Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Taxibedryf het dalk ’n #MeToo-oomblik nodig

Die taxibedryf in sy deel van die wêreld het ’n reputasieprobleem en kan dalk baat by sy eie #MeToo-oomblik, skryf Andries Bezuidenhout.

Minibustaxi’s wag op passasiers aan King Williams’ Town se kant van Alice. Foto: Andries Bezuidenhout

Uber was verlede week weer in die nuus, hierdie keer na aanleiding van ’n padwoedevoorval by die OR Tambo-lughawe waarin ’n bejaarde man erg aangerand is. Hy is later dood.

Die bestuurder wat by die voorval betrokke was, is summier van die platform verwyder.

Spanning tussen Uber-bestuurders en gewone meter-taxiondernemings het reeds ’n aantal kere tot geweld gelei, soos met die wedersydse aanranding van bestuurders en passasiers, asook voertuie wat aan die brand gesteek word.

In die deel van die Oos-Kaap waar ek woon, asook in Oos-Londen, het ons nie Uber nie. Mense het egter ’n ander alternatief bewerkstellig om saamrygeleenthede te koördineer.

Rylopers word deur gewone motoriste opgelaai en daar is ’n algemeen aanvaarde prys vir wat ’n rit tussen byvoorbeeld Alice en Oos-Londen sou kos.

Hulle staan bloot langs die pad met ’n kartonbordjie, waarop hulle die naam skryf van die plek waarheen hulle wil saamry – “KWT” vir King Williams’s Town, “EL” vir Oos-Londen, “GHT” vir Grahamstad (al is die amptelike naam nou na Mkhanda verander) en “XA” vir Mthatha, wat na die destydse Transkei se voertuigregistrasienommer vir die eertydse Umtata verwys.

Rylopers word deur gewone motoriste opgelaai en daar is ’n algemeen aanvaarde prys vir wat ’n rit tussen byvoorbeeld Alice en Oos-Londen sou kos.

Tegnies kwalifiseer die stelsel dus seker nie as “ryloop” nie, omdat daar aanvaar word dat mense op soek na saamrygeleenthede daarvoor betaal.

Saamrygeleenthede goedkoper as busse, taxi’s

Taxi’s staan gereed in Alice langs die pad op pad na Fort Beaufort. Foto: Andries Bezuidenhout

“Ek ry ’n BMW, ek ry ’n BMW . . . ek sal jou nie ’n lift gee,” het Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band destyds gesing.

Ek onthou soms my dae as student in die 1980’s en vroeë-1990’s, toe ek soms al die pad van Johannesburg tot in Namibië of die Kaap geryloop het – soms alleen, soms saam met ’n vriend.

Ek weet nie of ek dit deesdae sal doen nie. Ek weet ek hoef nie, omdat ek ’n motor besit, maar selfs as ek nie ’n motor gehad het nie, weet ek darem nie.

Tog blyk daar ’n mate van vertroue tussen mense in die Oos-Kaap te wees om in vreemdelinge se motors te klim en saam te ry.

Die bedrae waarop ooreengekom is, is minder as wat ’n busmaatskappy of ’n minibustaxi sou vra.

Mense met kinders laai ek met ’n geruste hart op, asook studente.

Ek ry baie in die Oos-Kaap rond en laai soms mense vir geselskap op. Só kom ek meer van die plek te wete. Mense bied altyd geld aan as ek hulle aflaai, maar ek aanvaar dit nooit nie, miskien maar as paaiemente vir die dae toe ek die land as ryloper gesien het.

Ek kies versigtig wie ek oplaai. Ek sal nooit vir ’n groep mans stilhou nie. Ook nie enkel vroue nie. Mense met kinders laai ek met ’n geruste hart op, asook studente.

Daar het al twee skoolseuns, onderskeidelik 8 en 14 jaar oud, al die pad van Graaff-Reinet tot in Alice saam met my gery. Hul oom het saam met hulle langs die pad gewag. Hy wou eers kyk dat die persoon wat hulle oplaai betroubaar lyk. Die seuns gaan op Graaff-Reinet skool, maar moes Alice toe vir ’n begrafnis.

Soms staan studente net voor die uitgang van die Universiteit van Fort Hare se kampus in Alice en wag vir ’n saamrygeleentheid, gewoonlik King William’s Town of Oos-Londen toe. Hulle laai ek graag op en geniet dit om hulle uit te vra oor hoe hulle die universiteit beleef.

Ons gesels ook soms oor musiek. Ek spaar hulle my Radiohead, Nick Cave of Battery 9 en speel eerder jazz, soos Abdullah Ibrahim en Hugh Masekela, of Ella Fitzgerald en Nina Simone.

Dis musiek waarvan ek in elk geval ook hou.

Saamryers ontstel taxibestuurders en -eienaars

Rylopers wag vir ’n geleentheid in Alice, ’n ent van waar die taxi’s geparkeer staan. Foto: Andries Bezuidenhout

Die Windmill is ’n instelling in Oos-Londen. Dis ’n padkafee met ’n uitsig oor die see, wat mettertyd tot ’n massiewe busterminus ontwikkel het.

Verlede week het ’n drama in die kleine hier afgespeel, met tonele wat deur die plaaslike media as “bisar” beskryf is.

Drie taxiverenigings, in samewerking met die Buffalo City-metropolisie, die polisie se misdaadvoorkomingseenheid en die openbare-orde-polisiëringseenheid, het besluit om busmaatskappye te inspekteer.

Soos busse tot stilstand gebring is deur die inspeksies, het taxi’s gereed gestaan om passasiers oor te neem. Die media het die aksie as ’n blokkade beskryf, waartydens passasiers “gesteel is”, eerder as ’n voorbeeld van wetstoepassing.

In een geval is vier passasiers, wat van Oos-Londen na Mthatha toe wou reis, van ’n bus verwyder en in ’n taxi in geboender. Die taxibestuurder het R2 500 van die busbestuurder geëis om die passasiers te vervoer.

Die taxiverenigings beweer dat van die busmaatskappye, waarvan sommige deur Prasa besit word, in sekere gevalle tot vier keer meer ritte tussen bestemmings inpas as waarvoor hulle permitte het.

Hulle kla ook dat minibustaxi’s die heeltyd deur die polisie gestop en geïnspekteer word, terwyl die busse verbyry.

In Alice is daar ook toenemend konflik oor openbare vervoer en minibustaxi’s. Hier is dit die informele saamrygeleenthede wat taxibestuurders en -eienaars ontstel. Nou die dag het ’n groep taxibestuurders die kampus binnegestorm om studente, wat vir saamrygeleenthede wag, te verwilder.

Nietemin, orals hier langs die pad, staan deesdae leë minibusse. Tog verkies soveel mense om eerder nie in te klim nie, maar om die kans te waag om eerder, vir effe goedkoper, saam met ’n vreemdeling sonder ’n openbare vervoerlisensie te ry.

Op ander plekke waar mense vir saamrygeleenthede wag, staan ook deesdae minibusse om rylopers en mense wat hulle oplaai te intimideer.

In Alice verskuif die plekke waar mense vir saamrygeleenthede wag nou die hele tyd, na gelang van waar die minibusse geparkeer staan.

Onlangs, so word hier rond vertel, is ’n vrou (die bestuurder van ’n klein nywerheid) wat van haar werkers ’n saamrygeleentheid aangebied het, van die pad af gedruk deur ’n minibus.

“Jy vat brood uit my mond uit,” het die taxibestuurder na bewering gesê. Die vrou moes geld aan die taxibestuurder betaal.

Soos die noodlot dit wou hê, dis nou vir die taxibestuurder, word die klein nywerheid se werkwinkel verniet aan taxibestuurders beskikbaar gestel om hul voertuie te diens. Toe hy weer daar aankom vir ’n diens, is hy die deur gewys en moes hy eers om verskoning vra voor hy kon terugkom.

Die platteland werk sowaar anders as stede.

Nietemin, orals hier langs die pad, staan deesdae leë minibusse. Tog verkies soveel mense om eerder nie in te klim nie, maar om die kans te waag om eerder, vir effe goedkoper, saam met ’n vreemdeling sonder ’n openbare vervoerlisensie te ry.

Vroue hou nie van behandeling in taxi’s

Die Universiteit van Fort Hare in Alice se hoofingang. Rylopers wag soms aan die binnekant van die kampus vir saamrygeleenthede. Taxibestuurders het hulle al ’n slag hier kom verwilder. Foto: Andries Bezuidenhout

Op ’n sekere vlak verstaan ’n mens die druk waaronder iemand verkeer wat geld in ’n minibus belê het. Die petrolprys skiet die hoogte in en dis soms moeilik om jou tarief te verhoog na gelang van hierdie wisselende insetkoste.

Aan die ander kant lyk dit vir my asof mense met hul voete stem – verbruikers wat van moderne markmeganismes gebruik maak om alternatiewe vervoergeleenthede te gebruik.

Aan die ander kant is informele saamrygeleenthede goedkoper omdat dit nie deur die staat gereguleer word nie.

Ek vra van my passasiers hieroor uit. Hoekom die risiko neem om saam met ’n vreemdeling in die motor te klim?

Dit lyk vir my asof die minibustaxibedryf ’n groot probleem het – ’n reputasieprobleem.

Interessant genoeg gaan dit minder oor geld as wat dit oor ’n wrewel aan die taxibestuurders self gaan.

Veral vroue hou glad nie van hoe hulle in taxi’s deur mans behandel word nie – deur die bestuurders self, maar ook ander passasiers. “They grope you,” sê een student wat saam King William’s Town toe ry.

Dit lyk vir my asof die minibustaxibedryf ’n groot probleem het – ’n reputasieprobleem.

Eerder as om mededingers van die pad af te druk, gaan hulle op lang termyn dalk by ’n eie #MeToo-oomblik baat, waarin mans vir ’n slag hand in eie boesem steek en ernstig oor hul optrede teenoor vroue-passasiers besin.

Vroue in die Oos-Kaap klim immers eerder saam met ’n vreemdeling in die motor as om in ’n taxi te ry.

* Bezuidenhout is professor in ontwikkelingstudies aan die Universiteit van Fort Hare.

Meer oor:  Andries Bezuidenhout  |  Alice  |  Uber  |  Taxibedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.