Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Maties-taaldebat: 'Dis nie Afrikaans se dood'

Die nuwe taalvoorstelle by die Universiteit Stellenbosch is nie ’n keuse téén Afrikaans of vír verengelsing nie, skryf Johan Hattingh.

Die verklaring van die Universiteit van Stellenbosch se bestuurspan van 12 November wat voorstel dat onderrig, administrasie en amptelike koshuisonthale vanaf aanstaande jaar ten minste in Engels beskikbaar moet wees, het heelparty mense sekerlik laat wonder waar dit alles vandaan kom.

Prof. Johan Hattingh Foto: ED rEA DU TOIT

Om ’n perspektief op hierdie verklaring van diep binne die universiteit te gee, wil ek graag met lesers ’n persoonlike ervaring deel wat nie algemeen bekend is nie. Hiervoor moet ek na die fakulteitsraadsvergadering op 13 Mei vanjaar van die fakulteit lettere en sosiale wetenskappe teruggaan.

Om seker te maak dat almal my sal verstaan, het ek aan die begin van daardie vergadering as dekaan aangekondig dat ek die vergadering volledig in Engels sou fasiliteer. In die fakulteitsraad was heelparty kollegas wat nie Afrikaans magtig is nie en voorheen al aangedui het dat hulle sukkel om die verrigtinge te volg, al was tolkdienste beskikbaar.

Vir my as dekaan was dit noodsaaklik dat almal die verrigtinge eerstehands moet kan volg in ’n gemeenskaplike taal, omdat ons op hierdie vergadering ’n verklaring bespreek en aangeneem het waarin ons sterk standpunt ingeneem het teen ’n kru rassistiese voorval op die kampus waardeur die beginsel van vryheid van spraak ernstig in die gedrang gebring is.

Ons het ons in daardie verklaring opnuut verbind tot die waardes van oop en ingeligte gesprek en kritiese redenering oor enige moontlike onderwerp, hoe ongemaklik dit ook al kan wees om daaroor te praat.

My bestuursbesluit was verder gemotiveer deur twee sake.

Eerstens: Twee uur voor die aanvang van ons fakulteitsraadsvergadering het Open Stellenbosch op ’n massavergadering op die Rooiplein ’n memorandum aan die rektor van die Universiteit Stellenbosch, prof. Wim de Villiers, oorhandig. Daarin is onder meer groot probleme met Afrikaans as onderrigtaal aan die universiteit uitgelig, en daar is daarop gewys dat akademiese tolking om verskeie redes meer frustrasies veroorsaak as wat dit oplossings bied.

Verskeie studente het op hierdie massavergadering vertel hoe hulle uitgesluit word van onderrig en leer deur klasse wat net in Afrikaans of 50-50 in Afrikaans en Engels (die sogenaamde T-opsie) aangebied word.

Hulle het ook gesê dat akademiese tolking nie doeltreffend genoeg funksioneer om die taalgaping te oorbrug nie.

’n Vroulike student het haar frustrasies treffend verwoord deur te sê dat sy weens die bestaande taalbeleid in vergelyking met Afrikaanssprekende studente twee keer so hard vir die helfte van die punte moet werk.

Dieselfde soort probleme is later in ’n ander memorandum van die studenteraad uitgelig, wat duidelik maak dat dit nie net ’n klein groep studente is wat met die taal van onderrig aan die Universiteit Stellenbosch worstel nie.

Die tweede rede vir my bestuursbesluit was dat ek drie uur voor daardie middag se fakulteitsraadsvergadering die berig ontvang het dat van ons personeel ’n georganiseerde protes gereël en besluit het om die fakulteitsraadsvergadering te verlaat as ek as dekaan nie die taalkwessie op die fakulteitsraadsvergadering “reg” hanteer nie.

Die protesaksie was duidelik daarop gemik om Afrikaans tot ’n politieke speelbal te verhef, of Afrikaans nou in feite wel in die administratiewe konteks as uitsluitingsmeganisme gefunksioneer het al dan nie. Ek was nie bereid om Afrikaans as administratiewe taal in ons fakulteit op hierdie manier ’n teiken van protes te laat word nie.

Omdat ons ’n nasionale bate wil wees, het ons geen ander keuse nie. Dit is niks minder as ons plig nie.

Ek was nie bereid om Afrikaans, wat my moedertaal is en waarvoor ek lief is, die sondebok te maak vir ’n skeuring tussen kollegas wat andersins goed met mekaar saamwerk, net omdat hulle verskillende tale praat nie.

Ek weet dat die verklaring van die rektor se bestuurspan wat op 12 November vanjaar uitgereik is, presies dieselfde soort keuse vir die hele universiteit is as wat ek ses maande gelede in die veel kleiner konteks van een fakulteit moes uitoefen.

Ek weet, want ek was deel van vele van die gesprekke tussen die bestuurspan en ’n diverse groep studente wie se moedertaal nie Afrikaans is nie.

In daardie gesprekke het ek eerstehands beleef hoe graag hulle aan die Universiteit Stellenbosch wil studeer. Maar ek kon ook sien dat hulle begin het om ten hemele gefrustreerd te raak omdat ons taalbeleid en taalplan, wat sekerlik met goeie bedoelings opgestel en geïmplementeer is, eerder uitsluiting as insluiting teweeggebring het.

Die voorstelle van die bestuurspan is myns insiens dus nie ’n keuse téén Afrikaans of vír verengelsing nie. Dit is eerder ’n keuse om die Universiteit Stellenbosch in die konteks van steeds groter wordende uitdagings in die universiteitsektor van Suid-Afrika as ’n wêreldklas-universiteit toeganklik vir die jeug van die hele Suid-Afrika te maak en toeganklik te hou.

Omdat ons ’n nasionale bate wil wees, het ons geen ander keuse nie. Dit is niks minder as ons plig teenoor die land en ons toekoms om die kennis wat ons aan hierdie universiteit ontsluit, vir almal toeganklik te maak en met almal te deel nie.

Uiteraard verander dit die konteks waarin Afrikaans as akademiese taal tot nou toe aan die Universiteit Stellenbosch ontwikkel het. Myns insiens bring dit nuwe geleenthede na vore vir Afrikaans as akademiese taal, nuwe geleenthede wat met kreatiewe denke en innoverende stappe ontgin en uitgebou sal kan word.

Soos ek dit sien, is die uitdaging vir Afrikaanssprekendes wat Afrikaans as akademiese taal wil sien gedy, nie daarin geleë om die Universiteit Stellenbosch te beveg of die rug toe te keer nie, maar eerder om Afrikaans in die universiteit te ondersteun – nou meer as ooit tevore. Ek werk graag saam aan enige ini­siatiewe wat dit ten doel het.

  • Prof. Hattingh is die dekaan van die fakulteit lettere en sosiale wetenskappe aan die US en hoogleraar in filosofie.
Meer oor:  Afrikaans  |  Universiteit Stellenbosch  |  Engels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.