Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Taalbloed aan mure

Universiteite behoort aan Suid-Afrikaners, nie aan Afrikaners nie, skryf Piet Croucamp in reaksie op Breyten Breytenbach se ope brief aan die Matierektor. Rudie van Rensburg vra Croucamp om “die afgesaagde argumente” oor “taalbulle” en “die goeie ou dae” finaal te begrawe.  

Piet Croucamp. Foto:

Piet Croucamp skryf:

Dit was nog altyd so dat ’n redelike stem die beste kans het om na geluister te word. Breyten Breytenbach het tans veel te sê oor Afrikaans, byna altyd met bytende sarkasme en ’n leksel meerwaardigheid.

Dalk is dit al taal wat hy deesdae verstaan. Breytenbach het duidelik iets in sy twaksak wat horingdroog geword het en die frustrasie sweet nou uit sy mondhoeke.

Dit bly maar ’n morbiede vermaaklikheid hoe reaksionêre altyd die bruin mense se gebruik van die kombuistaal aan die nek­hare insleep by die argumente teen verligting, so asof die lammervangers en die dopstelsel se kinders van gister nou weer voorgestoot kan word om te dien as menseskild teen die werklikhede van ons benepe opinies oor “eenvormigheid”.

Breyten, wat Afrikaans dekades, sedert van agter die tralies, soos ’n hoer behandel het; wanneer nodig het hy geskryf in Afrikaans en wanneer nodig geswets en geskel op die taal. Maar slagofferskap en vroomheid kom albei maklik vir die “Fransman”.

Dieselfde bedompige gedagtegange vaardig in die reaksionêre verwyl – wat hy nou ter wille wil wees – was sy teiken toe dit maklik was om ondertoe te skop. Op sy oudag is hy egter altyd gereed met kwelgeestige aanmoediging vir wie ook al om ’n segsman vra; aandag trek met goedkoop zen en die gemoduleerde waardigheid van ’n wolf in skaapsklere.

Maar diegene wat die onverstaanbare gerym gister nog net as meineed kon verteer, sit nou in die voorste ry by die bitterbek se konserte; want my vyand se vyand is nou my vriend.

Wim de Villiers moet inderdaad luister, maar hoekom na Breyten, wat nog nooit vir iets anders kon pa staan of opkom as dit wat na sy (eie) beeld geskape is nie. Wim de Villiers kan vir homself praat, maar heel waarskynlik besef hy dat diversiteit en die voortbestaan van Afrikaans nie bedreig kan word deur die kruipende normaliteit van universele veronderstellings nie.

Afrikaners is al in byna elke opsig voëls in ’n wêreldnatuur; dit is nog net die taalbulle en die aandrang op ’n koestering van “die lekker ou dae” wat hulle terughou.

Hoekom Afrikaans nou skielik op bevrydingspolitiek se korrupte nalatenskap se ­beskerming moet aandring, weet die
duiwel alleen.

Boonop, hoe moeilik is dit om te verstaan dat universiteite aan Suid-Afrikaners behoort, nie Afrikaners nie? Daar is ’n goedkoop mite wat Breyten en sy medeself­bevlekkers maklik staanmaak sonder substansie: dat kulturele diversiteit nood­wen-dig kwaliteit veronderstel en dat komplekse denke net tot stand kom uit taal- en kultuurverskeidenheid.

Daar is geen bewys dat enige van die meesterbeginsels en -opinies wat vandag ons leefwêreld definieer, geskoei is op
die oppervlakkige werklikheid van ­diversiteit nie.

Ek is bereid om die voorvelle van 1 000 Afrikaners daarop te verwed dat Breyten Jonathan Jansen ook met nydigheid bejeën. Die Breyten wat nog nooit ’n dag lank meer as ’n reënboogkwas en ’n pretensieuse pen moes bestuur nie. Daar was darem geen ­erger klip in die skoen as die wederstre­wige “jollie hotnot” Russel Botman nie,
nè, Breyten?

Ek wil Breyten aanmoedig om – nou in die beproewende uur anderkant raklewe – ook die Afrikaanssprekende jeug buite AfriForum se paramilitêre dampkring te besoek met sy kwaksalwerteorieë oor Afrikaans se “stand, taak en toekoms”, want dit is vir ­almal behalwe Breyten – in sy duursame Paryse verblyf – duidelik dat jong Afrikaanssprekendes nie sy benepenheid
met Afrikaans deel nie.

By die Universiteit van Pretoria, waar die sieg heil lankal nie meer ’n broederlike gemeensaamheid soos by die Puk impliseer nie, het meningsopnames dit duidelik gemaak dat die wit Afrikaanse studente wat steeds aandring op Afrikaans as akademiese taal nie meer beduidend genoeg is om die koste te regverdig van die brandstapel wat Breyten vir Wim de Villiers stook nie. Taal en kultuur het, soos verskeie ander
ismes, ’n morsige verlede en hoe ook al
jy die geskiedenis van Afrikaans wil oorskryf, jy sal nie die bloed van die mure
af kry nie.

*Dr. Piet Croucamp is ’n politieke ­wetenskaplike aan die Universiteit van ­Johannesburg.

*Croucamp se meningstuk het eers op LitNet verskyn.


Meer oor:  Taal  |  Piet Croucamp  |  Afrikaans  |  Breyten Breytenbach  |  Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.