Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'Tainted Heroes': AfriForum speel met vuur

Die departement van inligting het in die 1960’s en 1970’s hordes inligtingsboekies gepubliseer waarin hy apartheid probeer regverdig en “saniteer” het.

Om AfriForum se Tainted Heroes te kyk is soos om deur dié propragandaboekie van die destydse departement van inligting te blaai.

Propvol foto’s van gelukkige swart gesinne wat in die aand om die radio sit, pa in sy das en baadjie, ma wat naaldwerk doen en kinders wat op die mat sit en speel, was die boodskap van dié boekies: “Suid-Afrika wérk, man! Julle moet net probeer verstaan.”

Met titels soos Progress Through Separate Development: South Africa in Peaceful Transition is dié stukkies propaganda aan buitelanders uitgedeel, in ambassades se voorportale geplaas en onder buitelandse joernaliste versprei.

AfriForum se “dokumentêre rolprent” (as ’n mens dit so kan noem) Tainted Heroes is soos om deur so ’n boekie te blaai. Dis heel interessant, maar jy weet dis niks behalwe propaganda nie.

Tainted Heroes vertel volgens die vervaardigers die ander kant van die verhaal oor Suid-Afrika se oorgang van ’n apartheidstaat na ’n demokrasie. Dit sluit aan by Solidariteit, AfriForum en hul surrogaatorganisasies se strewe om “die geskiedenis terug te vat” en te keer “dat die Afrikaner se geskiedenis gekriminaliseer word”.

Wat dit egter in der waarheid doen, is om nog vrees in te boesem, meer verdeling te skep en spanning verder aan te blaas.

Dr. Dirk Hermann, Solidariteit se bestuurshoof, het tydens die eerste vertoning van Tainted Heroes verlede Maandag in Pretoria hiervan verskil, en gesê hy verstaan waarom mense woedend sal reageer, maar dat “daardie kant van die geskiedenis vertel moet word”.

Hulle vertel egter niks nuuts in die twee uur waarin ’n geblikte stem (die verteller is oor die internet gekoop) AfriForum se relaas oordra nie.

Wat is dus AfriForum en Kie. se motief? Want ’n historiese vertelling is dit nie. Daarvoor is daar hopeloos te veel gate, aanvegbare stellings en lui aannames.

As ’n kunswerk of bydrae tot die Suid-Afrikaanse dokumentêre kinematografie slaag dit hoegenaamd nie. Die steurende grafiese foefies, herhalings, spelfoute en swak redigering is te veel om te lys.

Die werklike doel van Tainted Heroes is om swart mense te verontmenslik en as barbare uit te beeld.

Wat is die boodskap wat AfriForum met bemarkingsmateriaal soos dié wil oordra? Foto: Radio Pretoria, Facebook

AfriForum het selfs so ver gegaan as om ’n jong, swart akteur te huur om hulle te help om dit te doen. Woedend en gevaarlik, sy gesig in skadu’s gehul, swaai hy vlae rond en speel met ’n buiteband en ’n aansteker (Ernst Roets, AfriForum se adjunkhoof, het ’n morbiede fassinasie met halssnoermoorde.) Deurdie hele rolprent is die swart akteur die verpersoonliking van die “Swart Gevaar” waarteen die hele wit Suid-Afrika destyds gewaarsku is.

Foto’s van dié akteur (’n mens wonder of hy hoegenaamd geweet het waaraan hy deelneem) word in die bemarkingsmateriaal van die rolprent gebruik. In die foto’s staan hy kaalbolyf met ’n buiteband om sy nek, natgesweet, sy oë stokstyf, sy mond oopgesper, sy gesig van woede en haat vertrek.

Nie ’n slagoffer nie, maar ’n geweldenaar op soek na bloed.

Lewensgrootte vergrotings van dié foto’s het met die rolprent se bekendstelling op kartonborde in die voorportaal van Nu-Metro in die Menlyn-winkelsentrum in Pretoria gestaan terwyl gaste soos Flip Buys, dr. Pieter Mulder en Steve Hofmeyr verby gewandel het op soek na springmielies en ’n Slush Puppy.

Die rolprent begin deur apartheid eufemisties as “omstrede” te beskryf, eerder as ’n stelsel van sistemiese, geïnstitusionaliseerde rasseonderdrukking (die geblikte verteller verduidelik darem die stelsel is gaandeweg “gediskrediteer”).

Roets en Kie. wys hoe die ANC hom aan menseregtevergrype in sy strafkampe skuldig gemaak het, maar rep nie ’n woord oor Eugene de Kock, die departement koverte inligting of sluipmoorde nie.

Hulle blameer die ANC vir die brutale townshipgeweld in die 1980’s en 1990’s, maar sê niks oor die polisie se bakkievragte vol wapens aan moordbendes nie.

Die rolprent is deurtrek van geweld: Swart vroue wat met oopgekapte skouers en nekke in strate lê, swart lyke wat ná hostelgeweld in stomende hope opgestapel lê, mans wie se kop en wange deur pangas oopgekloof is.

Dit word afgewissel met tonele van die swart akteur wat in ’n beswyming staan en hyg en wieg terwyl klanke van brandende buitebande en geweerskote opklink.

Geen van die swart slagoffers in die geweldsbeelde het name nie.

Die kyker weet nie waar of hoekom hulle dood is nie. Ons weet nie hoe oud hulle is of wat die gevolge was nie.

Daar is geen konteks vir hul lyding nie. Dis net ’n visuele orgie van swart-op-swart-geweld.

Dít verander natuurlik wanneer wit slagoffers in die prentjie kom. Skielik het die mense name, gesigte en identiteite.

Terwyl emotiewe musiek speel, hoor ons van die Van Eck- en De Nysschen-gesin wat gesinslede in ’n bomaanval verloor het, van mense wat in die Kerkstraatbom en in Amanzimtoti dood is. Ons sien ’n begrafnisstoet, kiste, wit mense wat kerk toe gaan en begrafnis hou.

’n ‘Gelukkige’ swart gesin in 1965. Was dit propaganda? Foto: Progress Through Separate Development (Destydse departement van inligting).

Die wit beskawing versus swart barbarisme.

Tainted Heroes se boodskap is duidelik: “Ons word blameer, maar kyk wat het die swartes aan mekaar gedoen!”

Waarom só ’n rolprent nou uitreik, in hierdie gespanne tye met brose rasseverhoudings?

“Ons verstaan die risiko’s,” het Hermann in antwoord hierop gesê, “maar rasseverhoudings gaan versleg, nie verbeter nie.”

Die rolprent lewer geen bydrae tot ’n nasionale diskoers nie, dit verskaf geen nuwe inligting, onthullings of perspektief nie.

Dit verdraai bloot bestaande feite en kennis om AfriForum se gevaarlike propaganda-boodskap te pas.

Die land is ’n kruitvat van rassespanning en met hierdie rolprent, so swak en flou as wat dit is, speel Roets met ’n aansteker in sy hand.

Die rolprent is tans nêrens te sien nie. AfriForum sê daar word met verspreiders onderhandel, maar dat die gesprekke nog nie afgehandel is nie. AfriForum is ook nie bereid om kopieë van Tainted Heroes aan Netwerk24 te gee om te resenseer nie.

Rolprentnotas: Só verloop Tainted Heroes

1. ’n Verduideliking oor apartheid as “omstrede beleid” en die verteller sê met die koms van demokrasie is politieke leiers soos Nelson Mandela “tot helde verklaar”.

2. Die Soweto-opstande van 1976, beeldmateriaal van motors wat brand, jong wit polisiemanne op straat.

3. Die titelsekwens, gevolg deur dr. H.F. Verwoerd, destydse premier, oor apartheid wat 'n beleid van “good neighbourliness” is.

4. Tony Leon wat sê daar was baie meer onderdrukkende state as Suid-Afrika; Ronnie Kasrils oor die invloed van kommunisme; Oliver Tambo oor die gebruik van geweld en die verteller wat sê die ANC kry sy instruksies uit Moskou.

5. Die verteller wat praat oor die toename in geweld danksy die ANC se nuwe beleid “terwyl die Suid-Afrikaanse ekonomie snel groei” en ANC-kampe soos Quatro.

6. Onderhoude met die voormalige polisiekommissaris Johann van der Merwe en weermagbevelvoerder Constand Viljoen oor die veiligheidsituasie in die land.

7. Beelde van ’n swart man met ’n sigaretaansteker en dr. Anthea Jeffery wat praat oor die ANC se planne om townships onregeerbaar te maak, Mao se “people’s war”.

8. Onderhoud met Mangosuthu Buthelezi waarin hy vertel die IVP het geglo in ’n vreedsame stryd en dat swart Suid-Afrikaners nie sanksies gesteun het nie.

9. Dr. Anthea Jeffery wat verduidelik die IVP het nie met die ANC se planne vir ’n “people’s war” saamgestem nie. Hy het toe die ANC se opponent geword en daar was ’n wesenlike vrees dat die IVP en swart bewussynsbewegings beter as die ANC in verkiesings sou doen. “There was a lack of support for the ANC.”

10. Jeffery: “Buthelezi was meer gewild as Mandela. Die ANC het lesse uit Viëtnam geleer, besef hy moet geïsoleer word.”

11. Beelde van townshipgeweld, Dave Steward-onderhoud en Tambo wat in 1984 sê Suid-Afrika gaan onregeerbaar gemaak word.

12. Steward wat sê mediaberigte oor geweld in die middel 1980’s was verkeerd en dat hy sal weet want “ek was in beheer van regeringskommunikasie”. Van der Merwe beaam dit en se mediaberigte was bevooroordeeld, onakkuraat.

13. Tonele van die Kerkstraatbom: verminkte lyke, voertuie, die polisie en beskadigde geboue.

14. Tonele in Limpopo, op ’n grondpad waar lede van die Van Eck- en De Nysschen-gesin dood is nadat hul voertuie ’n landmyn afgetrap het.

15. Getuienis van huilende familielede voor die Waarheid-en-versoeningskommissie.

16. Beelde van kerke, kerksang en begranifsdienste. Die Amanzimtoti-bomaanval.

17. Jeffery en ander wat in besonderhede verduidelik hoe halssnoermoorde gepleeg is, met klanke van knetterende vlamme, ’n ontploffing en ’n swart slagoffer wie se gesig vertrek van die pyn.

18. Van der Merwe wat bylas en beelde van swartmense wat sing en dans terwyl ’n slagoffer verbrand.

19. Die verteller wat sê die noodtoestand van 1986 moes ’n klimaat skep vir onderhandelings en Steward wat byvoeg die regering was vasbeslote “to prevent the demise of democracy”.

20. Onderhoud met Strike Thokoane van Azapo wat ontevrede is dat Mandela die regering se onderhandelingsvennoot was.

21. Jeffery verduidelik die beeld van Mandela as vreedsaam was ’n nuttige mite vir die ANC.

22. Steward wat sê die ANC het nie in goeie trou onderhandel nie. Wat van voorstelle soos ’n roterende presidentskap?

23. Beelde van dr. Andries Treurnicht, KP-leier, waarin hy sê die ANC stel nie belang in magsdeling nie, hy erken ook nie volkere se reg om selfbeskikking nie en dat die handves van menseregte “ ’n blufspel” is.

24. Die bevraagtekening van die NP se mandaat om te onderhandel. Hulle het minderheidsregte belowe? Leon stem saam: “Whites did not get the extra protection that was promised.”

25. Beelde van die Boipatong-slagting. “There was no Third Force” sê Steward. “There was no evidence of state involvement in violence” sê Jeffery.

26. Prof. Hermann Giliomee sê die beeld van die ANC is voorgehou as dié van ’n onskuldige organisasie wat bloot streef na vryheid.

27. Lang tonele van die Bisho-skietery; onderhoude met Kasrils en beelde van Cyril Ramaphosa wat wegkruip. Jeffery noem dit ’n “propaganda-meesterskuif”.

28. Chris Hani se moord en die nadraai, maar nie die toneel waar Tokyo Sexwale langs sy lyk kniel nie, maar ’n nuusbulletin waarin die verslaggewer sê die ANC het beheer oor sy ondersteuners verloor en dat hulle besig is om winkels aan die Oos-Rand te plunder.

29. Shell House en Jeffery wat sê daar was geen bewyse IVP-ondersteuners het enige bedreiging vir die ANC ingehou nie.

30. Buthelezi wat geen opsie meer oor het as om vir die verkiesing te registreer nie.

31. Jeffery verduidelik die onderhandelde skikking is in belang van die ANC gedoen, nie die land nie. As hulle nie die geweldpleging in hul “people’s war” verskerp het nie, sou hulle nie die mag kon oorneem nie.

32. Leon sê die geskiedenis soos dit nou vertel word is ’n gedeeltelike weergawe daarvan. “Die ANC wek die indruk net hulle het bygedra tot die koms van vryheid.”

33. Thokoane sê Suid-Afrika ly vandag nog onder die gevolge van die ANC se “people’s war".

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.