe. Dink maar aan die dramatiese Bybelse verhaal van die sondvloed waarin byna die hele mensdom en diereryk uitgewis is, reuse-meteore en die reuse-stofkomberse veroorsaak deur vulkaniese uitbarstings wat lewe op die aarde byna uitgewis het.

Ons reaksie op natuurrampe is om binne ons vermoë te red wat te redde is – sonder om “oorlog” te verklaar. Oorlog het konnotasies van gewelddadigheid, vernietiging, verminking en die dood van onskuldiges – die teenoorgestelde van wat ons wil bereik.

Na my mening is ’n pandemiese siekte soos Covid-19 bloot nog ’n natuurramp. Ons regering het tereg in reaksie hierop ’n “ramptoestand” verklaar. Maar hy het sy reaksie ingeklee as “oorlog”, en “oorlog” teen Covid-19 verklaar.

Die blote gedagte om 'oorlog' teen siekte te voer kom nie by enige gesondheidswerker op nie. Waarom dan ’n 'oorlogsverklaring' uitreik, ’n 'krygsraad' saamstel om die 'aanslag' af te weer en 'aanvalle' op die 'vyand' te koördineer – en afkondig wat in effek op krygswet neerkom?

Wyduiteenlopende sosiale media hipoteses en samesweringsteorieë ten spyt, is die koronavirus wat Covid-19 veroorsaak as sulks egter nie “boos”, ’n “vyand” of ’n wapen wat deur die een of ander “bose mag” op ons gerig word of ’n “Goddelike bestraffing” nie.

Die virus doen bloot wat die natuur en evolusie van hom “verwag” en muteer om ten beste te kan “oorleef”. Hy doen dit op ’n “verstandelose” (mindless) dog uiters doeltreffende wyse.

Die doel van geneeskunde is om met empatie en inagneming van menslike waardigheid en menseregte te genees, of ten minste simptome/lyding te verlig en om altyd te troos.

Die blote gedagte om “oorlog” teen siekte te voer kom nie by enige gesondheidswerker op nie. Waarom dan ’n “oorlogsverklaring” uitreik, ’n “krygsraad” saamstel om die “aanslag” af te weer en “aanvalle” op die “vyand” te koördineer – en afkondig wat in effek op krygswet neerkom?

Die mensdom sal nie so arrogant wees om “oorlog” teen ander natuurrampe te verklaar nie, waarom teen hierdie pandemie?

Taal van die geneeskunde en metafore van geweld

Malcolm de Roubaix is ’n is ’n narkotiseur met ’n doktorsgraad in geneeskunde en toegepaste etiek. Foto: Jaco Marais

Die antwoord lê in die taal van geneeskunde – die metafore wat deur die eeue heen, maar veral in die jongste verlede toenemend ontwikkel is om ons reaksie op siekte te monster, om oor siekte te kommunikeer en siekte te beskryf.

Metafore is onafwendbaar deel van ons algemene taal en kommunikasie, verryk ’n taal en verleen poëtiese diepte aan opvattings en woorde. Dit is dikwels die beknopste en pikantste manier om ’n begrip oor te dra en meestal nie parafraseerbaar nie.

Maar metafore is tegelyk veel mooier beeldspraak en taalversiering.

Dit omskryf nie slegs wat ons van dinge dink nie maar ook hóé – met ander woorde, waarde-oordele. As ek byvoorbeeld na ’n spesifieke politikus verwys as ’n hiëna (slang, adder, aasvoël, jakkals), dig ek die negatiewe eienskappe wat ek as natuurlik in die dier (brondomein) sien aan die mens (teikendomein) toe.

Hy wórd in my oë ’n hiëna – met apologie aan die dier. Metafore is in dié verband veel kragtiger as vergelykings (vergelyk: hy is soos ’n hiëna).

Vreemd genoeg is die gewildste metafore in geneeskundige konteks – wat en hoe ons oor siekte dink en kommunikeer – geweld, oftewel oorlogsmetafore.

Het ek die 'geveg verloor'; dalk nie 'hard genoeg' geveg nie? Die behandeling is dikwels so ingrypend soos die siekte self en getrou aan die oorlogsmetafoor gewelddadig – met fisieke, chemiese en kernwapens (chirurgie, chemoterapie, bestraling).

Met ’n diagnose van kanker, byvoorbeeld, sal die dokter jou probeer bemoedig deur te sê ons sal dit saam beveg, alles in die stryd werp, jy moet moed hou, aanhou veg en jy sal oorwin (’n string metafore) – terwyl al wat jy eintlik kan en gaan doen, is om gedwee die behandeling te volg wat jou dokter voorstel.

In navorsing hieroor is bevind dat die metafoor nie veel sin maak nie, omdat pasiënte in werklikheid nie verstaan hoe, teen wie/wat en met watter “wapens” geveg moet word nie, nie verstaan hoe hulle teen hulself kan oorlog maak nie, of dat kanker byvoorbeeld dikwels in remissie is, maar nie altyd genees nie (wat beteken “oorwinning” dan?).

Dieselfde geld die reis-metafoor (die lewe is ’n reis; die lewe met siekte is ook ’n reis), hoewel die konnotasies daarvan meer positief geskets kan word.

Wat is byvoorbeeld die eindpunt van die reis met ernstige siekte – remissie, genesing of die dood?

’n Ander probleem is verplasing – die “stryd” teen die siekte binne my liggaam word ’n “stryd” teen my. Hoe moet slegte uitkoms of verloop binne die geweldsmetafoor hanteer word?

Het ek die “geveg verloor”; dalk nie “hard genoeg” geveg nie? Die behandeling is dikwels so ingrypend soos die siekte self en getrou aan die oorlogsmetafoor gewelddadig – met fisieke, chemiese en kernwapens (chirurgie, chemoterapie, bestraling). As ek my reg uitoefen om verdere behandeling te staak – kapituleer ek, laat ek iemand in die steek, of berus ek bloot?

Geneeshere en nie soldate nie

“Die regering se ‘oorlogsverklaring’ is beslis nie namens my of duisende van my kollegas nie. Ons is nie soldate nie, maar genesers,” skryf dr. Malcolm de Roubaix. Foto ter illustrasie. Foto: Gallo Images

Oorlogsmetafore kan ook ingespan word om onetiese en onwettige optrede te legitimeer; die menseregte-vergrype van Japan tydens die Tweede Wêreldoorlog is anders as met die Neurenberg-verhore van oorlogsmisdadigers letterlik onder die mat ingevee omdat die VSA die resultate van hul chemiese en biologiese oorlogvoering/eksperimente wou bekom.

In die naam van Suid-Afrika se “stryd” teen die virus is maatreëls – wat allerweë as oneties beskou en dikwels in die howe as ongrondwetlik of onvanpas verklaar is – deur ’n militaristiese bevelsraad afgekondig (in reaksie op openbare protes word dit nou glo eers deur die kabinet “goedgekeur”).

Let op dat ons nou min sien van ministers wat die belaglikste aankondigings gemaak het, soos Ebrahim Patel (minister van handel, nywerheid en mededinging).

Ter wille van ewewigtigheid moet ek meld dat die aanwending van oorlogsmetafore moontlik ook positiewe resultate kan inhou.

In meer as 50 jaar as praktiserende geneeskundige het ek nooit “oorlog” teen siekte gemaak, of gevoel dat ek dit wil of kan doen nie, maar probeer om die sieke agter die siekte – die mens wat ly – met waardigheid by te staan. Die regering se “oorlogsverklaring” is beslis nie namens my of duisende van my kollegas nie. Ons is nie soldate nie maar genesers. En, terloops, weermaglede (nie in Suid-Afrika nie) kla dat hul beroep ingesleep word by die gebruik van oorlogsmetafore: Die moderne soldaat is ewe dikwels vredemaker, neem deel aan reddingsoperasies en bied openbare steun tydens rampe.

Ter wille van ewewigtigheid moet ek meld dat die aanwending van oorlogsmetafore moontlik ook positiewe resultate kan inhou – om openbare en finansiële ondersteuning vir gesondheidsveldtogte en kankernavorsing te werf.

’n Gesondheidswerker wat gehelp het om reisigers by die Grasmere-tolhek vir koronavirus te toets. Foto: Reuters

Richard Nixon het só die “oorlog” teen kanker in die VSA ingelei – met die slagspreuk dat die VSA die oorlog teen tirannie gewen het, en nou die stryd teen kanker moet lei – en die Nasionale Kankerinstituut gestig waardeur miljarde dollar na kanker-navorsing gevloei het.

Dit bly egter ’n ope vraag of hierdie moontlike positiewe gevolge vir die werklik negatiewe uitwerking op persoonlike vlak kan vergoed.

Ons sou dalk ook uit sommige tradisionele Afrika-beskouings oor die aard van siekte ’n les kon leer.

Godfrey Tangwa, ’n gerespekteerde filosoof van Kameroen, vertel dat in die dorpie waar hy grootgeword het, is siekte nie beskou as iets wat “aggressief beveg” moet word nie, maar eerder iets wat aangemoedig en versoek moet word om die liggaam van die sieke te verlaat.

Nietemin maak dit vir my veel meer sin om siekte te beskou slegs as iets wat gebeur, deel van die menslike ervaring, nie iets wat militaristies beveg moet – of kan – word nie, maar binne die raamwerk van aanvaarde mediese kennis optimaal behandel moet word.

Die jare lange gebruik bring mee dat oorlogsmetafore in die diskoers en taal van geneeskunde ingeburger is. Doodsberigte verwys byvoorbeeld na ’n “dapper stryd” wat iemand “verloor” het. Dokters praat van “aggressiewe behandeling” wanneer hulle eintlik slegs standaard-uitkoms-bewese behandeling bedoel.

Ontwaterde pasiënte word “aggressief” her-hidreer en hartstilstand “aggressief” geresussiteer. Die militaristiese range-stelsel en uniforms in verpleegkunde (tans ietwat verwater) onderskryf die metafoor; die Engelse platvloerse woord vir inspuitings – shots – en die dokter wat “bevele” gee voltooi die beeld.

Dit pas ook in by die mensdom se pogings om “te beheer”, die dokter se filosofie van aktiwiteit eerder as passiwiteit, en sy/haar tradisionele rug-draai op sterwende pasiënte (wat deur Hippokrates goedgekeur is om die dokter se reputasie as geneser te beskerm).

Dit sou seker uiters moeilik wees om hierdie metafore uit geneeskundige diskoers te verban; laat staan nog, soos Susan Sontag voorgestel het, alle metafore.

Nietemin maak dit vir my veel meer sin om siekte te beskou slegs as iets wat gebeur, deel van die menslike ervaring, nie iets wat militaristies beveg moet – of kan – word nie, maar binne die raamwerk van aanvaarde mediese kennis optimaal behandel moet word.

Ons behoort wel sensitief te wees vir die metafore wat pasiënte gebruik om hul siekte-ervaring te verstaan en te beskryf, en probeer om in ons reaksie ’n positiewe klem daarop te plaas.

Ons moet ook versigtig wees om nie self hierdie metafore in kommunikasie met pasiënte te gebruik nie. En nie pandemies met ’n militaristiese aanslag probeer benader nie.

Onredelike regulasies en bruuske optrede

Bheki Cele, minister van polisie, besoek in Desember verlede jaar ’n Kaapstadse strand. Foto: Gallo Images

Om terug te keer tot die regering se aanwending van geweldsmetafore en die “stryd” teen die virus, net twee punte.

Eerstens, die aard en toepassing van die regulasies. Hierdie benadering het ’n reeks regulasies gelegitimeer wat onvanpas, onwettig en oneties was. Die bruuske inperking van ouer persone in versorgingsoorde het Elsa Joubert, doyenne van Suid-Afrikaanse skryfsters, byvoorbeeld beweeg om in ’n roerende brief aan haar dokter te kla dat sy kwyn sonder die “kloppende verbintenis tussen ouer en kind” wat die regulasies haar tydens haar “laaste weke” ontneem het in die waan dat dit haar en talle ander sou beskerm.

Dit het nie – inteendeel, dit het haar dood verhaas deur die virus by die agterdeur in te laat. Natuurlik moes/moet ouer persone beskerm word, maar was daar regtig geen alternatief nie, geen manier waarop nabyheid sonder direkte kontak bewerkstellig kon word nie?

’n Kollega het haar bejaarde moeder uit ’n ouetehuis “bevry” en veilig by haar laat bly nadat die eerste sterftes daar voorgekom het.

Hulle het die 'oorlog' teen die virus verplaas na ’n 'oorlog' teen die mens wat moontlik deur die virus aangetas is of mag word.

Die aanvanklike lawwe regulasies oor oefening, later watter tipe skoeisel en T-hemde verkoop mag word, die ondoeltreffende verbod op tabak wat ooglopend oortree is, die verbod op die vervoer van uitvoer-wyn (“as ons dit nie mag gebruik nie, mag hulle ook nie”), die totale sluiting van en selfs arbitrêre definisie van strande, die bruuske hantering van persone wat heeltemal redelik die onredelike inperking regulasies oortree (om byvoorbeeld voeding vir ’n honger baba te gaan koop), en soveel meer – en die sleepvoetende, tonnelvisie-reaksie op openbare protes.

In die waan van oorlogvoering het ’n minister van polisie, wat ek hoor as ’n kruising tussen ’n nar en ’n cowboy beskryf is, die polisie aangepor – “as ons jou op straat vang, sal óns vir jou ’n huis gee”; ja, ’n oorvol sel met geen distansiëring nie.

Teen Augustus 2020 was reeds byna 250 000 mense só aangekeer (nie almal aangehou nie). Terselfdertyd was die president se reaksie op die dood van 11 mense weens polisiewreedheid dat die SAPD-lede “oorentoesiasties” was.

Nee, Meneer; hulle het duidelik in ooreenstemming met hul cowboy-minister se styl en opdragte opgetree, presies gedoen wat hy wou hê – ons maak mos oorlog, en in oorlog is als geregverdig. Meer nog; hulle het die “oorlog” teen die virus verplaas na ’n “oorlog” teen die mens wat moontlik deur die virus aangetas is of mag word.

Dr. Malcolm de Roubaix se boek, ‘Hoop, heling & harmonie’, is verlede jaar deur Penguin uitgegee. Foto: Jaco Marais

Intussen dryf die regulasies mense, wat nie strande mag besoek nie, na inkoopsentrums met onbeperkte toegang. Ter wille van balans: Die drastiese afname in verskeie soorte misdaad is ’n welkome verposing, maar slegs tydelik. Sodra die inperking opgehef word, sal dit weer tot die vlakke voor inperking terugkeer.

Tweedens, die doeltreffendheid van ’n militaristiese dwang-styl. Die probleem hier is dat geen wet of regulasie mense sal verhoed om te oortree nie, veral nie as die oortreding relatief “sag” is nie.

Ek steel nie my buurman se tuinslang omdat ek bang is ek word gevang nie, maar omdat ek weet dis die regte ding om te doen.

Hul optrede is heeltemal in pas met ANC-tradisies wat nie die verskil tussen dwang en oortuiging, mag en outoriteit verstaan nie.

Ek glo daar is ’n groot mate van welwillendheid onder die breë Suid-Afrikaanse bevolking. Terselfdertyd glo ek ook dat elke volgende hardhandige polisie-optrede, elke lawwe regulasie, elke sinlose inperking van die publiek se regte, elke verspotte verklaring ons gehoorsaamheid en bereidheid om saam te werk en die regte ding te doen wegkalwe.

Ek verwag nie dat die betrokke ministers nou skielik die lig sal sien nie; daar is ’n gebrek aan die praktiese insig wat nodig is om te weet hoe om op te tree, na wie om te luister – dit is, basiese regeerkunde.

Hul optrede is heeltemal in pas met ANC-tradisies wat nie die verskil tussen dwang en oortuiging, mag en outoriteit verstaan nie. Daarby sal hulle ook nooit wil erken hulle is verkeerd nie – kyk na hul reaksie as die howe hulle daarop wys: die een sinlose, duur appèl ná die ander. Maar hopelik kan iemand iewers insien dat die manier om mense se gedrag te verander nie is deur regulasies af te kondig en drakonies toe te pas nie.

Oorreding eerder as dwang

Kostadin Angelov, Bulgarye se minister van gesondheid, word in Sofia teen Covid-19 ingeënt. Baie Suid-Afrikaners moet nog oortuig word om die inentings te aanvaar wanneer dit beskikbaar is. Foto: Reuters

Selfs met die behoud van die huidige stelsel kan ’n ander benadering ondersoek word deur byvoorbeeld die hulp van sielkundiges, sosioloë, beraders en bemarkers met kundigheid in die verandering van groepsgedrag in te roep – ironies genoeg het die president pas so ’n strategie om die gender-meerderwaardigheid van mans te verander aangekondig.

Hy het egter die moontlike toepassing van dieselfde strategie misgekyk om persoonlike verantwoordelikheid aan te wakker ten opsigte van gedrag wat almal kan benadeel.

’n Basiese meganisme is om groepsdruk te gebruik om gedrag positief te beïnvloed. Groepsdenke en -druk kan natuurlik ook negatiewe gevolge inhou, soos in Nazi-Duitsland, apartheid-Suid-Afrika en onlangs in die aanval op die Amerikaanse kongresgebou.

In laasgenoemde is sosiale media uiters negatief en destruktief aangewend, en het negatiewe groepsdenke en -besluitneming bevorder. Sosiale media het die kitsverspreiding van opruiende planne moontlik gemaak, met byna katastrofale gevolge.

Maar dieselfde metodes kan ook positief aangewend word indien ons ophou om negatiewe boodskappe te herhaal en aan te stuur, en positiewe boodskappe in die plek daarvan versprei – ’n positiewe lente-strategie.

Natuurlik sal daar altyd rand-individue wees wat gesag gaan uitdaag en redelikheid gaan ontken, en dalk sal Cele vir hulle huisvesting moet aanbied.

Hiervoor is TV is ook ’n magtige wapen.

7de Laan het ’n bisarre “kongovirus” kortstondig aan sy kykers voorgehou, in plaas daarvan om sy invloedryke platform konstruktief aan te wend en die pandemie semi-permanent in die storielyn te vestig.

Daar is reeds ’n kliniek en ’n span dokters. Sy regisseurs en draaiboekskrywers lewe in meer as een opsig in ’n borrel. Ek kan nie glo dat die eenvoudige voorkomingsbeginsels steeds nie aan alle Suid-Afrikaners bekend is nie – die probleem lê daarin om kennis in praktiese aksie om te skakel, en dis waarop strategieë moet fokus.

Natuurlik sal daar altyd rand-individue wees wat gesag gaan uitdaag en redelikheid gaan ontken, en dalk sal Cele vir hulle huisvesting moet aanbied.

Maar as ons sielkundig reg benader word en beweeg kan word om persoonlike verantwoordelikheid te aanvaar en uit te leef – om die regte ding te doen – sal ons dalk ’n paar lewens – wie weet, dalk ons eie? – kan red.

Die sleutel is oorreding eerder as dwang. Die jongste presidensiële televisie-optredes maak my hoopvol – veel meer emosie en oorreding en minder dwang.

Of is ek hopeloos te optimisties? Bygesê, die hef aan lê nog voor – om burgers te oorreed om inentings te aanvaar wanneer dit beskikbaar word.

• De Roubaix is ’n narkotiseur met ’n doktorsgraad in geneeskunde en toegepaste etiek. Hy is die skrywer van Hoop, heling & harmonie: Dink nuut oor siekte en genesing, wat verlede jaar deur Penguin uitgegee is. Dié artikel is gegrond op ’n hoofstuk uit sy boek.

Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.